Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Rita (JM) Gilfillan (1941– )
Erika Terblanche
2011-07-14 Druk dit/Print it

Sêgoed van JM Gilfillan

In 1990: “Ek is geïntimideer, werklik geïntimideer deur die Afrikaanse literêre wêreld. Dit lyk vir my na ’n ongenaakbare wêreld waarin ek my persoonlik nie graag wil begewe nie.”

In 1990: “Ek hou nie van publisiteit nie. Ek wou graag ’n skuilnaam gebruik vir dié bundel (Van stiltes en stemme), maar ek het geweet dit is totaal vrugteloos; in hierdie land gaan almal tog weet wie die skrywer is.”

In 1997: “Ek skryf, want dis op ’n sekere manier ’n bevestiging van ’n eie identiteit. Dit is natuurlik ook ’n bietjie ontvlugting – en dit laat ’n klein stemmetjie van my blanke Afrikanerskap hoor teen die geweldige oormag in. Ek skryf om orde te bring in dinge wat nie vir my heeltemal wil sin maak nie.”

In 1997: “Durban het deur sy vreemdheid, sy oorweldigende andersheid iets in my losgemaak en my laat skryf. Ek sal altyd met dankbaarheid aan Durban dink. Dis waar ek regtig begin skryf het.”

Oor haar verskuiwing na romanskryf: “Dis seker as gevolg van ’n bietjie meer selfvertroue, want ek het altyd gedink dis baie moeilik om ’n langer teks te skryf, maar nou vind ek dis makliker. Dis baie meer bevredigend om oor ’n aantal bladsye met dieselfde karakters doenig te wees. Mens groei in hulle in. Die kortverhaal eis baie en jy moet telkens ’n nuwe intensiteit vind. Dis moeiliker as met ’n roman.”

Gebore en getoë

Rita (Jacoba Magrieta) Gilfillan is op 29 April 1941 op Ermelo in Mpumalanga gebore, die oudste kind van Hendrik en Lena Eksteen. Haar pa het op die plaas Swartwater in die Ermelo-distrik geboer.

Na Rita is daar twee seuns gebore: Hendrik, twee jaar jonger as sy, en Pieter, vyf jaar na haar. In 1946 is hulle ma, ’n nooi Taljaard, op 28-jarige leeftyd aan hartversaking oorlede. Hierdie gebeurtenis het natuurlik 'n groot invloed op veral die kinders se verdere ontwikkeling gehad. Pieter, wat maar 'n baba was, is dadelik na sy pa se oudste suster toe en daar het hy 'n veilige en geborge tuiste gevind. Ten spyte van die jong wewenaar se pogings om die res van sy gesinnetjie bymekaar te hou, word Hendrik, maar veral Rita, swerwelinge in daardie groot en uitgebreide familie.

Oor haar vroeë kennismaking met boeke vertel Rita: “In daardie tyd was boeke in boerehuise nog skaars. Ek onthou die Bybel, en Uit die Beek, Die Voorligter en Die Landbouweekblad. By my ouma was daar ook Die Huisvrou waarin ek Audrey Blignault se gereelde vertellings oor Amanda en haar huisgesin in Kaapstad behoorlik verslind het. Eendag is eendag, het ek myself beloof, eendag is eendag dat ek ook in Adderleystraat sal stap met die Suidoos wat my rok skep sodat ek net moet keer vir my wickets. Eendag is eendag dat ek daardie Marietjie-kind gaan ontmoet. Op hoërskool was daar ’n klein biblioteek, maar wat ek onthou is die Anne of Green Gables-reeks wat ek by ’n maat te lese kon kry, ek het by een van my tantes ’n hele plank vol Tarzan-boeke ontdek en dit gretig deurgedraf sonder om bewus te wees van die keurige vertaling. As daar niks anders was nie, het ek die fynskrif op die bakpoeierblik gelees. By ander vriende het ek Jane Eyre in ’n kartondoos gevind - ’n boek wat ek met eindelose vreugde en herkenning gelees het, seker om verskeie redes.

“Ek was van niks regtig seker nie, maar ek onthou tog dat my peetoom op ’n keer gevra het wat hy vir my kan saambring van die dorp af. Ek het ’n boek gevra, ’n boek met lyntjies, waarin ’n mens kan skryf. Ek was so ontwortel, so pynlik skaam, dat skryf vir my al manier van uitdrukking was, dit meer as dat ek juis enige gevoel van ’n roeping (vir skryf) gehad het. Miskien oor al die oefening in daardie boek met lyntjies, was opstel-skryf later vir my lekker, en tale my geliefkoosde vak.”

