Erika Terblanche
|
Sêgoed van EWS Hammond
Na sy eerste bundel: “Om ’n gedig te skryf, is vir my soos ’n keisersnee.”
Oor sy verse: “Dit lê my na aan die hart. In ’n sekere sin is dit psigologies outobiografies van my bestaan as mens.”
“Ek werk stadig en is nie baie produktief nie. Die verse was vir my ’n emosionele ontlading in ’n artistieke sin.” |
Gebore en getoë
Edward William Stephen Hammond is op 18 April 1944 op die delwersplaas Badhope naby die plekkie Sydney-on-Vaal noord van Barkly-Wes gebore. Hy het sy laerskooljare op die delwerye deurgebring en het aan die Hoërskool Vaalrivier op Barkly-Wes skoolgegaan. Gedurende sy skooljare het die gesin na Kimberley verhuis en het Edward ’n leerling aan die bekende Rooidakskool op Boshof in die Vrystaat geword, waar hy in 1962 gematrikuleer het. Hy het op skool maar min van poësie geweet – “ons voorgeskrewe werk in matriek was Totius se Passieblomme.” Hy wou egter altyd skryf en het eers prosastukkies geskryf. Een van sy stukke, “’n Blom van die veld”, is later in Hennie Aucamp se Blommetjie gedenk aan my opgeneem. Edward het op skool met die werk van WA de Klerk kennis gemaak en het groot bewondering vir De Klerk gehad.
Terug na bo
Verdere studie en werk
Na skool is Edward na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1967 sy BA-graad verwerf het en sy Sekondêre Onderwysdiploma in 1968. Hy het vertel: “Ek het reeds op hoërskool in die letterkunde begin belangstel, maar dit was eers op Stellenbosch dat die wêreld van die letterkunde vir my oopgegaan het onder die bekwame leiding van manne soos proff DJ Opperman, Erlank en WEG Louw. Ook WA de Klerk het ’n belangrike rol gespeel. Maar dit was veral Opperman se Letterkundige Laboratorium wat ’n vaste basis geskep het vir die skryf en ontleding van poësie.” Hy het vir WA de Klerk op sy plaas Saffier in die Klein Drakenstein gaan kuier. “Ons het baie gesels. Hy was ’n groot krag in my lewe en het leiding gebied in ’n baie onsekere stadium.” Edward het onderwys gegee op Kakamas in die Noord-Kaap, waar hy ’n nuwe skoollied geskryf het wat later deur S le Roux Marais getoonset is. Hy was ook onderwyser op Jansenville in die Oos-Kaap en in Johannesburg. Hy het die destydse Rhodesië (vandag Zimbabwe) besoek en ook daar onderwys gegee. Einde 1974 het Edward na Engeland verhuis, waar hy vir twee jaar in Hunstanton aan die ooskus van Engeland onderwyser was. Dit het aan hom die geleentheid gebied om gedurende vakansietye die Britse Eilande en die meeste van die bekende lande van Wes-Europa te besoek. Aan die einde van 1976 het Edward na Suid-Afrika teruggekeer, waarna hy aan die bekende privaatskool Michaelhouse in KwaZulu-Natal gaan onderwys gee het. Aan die begin van 1979 het hy na die Kaap verhuis, waar hy hom in Vishoek gevestig en senior Afrikaans aan ’n bruin Kaapse skool onderrig het. Hy het dit geniet om in Vishoek te woon en daar was ’n bevrediging vir hom om naby die see en die berge te leef, al was sy kinderwêreld die Vrystaat. In die elemente see en wind is daar vir hom ’n mistieke inslag. Dit is egter nie ’n ontvlugting nie. “Die see is see en jy is jy. Jy moet jou eie probleme binne-in jouself oplos,” het hy aan Amanda Botha gesê. In 1978 is diabetes mellitus by hom gediagnoseer en het sy gesondheid sodanig verswak dat hy in 1984 die onderwys moes verlaat. Sedert 1992 was hy ’n permanente inwoner van die Harmonie-verpleeginrigting vir chroniese gevalle in Kimberley. Hy het egter voldoende herstel sodat hy in Eugenie-hof, Herlear in Kimberley kon intrek. Dit was te danke aan DJ Opperman se belangstelling en daadwerklike hulp dat Edward se debuutbundel, Hamburgers en hotdogs, in April 1980 