Groep: LitNet Akademies
Marius Potgieter is verbonde aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, waar hy sedert 1991 ’n professor in fisika in die Sentrum vir Ruimtefisika en die Skool vir Fisiese en Chemiese Wetenskappe is. Hy doen numeriese modelleringsnavorsing op heliosferiese ruimtefisika en kosmiese strale in die heliosfeer en was die spanleier van een van die eerste vlagskipprojekte van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Hoëverrigting-rekenaarbewerkings.
Hy was by verskeie geleenthede ʼn besoekende wetenskaplike aan institute en universiteite in die VSA, Duitsland, Frankryk, Italië, Switserland en Zambië. Hy was die afgelope tien jaar ʼn gasnavorser vir die Ulysses Ruimtesending, wat deur die Europese Ruimte-agentskap befonds is. Hy dien op die advies- en organisasiekomitees van verskeie internasionale konferensies, onder andere die Internasionale Inisiatief vir Ruimteweer. Hy is die outeur van 140 geakkrediteerde joernaal- en 100 konferensie-publikasies en het meer as 30 lesings op uitnodiging by internasionale konferensies en slypskole aangebied. Hy is die redakteur van ses artikelboeke en het verskeie hoofstukke vir navorsingsboeke geskryf.
Hy is lid van die American Geophysical Union en die American Physical Society. Hy is tans die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Komitee vir Ruimtenavorsing en dien op die raad en publikasiekomitee van die Internasionale Komitee vir Ruimtenavorsing (COSPAR). Hy was ses jaar lank die gasredakteur van die joernaal Advances in Space Research en dien tans op die adviesraad van die Europese aanlyntydskrif ASTRA. Hy was in 2008 ’n besoeker aan die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing en is tans ’n vennoot van die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika.
Marius is ’n gebore Vrystater en het op Cornelia in die Noord-Vrystaat grootgeword. Ná voltooiing van sy diensplig in die Lugmag het hy fisika gestudeer onder proff. Pieter Stoker en Harm Moraal aan die destydse PU vir CHO, waar hy in 1983 sy PhD behaal het. Hy het ’n jaar in Antarktika deurgebring as lid van die SA Nasionale Antarktiese Ekspedisies. Marius het in 1985 nadoktorale studie aan die Space Science Centre by die University of New Hampshire in die VSA gedoen en in 1991 ’n jaar by die Goddard Space Flight Center en die University of Maryland in die VSA deurgebring. Hy het sedertdien navorsingverlof aan SACLAY (Parys, Frankryk), die Internasionale Instituut vir Ruimtewetenskappe (ISSI, Bern, Switserland), die Universiteite van Kiel en Bochum (Duitsland) en die Italiaanse Nasionale Instituut vir Kernfisika in Trieste deurgebring, waar hy onlangs saam met wetenskaplikes van die PAMELA Ruimtemissie gewerk het. Hy het twee internasionale slypskole met die tema “Kosmiese strale in die heliosfeer” in Potchefstroom gereël, waarvan die tweede in Maart 2010 gehou is. Sy navorsing word hoofsaaklik deur die Nasionale Navorsingstigting befonds. Hy is die studieleier van verskeie PhD‑ en MSc‑studente.
Marius stel ook belang in geskiedenis, geologie, geografie en veral kosmologie, en filosofeer graag oor die ontstaan van die heelal en galaksies en hoe lewe op planete begin. Hy hou van fotografie en luister graag na klassieke en operamusiek. Hy is in 1978 met Retha du Plessis getroud, wat ook by die NWU werksaam is, en hulle het een seun, Marinus, wat tans by die NWU ingeskryf is vir ’n MIng-graad in Meganiese Ingenieurswese.
Opgedateer/Updated: 2009-11-05
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
|