Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Carina Diedericks-Hugo praat met Maggie Marx oor haar polisiespeurroman vir tieners
Carina Diedericks-Hugo, Maggie van Eeden
2011-03-17 Druk dit/Print it

Carina Diedericks-Hugo is in Maart aangewys as een van die naaswenners in Lapa se Jeugromanwedstryd en het met R15 000 prysgeld weggestap. Maggie Marx vind uit wat dié toekenning vir haar beteken.

Wat beteken die Lapa-prys vir jou?

Dit is ’n enorme aansporing!

Dink jy die uitgewersbedryf is in gevaar met Media24 wat nou slegs een nasionale boekeredakteur wil aanstel?

Ek dink die hele literêre bedryf en sisteem is in gevaar. Daar is al baie uitstekende argumente teen die besluit geopper waarmee ek saamstem. Hoe gaan studente navorsing doen met een opinie om op te steun? Hoe gaan daar debat gevoer word as ’n verskeidenheid standpunte nie beskikbaar is nie? Hoe kan ’n boek/skrywer regverdig beoordeel word as slegs een redakteur en een resensent die mag het om ’n boek te maak of breek? En as mens mooi gaan lees, praat Media24 nie uit dieselfde mond nie. (Juis daarom is Eloise Wessels se reaksie so verstommend en Marga Collings se argument so bemoedigend - ironies albei van NB Uitgewers.)

Waaroor gaan jou roman?

My roman handel oor vier uiteenlopende tieners wat om verskillende redes in die moeilikheid kom by die skool. As straf moet hulle ’n ou huis op die skoolgronde regmaak en so ontvou elkeen se storie. Intussen word die hele Kaap gyselaar gehou deur ’n reeksmoordenaar wat tienerpaartjies teiken. ’n Polisiespeurder en sy konstabel is in ’n resies gewikkel om die moordenaar te keer voordat nog ’n paartjie vermoor word.

Waar het die idee vir jou roman/jeugroman ontstaan? Wat was die begin?

Ek het die hele tyd gedroom van hierdie ou huis met versteekte kamers wat so cool was ek moes dit net iewers gebruik! Verder het ek het ’n passie vir misdaadsromans. Ek het gedink dit sal lekker wees om ’n eerste polisiespeurroman vir tieners te skryf.

Wat kan jou gereelde lesers van Permanente Ink verwag?

Hopelik ’n lekker mengsel van avontuur, spanning, kopkrap en ’n bietjie liefde.

Wat gaan jy met jou prysgeld maak?

Verstandige Carina wil kwansuis haar kredietkaart afbetaal, maar ek gaan beslis ’n draai maak in my gunstelingstad, Berlyn, en ’n boek sit en lees (en ’n paar jenewers geniet) in De Vagant, Antwerpen.

Baie skrywers, soos PG du Plessis ook, sê dat die moeilikste ding van skryf is om daad by die woord te voeg en net te sit en skryf. Ervaar jy dit ook so?

O, beslis. Ek is verslaaf aan Facebook en GTalk, en dit is moeilik om net te konsentreer op die skrywery sonder om heeltyd interaktief te wil verkeer. Dit is eensaam en soms bleddie frustrerend. Mens het nie die luukse om te werk as die "muse" aanklop nie. Meestal is dit inderdaad net jis op die stoel en skryf. Gelukkig skryf my man ook, so ons verstaan mekaar en probeer soveel as moontlik ondersteuning bied.

Wat dink jy is die rol van literêre pryse? Wat is die verskil tussen pryse wat voor publikasie en na publikasie toegeken word?

Ek dink pryse is belangrik. Vir enige skrywer is dit ’n geweldige bemoedigende ding wat met jou kan gebeur en ook natuurlik ’n aansporing. Wat die verskil is, is seker maar die feit dat pryse wat voor publikasie toegeken word (hopelik) anoniem geskied.

Watter literêre werke inspireer jou (en maak jou ook so bietjie jaloers)?

Ag, nee. Ek kan nie kies nie. Dis ’n Sophie’s Choice!

Met watter bekende karakter wil jy ’n bottel wyn deel?

Daar is ’n paar. Ek wil in ’n kroeg sit saam met John Rebus en Harry Hole. Ek sal beslis ’n paar shooters wil wegklap saam met Lisbeth Salander. En natuurlik sal die bottel wyn genuttig moet word saam met Dr Serfontein.



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Linette van der Merwe
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur