Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Foto's | Photos

Versindaba 2011: Adam Small se kitaar en kruis


Bibi Slippers - 2011-09-26

Die digter Adam Small is op Saterdag 24 September by die Versindaba gehuldig. Twee-en-twintig digters het op ’n uitnodiging reageer om ’n gedig te skryf wat in gesprek tree met, of hulde bring aan, hom. Die inisiatief was die breinkind van RSG-omroeper Iris Bester, en is opgeneem om verwerk te word in ’n program oor Small wat later op RSG uitgesaai sal word.

Akteur Nic de Jager het ingestem om die digters wat nie die geleentheid kon bywoon nie, se verse voor te lees. Afskrifte van al die digters se gedigte gaan gebind word en aan Small oorhandig word.

Melt Myburgh, woordkunsbestuurder van die Woordfees (wat die jaarlikse Versindaba reël), het die geleentheid as ’n groot sukses beskryf: “Ek en Iris Bester, wat die Small-geleentheid voorgestel het, was oorweldig deur die reaksie van digters om deel te neem. Nie minder nie as 23 digters, gevestigde stemme en ook jong, opkomende talent, het gedigte vir dié besonderse geleentheid gelewer. Die publiek was besonder geïnteresseerd in die geleentheid. Dit is die item op die Saterdag se dagprogram wat die grootste aftrek by Versindaba-gangers gekry het.”

Iris Bester het gaste by die geleentheid verwelkom en ’n paar woorde oor Small gesê.

Lina Spies het die vloer geopen met ’n gedig oor Small wat in een van haar digbundels opgeneem is.

Nic de Jager het gedigte van Marius Swart, Tom Gouws, Ronel Nel, Hein Viljoen, Joan Hambidge, Johan Myburg en Fanie Olivier voorgelees.

Willem Fransman Jr het sy gedig “ʼn Opebrief aan prof Adam Small” voorgelees.

Zandra Bezuidenhout aan die woord.

Bibi Slippers se gedig getiteld “15 Fotostate” handel oor die gesukkel om ’n waardige gedig oor Small te skryf.

Anneleigh Jacobsen se gedig heet “In gesprek met Adam Small”.

Andre Trantraal, debutant in Nuwe Stemme 4 en een van die Trantraal-broers bekend vir hul grafiese romans, was een van die jong digters wat Small met sy woorde gehuldig het.

Toast Coetzer, voorprater van die Buckfever Underground, het ’n besonderse gedig in sy kenmerkende styl voorgedra.

Selferkende stoutgat Loit Sôls het ’n  vermaaklike vers voorgelees.

Johann Lodewyk Marais het al die pad van Pretoria gekom vir die Versindaba en sy gedig “Sonnewende” voorgelees.

Marius Absalom was ’n voormalige student van Small.

Izak de Vries het gesê dat hy nie die geleentheid kon weerstaan om aan hierdie unieke huldeblyk deel te neem nie. Sy gedig “vir goed” is goed deur die gehoor ontvang.

Floris Brown lees sy gedig “Berg Sinai”.

Elsibe Loubser, wat in Nuwe Stemme 2 gedebuteer het, lees haar vers vir Adam Small.

Pieter Odendaal se vers “Die eerste steen” was een van die gehoor se gunstelinge.

Cas Vos het die geleentheid afgesluit met sy gedig “Adam Small ko’ hystoe”.