Rita se skoolloopbaan het op Rooiwal begin, ’n plaasskool in die omgewing waar haar pa geboer het. Sy het daar in ’n koshuis loseer. In daardie tyd het haar pa weer getrou, die plaas verkoop en op Piet Retief gaan bly. Sy is saam en is na die plaaslike laerskool. Dit was egter nie vir lank nie, want sy is saam met haar nuwe ma na Springs waar hulle by haar ma se ouer suster en man en kinders gaan bly het.

Rita se skoolloopbaan het op Rooiwal begin, 'n plaasskool in die omgewing waar haar pa geboer het. In daardie tyd trou haar pa weer, verlaat die plaas en vestig hom op Piet Retief, waar Rita nou skoolgaan. Egter nie vir lank nie, want daar volg 'n kort tussenpose in 'n laerskool in Springs. Van daar af na 'n ander plaasskool, met die naam Transvalia. Toe die sukkelende skooltjie vou, word die ontwortelde troppie kinders ingeskryf by die Van der Merweskool te Ermelo. “Na hierdie verwarrende begin was dit seker nie vreemd dat ek vir die duur van standerd 4 en 5 in die spesiale klas was nie. In daardie tyd is dit die Aanpassingsklas genoem en onder leiding van liewe meneer Hechter het ek stadigaan begin aanpas by die lewe,” vertel Rita.

Dr Nicol, destyds administrateur van die voormalige Transvaal, het ’n praatjie by hulle skool kom gee. Sy boodskap was dat ’n geleentheid dikwels maar een maal kom, en wie dit nie aangryp nie, is dit kwyt. Hierdie woorde het om een of ander rede ’n onuitwisbare indruk op Rita gemaak. Juis toe het die skoolhoof, mnr BS Roberts, ontwerpe vir ’n skoolwapen gevra. Gedagtig aan die boodskap, het Rita besluit om ook in te skryf en daar het haar ontwerp, ’n oop boek waaroor die son opgaan, gewen. “Nie sleg vir iemand uit die Aanpassingsklas nie, dink ek by nabetragting, en hoera vir Driekie Calitz en al die ander minder of meer gestremde klasmaats van 1953–54.”

Vanaf die laerskool is Rita na die Hoërskool Ermelo, waar sy vyf gelukkige jare deurgebring het. In die skoolkoshuis, Adriani, het sy waardevolle vriendskappe gesluit en het sy vir die eerste keer geborge en tuis gevoel – veral deur die simpatie en woordelose begrip van mnr CP van der Walt, die koshuisvader en Afrikaans-onderwyser. Sy was bevoorreg om wonderlike onderwysers aan die Hoërskool Ermelo te hê, soos mnr Tönsing wat Duits gegee het, mnr GDS van Heerden, skoolhoof en geskiedenis-onderwyser, mnr Botha vir Wiskunde, mev Bütow vir sang, en nog baie ander. Sy het hokkie gespeel, aan debatte deelgeneem, aan die CSV behoort, en wat die skool ook al bied. Vakansies het Rita saam met maats deurgebring, of by haar grootouers of tantes.

Rita matrikuleer in 1959 aan die Hoërskool Ermelo.

Terug na bo

Verdere studie en werk

Na skool is Rita na Pretoria, waar sy in die Staatsbiblioteek gaan werk het. Daar het sy weer wonderlike en inspirerende mense ontmoet, soos die jong mevrou Schoeman wat Rita na haar huis genooi het, waar sy met nuwe idees gekonfronteer is, nuwe skrywers leer ken het en ander kos leer eet het, en dit alles sonder dat sy geweet het dat mevrou Schoeman die suster is van mnr Tönsing, haar eertydse Duits-onderwyser!

Rita het intussen by die Universiteit van Pretoria ingeskryf en begin buitemuurs swot aan ’n BA Biblioteekkunde-graad. Toe die geleentheid hom voordoen, het sy die Staatsbiblioteek verruil vir die Merensky, die universiteitsbiblioteek op die kampus, wat baie voordelig vir haar studies blyk te gewees het. Veral die dosente in biblioteekwese het baie in die biblioteek gewerk en Rita het hulle van nader leer ken. Sy kon dus nie langer lyf wegsteek agter anonimiteit nie.

Waarskynlik deur die aanbeveling van daardie dosente het sy ’n beurstoekenning gekry en is Rita vroeg in 1964 na Amsterdam, waar sy as bibliotekaresse in die Zuid-Afrikaanse Instituut op die Keizersgracht gewerk het en in Utrecht gestudeer het vir ’n verdere diploma in biblioteekwese. Roy Pheiffer het destyds die leerstoel in Afrikaans aan die Universiteit van Amsterdam beklee en sy kantoor was in die Instituut, wat beteken het dat hy en Rita mekaar goed leer ken het.

Nadat sy die diploma verwerf het, het Rita in 1965 in die Amsterdamse Stadsbiblioteek gaan werk voordat sy na Suid-Afrika teruggekeer het om haar pa, wat terminaal siek was, nog te kon groet.

