Erika Terblanche
|
|
|
Sêgoed van Pieter Cilliers
“My ses jaar op Tuks was ’n positiewe, vormende tydperk in my lewe. Iemand vir wie ek groot agting gehad het, was prof Ben Engelbrecht. Hy het ’n baie droë sin vir humor gehad met baie grappies oor pampoen. En ek onthou hoe ’n student een dag ’n stainless steel krulklamp in sy hare vergeet het en die hele lesing deur in die klas gesit het, onbewus van dié blink gedoente op sy kop.”
“Ek het nie gekies om gay te wees nie. My seksualiteit is deel van my soos die kleur van my hare en oë. Hoe kan 'n mens ooit kies vir verwerping deur die kerk?”
“Dit is ironies dat ons vandag soms ’n hoër premie plaas op diskresie as op die waarheid. Stilbly het soms sy plek. So ook die noodleuen. Ek het wel ’n probleem daarmee as die waarheid ingespan word om iemand seer te maak.”
“Maar hierdie selfverklaring, of ‘uit die kas kom’, het my ook bemagtig. Ek dink nie iemand wat ’n leeftyd lank versmoor het, kan homself ’n groter guns as juis dit doen nie. Niemand behoort sy of haar lewe in te rig, of uit te leef bloot op grond van ander mense se indrukke of oningeligtheid nie. Jy leef immers volgens die morele wet in jou. Dít terwyl ek my lewe lank so gewaak het oor my reputasie. ’n Mens leer mos dit is die belangrikste ding in jou lewe. Dit kom nie agter jou aan nie, dit loop jou vooruit. Vandag weet ek dit is karakter wat belangrik is. Reputasie is immers net wat ander mense van jou dink. Karakter is wat jy van jouself weet.”
“Ek is deur baie storm en drang, maar geniet dit om nou (1999) in my vel te wees. Ek is myself – en gemaklik daarmee.”
“Die skryf van die boek was terapie. En ek het altyd die agterdeur oopgehou dat ek dit nie hóéf te laat publiseer nie. Uiteindelik het ek amper nie ’n keuse gehad nie: dit was deel van my reis, van selfbemagtiging. Amper belangriker as die gevolge, was dat ek my gevoelens en stryd deeglik wou vasvang.”
Wat is liefde? “Ek wens ek het geweet. Ek vermoed dinge soos onvoorwaardelike aanvaarding en vertroue, lojaliteit, vriendskap, intimiteit, erotiek, die kuns om te gee en te ontvang en lepellê maak alles deel uit van die enigma.”
“Ek sal nooit emigreer nie. Die mense in ons land is net té interessant.”
“Dis belangrik om op die voorpunt te bly van wat jy doen. Die laaste ding wat jy kan doen, is stagneer. Ek dink dit het te make met die vermoë om aan te pas. Jy moet op hoogte bly van wat om jou gebeur en bereid wees om aan te pas.” |
Gebore en getoë
Pieter Joshua Cilliers is op 6 Januarie 1952 te Rustenburg in die hedendaagse Noordwes gebore. Hoewel Pieter se pa nie die eersgeborene was nie, het hy nie die baie boerename vrygespring nie. Oupa Pieter en ouma Hannie Cilliers se keuse was Nicolaas Johannes Hermanus. Sy vriende het hom Nico genoem, maar vir die kinders was hy oom Niekie. Vir sy pa was Pieter Piet en sy ma het hom Boesman genoem. Pieter se ma was ’n nooi Meintjes en was die enigste dogter wat die familiename kon voortdra. Ouma Miem en oupa Jan het haar Maria Gesina Christina gedoop. Haar noemnaam was Marie en sy was ’n vrou wat maklik gelag het en graag baie kuiermense ontvang het. Pieter se ma-hulle het ’n huis in Rustenburg gehuur en toe Pieter vier jaar oud was, het Loet, ook vier jaar oud, daar aangekom. Gou het die twee karretjies in die stof begin speel. Toe Pieter se ma hom laatmiddag kom roep het om te kom bad, het Pieter gevra of Loet mag saamkom. “Sy het rondgekyk en gevra wie Loet was. Dis toe dat ek geweet het sy kon hom nie sien nie. Niemand kon nie. Net ek,” vertel Pieter in ’n Kas is vir klere. Maar gelukkig het dit nie sy ma gepla nie. En hand aan hand is hulle drie saam huis toe. Loet het gekom om te bly. Ongeveer ’n jaar nadat Loet by die Cilliers’s ingetrek het, net na Pieter se vyfde verjaardag, is sy suster, Ria, gebore. Pieter en Loet was nie beïndruk deur die lelike pienk dingetjie nie. Haar name was Maria Christina sonder haar ma se Gesina. Haar ma het haar egter Meidjie genoem en die res Ria. Intussen het die gesin na hulle eie huis in Uniestraat getrek. Pieter se pa het by ’n platinummyn gewerk, maar hy was nie baie gelukkig daar nie. Hy het die metaalwerkpos by die Oom Paulskool gekry, so dertig kilometer anderkant Rustenburg naby Moedwil. “Die mense het die plek tussen Rustenburg en Swartruggens ’n stofplek genoem. Dit was nie ’n gewone skool nie. Spesiale kinders het soontoe gegaan. Ma het hulle ‘verstandelik agter’ genoem. Ons het vroeg in Januarie getrek, net voor my sewende verjaardag. Dit was ’n hartseer dag. Ouma Hannie en haar skaapafval het in Rustenburg agtergebly. En Loet ook.” Die kinders was baie erg oor oom Niekie. Pieter se ma was sekretaresse en ook haar hart het na die “stadige bloedjies” uitgegaan. “Van die kinders se pa’s en ma’s het hulle aan die begin van die jaar daar afgelaai om hulle eers weer in Desember te kom haal. ‘Weggooikinders’ het Ma hulle genoem,” skryf Pieter. Pieter bring egter sy laerskoolloopbaan aan die Rietfonteinskool 299 deur. Die 299 is gebruik om die skool van ’n ander Rietfontein te onderskei. Pieter se skool was ’n plaasskool tussen Rustenburg en Swartruggens. Meneer Badenhorst was die skoolhoof en die skool was loopafstand van die Oom Paulskool af, regoor die Kruger Kontantwinkel. Dit was die enigste winkel op Moedwil en in weerwil van sy naam het die meeste mense daar op skuld gekoop. Die skool het tussen vyftig en sestig kinders gehad en daar was drie klasse: een vir die grade, een vir standerd een tot drie en een vir standerd vier en vyf. Die meeste van die kinders se pa’s was boere in die omgewing. Pieter onthou dat die hoogtepunt van elke skoolweek Vrydae se stories was. “Juffrou Aveling het dit opgemaak soos wat sy dit vertel het. Sy het my die eerste keer aan ’n cliffhanger bekendgestel. Wanneer die skoolklok die laaste keer op ’n Vrydag gelui het, het sy die storie op ’n mespunt gebalanseer. Die spanning was een te veel en ons het elke keer by haar gesoebat om klaar te vertel, maar juffrou Aveling wou niks weet nie. Ons moes ’n week lank vir die volgende aflewering wag.” Pieter se oupa Jan en ouma Miem het op Goedgelegen naby Groot Marico geboer. Die plaas was so ’n uur se ry van Oom Paulskool af. Ouma Miem kon self ’n baie goeie storie vertel en was veral lief om ware verhale uit die dae van die Boereoorlog en die konsentrasiekampe te vertel. Pieter vertel: “Ouma Miem was ’n opgeskote kind toe hulle huis voor haar afgebrand is. Dié dag het sy steeds helder onthou. Die soldate op hulle perde. Die paniekerige uitdra van die karige huisraad. Die slagting van die plaasdiere. Die brandende fakkels. En die hoë vlamme. Op daardie oomblik het ek haar haat vir die Kakies gedeel. “Die aalwyne op die plaas was oranjerooi, net soos die Engelse waarvan ouma Miem vertel het. Ek was ’n