Groep: Kern-medewerkers/Core editorial collective
Margaret Rossouw het in 1999 die graad BSc in Fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch behaal, aangesien sy graag by die mediese wetenskappe betrokke wou raak. Hierna het sy as fisioterapeut by verskeie hospitale en privaat praktyke in Suid-Afrika en Engeland gewerk. Sy is in 2002 terug Stellenbosch toe, waar sy die Nagraadse Onderwyssertifikaat (cum laude) behaal het.
Sy het ’n jaar lank by Pionierskool in Worcester skoolgehou (onder meer in Natuurwetenskappe). Daarna het sy verder gaan studeer en die graad Hons BEd (cum laude) in 2004 behaal. Sy het nog altyd ’n besondere liefde vir Wiskunde en tale gehad, met die gevolg dat sy Wiskunde I en Duits I as ekstra vakke geneem het terwyl sy hierdie honneurskursus gevolg het.
Aan die einde van 2004 het sy vir die eerste keer bewus geword van die kursus in vertaling en redigering wat by die Universiteit Stellenbosch aangebied word. Sy het reeds in 2000 begin om hospitaalnotas en tuisprogramme vir pasiënte te redigeer en te vertaal en het sedertdien verskeie studente se tesisse en proefskrifte geredigeer. Sy het die geleentheid om haar vaardighede en kennis omtrent vertaling en redigering uit te brei, met albei hande aangegryp en die volgende jaar vir die kursus MPhil in Vertaling ingeskryf. Sy het hierdie graad in 2006 cum laude behaal. Sy het ook ’n artikel in Literator gepubliseer, naamlik “Die literêre vertaler as kulturele bemiddelaar” (2008).
Margaret doen sedert 2006 vryskutvertaling, ‑redigering en ‑proefleeswerk. Sy is ook sedert 2008 by die Master Maths-sentrum op Malmesbury betrokke, waar ekstra Wiskundeklasse vir leerders van graad twee tot twaalf aangebied word.
Sy is getroud met haar sielsmaat, Kobus, en woon op Malmesbury.
|