Erika Terblanche
|
|
|
Sêgoed van Marlize Hobbs
“Dit het alles met tydsberekening te doen. Mens moet weet wanneer jy gereed is om jou stem aan die wêreld te ontbloot. Ek skryf al vir ewig, maar het nou in my vroeë dertigs genoeg gegroei en het genoeg selfvertroue om my boek op die rakke te hê waar ander dit kan lees.”
“Ek glo nie mens moet mors met woorde nie; as iets gesê is, het jy bestaansreg daaraan gegee en dit kan maak of breek.”
In 2005: Waarom skryf sy? “Want dit is wat skrywers doen. Omdat dit is wat ek elke dag van my lewe doen – vandat ek leer skryf het. Al is dit ook net ’n paar sinlose woorde op ’n los vel papier in my kantoor of my huis. Ek kan nie anders nie.”
“Ek skryf al vandat ek kan onthou. Maar om te veel daaroor te praat, verklap jy jou storie en dan is dit asof dit al klaar geskryf is.”
“Alles in die lewe is stories wat wag om geskryf te word.”
Wat moet lesers uit Flarde kry? “Lesers moet die boek vat, die voorblad lees, hul neuse tussen die blaaie indruk en die woorde, ink en die storie ruik. Dan sou ek wou hê elke leser moet net een sinvolle sin daaruit kry. Iets wat die leser raak waar dit saak maak. Daar waar die verskuilde werklikheid is.”
Skryf was ’n terapeutiese proses: “As jy met kindermolestering en kinderverkragting werk, moet jy tyd maak om te crack – en die boek maak deel daarvan uit. As maatskaplike werker weet jy verskriklike goed en al wanneer jy daaroor mag praat, is wanneer jy in die hof daaroor getuig. Maar dan word jou en die kind se getuienis uitmekaar geskeur en die oortreder loop vry weg.”
“Ek was benoud toe ek die boek geskryf het, benoud toe ek dit gepos het, maar die ding is, dis ’n parallelle geskiedenis. Sekere goed het gebeur, sekere goed het nie gebeur nie. Dis fiksie. En ek is nou mooi groot (...). Een of ander tyd face ’n mens wie jy is. Ek is happy met wat ek gedoen het en ek is settled in myself en ek weet dis oukei. Whatever.”
“Maar goed sterf. ’n Terrible dood. ’n Mens moet eers daai belaglike, selfbehepte goedjies van ‘eina, ek’ klaar skryf, uitskryf, léégskryf. Eers dan kan jy skryf wat ander mense ook wil lees.” |
Gebore en getoë
Marlize Hobbs is op 6 Mei 1972 in Noordwes gebore en word ook daar groot. Sy het ’n tweelingbroer, Ben. Sy woon tot standerd vyf die Laerskool Louwna by, wat net vyftig leerlinge en drie onderwysers gehad het. “In sub A leer jy eintlik al wat die standerd-eens leer. Teen standerd vier is jy reeds verveeld met die standerd-vyf-werk. Wat jy kan doen, is sit en dink en droom,” vertel sy aan Martie Swanepoel. “Wel, aanvanklik is ek bloot beskuldig van ’n dromery, maar in standerd vyf is ek met epilepsie gediagnoseer en toe is ek nie meer die ‘droomkind’ nie.” Sy was ’n plaaskind – “’n pláás plaas. Baie backwards. Ek was twaalf toe ons Eskom-krag gekry het. Ek was ’n alleenkind,” vertel sy aan Sonja Loots. “Baie rondgeloop op die plaas, baie boontoe gekyk vir reën, baie gelees. My ma is ’n intellektueel. Ons huis was vol boeke, altyd.” Sy sê epilepsie gee ’n heel ander perspektief op wie jy is. Destyds (1985) was dit veel meer van ’n issue as wat dit nou is. “Dit bly steeds ’n vreemde chroniese toestand waaroor ek meer sou wou skryf. Maar ’n mens moet eers deur iets werk en lééf voor jy met kennis en insig en deernis (al is dit vir jouself) daaroor kan skryf.” Sy was net vyf jaar oud toe sy eendag vir haar ma gesê het sy gaan óf ’n skrywer óf ’n ruimtevaarder word. “Maar hulle vat nie epilepsielyers maan toe nie. Hulle like ons nie eens in die vliegtuie nie.” Na laerskool is sy Vryburg toe, waar sy haar matriek aan die Hoërskool Vryburg voltooi het.