Na haar pa se afsterwe het Rita in 1966 ’n aanstelling in die munisipale biblioteek van Germiston gekry. Gedurende daardie tyd het sy by mev Schoeman van die Staatsbiblioteek in Mtunzini gaan kuier en daar vir Rouston Gilfillan ontmoet, met wie sy in 1967 getroud is. Hy was destyds ’n dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Zoeloeland en sy het in die universiteitsbiblioteek aldaar gaan werk.

Toe Rouston vroeg in die 1970’s ’n aanstelling by Ikeys kry, was Rita gelukkig genoeg om in die biblioteek van Barckleyhuis, ’n onderwyskollege in Claremont in die suidelike voorstede van Kaapstad, te gaan werk. Later, toe Rouston na die Universiteit van Stellenbosch verskuif het, het sy van die geleentheid gebruik gemaak om eers ’n honneurs en daarna haar MA-graad in Afrikaans en Nederlands te verwerf.

Dit het daartoe gelei dat sy as dosent by die Universiteit van Durban-Westville aangestel is toe haar man ’n professoraat in Afrikaans aan die Universiteit van Natal aanvaar het. Sy het die pos beklee tot hulle aftrede en terugkeer na Stellenbosch. Hulle het drie kinders: twee dogters en ’n seun.

In 1989 debuteer Rita met die kortverhaalbundel Van stiltes en stemme, waarvoor sy in 1990 die Ou Mutual-prys ontvang. Vir hierdie verhale het sy ook ’n toekenning van die FAK ontvang.

Sy het reeds een maal vantevore, in die sewentigerjare, ’n prys in ’n Sarie-kortverhaalwedstryd gewen. “Ek het die prys gewen en dit het my só laat skrik dat ek vir jare nooit weer iets geskryf het nie,” vertel sy aan André le Roux.

Een van die verhale in Van stiltes en stemme, “My liefste poppie”, het in Standpunte verskyn, net onder die voorletters JMG. Die bundel verhale word op die flapteks beskryf bloot as ’n debuut wat “handel oor die uitbeweeg uit een toestand na ’n ander – ’n pynlike proses wat soms tot ontgogeling lei, maar soms ook tot insig en verlossing”.

Le Roux beskryf die verhale as sober, konvensioneel selfs, sonder veel hedendaagse -ismes. Dit kan doelbewus wees, of dalk kies die verhaal sy eie loop. Rita meen dat dit nie doelbewus is nie; “dit het seker te make met my ouderdom en dat ek uit ’n heel ander, ouderwetse tradisie kom. Maar dit het seker ook daarmee te doen dat ek ’n soort mens is wat buite alle bewegings en strominge wil staan; ek is eintlik ’n baie sterk alleenloper.”

Die verhale in die bundel oor Durban-Westville – “Die Taalles”, byvoorbeeld – is in ’n meer hedendaagse idioom, ook korter, en dit skryf Rita toe aan die blootstelling aan hedendaagse jongmense. “En die ander verhale, veral die kinderverhale, het vroeër ontstaan. Daar is drie ouer verhale, ‘Agtermiddag van ’n kind’ (wat sowat tien jaar vantevore ontstaan het), ‘Die troudag’ en ‘My liefste poppie’.

“Dis tog vir my asof ek nou ... ek het in die eerste plek baie bewus geword van Afrika, van swartmense en van Afrikaans en wat dit vir hulle moet beteken om Afrikaans te móét leer. Daardie verhale het miskien ’n moderner vorm; vandaar miskien ’n breuk in die bundel tussen die ouer, konvensionele verhale en hedendaagse verhale.”

Sy het hierdie ou verhale opgediep en besef sy wil ’n bundel skryf waarin alles met alles te doen het. Dit was beplan. “Ek dink ek het ’n baie sterk vormbewustheid, dit wéét ek. Ek is ’n esteet (al werk dit nie in vandag se idioom nie!), maar dit moet vir my reg klink op die oor, die sin moet sy eie ritme hê. Ek dink ek is baie beïnvloed deur Karel Schoeman: ek hou van die ritme wat sy prosa het.”

Oor Van stiltes en stemme skryf AP Grové dat dit ’n aantreklike bundeltjie is met ’n elftal kortverhale wat inhoudelik en tegnies tot op sekere hoogte met mekaar verband hou. “Nie net keer sekere situasies en selfs bepaalde figure hier en daar terug nie, maar dit is gou duidelik dat die skryfster by voorkeur haar stof put uit ’n eietydse werklikheid wat sy eerstehands waargeneem en/of beleef het.