verskyn het. Die verse dateer uit die tydperk 1965 tot 1979 en baie van hulle het vroeër in tydskrifte soos Die Stellenbosse Student, Kol, Tydskrif vir Letterkunde en Standpunte verskyn. Die bundel is op 6 Februarie 1981 deur die Publikasieraad verbied, maar is na ’n paar weke weer vrygestel na bemiddeling van Opperman en WA de Klerk. Opperman het gesê hy weet nie teen watter woorde of bepaalde gedig beswaar gemaak is nie, maar mense moet hulle nie teen ’n enkele woord of een of twee gedigte gaan blind staar nie. “Hulle moet hulself afvra: ‘Is hierdie werk in ons stryd aan die kant van die Engele of aan die kant van die duiwel?’ “Dan is Hamburgers en hotdogs myns insiens aan die kant van die Engele in die ontwikkeling van ons poësie.” Edward het aan Amanda Botha vertel dat die verbod ’n verpletterende hou was. “Ek het gevoel dat alles tevergeefs was – dat die bundeltjie net in die niet sou verdwyn. Die verbod het egter ook sy seëninge gehad.” Vyf van die verse is in Opperman se Groot verseboek van 1983 opgeneem, twee in Senior verseboek en twee in Junior verseboek. Ses van die gedigte is ook oor die radio voorgelees in die program “Verse op Versoek” wat oor die Afrikaanse diens van die SAUK uitgesaai is. Dit was die swaarkryjare van moeilike kinderdae wat die grondslag van sy poësie gelê het en wat tot sy debuutbundel gelei het. “Ek moes dinge afbreek om by die kern te kom. Dit was poësie van ontnugtering – ’n poging om van illusies ontslae te raak,” het Edward aan Amanda Botha gesê. In sy gedigte voer hy as ’t ware gesprekke met die mense van sy lewe – sy ouers, sy ouma en ander wat sy pad gekruis het. Dit kan as gevoelspoësie beskryf word – maar dit is “guts”-werk. Dit is uitgeryg uit die binneste. “Ja, ‘guts’ is die regte woord,” het hy toegegee. “As ek nou (1981) moet skryf, sal dit sentimenteel wees. Ek wil graag oor die see en die natuur skryf.” Hamburgers en hotdogs se skryfproses was ’n afbrekingsproses in homself om groei moontlik te maak. Dit was seerkry wat hy uitgeskryf het en in poësie verwerk het. Die bundel is nie ewe goed deur al die kritici ontvang nie, hoewel Opperman as keurder dit aangeprys het. Die menings van die kritici was vir Edward ’n harde hou wat seergemaak het en hy het gesukkel om dit te verwerk. Volgens DJ Opperman was die bundel ’n goeie kunswerk. “Ek voel onreg is reeds teen die bundel gepleeg deur die onaangename klimaat wat geskep is deur swak koerantresensente wat nie gehou het van die bundel se wêreld nie. Dit is nie reg dat resensente die bundel afkam omdat die wêreld van die bundel onaangenaam is nie. Die suiwer kritikus moet kan sê dat hy nie van die bundel se wêreld hou nie, maar dat dit goed uitgebeeld is.” Een van die voorbeelde wat Opperman voorgehou het, is die uitbeelding van die Verlore Seun-motief in die bundel. “By die dertigers is dit in groot mate sentimenteel en melodramaties uitgebeeld. In Hamburgers en hotdogs is dit nugter, hard en wreed. Ook Hammond se siening van die blanke, in sy Christelike veiligheid, teenoor die nie-blanke wat verwaarloos word deur die geloof en deur ons Christelike opvatting, is harde waarhede. “Die mense hou nie van die manier waarop hy (Hammond) die Verlore Seun sien nie. Só lê hy klem op die veiligheid van die Christelike godsdiens waardeur die nie-blanke verstoot word. Soos ons in die Bybel lees, en ook by groot denkers soos Calvyn en Abraham Kuyper is dit dikwels asof die Here kunstenaars buite die geloof kies om onthutsende waarhede te openbaar,” was Opperman se verduideliking. In sy resensie in Die Burger van 3 Julie 1980 meen Fanie Olivier dat die verse in hierdie bundel oorwegend verse is waarin die menslike toestand