Terug na bo
Verdere studie en werk Marlize kon om finansiële redes nie direk na matriek gaan studeer nie en in 1991 vertel ’n vriendin haar van die Middestad-Evangelisasie en Sendingaksie (MES) in Hillbrow. Sy was ongeveer 18 jaar oud en dit was ’n kultuurskok vir haar – ook wonderlik. Sy vertel aan Stephanie Nieuwoudt: “Wat ek daar gedoen het, was gewis nie vir die ‘kerk’ as sodanig nie. God het my op ’n pad van selfontdekking gevat. Ek het baie geleer – van God en die inherente aard van die kerk en van hoe dit seker maar veronderstel is om te wees en nie is nie. “Vir my was MES ’n subkultuur met ‘geheime kodes’ wat geld tussen lede van die groep. Ek het nie ingepas nie. Die boks was te vierkantig, benoud, vol ongeskrewe reëls wat ek nie kon begryp nie. My medesendelinge was vir my ’n vreemde spesie. Ek kon die oordrewe onderdanigheid aan die hoof nie begryp nie. Aanvanklik was dit vir my belangrik om deel te voel en te wees van die groep, maar ek kan nie anders as om getrou aan myself te wees nie. Ek het dinge begin bevraagteken en dit het vir my duidelik geword dat dit gevaarlik is om vrae te vra as iemand in iets glo en daar word van jou verwag om op dieselfde wyse te glo. “Ek begryp waarom mense van die kerk af vlug. Hoe ironies tog dat die kerk veronderstel is om ’n toevlug te wees.” Marlize het vir twee jaar in Hillbrow sendingwerk gedoen. Aan Sonja Loots sê sy dat Hillbrow ’n wow was wat vir ’n mens gevestigdheid gegee het. Dit was ’n “belewenis wat ek nooit weer oor wil hê nie, maar wat suiwer was. Die strate, nie die kerk nie. Ek en die kerk het mekaar in daardie stadium nie mooi verstaan nie.” Oor haar tyd in Hillbrow kan sy boeke skryf, “maar ek moet eers die legkaart-stukke kry voor ek dit doen”. Daarna is sy na die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, vandag die Universiteit van Johannesburg, om maatskaplike werk te gaan studeer. Daar het sy “leer lééf”. Die koshuislewe was die beste ding wat met haar kon gebeur het. Na haar studentejare het Marlize om den brode in ’n plaaswinkel gewerk en het ’n vriendin Jeanne Goosen se telefoonnommer vir haar as verjaardaggeskenk gegee. “Ek het haar gebel en van my gedigte vir haar gestuur en sy’t my genooi om by haar te gaan kuier. Ek het baie nervous daar opgedaag, maar sy is die niceste mens op planeet aarde en ons het goed gekliek.” Dit was die begin van ’n lang mentorskap en Marlize het bly skryf. Sy skryf vir HERAUT se kunsredaksie. In 1998 en 1999 werk sy as TV-produksie-assistent in Durban by Heine TV-produksies. Van haar gedigte het al in Pretoria verskyn by KOMSAT van Johan de Jager. Van haar verhale verskyn ook op LitNet. Sy is terug Vryburg toe as maatskaplike werker en proefbeampte, waar sy voorvonnis-verslae “en sulke goed vir die hof” opgestel het. Sy het vier jaar lank “alleen” in Ganyesa, ’n woonbuurt sowat 80 km van Vryburg af, gebly as die enigste wit persoon in haar kantoor. Sy voel dat Ganyesa haar “gekies” het, want dit was die enigste plek waar sy werk kon kry. Sy het by die plaaslike hospitaal een van die slegs tien huise op die dorp gehuur. “Ek het soontoe gery, die vlaktes, donkiekarre, kinders en boerbokke langs die pad bekyk. Ek het die tien huisies agter die hospitaal bekyk en besluit dat ek daar sal kan bly. Dat ek van die vlaktes hou.” Dit was haar eerste eie plek en sy het niks gehad nie. Net ’n matras op die vloer, haar outydse woordverwerker, kitaar en CD-speler. Geen TV nie, geen selfoon nie. “Wanneer ’n mens so leef, het jy baie tyd vir besin, mymer en skryf. Dan kom jy in direkte konfrontasie met jouself en jou daaglikse bestaan, asook die werk wat jy doen. Professionele distansie kry ’n ander betekenis wanneer jy in die werklikheid van jou