veldkornet en my opdrag was om die vroue en kinders uit die kampe te bevry. My bajonet was ’n lang stok. “Hulle het in gelid voor my gestaan, die Kakies. Ek het my bajonet gelig en bloeddorstig die teken gegee. Die geveg het begin. Saam met die Boere het ek hulle een vir een afgemaai. Met elke slag was ek nader aan die kamp vol honger en weerlose vroue en kinders. Die stryd was kort en bloedig. Die oorwinning soet. Ek het die koppie uitgeklim en die vernietiging gadegeslaan. Om my het die aalwyne gesaai gelê. Gesneuwelde Kakies. En ek was ’n held. “Ouma Miem het anders oor die saak gevoel en Ma het die belt nader getrek. My verbeelding het kort voor lank in rooi hale op my boude gelê. Ek het vir Loet gemis.” En so is Pieter se ma se voorspelling dat sy verbeelding hom nog in die moeilikheid sou laat kom, bewaarheid. Een van Pieter se pa se min tydverdrywe was om vis te vang. Hy het vir Pieter ook ’n visstok gekoop en die visvangery is na ’n paar maande aangevul met ’n windbuks. Op Saterdagmiddae het hulle gereeld by die beeskrale gaan skyfskiet. Oupa Jan is gedurende Pieter se laerskooljare aan maagkanker dood nadat hy ook emfiseem gehad het. Hy is op die plaas Goedgelegen begrawe, waar ouma Miem vir Pieter gewys het waar sy eendag langs oupa Jan sou gaan rus. Op laerskool, vertel Pieter, was hy, na sy eerste kys met Tessa, verlief op juffrou Thelma Marucchi. Sy het vir hom in ’n kasteel tuisgehoort, met ’n hangbrug en ’n prins op ’n wit perd. Vir haar het hy sy huiswerk met oorgawe gedoen en met die skoolwerk het dit baie goed gegaan. Hy en sy groot vriend, Joseph, het beurte gemaak om eerste te staan. Pieter het op laerskool begin tennis speel. Sy belangstelling in die sport het hy van sy ma gekry. Sy het elke Saterdagmiddag op die skool se tennisbane gaan speel. Hy het een van haar ou rakette gekry en teen die muur begin balle slaan. Cliff Drysdale was sy opponent. Tydens die Davisbeker-kragmetinge het Pieter met sy oor teen die radio rondgeloop. Die radio het sy bondgenoot geword. Saam met die radio kon hy sy vrugbare verbeelding vrye teuels gee. Hy het saam met Staal Burger teen die booswigte baklei. Die waterreservoir op die koppie agter die huis was sy uitkyktoring waar hy sy planne beraam en hulle “koelkop” tot uitvoer gebring het. “Vir die kommuniste het ek geen genade gehad nie. Hulle is summier lewenslank in die onheilspellende, donker gat van die reservoir opgesluit. Dit was egter Soetmelksvlei wat die wêreld vir my tot stilstand gebring het. Wanneer die kenwysie met Rachmaninoff se melancholiese klanke die huis gevul het, het ons hele gesin om die radio gebondel. Vir die volgende halfuur het ek aan tant Hybie se lippe gehang en die lot van Soetmelksvlei se mense het myne geword.” Pieter se eerste kennismaking met die wêreld van die rolprent was die film Lord Oom Piet in die plaaslike inryteater, die Kloof. Hy was gehipnotiseer. Sy familie het die uitstappies na die inry geniet, maar hulle het nie Pieter se obsessie met films gedeel nie. Die rolprente het ook later sy huiskonserte geïnspireer wat eers net vir die familie gehou is. Tydens hulle kuiers in Pretoria by sy oom-hulle was die tasse skaars afgepak of die beplanning vir die aand se vertoning het begin. ’n Dubbelbedlaken was die gordyn en die sitkamerstoele is in ’n halfmaan voor die “gordyn” gerangskik. Die niggies Maggie, Heleen en Hantie het saamgespeel en die twee jongstes, Pietro en sus Ria, kon van ’n afstand die voorbereidings dophou. Terug by die huis was Oom Paulskool ’n gewilde stop vir rondreisende kunstenaars. Pieter vertel hoe Charles Jacobie se besoek almal in rep en roer gehad het. “Ek het voor gesit, vasbeslote om niks te mis nie. (...) Hy het agter die fluweelgordyn uitgetree met ’n wit cowboy-hoed op sy kop en die Hawaise kitaar op sy heup gebalanseer. Die dak het gelig. (...) Aan die einde van die aand is Charles keer op keer teruggeroep. Hy het aan die druk van sy aanhangers toegegee en as toegif “Tom Dooley” herhaal. Iemand het kort daarna die ligte aangesit en die mense het traag huiswaarts gekeer. Ek het hom saam met ’n paar geesdriftiges by die sydeur ingewag. My beloning was ’n getekende foto. Aan Pieter. Van Charles Jacobie.” In standerd ses is Pieter na die Hoërskool Rustenburg, waar hy in die Krugerkoshuis tuisgegaan het. Die aanpassing in die koshuis was aanvanklik moeilik, maar dit het mettertyd beter gegaan. Pieter het by Derek Osche voortgegaan met sy klavierlesse wat by mevrou Badenhorst begin het. Sy entoesiasme was nie altyd groot nie, maar hy is beloon met ’n wisseltrofee as die belowendste musiekstudent . Onder sy beste vriende was Andries, Gerald en Joep. Andries was die goeie atleet en rugbyspeler, Joep het hom op debatsaande toegespits, en Gerald was die Engelsman wat Pieter met nuwe oë na die Kakies laat kyk het. Joseph was nog deel van die vriendekring, maar het stiller geword. Pieter is vroeg in die hoërskool met Helena gekys, maar die verhouding het nie na wense gevorder nie, aangesien sy vir Pieter meer soos ’n suster was. En dan was daar ook iets anders wat hom begin verwar het. Elke keer as hy toevallig aan Andries geraak het of wanneer hulle in die kerk styf langs mekaar gesit het, het ’n vreemde, maar lekker sensasie Pieter oorval. Al verklaring wat hy daarvoor kon gee, was dat Andries vir hom die broer was wat hy nooit gehad het nie. ’n String meisies het na Helena gevolg, maar daar was steeds ’n onrustigheid in hom wat hy op die agtergrond probeer skuif het. Hy het egter ywerig saam met sy vriende begin vry, maar net in die bondel. In standerd agt is Pieter verkies tot lid van die leerlingraad en het die skool ook besluit om ’n operette aan te pak – iets wat hom baie opgewonde gemaak het. Die naam daarvan was Willemien en die regie is waargeneem deur die Engels-onderwyseres, mevrou Botha. Pieter het egter een probleem gehad: sy sangstem was nie watwonders nie, maar gelukkig het hy een van die praatrolle, dié van die smous, losgeslaan. ’n Plek waar Pieter van al sy probleme, soos sy gevoel vir sy vriend Andries, kon vergeet het, was die Rustra, die plaaslike fliek. “Die films het my vlerke gegee. Ek het hulle wyd gespan en soos Ikarus weggevlieg, weg van my sieklike verlange. Maar anderhalfuur later het die helder ligte hulle gesmelt en my laat terugval in my angstige werklikheid.” In sy matriekjaar het Pieter vir sy pa vertel dat hy drama wil gaan swot, maar sy pa het geweier. In hierdie tyd het hy by die American Field Service aansoek gedoen om as ’n uitruilstudent in Amerika te gaan studeer. Hy het nie baie moed gehad dat hy gekeur sou word nie en het aan die moontlikheid om teologie te gaan studeer begin dink. Dalk was dit die antwoord op sy probleem. Pieter matrikuleer in 1969 aan die Hoërskool Rustenburg.