betreur word: die gevalle blare in “Verlore tuin” word op ’n hoop gehark en aan die brand gesteek en die rook (dus ook die tuin wat die mens geskep het) trek op “tot ’n mens dit nie meer kan sien nie”. Die mense wat hierdie 31 verse bewoon, is mense vir wie daar geen sin in die lewe oorgebly het nie. Ook die seksuele, die basiese kommunikasie, het in hierdie wêreld sy betekenis verloor. Wie dan nog wil uitgryp na God of na Christus, vind daar ewe min troos. Slegs in “Afrika”, een van die mooiste verse in die bundel en een wat sy plek inneem onder ons beter betrokke poësie, vind die leser ’n positiewe beeld in die tweede strofe. Olivier skryf verder: “Die verse in Hamburgers en hotdogs is oorwegend kort, met kort versreëls. Die verse word goed gebind deur ryme, ook binne-ryme, iets wat ’n mens vandag nie sonder meer by ons kriptiese poësie aantref nie. Hoewel die digter binne hierdie klein bestek nie ontkom aan geforseerde sinskonstruksies of formulerings en vaal rymmaats nie, toon Hammond dat hy oor besondere versdissipline beskik. ’n Mens sou ook beswaar kon maak teen die strak aard van die meeste verse en die leser mis die spel met die beeld en die metafoor. Tog, reken ek, sluit dit aan by die digter se visioene van gestroopte en betekenislose lewens wat ons in hierdie bundel teëkom. (...) “Hamburgers en hotdogs is ’n beklemmende debuut: kan ’n mens werklik so sku oor die lewe wees en so min hoop vir die mensdom sien? Terselfdertyd is daar ook verstegnies so ’n gevoel: die verse klink oud en gaan in hulle strukturering gebuk onder ’n eenselwigheid en ’n geyktheid wat soms te sterk deurslaan. Dit dra daartoe by dat die bundel nie volkome bevredig nie, maar ek glo nietemin dat Hammond as digter vir ons veel te sê het. Daarom bid ek dat hy ook sy deel van die vreugde van die lewe sal raaksien, sal raakvat en sal verwoord.” Lucas Malan het gemeen dat Hamburgers en hotdogs min gedigte bevat wat onthou sal word. Daar is verbeeldinglose ryme wat ’n voorbeeld is van die gebrek aan taalspanning en digtheid in die poësie. Volgens Malan is dit ’n skraal bundel met gedigte wat hoofsaaklik somber waarnemings is van die ontnugterde mens wat wanhopig voortbestaan. TT Cloete het aan die bundel ’n spesiale plek onder 1980 se debute toegeken op grond van Hammond se “eie manier van sien en van sê”. In Die Vaderland van 31 Julie 1980 skryf DJ Hugo dat Hammond nie juis uitblink in beeldgebruik of klankgevoeligheid nie. Daar is wel uitsonderings, soos “Laaste basuin” met sy halfverskuilde klanknabootsende rym en redelik geslaagde metafore. Maar baie gedigte neig, volgens, Hugo, eerder na die prosaïese wat, as dit nie ’n ironiese ommekeer of “punchline” bevat nie, futloos is. “In Hammond se guns kan gesê word dat hy relatief min invloede van ander digters toon en die moontlikheid om ’n eie stem te ontwikkel, ongetwyfeld bestaan. Gedigte wat vermelding verdien, is ‘Laaste basuin’, ‘Sondebok’, Hengelaar’, ‘Selfmoord’, ‘My ouma’ en ‘Ertsboor’. ’n Skrale en geensins volmaakte sewetal dus. As poësie van ontluistering is Hamburgers en hotdogs ’n onindrukwekkende voortsetting op die gedigte van Wilma Stockenström en Johan van Wyk.” Rika Preller het gemeen dat dit literêr meer geldig sou gewees het om die paar gedigte wat streng keuring deurstaan het, liewer na ’n letterkundige tydskrif te gestuur het. “Tematies hanteer die bundel uiteenlopende en samehangende lewensprosesse: lewe, dood, eet-en-drink, uitskeidings, ‘kots en koue’ – meer spesifiek: af aarde toe, na die ingewande, die boorskag, die graf! Ook die taal wil áárds wees, sonder tooisel, maar dié nugterheid word maklik pretensie, veral as dit so doelbewus tegniek