kliënte se lewe werk en woon.” Sy is tans ’n maatskaplike werker vir Noordwes se regering op Potchefstroom. Marlize se boek Flarde is reeds in 2002 voltooi, nadat sy byna drie jaar daaraan geskryf het. Ná die tyd het sy besef daar is soveel ander stories in die storie dat sy sekerlik nog ’n paar sulke pogings kon aanwend. Maar haar tyd is beperk vanweë haar werk as maatskaplike werker. Die idee vir die boek kom van ver af. “In ’n stadium was ek werkloos en het ’n soort tuisgemaakte koerant vir my vriende aangestuur terwyl ek op die plaas was. Ek het dit Flardes uit die vlaktes genoem. Daarin was stories, advertensies (wat ek uitgedink het) en nog ’n spul liegstories.” Die ernstige skryf aan Flarde het egter in Ganyesa gebeur. Die dag toe die boek klaar was, toe was sy reeds ook klaar met Ganyesa. Sy het vir ’n oorplasing na Vryburg gevra en in 2002 daar begin werk. In Ganyesa is Flarde uit eensaamheid gebore. “Die isolasie het my gedwing om met iemand te praat wat my taal verstaan – en dit was ék. Ek het geskryf om my eie taal te hoor. Ook omdat ek vermoed het daar is ’n storie wat vir my vertel moet word, en dit wás ook so: die boek het op die ou end vir my die storie vertel.” Marlize het aanvanklik aan die manuskrip “vasgeklou” en toe besluit om dit aan Jeanne Goosen te stuur as ’n “slaaptydstorie”. “Sy het daarvan gehou en klaarblyklik ook die mense by Genugtig!-uitgewery.” Genugtig! het die boek 2005 gepubliseer. Jeanne Goosen het dit beskryf as ’n boek van die hier en die nou – “die sensualiteit ontvou spontaan, dis tegelyk pynlik en pragtig.” Flarde vertel die verhaal van ‘n maatskaplike werker wat na ’n afgeleë Tswana-gemeenskap vlug. Waarvoor, weet sy self nie, skryf Stephanie Nieuwoudt, maar soms dink sy dat dit ’n besieling was. Want in Ganyesa word stukkies geskiedenis aan haar ontbloot. “Nie net trap sy in die spore van haar eie herinneringe en geskiedenis nie, maar sy leer ook die geskiedenis van die mense van die vreemde dorp. Flardes van verhale word aan haar gegee en sy moet sin maak daaruit. En soms verstaan sy die betekenis agter die woorde heeltemal verkeerd. Soos wanneer die jong man by haar kom pleit om hom te help om onderhoud van sy ouers te kry sodat hy verder kan studeer. Sy vertrou hom, maar dan word sy wreed ontnugter. Maar dis die verhaal wat Mama Minoto, die hoenderpootvrou, haar vertel, wat die maatskaplike werker heeltemal intrek by die gemeenskap van Ganyesa.” Flarde is in 2006 met die Eugène Marais-prys bekroon, asook met die Universiteit van Johannesburg-prys vir die beste skeppende debuutwerk in 2006 en die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende prosa vir dieselfde jaar. Marlize het die UJ-prys ingepalm bo Pat Stamatélos se Kroes en Gilbert Gibson se digbundel Boomplaats. Flarde is uiteindelik bekroon vir sy tegniese vernuf, die besonderse manier waarop taal aangewend is en die oorspronklikheid van die werk. Oor Flarde het een van die keurders opgemerk: “Die werk word gekenmerk deur ’n merkwaardige emosionele intensiteit, ’n skerp evokasie van ruimtes, opgeskerpte welhaas, neurotiese waarneming en psigiese hegting. Dis opvallend hoe elke karakter as ’t ware binne haar eie wêreld gevange sit, waar emosie en begeerte dikwels op gewelddadige wyse beleef en ook uitgeleef word.” Nieuwoudt skryf verder: “Die gemeenskap se frustrasies vind uiting in gesinsgeweld en dronkenskap en bied ’n spieël vir die maatskaplike werker se eie gevoelens van onvermoë. Maar in die wanhoop skemer ook die magiese van Afrika deur. Saans kom vryf Mosadiomuntle, die pleegkind Kabelo se ma, oor sy kop en soggens vee Mana Minoto die kleinvroutjiespore in haar erf dood. Die spore hoort nie hier nie. Dit word immers deur ’n