Terug na bo
Verdere studie en werk
In Januarie 1970 is Pieter na Pretoria, waar hy vir militêre diensplig moes aanmeld. Van daar is hy saam met ’n groep vir ses weke na Kimberley, waar “daar manne van hulle gemaak sou word”. Gedurende hierdie tyd is Pieter se ouma Hannie oorlede en kon hy die begrafnis op Rustenburg gaan bywoon. Net voor sy vertrek na Pretoria het Pieter van die American Field Service gehoor dat hy gekeur is om na Amerika te gaan. Vir hom was dit oorweldigende nuus en hy kon nie wag nie. Sy ma en pa was egter minder entoesiasties as Pieter, aangesien hulle besoek ontvang het van lede van die Veiligheidspolisie wat vertel het dat dit ’n kommunistiese komplot was om jong Afrikaners van volk en vaderland te vervreem. Daar was ook druk vanuit die teologiese fakulteit, wat namens die Kerk ook probleme voorsien het. Onder hierdie druk het Pieter geswig en besluit om nie na Amerika te gaan nie. Hy is na die Universiteit van Pretoria, waar hy van 1970 tot 1972 vir sy BA-graad studeer en in 1975 kwalifiseer as predikant toe hy sy BD-graad met lof behaal. Gedurende Pieter se studentejare het hy vir die universiteitskoor gesing, en die musiek was “balsem” vir Pieter se siel. Hulle is met ’n koortoer na Europa wat Pieter beskryf het as “die moeder van alle koortoere”. Europa se skoonheid het hom aangegryp en hulle het in manjifieke katedrale in Duitsland en Italië gesing en “die hemelse klanke het lank in die indrukwekkende koepels bly hang. Daar was hoop in elke akkoord en die liefde en genade van God het in my kom lê.” Gedurende sy eerste jaar was Pieter een van ’n groot groep vriende wat hulleself die Piesangs genoem het. Charmaine was sy groot vriendin, maar Pieter het besef dat hy vir haar net vriendskap voel. In desperaatheid oor sy seksualiteit het hy besef dat hy iewers moes hulp kry en het hy by die buitepasiënte-afdeling van die HF Verwoerd-hospitaal om hulp aangeklop. Daar het hy by ’n psigiater uitgekom wat aversieterapie op Pieter toegepas het om hom teen elke prys van sy homoseksualiteit te genees. Pieter het begin glo dat dit ’n ongeneeslike siekte is. Die terapie het vir twee jaar aangehou totdat die dokter sy praktyk verlaat het om na die akademie te skuif. Na die suksesvolle voltooiing van sy BD-graad en die proponentseksamen het Pieter sy intreepreek in Rustenburg se moedergemeente gelewer en vir ’n maand op Rustenburg afgelos as predikant voordat hy na Bothaville in die Vrystaat beroep is as predikant in die Nederduitsch Hervormde Kerk. Hy was vir byna vyf jaar in Bothaville voordat hy na die Pretoria-Sentraal-gemeente is, waar hy tot 1980 predikant was. Daarna het hy as aflospredikant in Johannesburg gewerk tot 1981. Gedurende hierdie tyd voltooi hy in 1980 sy graad in Kommunikasiekunde aan die Universiteit van Suid-Afrika – ook met lof. In 1982 word Pieter as regisseur van die godsdiensprogramme by die SAUK aangestel en is dit die begin van ’n lang en roemryke loopbaan in die uitsaaiwese. Vir Pieter was sy eerste paar weke by die SAUK oorweldigend. Die dekor-area het vir hom na Alice se wonderwêreld gelyk. “Ek het van stel tot stel beweeg en ongenooid by elke storie ingestap. Niemand het omgegee nie. Ek het onbevange opgeklim en myself vasgegespe vir die rit van my lewe. Van die volgende paar weke onthou ek min. Die baie nuwe indrukke was oorweldigend, maar ek was so tuis soos ’n eend in die water. Alles het natuurlik gekom. Elke projek se verhaal het met sy prentjies soos ’n legkaart voor my oopgeval. Die Godsdiensdepartement se groot verskeidenheid programme het baie geleenthede gebied en ek het my hand aan alles gewaag. “Met die joernaalprogram Kruis en kroniek het ons die land deurkruis op soek na stories. Tussendeur het ek kore en eredienste opgeneem, dokumentêre programme gemaak en ondersoekende joernalistiek aangepak. Van die programme het ek ook aangebied. “Ek het alles wat ek gedoen het, geniet, maar van al die elemente wat die produksieproses uitmaak, het redigering my die meeste geïnteresseer. Daar het alles bymekaargekom.” In 1984 het Pieter met die suksesvolle televisieprogram Uit en tuis begin. Hy en Carina Fourie het aanvanklik saam die program aangebied en later het Iris Bester by hom aangesluit. “Die weeklikse aanbiedings het nuwe uitdagings gestel. Dit het ook bekendheid gebring. Mense het my op straat begin voorkeer en geselsies aangeknoop. Tydskrifte en koerante het onderhoude aangevra en ek het gereeld briewe ontvang. Aanvanklik het ek die aandag geniet, maar daarmee saam het nuwe vrese gekom. Die blootstelling het my kwesbaar gemaak. My aanhang was uiteraard grootliks onder Afrikaners. Mense wat ek as gevolg van my wortels liefgehad het en met wie ek een was, maar mense met bepaalde persepsies oor homoseksualiteit. Persepsies wat deur die kerk, Afrikanernasionalisme en natuurlik die regering van die dag versterk is.” Pieter se briljantheid is gou raakgesien en erken. In 1984 is hy genomineer vir ’n Artes in die kategorie Beste Reportage oor Openbare Sake vir die ondersoek na selfmoord onder jeugdiges en in 1985 het hy ’n Artes-toekenning ontvang in dieselfde kategorie vir die program Sterwensbegeleiding. Die Mediese Vereniging van Suid-Afrika het ook in 1985 ’n toekenning aan Pieter gegee vir voortreflike mediese beriggewing. Nie lank na die Artes-aand van 1985 nie, is Pieter se ouma Miem dood en het hy die begrafnisdiens in Groot Marico waargeneem. Sy is langs sy oupa Rooijan begrawe. Pieter is in 1984 bevorder na die SAUK se Nuusdepartement. Hy het hierdie skuif met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering opgeneem en sy bedanking as predikant is na ’n kort gesprek genotuleer. Die akte van ontheffing is op 15 Maart 1985 gegee. Die jaar by die Nuuskantoor was nie vir Pieter baie bevredigend nie. “Ek het die diepte-ondersoeke geniet, maar die harde nuuskultuur destruktief gevind. Interne gevegte en groot ego’s was nie bevorderlik vir ’n kreatiewe werksomgewing nie,” skryf Pieter in ’n Kas is vir klere. “Toe die geleentheid hom voorgedoen het om as uitvoerende regisseur van die joernaalprogram Potpourri oor te neem, het ek die kans met albei hande aangegryp. Afrikaanse presteerders en kunstenaars het nie ’n gefokusde televisieplatform gehad nie. Potpourri was die ideale geleentheid daarvoor. “Ons het gou ’n gedugte span opgebou. Eon de Vos en Elsabé Daneel was deurwinterde aanbieders en die klem was op gehalte en aktualiteite. Rubrieke het fokus gebring. Persoonlikhede het glans verleen. En eksperimentering het ’n vars bries deur die program laat waai. Kykers het al meer begin inskakel. Die pers het die veranderinge gunstig ontvang. En adverteerders het tougestaan. Die Star Tonight!-toekenning (in 1987) was ’n bonus.” Dit is gevolg deur twee Artes-nominasies in die kategorie Beste Bydrae tot ’n Joernaalprogram vir Potpourri in 1987 en 1988. Pieter se seksuele frustrasies het veroorsaak dat hy hom geheel en al aan sy werk toegewy het, en al sy energie was op Potpourri toegespits. Sukses in sy werk het ’n obsessie geword. Dit was egter ’n stryd om ’n goeie en gebalanseerde produk te lewer. Die SAUK se destydse beleid oor kleur het bepaal dat Potpourri suiwer wit moes wees. “Soos in die geval van my Kerk, is selfs Afrikaanse bruin mense aanvanklik uitgesluit. ’n Swart gesig was ondenkbaar, al was die persoon Afrikaans. Deur mense in hokkies te plaas, is onkunde en onverdraagsaamheid gevoed. Ek het geglo Potpourri moes alle hoëprofiel Afrikaners reflekteer. Daarom het ek almal ingesluit. Hierdie standpunt het egter probleme veroorsaak. Die base het my onverskrokkenheid met moeite geduld en die rooi tapyt was gereeld my voorland.” Pieter se frustrasies by die SAUK het toegeneem en daarom was die aanbod van Bill Faure, Louis Möller en M-Net om Carte Blanche oor te neem, die uitkoms waarop Pieter gehoop het. Pieter het weer met terapiesessies begin en hierdie slag was daar by die psigiater geen sprake van homoseksualiteit wat ’n siekte is wat genees moes word nie. Dit was ’n gegewe en die doel van die terapie was om die selfhaat na selfaanvaarding om te swaai. “Ek het geweet ek was gay, maar ek moes leer om van myself te hou; om trots te wees op wie ek was. Hy het dinge van ver af gaan haal en ons het oor die volgende paar jaar ’n lang pad saamloop. Dit was ’n moeilike pad, maar een wat begrip en genesing sou bring. ’n Ontdekkingsreis waarin ek myself nie deur die bril van die gemeenskap of die Kerk sou oordeel nie, maar een waarin Theuns my uiteindelik sou leer om myself te aanvaar.” Tydens die terapiesessies het Pieter voortgegaan om Carte Blanche te ontwikkel. Die program 60 minutes in Amerika was sy inspirasie. Don Hewitt, uitvoerende vervaardiger van 60 minutes, het die sukses daarvan aan persoonlike joernalistiek toegeskryf. Hy het sy filosofie in New York met Pieter gedeel. Die geheim het volgens Hewitt daarin gelê dat hulle nie bloot die nuus gedek het nie, maar mense se stories vertel het. Pieter-hulle het besluit om by Carte Blanche dieselfde resep te volg. Daar was baie stories beskikbaar weens die tyd van verandering in die vroeë 1990’s. Erkenning vir die menslike stories wat Pieter-hulle vertel het, het gevolg in die vorm van twee Star Tonight!