word. (...) My grootste beswaar geld die geheelindruk dat dit prosa is wat nie die moed het om in eie reg op te tree nie en dus ingeklee word deur die uiterlike kenmerke van die poësie. Dit gee aanleiding tot ongemotiveerde enjambering, willekeurige versreëlverdeling om ’n prosareël ’n vers-skyn te gee en ondeurdagte tipografiese woord-isolasies. (...) Billikheidshalwe moet ’n mens toegee dat elke werk seker sy eie kriterium kan skep: hamburgers en hotdogs is die voedsel van die massamens, maar ek moet die skrywer waarsku om nie die gewone leser te onderskat nie: selfs húlle sal, as die vleisie min en laf is, dit doodgooi met tamatiesous.” Vyftien jaar na die publikasie van Hamburgers en hotdogs is Edward se tweede digbundel, Doodsteek van ’n diabeet, deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. En anders as met sy eerste bundel was die kommentaar en kritiek op die tweede bundel hoofsaaklik gunstig en positief – in so ’n mate dat Edward die Eugène Marais-prys vir 1996 met AHM Scholtz gedeel het. Riana Scheepers het die bundel as ’n uiters toeganklike en roerende bundel beskou wat handel oor die siektetoestand diabetes en die daaglikse bestaan in ’n verpleeginrigting. Dit was nie vir haar ’n droefgeestige klompie gedigte waarin gesanik word oor ’n siekte nie. Die ironiese titel sê alreeds dat hier uit ’n ongewone hoek gekyk word na persoonlike trauma – en dat dit verwerk word tot ’n kunswerk wat hierdie siekte sal oorleef. “Uiteraard is die besef van die dood ’n belangrike gegewe in hierdie boek. Die digter praat sonder skroom daaroor, oor sy angs, sy verlange, en die wete dat hy nooit weer gesond sal wees nie. Die verlossende in hierdie verse is die feit dat Hammond nooit verval in ’n gejammer nie. Hy kry dit reg om met ironie en humor enige vorm van selfbejammering weg te brand. Terselfdertyd laat hy jou tog deel in die slopende ervaring, ervaar jy momenteel dit wat die pasiënt deurmaak, en kry jy ten slotte eindelose begrip en deernis met ’n toestand waarvan die gewone mens eintlik bitter min verstaan. Maar, belangriker nog, jy kry ook respek vir die digter se woordvaardighede, sy vermoë om selfs te midde van die ellende jou te laat glimlag – soos in die gedig “Onomkeerbaar”:
Ons word wakker, op bevel, Ons eet en drink ..., op bevel, gaan hel toe, op bevel, maar herstel: not ’n blerrie hel.
“Doodsteek van ’n diabeet van EWS Hammond is ’n verruimende leeservaring. Dit is ’n digbundel wat nie net deur diabete gelees en gewaardeer gaan word nie.” SW van Zuydam beskou in sy resensie in Die Volksblad van 4 Maart 1996 die teks as ’n persoonlike dokumentering van die digter se siekte. Maar die gedigte is volgens Van Zuydam geen jammerklag nie – daar stem hy saam met Scheepers – veral omdat die liriese “ek” wat in die meeste gedigte voorkom, nie sonder meer met die digter self gelykgestel kan word nie. “Kortom, die digter word nêrens opdringerig nie, en hy slaag daarin om iets algemeen geldend toe te voeg tot die persoonlike ervarings. Die gedigte handel nie net óór die verskrikkinge van die suikersiektelyer nie, maar is ook ’n indringende aanklag teen die geheimsinnige mag(te) wat die lyding veroorsaak. In die aanvangsvers, ‘Openbaring’, word God self daarvoor verantwoordelik gehou. (...) “EWS Hammond se Doodsteek van ’n diabeet is ’n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse digbundels wat handel oor siekte en leed – soos Ernst van Heerden se Tyd van verhuising en DJ Opperman se Komas uit ’n bamboesstok – en verleen aan dié subgenre ’n besondere dimensie. Die bundel bevat ’n aangrypende boodskap vir die ingeligte sowel as die oningeligte – vir die diabeet sal die bundel ’n