dooie vrou nagelaat. “Die liefdesband tussen Mama Minoto en haar pleegkind, die doofstom Kabelo, ontroer. En tussenin probeer die maatskaplike werker sin maak van haar eie lewe. Met kos, dwelms, seks en gesprekke in die kuberruim probeer sy antwoorde en troos vind. “Flarde is ’n boek wat ontstig. Met ingehoue asem verwag jy telkemale ’n katastrofiese ontknoping. Maar met humor en oorspronklikheid keer Marlize Hobbs telkemale die verhaal so om dat jy onkant betrap word en hardop lag. In die hande van dié nuwelingskrywer, wat die taal op ’n oorspronklike manier laat sing, word die waarheid inderdaad veel beter as fiksie.” Volgens Marlize is dele uit Flarde min of meer waar, “maar soveel as wat dit ’n waarskynlike of parallelle werklikheid is, is dit ook ’n verbeelde of verskuilde werklikheid. Agter alles is daar tog iets,” vertel sy aan Stephanie Nieuwoudt. “Soos dinge gebeur in die skryfproses, so het daar verdere verskuilde werklikhede na vore getree. Soms is die werklikheid te ondraaglik en soms is dit te ‘min’, bedoelende dat daar meer van gemaak moet word om dit meer werklik te maak. “Die sendeling-ervaring kon ek in die boek afbreek tot by die blootlê van die verskuilde werklikheid – dit wat agter die skyn van sendelingwees lê. Dit is dan wanneer jy as skrywer die gebeure as ’n dubbelgeskiedenis neerpen. Dit wat langsaan geloop het en ’n mens soos ’n skaduwee volg. Of dalk het ek my dit alles verbeel.” Die hoofkarakter in Flarde gesels en skreeu haar frustrasie op die internet uit en in Ganyesa was die internet vir Marlize haar lifeline, “maar soos dit aanvanklik sanity help behou het, het die internet soveel meer die karakter van ’n verbeelde werklikheid. Die internet-persoon is meervoudig, verskuil. Die uitreik en die ware kontak gebeur selde. Wanneer dit wel gebeur, is dit uiters selde bevredigend. Dink aan die gesprek – ’n verbeelde werklikheid, gesigloos, elke woord kan lieg en binne elke woord is daar soveel ander dinge verskuil. Van die werklikheid in hierdie oomblik, die weer wat skielik dreun, Tori Amos se stem, die koue, kan ek nie ontsnap nie.” Volgens Cecile Cilliers vertel Hobbs twee verhale in een: haar eie, as selferkende maatskaplike werker, en haar stryd teen dwelms, depressie en epilepsie. Parallel daarmee loop die verhaal van die Dipeko-familie, een van haar “gevalle”, en sy laat die twee verhale uit verskillende blikhoeke en met verskillende stemme praat, naamlik die stem van die maatskaplike werker as hoofverteller en dan dié van die verskillende lede van die Dipeko-familie. Die verhaal werk met die rou werklikhede van armoede en vigs en werkloosheid in ’n tipiese Suid-Afrikaanse samelewing. En met die disfunksionele gesig van die meer gegoedes. En sy, die maatskaplike werker, is intens betrokke daarby. Hierdie intieme kennis van en intense meelewing met die ander, die onbekende mense in ons bont samelewing, is nog nooit so rou, so seer en so oortuigend in enige Afrikaanse roman weergegee nie. Tog ervaar Cilliers die blikhoek nie altyd as somber nie. “Hobbs se styl is lig, prikkelend, met digterlike metafore. (...) En wat die slot van die boek betref – ja, in die laaste bladsy steek daar tog iets van hoop, groei daar vlerke uit haar krom skouers. Ek het die boek onwennig toegemaak, traag om afskeid te neem van ’n wêreld en sy mense wat ek intiem leer ken het. Flarde is inderdaad ’n merkwaardige debuut.” In Flarde het die hoofkarakter verhoudings met mans en vroue. Stephanie Nieuwoudt wou by Marlize weet of die geslagtelike ongelykheid en die geweld teenoor vroue in die samelewing in die algemeen en in Ganyesa in die besonder, dalk ’n invloed het op die karakter se seksuele ambivalensie. “Geslagtelikheid,” antwoord Marlize. “’n