-toekennings in 1990 1n 1991 vir Carte Blanche as die beste aktualiteitsprogram. In 1991 is die Rosholt-beurs vir joernalistiek aan Pieter toegeken. Hierdie beurs, wat in 1982 ingestel is, het ten doel om kennis en begrip van die sakewêreld, ekonomie en finansies onder joernaliste te bevorder. Sy wenprys was ’n studiebesoek van nege weke aan die Templeton College (Oxford Centre for Management Studies), waar hy die Senior Managers Development Programme bygewoon het. Dit het ook ’n toer van drie weke deur ’n land van Pieter se keuse ingesluit. Hy het op Amerika besluit en is genooi om as gas van die United States Information Agency televisie-ateljees daar te gaan besoek. Pieter se vriendin, Rieksie, het saam met hom deur Amerika getoer. Hulle het in New York begin, waar hy by die nuusuitsendings van Peter Jennings en Tom Brokaw ingesit het en hulle albei ontmoet het. Besoeke aan 20/20, Primetime live, The Phil Donahue Show en die Late show with David Letterman het gevolg. In Washington het hy die MacNeil/Lehrer NewsHour bygewoon en ook ’n middag en aand saam met Ted Koppel en sy span deurgebring. Terug in Suid-Afrika het Pieter moeilik aangepas. Na ’n paar maande tuis het hy besluit dat hy met Carte Blanche bereik het wat hy wou. Dit het ’n belangrike rol in ’n betekenisvolle tyd gespeel, maar die “baba het grootgeword”. Al wat oorgebly het, was goeie en deeglike instandhouding. Hy het dus bedank om vervaardiger te word. Pieter Cilliers Produksies is gestig en het verskeie nuwe projekte vir M-Net en die SAUK begin ontwikkel. Intussen het die era van die nuwe Suid-Afrika aangebreek en is daar ’n nuwe Grondwet opgestel en is die diskriminasie teen homoseksuele uit die wetboeke verwyder, maar dit was nog nie seker of die persepsies van die gemeenskap daarvan sou verander nie. Evita Bezuidenhout het wel haar deel gedoen om opinies te verander. Haar seun De Kock en sy vriend Mof was per slot van rekening “anders”. Pieter-Dirk Uys het Pieter kort voor die 1994-verkiesing genader met die gedagte aan ’n spesiale Evita-program. Pieter het egter gevoel dat Evita se status meer as ’n enkelprogram regverdig. Dit was ook die regte tyd om die nuwe politieke spelers aan die publiek voor te stel en Evita was die ideale medium daarvoor. En so is die reeks Evita’s Funigalore gebore. Dit is in 1994 en 1995 in ’n reeks van 12 programme op M-Net uitgesaai en het politici soos Joe Slovo, Cyril Ramaphosa, Terror Lekota, Frene Ginwala, Roelf Meyer, Mac Maharaj, Jay Naidoo, Tony Leon, Tokyo Sexwale en Patricia de Lille op informele wyse aan Suid-Afrika bekendgestel. Vir Pieter was die hoogtepunt van die reeks die onderhoud met Nelson Mandela. “Dit was, sover ons kon vasstel, die eerste keer in die geskiedenis dat ’n staatshoof ’n onderhoud aan ’n man in ’n rok toegestaan het. Die oomblik toe hy die vertrek binnekom, het die atmosfeer voelbaar verander. Ons het geweet ons was in die teenwoordigheid van ’n groot gees. Ek het ‘Aksie!’ geroep en Evita het haar eerste vraag gevra. Mandela was die volmaakte heer. Hy het haar aan die einde van die onderhoud sy heldin genoem. “Vir my was Evita’s Funigalore ’n openbaring. Dit was moeilik om te glo dat die inligtingsvloei van vroeër jare so effektief gemanipuleer was; dat ons so naïef en oningelig oor die ware toedrag van sake was. “Ek het dit goedgedink om die projek met ’n program oor Pik Botha af te sluit. Hy en Evita was per slot van rekening meer as net ou vriende. Na ’n paar doppe whisky het hy haar van sy liefde vir argeologie vertel. Hy het met ’n passie beduie van die mens, Homo sapiens, wat vyftigduisend jaar gelede sy verskyning gemaak het. Voor Homo sapiens was daar Homo habilus, Homo erectus en Homo neandertalensis. Evita was baie bly om te hoor dat die homo’s van die begin af daar was. Haar seun De Kock het na alles niks gehad om oor skaam te wees nie. Pik het gedwee saamgestem.” In 1995 is Pieter se pa oorlede aan ’n hartaanval sonder dat Pieter vir hom vertel dat hy gay was. En het Pieter besluit om so gou die geleentheid hom voordoen, vir sy ma te vertel. Hy het na sy pa se dood gereeld vir sy ma in Rustenburg gaan kuier en een oggend nadat hulle by die graf was, gaan uiteet. Sonder dat hy dit beplan het, het hy tydens die ete na 43 jaar vir sy ma vertel dat hy gay is. Sy was ontsteld, maar meer omdat hy alles op sy eie moes deurmaak en sy en sy pa nie daar was om hom te ondersteun nie. Hulle twee se verhouding het na Pieter se bekentenis ingrypend verander. Gedurende hierdie tyd het die idee van ’n boek al meer by hom begin posvat. “Om meer begrip by die kerk en die gemeenskap vir homoseksualiteit te kweek, was dit noodsaaklik dat homoseksuele na vore tree. Ongeag die moontlikheid van verwerping. Dit was alleen die konfrontasie met die werklikheid wat die verandering kon bring.” Pieter se suster, Ria, het hom aangemoedig met hierdie projek. Aanvanklik het hy gesukkel en het dit moed gekos om “die rekenaar met die verlede te voer. Die oproep van die ou nagmerries het my weer laat droom. Met die herlees van Romeine I het die vrees teruggekeer. Die duiwel was weer in die palmboom en vanuit die rekenaarskerm het Calvyn streng toegekyk.” Gedurende sulke tye het Pieter aan die wysheid van die skryf van die boek getwyfel. Maar hy het ook besef dat hy nie ’n keuse gehad het nie, want om “opinies te verander, moes sekere opofferinge gemaak word. Ek het ook besef dat die skryf van die boek deel was van my genesingsproses. Daarom moes ek aanvaar dat dit nie maklik sou wees nie. Maar ek het hulp nodig gehad, veral om my te pantser vir die dag waarop die boek sou verskyn.” Pieter het besluit om weer gereeld sy psigiater, Theuns van der Merwe, te besoek. Theuns het die hoofstukke wat Pieter klaar geskryf het, gelees en na aanleiding daarvan het hulle weer die ou vrese aangespreek en nuwes ontleed. Ria was ook gedurende hierdie tyd ’n vertroueling en het Pieter aangemoedig en ondersteun. Hy het ook die manuskrip vir sy ma gevat en vir haar daaruit voorgelees. “By tye het sy hardop gelag. Ander kere het sy die trane met moeite bedwing. Ons het met elke paragraaf saam die verlede herleef. Ek kon sien hoe sy na my deur ’n ander bril kyk. Die boek in wording was vir die oomblik vergete. Dit was die inhoud wat saak gemaak het. Ons het na elke hoofstuk lank daaroor besin en ek het ons kameraadskap verrykend en spesiaal gevind.” In September 1997 het die SABC die dokumentêre program Van die borsrok bevry oor die senders van SABC2 uitgesaai. Pieter was die vervaardiger hiervan en in die program is die kollig geplaas op die geskiedenis van die Afrikaanse advertensiewese. Vir Van die borsrok bevry het hy in 1997 ’n ATKV-toekenning gekry vir die beste dokumentêr. Hy het die klem op vermaak laat val en het die kykers op ’n interessante en vermaaklike reis deur die Afrikaanse reklamewese geneem. Pieter was die vorige jaar hoofsaaklik betrokke by die vervaardiging en regie van SigNature, ’n weeklikse program vir dowes en hardhorendes wat deur die SAUK uitgesaai is. Hierdie minderheidsgroep was vir baie jare geïsoleerd en dit was vir Pieter baie bevredigend om ’n venster op