bevestiging wees van sy pyn en lyding, maar vir die leek ’n openbaring.” In Insig skryf Louise Viljoen dat die uitwerking van suikersiekte op die spreker en sy ervaring van sy liggaam, sy psige, sy omgewing en sy vooruitsigte in ’n verskeidenheid gestroopte, onsentimentele gedigte geteken word. “Die titel van die bundel openbaar reeds iets van die wrang beskouing van dit wat kennelik ’n onomkeerbare siektetoestand by die spreker in die gedigte is. Anders as in die geval van byvoorbeeld Opperman is daar in hierdie siekte-poësie geen sprake van ’n loflied op regenerasie en herlewing nie; eerder ’n troostelose inkyk in die leegtes voor en na die dood. (...) “Hoewel die taalgebruik en versifikasie in die bundel oor die algemeen getuig van ’n byna brute eenvoud, is daar tog momente waarop dit ’n soetheid (’n gelade woord in die konteks van die bundel) het wat amper herinner aan dié van die ouer Afrikaanse poësie. Hierdie momente is des te meer ironies en aangrypend omdat die leser die gevoel kry dat die spreker wat as diabeet nie meer die ‘soete werklikheid’ van dinge soos druiwe, heuning en stroop kan ervaar nie, hom in sekere gevalle na die taal moet wend om sy soetlus te bevredig (vgl die gedig ‘Soetland’).” Viljoen vind dit opvallend dat die bundel se taal en styl ’n vreemde, maar aantreklike, kombinasie is van ’n ou-wêreldse sensitiwiteit en die bruuskheid kenmerkend van sommige Afrikaanse gedigte uit die jare tagtig en negentig. Sy sluit af: “Daar word dikwels gekla dat die Afrikaanse poësie geobsedeer is met somberhede soos die dood. Hammond se bundel bewys dat so ’n preokkupasie nie ’n beswaar hoef te wees nie: dit is poësie wat bewys dat daar uit bitterheid, woede en ellende net sulke treffende poësie gemaak kan word as uit vreugde, ekstase en hoop.” Kannemeyer beskou nie Doodsteek van ’n diabeet as ’n groot bundel nie. “Naas verse soos ‘Verraad’ waarin Hammond die lot van Christus by sy eie siekte betrek en in retoriek verval, word die leser egter beïndruk en meegevoer deur die wyse waarop die digter in die beste verse as ’t ware uit die ervaring van sy eie siek lyf skryf. En waar hy ’n versugting slaak oor wat met hom ná sy dood moet gebeur, word dit nie ’n tranerige besigheid nie. In ’n gedig soos ‘Song, song blue’ slaag hy byvoorbeeld om met die gebruik van Engels, met slegs enkele Afrikaanse woorde, iets besonders te bereik:
As ek sterwe, begrawe my in die herfs onder ’n treurwilg. En sing, thank you very much sad songs, soos “Four strong winds” en such.
AP Grové het gemeen dat Hammond se kragtigste wapen in Doodsteek van ’n diabeet in die uitwerk van parallelle lê, dikwels gepaardgaande met onthutsende diskrepansies soos byvoorbeeld te sien is in die gedigte waarin die situasie van die diabeet naas die kinderwêreld en die “soet beloftes” van weleer gestel word – ’n ironiese parallel wat ’n hoogtepunt bereik in die gedig “Kringloop” waar die siekte in sy ontreddering tussen “kottralies” en met die woorde van Brahms in sy ore tot hulpelose kinderstaat teruggevoer word: “En môre vroeg, as God wil, kak hy/ opnuut oor ’n omgedopte/ handskoen van plastiek” – ’n wrang gedig waarin skatologie en eskatologie met besondere effek in jukstaposisie naas mekaar te staan kom. Grové het verder geskryf: “Die hoogtepunt van die bundel bereik die digter aan die einde met die gedig ‘Die struggle’, waarin die nuwe Suid-Afrika met sy teleurgestelde verwagtings, sy boikotte en stakings, sy ‘sinnelose uitbarstings van die vrees’ oor die hele linie, die verwagtings en ontnugteringe oproep van die diabeet wat soveel van die insulien verwag het, die wondermiddel wat per slot van rekening slegs op tydelike immuniteit teen ‘versakings van kliere en stakings van die pankreas, hart en niere’ kan laat hoop. “Om teen slopende liggaamlike omstandighede in jou wêreld intellektueel en taalmatig tot so ’n sinvolle patroon te kan orden, moet geld as ’n triomf, en ’n genade.” Verdere lof vir Doodsteek van ’n diabeet het gekom van Joan Hambidge, wat dit bestempel het as ’n baie, baie goeie bundel. “Dit is gestroopte verse, sonder ’n enkele oortollige woord. ’n Mens sou dit kon tipeer as poësie van die understatement.” Petra Müller het gesê die beste gedigte in die bundel “brand alle selfbejammering weg soos met ’n blaasvlam”. Hammond het aan Elfra Erasmus vertel dat sy gunsteling-digters TS Elliot, DJ Opperman, die Louws, natuurlik, en Leipoldt is. By Elliot het hy veral van “Lovesong of J Alfred Proofrock” gehou, en by WEG Louw sy hartseergedigte. “Ek hou baie van Breyten se vroeëre werk, soos Die ysterkoei moet sweet. Die Nederlandse digter Leopold se werk spreek ook tot my. Ek stel belang in jeugherinneringe en het ’n pragtige boek uit Engeland saamgebring - Tolstoi se Childhood, Boyhood, Youth. Ek lees ook graag die kortverhale van Katherine Mansfield, Hennie Aucamp en Petra Müller.” Die buitestander-tema, wat sterk in sy bekroonde bundel na vore kom, is volgens hom knap verbeeld in JD Salinger se The Catcher in the Rye, Thomas Mann se Tonio Kruger en Dolf van Niekerk se Die son struikel, en deur Karel Schoeman “eintlik in al sy werk”. Sy gunsteling-romanskrywer is Etienne Leroux.
Charles Fryer vertel aan Marlene Malan dat Edward in ’n stadium ’n ernstige drankprobleem gehad het. “Toe ek ’n baie neerslagtige, dronk Hammond tydens ’n telefoongesprek probeer oorreed het om nie selfmoord te pleeg nie, het hy versoek dat Loreinne (Charles se vrou) vir hom hallelujas sing. Loreinne was hoogswanger en het losgetrek met al wat halleluja was. Van ‘Daar’s bemindes in die hemel’ tot by ‘O Vader wat woon in die hemel’. Kort-kort het hy geprewel: ‘Loreinnetjie, Loreinnetjie’. Plek-plek het hy lustig saamgesing." Edward Hammond is op 5 Desember 1999 in Kimberley aan keelkanker oorlede. Hy is nooit getroud nie. Hy het sedert 1995 aan verhale oor sy jeugherinnerings gewerk. Dit sou in 2000 by Tafelberg Uitgewers verskyn het onder die titel As die Vaalrivier vol brandewyn was. Dit kon egter nie meer na sy dood gepubliseer word nie, omdat hy nog toevoegings moes voltooi.
Doodsteek van ’n diabeet Elke oggend deur die steriele sale van die hospitaal kom my klein beminde met haar wit gewaad. Ek ontbloot my, by voorbaat, soos ’n slet, reg vir die kliniese daad. Eers die hees fluistering: Is hy in? En dan, byna teer: Het ek jou seergemaak? Uiteindelik niks meer as: Sien jou môre weer. Ag, hoor hier: my hart wil breek; ek is al so stukkend en so moeg vir die alewige gesteek. Kuil God, ek is tot die dood gewond; nou weet ek wat dit is om te ly aan die soete pis maar hierdie verwonde gees sou net soos gewone mense liewer gesond wou wees. Noudat dit nie meer moontlik is nie, net ’n laaste wens: strooi my as teen die wind oor daardie winterkuil en laat my, nog blind en ongebore, tussen visse skuil.
Publikasies:
|
Publikasie
|
Hamburgers en hotdogs
|
|
Publikasiedatum
|
1980
|
|
ISBN
|
0624013715 (hb)
|
|
Uitgewers
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Doodsteek van ’n diabeet
|
|
Publikasiedatum
|
1995
|
|
ISBN
|
0624034216 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Medewenner van Eugène Marais-prys 1996
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
Artikels oor EWS Hammond op die internet
Artikels deur EWS Hammond op die internet

Terug na bo
Bygewerk: 2011-04-06 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|