Mens is daartoe verbind die oomblik wat jy in die baarmoeder gevorm word. Jy is onlosmaaklik daartoe verbind, selfs al sou jy die geslag-verandering laat doen. As een van ’n tweeling – en dan is die ander een ’n seun – merk jy op ’n stadium daar is ’n verskil. ’n Moerse verskil. Só dieselfde en tog só verskillend. “Die oomblik wanneer jy onderskeid tref tussen twee groepe, is daar onmiddellik vrae. Dit behels politieke, ekonomiese en fisieke verwagting, verbeelde verantwoordelikhede teenoor die ‘ander party’ en teenoor jouself en dit val alles binne ’n samelewingsraamwerk. “Maar daar is ’n grys gebied. En dan praat ek nie van homoseksualiteit of biseksualiteit nie. Dit bring pengevegte, etiese gevegte, godsdienstige issues en verwarring. Ek wil my nie te veel uitlaat hieroor nie. “Die verteller (wanneer dit nie as ekself gesien word nie) sal moontlik na enigiemand gaan om te vind waarna sy soek. Veral omdat sy nie seker is waarna sy soek nie. Miskien bevryding? ’n Roekelose liefde? Die verteller – wanneer dit ek as skrywer is wat praat – kan maak van die karakter wat sy wil. Sy kan liefhê en lus hê en smag na wat sy wil. Die skrywer maak dit moontlik.” Gerrit Brand skryf in Die Burger van 25 Julie 2005 dat Flarde ’n vertelling is, eintlik ’n versameling van vertellings, op soek na ’n storie. “Verskillende vertellers kom afwisselend aan die woord, sommiges net een keer. Tog is dit asof daar deurgaans een ‘ek’ teenwoordig is, ’n soort kollektiewe psige wat sy eie spoor kwyt is, nouliks tot selfbewustheid kom, maar nietemin die verweefdheid onderstreep. (...) Die vertellers en karakters praat verskillende soorte Afrikaans, asook heelwat Tswana en ’n bietjie Engels. Die geveg met taal word boeiend deel van die verhaal. Dit is net jammer dat ’n Tswana-kenner klaarblyklik nie die teks deurgegaan het om die spelling en grammatika te kontroleer nie; daar is heelwat foute. (...) In Hobbs kry Afrikaans ’n belangrike en besonderse stem.” Willie Burger meen dat Marlize Hobbs se debuut dadelik die aandag trek. “’n Paar jaar gelede het die Natalse resensent Andries Visagie die ‘bloedarmoedige’ prosa van talle jong Afrikaanse skrywers betreur. In Hobbs se prosa is die taal beslis veel meer as ’n toevallige, bloedarmoedige medium om ’n storie vertel te kry. “Die moontlikhede van taal word op verskeie maniere ondersoek en uitgebuit. Al raak die taalgebruik plek-plek aan mooiskrywery, ’n effens oorbewuste taalgebruik, is selfs dít binne die konteks van die novelle sinvol en toon Hobbs ’n sterk potensiaal as woordsmid. Boonop bewys haar taalgebruik dat ’n jong skrywer nie in ’n selfbewuste jipperigheid, met die slordigheid van denke wat dikwels daarmee gepaard gaan, hoef te verval nie. “Taal en skryf is vir die hoofkarakter, Lisa, te belangrik om slordig daarmee om te gaan. Vir haar is taal uiteindelik die enigste verweer teen die chaos van die lewe, teen onbegrip. Dit is singewing en terapie. “Soos in Abraham de Vries se kortverhaalbundel Tot verhaal kom staan vertelling as ’n poging om sin te maak, om deur die vertel van ’n storie tot verhaal te kom, in Flarde sentraal. Maar soos die titel reeds aandui, en soos in De Vries se bundel, is daar bloot flardes van vertellings, is dit nie moontlik om ’n enkele, samehangende, singewende verhaal van ’n lewe te vertel nie. Nietemin is die flardes van stories, die vertellings uit verskillende hoeke, deur verskillende karakters, die enigste manier om sin te probeer maak van 'n lewe. (...) “As ’n maatskaplike werker in ’n afgeleë, armoedige landelike gebied, raak Lisa betrokke by talle mense se lewe. Nie alleen moet sy uit die flardes verhale van haar kliënte uit die stofverwaaide gemeenskap probeer sin maak nie, maar