hulle unieke wêreld te bied. Dowes se bemagtiging, onderwys, gebaretaal en maatskaplike vraagstukke het deel uitgemaak van die programinhoud. Pieter het vir SigNature ’n musiekvideo vervaardig. “Dit is sover ons weet die eerste van sy soort in Suid-Afrika,” het Cilliers gesê van die video wat gemaak is van ’n snit van die Afrikaanse liedjieskrywer Coenie de Villiers se jongste CD. “Die wanpersepsie bestaan dat gehoorgestremdes nie ’n waardering vir musiek het of daarna luister nie,” sê hy. “Hulle ervaar ander aspekte van die musiek soos ritme en vibrasies. Ons het gedink dit sal wonderlik wees om gebaretaal as ‘choreografie’ in die video te gebruik sodat dowes ook die betekenis van die liedjie kan volg.” Die drie dowe meisies wat die liedjie getolk het, het ’n integrale deel van die produksie gevorm. “Dit was baie harde werk,” het Nazereen Captieux, ’n aanbieder van SigNature, gesê. “Ons het twee weke geoefen om die gebare te sinchroniseer.” Susan Moime, wat ook in die video optree, het ’n probleem met die taal ondervind. “Ek verstaan glad nie Afrikaans nie, maar die wonderlike ding van gebaretaal is dat dit ’n universele taal is wat almal kan verstaan.” Pieter se boek oor sy stryd met sy homoseksualisme en sy stryd met die kerk se siening daaroor, ’n Kas is vir klere, is in 1997 deur Human & Rousseau gepubliseer. En dit het dadelik opslae gemaak. Hy het aan Theunis Engelbrecht vertel dat een van die sentrale temas van die boek die mens se geworstel met die kerk is. “Dit is ’n tema wat baie mense raak, veral omdat hulle van die kerk vervreem word omdat dogma temas soos liefde, meelewing en genade verdring. Op dié gebied moet veral Afrikaanse kerke hand in eie boesem steek. “Die kerk as georganiseerde instelling besef nie altyd wat hy mense aandoen nie – en ek praat nie net van seksualiteit nie. Daar is amper ’n ongenaakbaarheid en ’n gebrek aan begrip, veral oor seksualiteit. Daar is nooit moeite gedoen om dit te begryp nie. Die kerk kan dit nie langer ignoreer nie, omdat hy baie gelowiges in die proses vervreem. “Dekades lank het die kerk die hele kwessie van homoseksualiteit geïgnoreer. Dis ’n werklikheid, maar hy wil nie daarvan weet nie. En as hy wel daarmee gekonfronteer word, is daar ’n skynbare groothartigheid aan die kant van die kerk wanneer hy sê gays is welkom in die kerk, op voorwaarde dat jy dit wat jy is, ontken. Dat jy jou identiteit prysgee. Die kerk dink homoseksualiteit is ’n gedragsprobleem wat verander kan word. Daar word nie kennis geneem van nuwe navorsing oor homoseksualiteit nie. Die berading wat daar wel in die kerk vir homoseksuele mense is, is nie om die gay mens tot selfaanvaarding te bring nie. Daar word net meer skade gedoen en gesê dis sieklik, ons gaan dit regstel. En wanneer die gay vind hy kan nie verander nie, veroorsaak dit selfhaat.” Cilliers meen dit is ’n groot stap vooruit dat homoseksuele mense se regte in die nuwe Grondwet verskans word, maar dit is nie genoeg nie. “Die Grondwet het verander, maar persepsies het nie. En dit is oningeligte persepsies wat bestaan.” Die Bybel kan ’n gevaarlike instrument wees in mense se hande, sê hy. “As ’n mens ’n bepaalde argument wil staaf, kan hy maklik ’n teks in die Bybel kry om dit mee te doen. In die apartheidsjare is die Bybel ingespan om mense wat nie wit is nie uit die kerk te hou. Wat die Bybeltekste betref wat altyd ingespan word om homoseksuele mense mee te verdoem, moet ons onthou dat daar in Bybelse tye beperkte kennis en insig in die menslike psige was. Die wêreld en die werklikheid het intussen drasties verander. Dit is belangrik dat daar kultuurhistories na die Bybel gekyk word. “Dieselfde tekste wat byvoorbeeld destyds gebruik is om vroue uit die predikantsamp te hou, is later gebruik om te motiveer hoekom hulle in die amp toegelaat moet word. Dit geld ook homoseksuele. Homoseksualiteit het dalk ’n genetiese oorsaak, maar dis duidelik dat dit nie ’n keuse is nie. Dis ironies dat dit die kerk is, wat veronderstel is om 'n hand uit te reik, wat veroordeel en uitsluit en sê jy is boos en pervers. Dit is nogal ’n skerp kontras met Jesus se lewe.” In sy boek skryf Pieter ook onthullend oor die politieke breinspoeling waarvan hy as lid van ’n Calvinistiese, nasionalistiese gemeenskap ’n slagoffer was. “Toe ons jonger was, is aartsbiskop Desmond Tutu altyd aan ons voorgehou as die duiwel self. Toe ek hom ontmoet het, het ek besef wat ’n leuen ek al die jare geglo het.” Cilliers sê al die ou spoke van die verlede het teruggekom tydens die skryf van sy boek. “Ek het besef hoe ongelooflik diep die kondisioneringsproses geloop het. Die skryf was egter deel van ’n katarsis.” Pieter het gehoop sy boek lok reaksie uit, want hy wou graag hê dat dialoog met die kerk oor die kwessie van menslike seksualiteit ’n werklikheid word. In die laaste hoofstuk van sy boek skryf hy: “Wanneer dit by vergifnis deur God kom, staan almal gelyk voor Hom. Ons oortredings is nie ons kleur of ons geslag of ons seksuele oriëntasie nie. Dit is wat ons aan mekaar doen. Dit is ons onverdraagsaamheid en skynheiligheid en gebrek aan deernis vir mekaar. Dit is ons eiegeregtigheid en liefdeloosheid en vooroordeel. En as ons vergifnis deur God afgehang het van die wyse waarop ons ons oortreders vergewe, sou daar vir ons min hoop gewees het. Daarom is Sy vergifnis sonder voorwaarde.” In Woord en daad van Oktober 1997 het PJ de Bruyn geskryf dat ’n Kas is vir klere werklik ’n aangrypende boek is. Veral die tekening van Pieter se aanvanklike stryd om sy homoseksuele drange en begeertes te onderdruk en nie toe te laat dat dit sy werk as predikant benadeel nie, vervul ’n mens met empatie en deernis. “In die lig van wat hy ervaar het, kan ’n mens ook verstaan dat hy so sterk voel in sy oortuiging dat homoseksualiteit nie iets is wat aangeleer word nie, maar iets wat aangebore is. “Tog is die einde van die boek vir ’n mens as Christen ’n teleurstelling: die skrywer het toegelaat dat sy homoseksuele begeertes die oorhand in sy lewe kry. Die resultaat daarvan is dat, om homself te regverdig, hy die kerke beskuldig van ’n ‘verouderde en rigiede skrifbeskouing’ (p 158) en van ’n ‘rigiede en irrasionele hantering van homoseksualiteit’ (agterblad).” De Bruyn eindig sy bespreking as volg: “Dat Cilliers se boek in verskeie opsigte besondere waarde het, kan nie betwyfel word nie. Die oplossing wat hy vir mense met homoseksuele neigings gee, is egter nie in lyn met die skrif nie.” In Rapport se godsdienstige bylae, Kruispunt, van 26 Oktober 1997 het Etienne de Villiers geskryf dat die kerke in Suid-Afrika, veral die Afrikaanse kerke, nie die boek kan ignoreer nie. Cilliers loods in sy boek ’n subtiele dog skerp aanval op die standpunt van die meeste kerke dat homoseksualiteit in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van gedrag is. De Villiers het vervolg: “’n Mens kan verskil met die skrywer se standpunt dat die kerke hulle afwysing van die uitlewing van homoseksualiteit moet laat vaar. Wat egter nie ontken kan word nie, is dat hy daarin slaag om die desperaatheid van ’n Christen-homoseksueel wat probeer om trou te bly aan die kerklike standpunt, op ’n baie treffende en selfs ontroerende manier bloot te lê. Die feit dat ’n toegewyde Christen wat vir ’n tyd lank selfs ’n suksesvolle predikant in een van die Afrikaanse kerke was, uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom het dat die aanvaarding en uitlewing van sy homoseksualiteit die beste weg is, word daarby die rede vir nadenke deur die drie Afrikaanse susterkerke.” Cecile Cilliers het haar resensie afgesluit met: “Dit is veral teen die liefdeloosheid van die kerk dat hy te velde trek. Dit het baie lank geneem voordat Pieter Cilliers die moed gehad het om openlik en sonder enige skuldgevoelens sy homoseksualiteit te verklaar. En 'n boek daaroor te skryf. Ek het uiteindelik geweet wie ek was – 'n vier-en-veertigjarige wit, gay. Christen Afrikaner. Niks meer nie, niks minder nie. “Dit is gelyk ontstellende outobiografie, ontroerende ontboeseming en verskriklike aantyging wat nie net teen die kerk gerig is nie. Mens kan slegs hoop dat hierdie hoogs leesbare boek op baie vlakke ’n