Groep: Kern-medewerkers/Core editorial collective
Dirk Laurie is 'n wiskundige en rekenaarprogrammeerder. Hy was vroeër 'n professor aan die Universiteit Stellenbosch, vóór dit aan die Vaaldriehoekkampus van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (deesdae Noordwes-Universiteit), en nog vroeër 'n navorser by die Nasionale Navorsingsinstituut vir Wiskundige Wetenskappe, 'n stukkie van die WNNR wat nie meer bestaan nie.
Hy is 'n oud-Jan van Riebeecker en 'n oud-Matie, maar ontvang sy PhD in 1977 persoonlik van die Queen Mother by die Universiteit van Dundee as 'n student van AR (Ron) Mitchell. Sy mentors was Egbert Kruger ('n wiskunde-onderwyser wat die pretdeel van dié vak ook kon ontsluit), Siegfried Göldner (wat nagraadse lesings sonder notas kon gee), Gawie Cillié (wat hom geleer het dat 'n wiskundige nie nét dit hoef te wees nie), Johan Neethling (by wie hy as honneursstudent al die wiskunde geleer het wat hy nou nog gebruik), Charlie Jacobsz (wat hom beveel het om sy PhD in Skotland te gaan doen), en boweal sy eie pa, Harry Laurie, 'n aktuaris wat laat in sy lewe koerantman geword het en by wie hy op tienjarige ouderdom geleer het hoe logaritmetabelle werk. Hulle was almal, elk op sy eie manier, sy rolmodelle ook.
Hy het Chemie as sy ander derdejaarsvak geneem, en het trouens eers ná die vakansie tussen sy tweede en derde jaar, toe hy vyf weke by 'n groot chemiese nywerheid deurgebring het, besluit om liewer 'n loopbaan in die wiskunde te volg.
In 1963 ontmoet hy die eerste groot liefde van sy lewe, Trienke Opperman, met wie hy later trou en saam met wie hy vyf seuns grootmaak. In 1965 ontmoet hy sy ander groot liefde, 'n IBM 1620-rekenaar, wat saam met talle opvolgers meer van sy tyd as enigiets anders in beslag neem. Hy gebruik die 1620 onder andere om verkiesingsuitslae te voorspel en 'n draagbare radio te oorreed om steurings veroorsaak deur die rekenaar se werking herkenbaar te laat klank na Schubert se Militêre mars. Deesdae kan 'n mens programme wat hy geskryf het om tweedimensionele integrale te bereken, meetkundetekeninge te maak en blokkiesraaisels of musiek te set, as oopbronsagteware van die internet aflaai.
Hy is die skrywer van ongeveer 50 navorsingsartikels oor numeriese analise, wat volgens hom uit gelyke dele wiskunde, programmering en toepassings bestaan. In 2002 is hy een van vier solo-deelnemers wat 'n voltal in die SIAM 100-Digit Challenge behaal, 'n kompetisie waarin deelnemers tien probleme moes oplos waarvan elke antwoord 'n getal is wat tot tien syfers bepaal moes word. Saam met drie ander deelnemers skryf hy 'n boek wat 'n begeleide toer deur numeriese analise aan die hand van hierdie tien probleme gee. Sy Erdösgetal is 3.
Hy is al dertig jaar lank 'n mede-opsteller van die derderondevraestel in die Suid-Afrikaanse Wiskunde-Olimpiade en het ses Internasionale Wiskunde-Olimpiades saam met die Suid-Afrikaanse span deurgemaak.
Dirk Laurie ontvang in 2006 die Havenga-prys vir Wiskundige Wetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy tree talle kere in vasvraprogramme en as voorspeller van verkiesingsuitslae oor die radio en TV op.
Hy speel tennis op middeljarig-sosiale vlak en met sy seuns.
|