sy raak ook betrokke by ’n Kubaanse dokter en knoop talle vriendskappe oor die internet aan. Die verhoudings met ander en haar pogings om sin te maak van veral die Dipeko-familie se vertellings deur alles neer te skryf wat hulle vertel, word vervleg met haar pogings om ook sin in haar eie lewe te vind, haar pogings om haarself te verstaan. “Uiteindelik loop die swerfpad van Mosimanegape Dipeko (die wegloopkind) parallel met háár lewe as ‘wegloopkind’. Soos hy ná vele omswerwinge terugkeer na die plek van sy mense (dieselfde omgewing waar sy as kind gewoon het), het sy ook nodig om na die ‘stukkende huis’, na haar ‘woestyn’ terug te keer om tot rus te kan kom. (...) “Lisa ervaar moeite met die realiteit waarin sy lewe en sy gebruik dwelms in ’n poging om die lewe draaglik te maak. Ook godsdiens en liefdesverhoudings, verhoudings met familie en vriende, selfs internetkorrespondensie en deelname aan LitNet word in Flarde belig as maniere waarop individue probeer om sin te maak van hulle eie lewe. Die idee van ’n ondersteunende gemeenskap, van die gesin as veilige hawe word ook geproblematiseer. Die Dipeko-familie se probleme (en die geheime wat binne ’n gesin bewaar word en uiteindelik skadelik inwerk) belig Lisa se soortgelyke gesinsagtergrond waaroor sy skryf. “Die vernietigende effek van verdoeseling, van geheime, van skuldgevoelens en die gevolge daarvan as nie oor hierdie gesinsgeheime gepraat word nie, staan sentraal. Maar uiteindelik is die uitpraat ook nie ’n eenvoudige oplossing nie. Ook die uitpraat kan negatiewe gevolge hê en dit is gewoon moeilik om te doen. Lisa kan uiteindelik slegs deur suggestie verwys na die oorsprong van haar skuldgevoelens en sy ervaar deurgaans ’n onvermoë om haar eie gevoelens te verstaan. “Die vermoede dat hierdie knapgeskryfde novelle sterk outobiografies is, word op verskeie maniere bevestig. Dit gebeur dikwels dat ’n skrywer wat sukses behaal met ’n besonder outobiografiese debuut, sukkel om dit met ewe veel sukses op te volg. Hobbs se taalbenutting, haar bedrewe hantering van verskillende vertellers, haar vermoë om met suggestie te werk en die deurdagte gebruik van motiewe soos vuur, stof, wind en water, gee ’n mens egter hoop dat Flarde ’n stewige oeuvre sal inlui.” Volgens Louise Viljoen word daar dikwels in gesprekke oor die lewenskrag van die Afrikaanse letterkunde gevra waar die betekenisvolle nuwe werke deur belowende jonger skrywers dan is. In antwoord hierop sou verwys kon word na Marlize Hobbs, skrywer van Flarde. Viljoen gaan voort: “Die sentrale stem in die novelle is dié van ’n maatskaplike werker. Haar vertellings word verder deurgaans vervleg met die ek-vertellings van die lede van die Dipeko-familie met wie sy in aanraking kom deur haar werk as maatskaplike werker in die afgeleë Ganyesa. “Op heel beknopte en tegelyk suggestieryke manier word die verloop van haar lewe blootgelê: haar ervarings as klein meisietjie, as student in maatskaplike werk, as jong vrou in haar eerste betrekking. Dit is veral haar psigiese lewe wat op boeiende, poëtiese wyse in haar ek-vertellings blootgelê word. Daar is die verhaal van haar epilepsie, verslawing aan medisyne en ander substanse, die depressies, die vreugdes, die begeertes, die aangetrokkenhede tot bepaalde mans en vroue wat met ’n soort kriptiese krag oorgedra word. “Oor sekere dele van haar geskiedenis word daar egter geswyg. Sy sê immers self: ‘Binne elke geskiedenis is nog een, binne elke verhaal 'n onvertelde storie.’ Dit wil voorkom asof die onvertelde storie in hierdie geval handel oor iets wat in die familie gebeur het of oor die pa wat soms positief, maar op ander tye weer negatief in herinnering geroep word. Die leser kan ook uit die parallelle met die Dipeko-familie sekere gevolgtrekkings maak oor dit wat verswyg word in hierdie geskiedenis, soos dat haar tweelingboetie, Ben, se hande verbrand net soos dié van Mama Minoto se pleegkind, Kabelo. Die vertelling lê byna ongemerk sekere skakels en die leser word die geleentheid gelaat om te speel met allerlei betekenismoontlikhede. “Die leser leer verder iets van die maatskaplike werker se dryfvere en droefhede verstaan deur haar verwysings na die skryfproses waarmee sy besig is. Met J as mentor wat haar leer om stories te skryf, probeer sy om haar geskiedenis te herskep sodat sy daarin kan glo. Dit is ook deur stories dat haar verhaal as wit Afrikaanse vrou vervleg raak met dié van die Afrika-mense om haar en sy haar eie geskiedenis kan omvorm in dié land met sy baie spoke uit die verlede. Omdat sy ’n maatskaplike werker is, vertel hulle vir haar hul stories. ‘Met elke kliënt wat inkom en naderhand ’n bekende gesig word, leer ek ’n Afrika-storie in myself ken. Ek maak dit myne, sodat ek die sondes van my voorvaders kan agterlaat,’ skryf sy. “Hierdie proses lê dus ten grondslag van die vervlegting van haar verhaal met dié van die Dipeko-familie waarin Mama Minoto sentraal staan. Sy is ’n kinderlose vrou wat vir Kabelo, wie se sestienjarige ma by sy geboorte sterf, onder haar sorg neem. Naas haar is daar ’n verskeidenheid ander karakters uit dieselfde familie wat ook hul verhale vertel om uiteindelik die geheim rondom Kabelo bloot te lê. Die stilswye oor die geweld teenoor vroue en kinders word gedeeltelik opgehef deur Mama Minoto se vertel van die verhaal aan die maatskaplike werker én deurdat die maatskaplike werker dit opneem in die boek wat sy skryf (hierby is die outobiografiese besonderheid dat die skrywer ’n maatskaplike werker is ook ter sake). “Die wêrelde van die wit Afrikaanse maatskaplike werker en die Tswana-familie word ook op ’n ander vlak as die realistiese geskakel in die vertellings van Mosadiotsile. Mama Minoto sê vir die maatskaplike werker die mense van Ganyesa het vir haar ’n Tswana-naam gegee, naamlik Mosadiotsile, wat beteken ‘’n vrou het gekom om ons te help’. Die leser lei af dat die vertellings deur Mosadiotsile eintlik dié van die maatskaplike werker is wat haar daardeur kan vereenselwig met die leefwêreld van die Tswana-mense. Hierdie vertellings het ’n soort magies surrealistiese kwaliteit waarin Mosadiotsile onder andere wraak neem op geweldenaars en vroue en kinders bemagtig. “Die skrywer slaag dus daarin om groot diversiteit en subtiliteit te verpak binne die betreklik beperkte omvang van hierdie novelle. Die sterk introspektiewe vertelling van die maatskaplike werker word gedryf deur die vreemde logika van die psige: die opbou van die verhaal is fragmentaries, ‘flarderig’ (soos wat die titel sê), met verrassende spronge tussen die verskillende momente. “Hierteenoor skep die verskillende vertellings deur die swart mense die narratiewe spanning in die verhaal en bou dit doelgerig op na die onthulling van die geheim rondom Oneboy Dipeko se dood. Verder word daar ook subtiele skakels tussen die verskillende vertellings en stemme ingebou deur die veelseggende verwysings na wind, stof, grond, bepaalde plekname, oë, vuur, hande ensovoorts. Daarby word die verhaal mooi omraam en ingebind deur die maatskaplike werker se perspektief op haarself as klein meisietjie in die plaaswinkel Mawethu Butchery en General Dealers, ’n ruimte wat ’n verdere kontakpunt is met die Dipeko’s. “Marlize Hobbs se Flarde is ’n besondere debuut in Afrikaans: dit is ’n ‘klein’ boek wat daarin slaag om ’n groot impak te maak.” Na die publikasie van Flarde was Marlize omtrent die heel laaste persoon wat ’n eksemplaar van haar eie boek in die