verandering van benadering teweeg sal bring.” Joan Hambidge het vertel dat hierdie soort boek in Amerika aan die orde van die dag is. “In Europa en Brittanje steier die rakke onder ‘out’-ervarings, en Andrew Sullivan se Virtually normal: An argument about homosexuality (Picador 1995) kyk die probleem van homoseksualiteit vierkant in die oog." Pieter Cilliers se ’n Kas is vir klere is dan ’n eerste in sy soort in Afrikaans – die lang lys van gay-fiksie dáárgelaat, omdat sogenaamde straight mense ook oor gay ervarings kan skryf. Maar in dié outentieke verslag haal Cilliers, voormalige predikant en TV-regisseur, homself uit die kas. “Dit is ’n eerlik-pynlike verslag van die skuldgevoelens wat die jong kind, student en man teister, en hoe hy sy kondisie as sonde ervaar. Daar is drome wat terugkeer; daar is begeertes waaraan hy nie mag toegee nie, en dié outobiografie herinner ’n mens - veral as jy self gay is - hóé benepe die samelewing is, en aan die skuldgevoelens waarmee die gay-persoon moet saamleef. Teen die tyd wanneer die kasdeure oopswaai, is die letsels ongelukkig deel van die psige. “Die boek is nie net ’n aanklag teen die gemeenskap nie. Dit wil eerder sê hoé ’n mens met hierdie kondisie moet omgaan. Eerlikheid en openlikheid is waarskynlik die enigste oplossing. Maar as ’n mens soos Cilliers vasgevang was in die ‘turn or burn’-wêreld is die proses van selfaanvaarding ’n lang en bittere stryd. “Die boek is met eerlikheid geskryf, en ’n mens hoop dat die ‘sonde’-konsep vir ander lesers sal verdwyn as hulle dit lees, want oordrewe skuldgevoelens oor jou identiteit waaraan jy geen aandeel had nie, is tog onnodig. Dit is ’n leserervaring vir sowel die gay- as hetero-persoon. Eersgenoemde sal beslis herinner word aan eie pynlike en embarrasserende ervarings soos daardie matriek-afskeid, die eerste soen, en so meer. Lees dit. Teen die agtergrond van iemand wat in die kerk se ban staan.” Johann de Lange het in Insig van Desember 1997 geskryf dat die skokkendste aspek van Cilliers se boek nie die feit is dat dit deur ’n ekspredikant geskryf is nie, of sy verdoemende uitsprake teen die kerk nie, maar die ordinêrheid daarvan. “Dit, en die feit dat die tekens vroeg reeds daar was, maar oorgesien is. Want volwassenes sien dikwels net wat hulle wil sien. (...) ’n Kas is vir klere bied ’n intieme en by tye hartverskeurende blik op die gespletenheid van die Kerke en die geestelike geweld wat in die naam van Liefde gepleeg word, vertel van binne af uit deur een wat altyd asof van buite na die lewe gekyk het.” Bernard Odendaal het gemeen dat die leser onder die indruk van die besondere relevansie van die inhoud van die boek vir daardie tydsgewrig staan en dat dit, weens die menslikheid wat daarin weerspieël word, geen leser onaangeraak sal laat nie. Dit is in wese ’n verslag van ’n pynlike identiteitsoeke wat bydra tot ’n tematiek wat in die jare negentig besondere prominensie in die Afrikaanse letterkunde verkry het. In so ’n lig beskou, is dit ’n werk van groter, algemener relevansie as net betreffende die kwessie rondom die posisie van die homoseksueel. In ’n onderhoud met Marie Opperman in Huisgenoot na die verskyning van ’n Kas is vir klere het Pieter gesê dat die boek net sy verhaal is. Hy praat nie namens die gay gemeenskap nie, maar hy glo dat baie mense raakpunte sal aanvaar. “Ons stoei met dieselfde dinge. (...) Jy moet jouself te midde van alles rondom jou vind en gelukkig en gemaklik wees met wie jy is. “Ek is so gebore. Dit het niks met opvoeding of keuse te make gehad nie. Geen mens sal iets kies wat vooroordeel, verwerping en uitsluiting tot gevolg het nie. Ek kom uit ’n normale, liefdevolle, Calvinistiese, Afrikaanse gesin. Ek is nie anders grootgemaak nie. Pa en Ma het my nooit opgepiep nie en ek het goed met albei oor die weg gekom.” In dieselfde artikel het Fanie Pretorius, destyds sekretaris van die Algemene Kommissie van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika, vertel dat hy Pieter geken het. “Ek het nooit vermoed hy is homoseksueel nie. Hy is ’n oulike mens met mooi kwaliteite. Ek het waardering daarvoor dat hy uit die bediening getree het. Ek dink nie ons sou hom beroepbaar gestel het as ons geweet het hy is homoseksueel nie.” Op die Boekmakietie wat in September 1998 in Bloemfontein gehou is, het Pieter die skryf van die boek so opgesom: “Om so ’n boek te skryf en die mense naaste aan jou bloot te stel, was nie maklik nie. Oor die twee jaar wat ek daarmee besig was, het ek dikwels gewonder of ek die regte ding doen. Onrustigheid was miskien die oorheersende emosie in dié tyd. Veral omdat dit so ’n prontuit weergawe van my lewe is. Die bewuswording van my seksualiteit; die wroeging wat daarmee gepaard gegaan het; die desperate pogings om antwoorde te vind. Dit is immers baie persoonlik en my familie is noodwendig daarby betrek. Maar soos wat my lewe week na week in die rekenaar se geheue gestoor is, het ek besef ek het nie werklik ’n keuse nie. “Ek het geweet daar is mense wat met dieselfde probleem worstel. Met die behoefte aan aanvaarding, ook, en veral van die kerk. In die jaar sedert die verskyning van die boek het ek werklik besef ek het nie geweet waarvoor ek my ingelaat het nie. “Dit was eerstens ’n tydperk van intense mediabelangstelling, wat geweldige blootstelling beteken het. Die blootstelling was egter nie ’n negatiewe ervaring nie. Om myself te kon verklaar, het ongekende vryheid tot gevolg gehad. Ek het nie meer nodig gehad om vlak asem te haal nie, want die vrees was weg. Die vrees vir wat die mense sou sê. Die vrees vir die veroordelende vinger van die kerk. Niemand kon my meer bang maak bloot omdat ek homoseksueel is nie. Ook nie Calvyn, of die duiwel nie. “Vandag kan ek myself, my vriende en familie in die oë kyk en sê: Ek is gay. Maar soos Bart Nel kan ek byvoeg: ‘Ek is nog hy.’ Nog dieselfde mens. Niks het verander nie. ’n Vriendin skryf nou die dag vir my: ‘Oor jou kan ek nou Ikabod skryf. Jy is vervul, voltooi, volledig mens.’ Beter kan ek dit nie beskryf nie.” Pieter het gesê die proses rondom sy boek is dié van begrip, aanvaarding en liefde in die klein kring van sy gesin. “Hierdie boek het ons familie nie versplinter nie, maar verenig. Verinnig. Daar is vandag ’n wonderlike openheid en eerlikheid tussen my ma, my sus en myself. Vriende was en is ook steeds ondersteunend. Ek is volwaardig mens.” In 1998 het Pieter by die SAUK begin met die weeklikse joernaalprogram Pasella, met Coenie de Villiers as aanbieder, en binne slegs drie maande het dit gespog met ’n kykertal van meer as ’n miljoen mense. Pieter het geglo die sukses van die program berus op die feit dat hulle op mense fokus en nie op dinge nie. In 1998 was Pasella die wenner van die ATKV-Televisieprys vir die beste joernaalprogram. By die ontvangs van die ATKV-Televisieprys in Maart 1999 het Pieter gesê hy beskou die toekenning as “erkenning van die inklusiwiteit van die program wat ’n refleksie is van ons ryk tapisserie van mense ongeag godsdiens, seksuele oriëntasie, klas of kleur. Ek dink ook dat die ATKV vandag miskien meer as ooit tevore, ’n belangrike rol as kultuurorganisasie het. Maar dan moet kennis geneem word van die groter speelveld en die nuwe reëls. Dit behoort deurgetrek te word tot lidmaatskap.” (Dít na aanleiding van Deon Opperman se weiering van lidmaatskap van die ATKV weens die vereiste dat hy ’n verklaring moet onderteken dat hy ’n Christen is.) Pieter wou sy prys teruggee na aanleiding van die herrie wat losgebars het toe ATKV-Dames Madeleine van Biljon se toekenning teruggetrek het nadat sy erken het sy is nie ’n Christen nie. Hy het egter anders besluit ná Frits Kok se verskoning aan Van Biljon. “Ek het ’n probleem met die gehamer op Christelike waardes terwyl alle godsdienste gelykwaardige waardesisteme het. As die reël van Christelike waardes so streng geld, moes ek na regte nie vir die prys in aanmerking gekom het nie, want ek is gay.” Vir Pieter het Pasella totale redaksionele beheer en vryheid gebring. Dit het ook ander kykers benewens wittes getrek. Hy het aan Hanlie Retief vertel dat daar die bruin gemeenskap was wat nog nooit tevore ’n venster gehad het nie en diegene wat nie Afrikaans praat nie, maar wel verstaan, soos die komponent swart kykers wat soms in briewe in Engels gereageer het. “Die program het gehelp om Afrikaans te destigmatiseer. Die visie wat ek wou deurkry, was: Afrikaans is inklusief.” M-Net het later sy oog op Pasella gekry, maar het in 1999 sy eie joernaalprogram, Kwêla, saam met Pieter begin wat oor kykNET uitgesaai is, ook met Coenie de Villiers as aanbieder. In 2000, drie jaar na die publikasie van ’n Kas is vir klere, is Pieter genooi om een van die sprekers te wees op ’n aktualiteitsdag oor homoseksualiteit wat die Hervormde Teologiese Kollege by die Universiteit van Pretoria aangebied het. Theuns Dreyer, hoof van die kollege, het gesê dit is die eerste keer dat homoseksualiteit behoorlik binne die Hervormde Kerk bespreek is. Die kwessie is in die verlede altyd eenkant geskuif, maar dit het toe so aktueel geword dat die kerk daarna móés kyk. Vir Pieter was dit ’n positiewe stap van die kerk se kant af. Dit sou die eerste keer wees dat sy eie kerk op hierdie vlak met hom kontak maak sedert hy openlik oor sy seksualiteit begin praat het. Op hierdie aktualiteitsdag het Pieter die verhoog met Piet Geyser en Natie van Wyk gedeel. “Geyser het met empatie en ’n daadwerklike poging om te verstaan, gepraat. Van Wyk het die kerk se oorbekende vooroordele onderskryf en die pynlike eerlike verslag oor my lewe as gay-propaganda afgemaak.” Kort na die hierdie dag is Pieter genooi om op 13 Maart 2001 deel te neem aan ’n gesprek oor homoseksualiteit in die Hervormde Kerk. Dit sou die eerste vergadering oor ’n moontlike tydperk van twee jaar wees en dit wat die dag sou oplewer, sou later die jaar aan die algemene kerkvergadering deurgegee word. Pieter wou die vergadering nie bywoon nie, maar het tog besluit om te gaan en gou agtergekom dat hy die token gay was, die window dressing. Hy het nie kans gesien om deel te neem aan ’n “gesprek” waarvan die uitslag reeds bepaal was nie, of om hom te assosieer met ’n kerk wat steeds redes gesoek het om mense uit te sluit en ’n eksklusiewe organisasie te bly nie. “My menswaardigheid en selfrespek het dit gewoon nie toegelaat nie. Daarom het ek myself onttrek en in die proses afsluiting gevind wat my pad en geskiedenis met die Hervormde Kerk betref.” Pieter voel dat sy programme oor gewone mense wat iets ongewoons doen, gaan – en daarvan is daar baie in Suid-Afrika. “Jy weet, die onbesonge helde. In my dae as predikant het ek so baie interessante mense teëgekom. (...) Die grootste deel van my lewe was Sondae ’n werkdag, eers as predikant, en toe later, met Carte Blanche, het ek dikwels Sondae met prokureurs deurgebring om kopie deur te gaan voor dit die aand uitgesaai word. Daarom is ek deesdae (2001) baie snoep met my Sondae. Dit word amper vir my soos ’n kluisenaarsdag. Ek word deur die week met so baie mense en hul dinge gekonfronteer dat ek Sondae suinig is om my persoonlike ruimte met enigiemand te deel. “Ek gaan fliek op my eie, lees, of geniet sommer net die stilte en my eie geselskap. Dis vir my belangrik om my battery te laai. Maar my vriende en die waarde van goeie vriendskappe is vir my belangrik; ek werk hard daaraan dat my vriende nie later bloot kennisse word nie. Ek is glad nie ’n party animal nie; ek het my heeltemal onttrek aan die sosiale kalender.” Die Tuks Alumni Laureat het Pieter in 2001 vereer met hulle toekenning en die program Kunskafee wat op kykNET uitgesaai is, was in 2001 en in 2003 ’n finalis in die mediakategorie van die Arts and Culture Awards. In 2003 het PCP ’n ATKVeertjie ontvang vir die beste insetsel in ’n joernaalprogram vir ’n insetsel op Kwêla. In 2006 het Pieter ’n ATKVeertjie ontvang vir die Beste Program (nuus/aktualiteit/dokumentêr) vir My kind is in Londen met André Calitz as die regisseur. Oor die sukses van Kwêla het Pieter aan Hanlie Retief in Maart 2004 gesê: “Jy moet die gehoor daarbuite góéd ken en besef voorkeure is vloeibaar, dit verander van jaar tot jaar. Vir ’n kommersiële kanaal soos kykNET kan jy nie altyd doen wat jý wil nie, jy moet jou oë en ore oophou vir tendense en kykpatrone, want op die ou end is daar ’n ou met ’n afstandbeheer en die keuse van vyftig kanale. En hy klik jou in ’n oogwink weg.” ’n Program moet kommersieel werk, maar ook gehalte hê, en dis van die moeilikste huwelike wat daar is, vertel hy. En sy barometer daarvoor is goeie, gewone ou instink. “Dis die ‘gevoel’ vir waarheen jy op pad is met ’n bepaalde program. ’n Tydskrifprogram soos Kwêla het gemiddeld nege insetsels per week, maar daar moet balans wees - iets soos ’n lag én ’n traan. Ek vind ook dat humor al hoe belangriker word, want mense soek ontvlugting, hulle wil ontspan, vermaak word. Miskien is dit as teenvoeter vir die eise wat konstante verandering in die land aan mense stel.” Wat hom veral plesier gee, is nie soseer ’n spesifieke storie nie, maar of die storie goed vertel is. “As ’n storie dalk aanvanklik maar effe gelyk het, en ons kry iets rég daarmee, ons vang die hart daarvan vas ...” Redigering is vir hom ’n passie. "Dis veral by die redigeerbank waar die storie gemaak word, vorm kry.” En dis daar waar Pieter Cilliers se fyn hand ook gesien word. Dis waar hy die storie sal kop omkeer, tempo gee, toorkrag gee. “Partykeer moet ’n mens iets jare lank doen om te besef: dis eintlik wat ek wil doen, want dis vir my om juwele oop te krap, blink te poets, in elkeen van die tweehonderd programme van Kwêla. Daar was byvoorbeeld die Kuruman-gholfspelertjies wat hul eie negeputjie-gholfbaan uitgelê het, met draadstokke en balle. Ons het hulle toe Johannesburg toe gebring waar hulle gholfklere aangetrek is en ’n gholfkliniek kon bywoon. Dis lekker as iets gebeur en jy neem dit verder. “Ek het in al die jare van uitsaai nog nooit ’n plan B gehad nie. Niks alternatiewe vir as iets sou skeefloop nie. Jy leef maar so van week tot week, program tot program, want die oomblik as jy iets opgaar, word dit muf.” Hy beken ook sy gesukkel om werk te delegeer. "Die control freak in my wil nie heeltemal wyk nie!” Die uitdaging is om voortdurend bo te bly. “Dis ook spannend, want in dié job is niks permanent nie, alles is vloeibaar. As jy ’n oomblik stilstaan, mis jy ’n tree. Toe ek ’n student was, was daar ’n tagtigjarige tannie wat Grieks I geswot het. Sy’t almal teen die mure uitgedryf met haar vrae! Maar haar chutzpah, haar lus vir die lewe, het my geïnspireer. Ek wil ook so wees, nuut dink, nuut doen.” Een manier waarop hy daarvoor sorg, is om hom by sy werk met jong mense te omring. “Hulle konfronteer jou met hul manier van dink. Anders as ons geslag moet hulle self ’n pad oopveg, en ek verstom my aan hul taaiheid - hulle wag nie dat iets gebeur nie, hulle gaan dóén dit. Dit maak hulle ook minder bang om menings te lug, so hulle is veel toegankliker." Pieter se geestelike lewe het ook geskuif: “Ek is ontnugter oor die tradisionele definisie van Christenwees, en ek vind myself nie meer dáár nie,” vertel hy aan Retief. “Vir my is Christenwees insluiting, nie uitsluiting nie, dis omarming van ander mense. Dis genade met jou en met ander. En dis wat so jammerlik ontbreek in die kerk, dié instansie wat veronderstel is om vir ons daardie fondament te gee. Ek is ontnugter, want die kerk het ons bedrieg, hulle was kop in een mus met die politieke leiers, hulle het ons geïntimideer. Mense se kerkbetrokkenheid was nie meer gegrond op liefde nie, maar op vrees. “Vir my was die bevryding juis dat ek daardie vrees verloor het, dat ek nie meer bang was as iemand sê ek gaan hel toe oor dit of dat nie. Maar toe verander die politiek en die kerk verloor sy gesag omdat hy mense nie meer kon bang maak met sy stories nie. Mense het self begin dink, vrae begin stel, oor dinge begin práát. My persoonlike verhaal het gaywees in die Afrikaanse kerk ’n gesig laat kry. “Dis juis as mense begin praat, hul stories vertel, dat ander hulself daarin herken. Só herontdek mense mekaar, en daarin, dink ek, lê ’n terugkeer na die basiese beginsels wat die kerk behoort te wees - nie die uitgediende instansie wat homself so noem nie.” Teen 1999 het Pieter al amper sewentien jaar in Westdene, Johannesburg, gewoon. Hy