hande kon kry. En toe dit uiteindelik by die plaaslike poskantoor op Vryburg aankom, wou die klerk dit nie vir haar gee nie, omdat sy nie ’n strokie daarvoor kon wys nie – dié het iewers verlore geraak. “Burokrasie op sy beste: dis nou Vryburg,” sê Marlize aan Sonja Loots. “Ek verduidelik vir haar dis mý boek, die foto van die girl agterop is ’n foto van mý, maar sy wou niks weet nie, níks.” Dit het ’n oproep na die posmeester en baie mooipraat gekos voordat die klerk toegegee het. “En jissie, toe ek daai boek vat, toe word ek amper flou. Ek staan daar en huil in die poskantoor. Toe gaan sit ek in my kantoor en huil, en ek húil, en ek huil nóg ’n bietjie. Toe bel ek my ma en my tweelingboetie.” ’n Kollega het kom vra wat aangaan. “Toe sy agterkom die boek is oor Ganyesa, trek die nuus dwarsdeur die kantoor. Marlize het ’n boek oor Ganyesa geskryf. Toe is ek so vir vyf minute ’n hero.” Twee van die karakters in die boek, Ben, die tweelingbroer, en Ivan, die Kubaanse minnaar, bestaan albei buite die boek en sy het hul regte name gebruik. “Ivan het my gehelp om die sex scenes te skryf. Ek skryf en dan sê hy: ‘No, sweetie, jy’s so bietjie aggro, jy kan nie sommerso op my spring nie.’ Dan sê ek: ‘Dis nie op jóú nie, dis op ’n karakter.’” Maar die dokter is terug Kuba toe. Die toneel in Flarde waar die maatskaplike werker haar vir behandeling vir dwelmafhanklikheid aanmeld, is ook baie na aan die werklikheid. “Ek was eenkeer verskriklik stoned by die werk,” vertel Marlize. “Toe sê my baas: ‘As jy gatvol genoeg is, sal jy iets daaraan doen. Besluit self.’ Dit is die beste terapeutiese woorde wat ek in my lewe gehoor het. Jy moet sélf kom op die punt waar jy besluit jy is gatvol om Valium te gaan bedel. Gatvol vir die smaak in jou mond. Gatvol om skuldig te voel, want die oomblik wat jy skuldig voel omdat jy iets gebruik, gaan doen jy dit weer. “Ek het in my kar geklim, hospitaal toe gery en gesê: ‘Hier is ek en ek het ’n probleem.’ Nou, die mense ken my en hoe kan ék dan nou ’n probleem hê? Ek het vir hulle gesê: ‘Ek’s ’n druggie, julle weet dit net nie, want julle kyk nie in my oë nie. En omdat ek aan epilepsie ly, is dit vir my niks om pille te kry nie.’” Marlize glo jou individualiteit lê opgesluit in die geheime self wat jy nie goedsmoeds ontbloot nie, die geheime self waarvan net jy weet en waaroor ander wonder. Hierdie versteekte stuk self kom in haar skryfwerk na vore deur die gebruik van outobiografiese besonderhede in dele van die teks en weer in ander dele “wat ek bylieg – om ’n karakter iets te laat sê soos ek dit sou wou hoor en nie noodwendig soos dit gesê is nie”. Na al die pryse en bohaai oor die boek vertel Marlize aan Sonja Loots: “Ek gaan terug werk toe, waar ’n ongelooflike klomp dinge moet gebeur. En dis dit. Ek gaan huis toe, Vryburg toe.” Daar waar die armste mense van die dorp haar gaan groet op haar ánder naam, haar Afrika-naam. Mosadiotsile, wat beteken: ’n vrou het gekom om ons te help. In 2009 publiseer Marlize die eerste 100 bladsye van ’n nuwe roman getiteld Divine prostitute / The girl in the bird’s nest op haar blog en vra sy lesers om terugvoering te gee. Publikasies:
|
Publikasie
|
Flarde: ’n novelle
|
|
Publikasiedatum
|
2005
|
|
ISBN
|
0958460442 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Parklands: Genugtig!
|
|
Literêre vorm
|
Novelle
|
|
Pryse toegeken
|
- Eugène Marais-prys 2006
- Universiteit van Johannesburg-prys vir Beste Skeppende Debuutwerk 2006
- Jan Rabie/Rapport-prys 2006
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
Artikels oor Marlize Hobbs op die internet
Artikels deur Marlize Hobbs op die internet

Terug na bo
Bygewerk: 2011-03-30 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|