het aan Lydia van der Merwe vertel: “Dit was ’n vaal, vierkantige geboutjie wat van verwaarlosing op sy hurke gesit het. Maar die potensiaal het in die houtvloere en staalplafonne gelê.” Die huis het lankal sy afskeepkleed afgegooi en die omgewing is rustig met ’n amper plattelandse gevoel. Sy huis is sy toevlugsoord – weg van die geskarrel van die televisiebedryf af – waar hy tyd met homself kan deurbring. “By my huis kan ek die deur rêrig toetrek en my gedagtes orden. Ek is gemaklik met my eie geselskap.” In 2004 het Pieter hom weer uitgelaat oor die kerk en homoseksualiteit nadat die sanger en kerkman Danie Botha hom skerp uitgespreek het oor die joernalis Hannelie Booyens se sterwende gay broer. Vir Botha was die antwoord op Hannelie se vraag of daar vir haar broer plek is in die hemel, voor die hand liggend. God red nie mense omdat Hy vir hulle lief is nie, het hy gesê, Hy doen dit net as hulle aan Hom gehoorsaam is. Sy raad dus aan die Booyens-familie, waar hulle by die sterfbed van hul sagmoedige 37-jarige gay seun gestaan het: Bid dat hy hom bekeer van sy homoseksualiteit, al is hy in ’n koma en al is julle verpletter oor jul Boeta se onafwendbare dood. Of beter nog, ek sal dit self doen; ek sal vir hom gaan sê dis sy laaste kans as hy nie wil brand in die ewige vuur nie. Dit was vir Pieter net nog ’n rede om te glo dat min dinge in die kerk verander het en dat daar baie Christene is wat soos Danie Botha dink. Pieter het intussen vir hom sy “huisie by die see”, teen die berg by Onrusrivier, naby Hermanus gebou. Dis ’n plek van hout en glas tussen die fynbos en in Maart 2004 was dit pas klaar. Skuins op teen die erf klim jy met die klippaadjie na sy gimnasium, kompleet met apparate, sauna en ’n klein buiteborrelbad op die houtdek. Jy kan kies hoe jy wil borrelbad: seekant toe of bergkant toe. “Dis waar ek wegkom, waar ek my batterye laai vir die eise van my lewe-vol-verandering. Vir die opwinding, en teleurstellings, daarvan. Na 2004 het Pieter ietwat uit die openbare oog verdwyn. Hy het gekies om hom te onttrek en hy vertel in Rapport van 6 Maart 2011 aan Hanlie Retief: “Ek moes myself weer vind en iewers balans kry. Ek het gedink ek hét nou my deel gedoen, nou kan ek terugstaan. Dit was ’n doelbewuste besluit om heeltemal uit die openbare debat en media-kollig te tree.” Gedurende hierdie ses jaar het die vraag kort-kort by hom opgekom: Is mens vry om jou aan ’n gesprek te onttrek wat jy aan die gang gesit het? Twee dinge het egter gebeur wat hom anders laat dink het: die eerste was ’n aanhaling in ’n brief wat die sielkundige Jean du Plessis aan Pieter geskryf het: “Daar word nie van jou verwag om die taak te voltooi nie, maar terselfdertyd mag jy jou ook nie daarvan onttrek nie.” En die ander faktor was die briewe wat ingestroom het met elke herdruk van ’n Kas is vir klere – hartverskeurende briewe van gewone mense wat worstel met hul seksualiteit, briewe vol hartseer en eensaamheid en bitterheid. Dit was almal stemme wat hy later nie meer kon ignoreer nie, want die briewe was ’n weerspieëling van jare se worsteling – binne homself, binne die kerk, binne die wyer samelewing – wat wyer gelees moes word. Om stil te bly, sou versaking wees. En so het Soeker ontstaan wat in 2011 deur Protea Boekhuis gepubliseer is. Soos genoem, het sy eerste boek geëindig met: “Ek het uiteindelik geweet wie ek was – ’n vier-en-veertigjarige wit, gay, Christen, Afrikaner. Niks meer nie, niks minder nie.” Veertien jaar later sê hy vir Hanlie Retief: “As ek dit vandag moet verwoord, as ek regtig eerlik moet wees, sal ek dit só stel: ‘Ek weet uiteindelik wie ek is – ’n nege-en-vyftigjarige wit, gay, Afrikaner. ’n Soeker. Niks meer nie, niks minder nie’.” André Bartlett, ’n predikant van die NG Gemeente Aasvoëlkop, skryf in sy resensie van Soeker dat dit in gesprek tree met die korrespondensie wat Pieter ontvang het en besin oor die stand van die gesprek oor homoseksualiteit in die breë Afrikaanse gemeenskap, maar ook heel spesifiek in die Afrikaanse kerklike gemeenskap. Soos in die eerste boek boei Cilliers met sy helder, onderhoudende en ontroerende vertelstyl, maar dis veral die verhale wat in die talle briewe vertel word wat maak dat ’n mens die boek nie kan neersit nie. Aan die een kant is daar die vloedgolf van negatiewe, afwysende reaksie – soms direk aan Cilliers gerig, soms in die briewekolomme van koerante gepubliseer. Aan die ander kant is daar die ontroerende verhale van gay mense: verhale van pyn en verwerping – ook selfverwerping – maar ook verhale van hoop en bevryding. Die skrywer vertel ook die verhaal van sy ondervinding met die Afrikaanse kerke (en veral die Hervormde Kerk) se reaksie op sy boek. Uit hierdie deel van die vertelling blyk dat hy redelik skepties is oor die vraag of daar wel ’n verskuiwing in die kerk se denke oor homoseksualiteit plaasgevind het. Sy frustrasie met die proses in die Hervormde Kerk lei daartoe dat hy hom in 2001 nie net van dié kerk se taakgroep oor homoseksualiteit onttrek nie, maar ook as lidmaat van die kerk bedank. Dié deel van die vertelling gee ’n mens insig in die blootstelling en die daarmee gepaardgaande pyn wat iemand soos Cilliers moes deurmaak juis as gevolg van sy groter eerlikheid oor sy seksualiteit en die aanvaarding daarvan as deel van sy identiteit. ’n Mens kry ook begrip vir die feit dat hy as ’n private, skaam mens, ’n introvert, dit nodig gevind het om hom byna ’n dekade lank doelbewus uit die gesprek oor homoseksualiteit te hou. ’n Mens wonder egter saam met hom of hy nie ’n groter verskil sou kon maak deur ’n aktiewe rol binne die gesprek te speel nie. Bartlett voel dat Soeker weer ’n groot invloed gaan hê. Nuwe lesers gaan die bevrydende waarheid van sy verhaal ontdek, terwyl lesers van die eerste boek gekonfronteer gaan word met die kompleksiteit van die proses om diepgesetelde oortuigings en vooroordele te verander. Pieter voel dat met die besluit wat die Kerk geneem het om Yolanda Dreyer, die eerste vrouepredikant, op die kansel toe te laat, niks inmekaar getuimel het nie en dat die Kerk ook nou vir die gay Christen kan sê: “Ons aanvaar jou. Ons sluit jou in.” Die kerk kan met so ’n besluit geskiedenis maak en ’n voorloper wees. Dis ’n geleentheid om die foute van die verlede reg te stel, om aan te beweeg. Dit gaan oor alles wat na aan die hart van die kerk behoort te lê – dinge soos liefde, aanvaarding, verdraagsaamheid, meelewing. Pieter vertel aan Hanlie Retief dat sy gunstelingkos skulpvis is en sy voorkeurwyn Sauvignon blanc. Wanneer hy televisie kyk, is dit hoofsaaklik niefiksie of goeie werklikheidsreekse soos Top Chef en veral Britse geselsprogramme. Desmond Tutu is sy rolmodel en onverdraagsaamheid kan hy nie verdra nie. Soeker is op 16 Maart 2011 op uitnodiging amptelik in Tukkies se Senaatsaal bekendgestel. Drie sprekers het die verhoog met Pieter gedeel het: Andries van Aarde (“Soekend in kerk en samelewing”), Yolanda Dreyer (“Marginalisasie en vrouwees”) en Allan Boesak (“Marginalisasie en swart bewussyn”). In die Afrikaanse kerke was daar tradisioneel drie pilare van uitsluiting: Vroue. Swart mense. Gays. Die eerste twee het nou al getuimel, sê Pieter, maar gays klop nog tevergeefs. “My roeping was miskien toe nie om predikant te wees nie, maar om my verhaal te vertel, om te wys dat daar niks aaklig, lelik, demonies of wat ook al aan gays is nie. Ons is gewone mense met gewone verhale.” Niks meer nie, en niks minder nie. Publikasies:
|
Publikasie
|
’n Kas is vir klere
|
|
Publikasiedatum
|
|
|
ISBN
|
0798137312 (sb)
|
|
Uitgewers
|
- Kaapstad: Human & Rousseau
- Pretoria: PCP
|
|
Literêre vorm
|
Outobiografies
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Soeker
|
|
Publikasiedatum
|
2011
|
|
ISBN
|
9781869194352 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: Protea Boekhuis
|
|
Literêre vorm
|
Outobiografies
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
Artikels oor Pieter Cilliers op die internet
Artikels deur Pieter Cilliers op die internet
Bronne
- Cilliers, Pieter. 2011. Soeker. Pretoria: Protea Boekhuis.

Terug na bo
Bygewerk: 2011-04-28 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|