“Al werk sy met karakters, is ’n mens feitlik deurgaans bewus van ’n sterk persoonlike, byna outobiografiese ondertoon. Dit dra by tot die eenheid van die bundel. As hier van eenheid sprake is, wil dit nie sê dat daar nie ook genoeg verskeidenheid is nie. Daar is verhale wat met die werklikhede van die rassesituasie in Suid-Afrika te doen het, verhale wat dit het oor spanning, opstande en die moontlikheid van versoening. Sommige verhale speel af in die klaskamersituasie met die ontoereikende onderrig van byvoorbeeld Afrikaans aan onwillige en wrokkige leerlinge. In ‘My liefste poppie’ gaan dit oor huwelikspanninge met die kind as lydende party. (...)

“Maar hoe die situasie ook al verskil, diep-in gaan dit oor mede-menslikheid, die moontlikheid of onmoontlikheid van mense om mekaar oor grense van watter aard ook heen te vind. Die verhale wil dus ’n bepaalde insig bring, ’n boodskap, as u wil.” Grové het gemeen dat daar nog veel van die skryfster verwag kan word.

Joan Hambidge noem Van stiltes en stemme ’n delikate debuut en dat dit tereg getipeer word as ’n volwasse debuut: nie net vanweë die boeiende spel tussen stilte en kontak nie, maar ook vanweë die feit dat die verhale van lewensinsig én stylbeheersing getuig wat selde by ’n nuweling te vinde is.

Volgens Gunther Pakendorf is daar ’n eweredige verspreiding van geslaagde en minder geslaagde verhale in die bundel, maar hy meen dat dit tog ’n belowende debuut is wat ’n mens laat uitsien na die volgende een.

Vir André P Brink is die inslag in Van stiltes en stemme persoonlik, sonder omhaal, met ’n uitlig van fyn emosionele draadwerk, en tóg met veel understatement, geplaas in ’n aktuele konteks: ’n universiteitskampus en -dorp waar rassespanninge en taalskeidinge ’n ander soort waarde aan die mees alledaagse momente verleen. Oënskynlik bestaan die teks uit elf afsonderlike verhale; maar dit is eers wanneer hul onderlinge verbondenheid deur die leser geaktiveer word dat mens besef dat jy hier, ondanks heelparty gebreke, tog met iets besonders te make het.

Ook Riana Botha meen dat al die verhale nie ewe geslaagd is nie, maar dat dit ’n belangrike debuut is, asook ’n welkome bydrae tot die Afrikaanse literatuur.

Rita se volgende bundel kortverhale, Die vrank smaak van frambose, word in 1993 deur Human & Rousseau gepubliseer.

Riana Scheepers skryf in Die Burger dat ’n unieke aspek van die Afrikaanse literatuur in die vroeë negentigerjare die groot aantal vroueskrywers is wat elk ’n eie skakering by die kleurryke doek van die kortverhaal inweef. Met Die vrank smaak van frambose weef JM Gilfillan die framboos-kleur van melancholie in hierdie wye doek. “In bykans al die verhale demonstreer sy die vermoë om die pynlike ervaring as ’n sensuele belewenis uit te beeld. Sy doen dit met die deurleefde wysheid van die volwassene wat geryp is deur die lewe. Wanneer die verteller in die trefferverhaal ‘Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade’ haar skaamteloos verlustig in die ‘vrankerige smaak van vars frambose’, herken sy daarin die smaak van die lewe self: ‘Die surigheid wat my kieste laat saamtrek, is tegelykertyd vermeng met 'n haas ondraaglike malsheid’ (bladsy 68).

“Hierdie uitspraak is van toepassing op die hele bundel, want pyn kan ’n intense vorm van skoonheid wees, en droefnis ’n poort tot nuwe sintuiglike ervaringe. Belangrik in Gilfillan se oeuvre is die gestremde, die liggaamlik verswakte of die eenvoudige van gees wat met insig en deernis geteken word. Veel meer onthutsend as die leef- en denkwêreld van hierdie karakters, is die reaksie van die gemeenskap wat met hulle in aanraking kom. Die mens, ook die swaksinnige of die bejaarde, se universele behoefte aan liefde en aanvaarding lei dikwels in hierdie verhale tot die primêre konflik en spanning waarom die verhaalgegewe gebou word. Ironies: Dit is nie die pretensieuse, welgestelde ‘kultuurmens’ nie, maar die eenvoudige, die een wat volgens die samelewing net ’n trappie hoër is as die swaksinnige, wat die behoefte in sy medemens raaksien en ’n simpatieke hand uitreik.” Scheepers meen dat Rita haar met hierdie bundel as een van die beste kortverhaalskrywers in Afrikaans vestig.

Vir Gretel Wybenga is ’n interessante wending in Die vrank smaak van frambose die meer eksplisiete teenwoordigheid van duidelike postmodernistiese trekke, en dan veral in die twee briljante slotverhale: “Die wedstrydverhaal” en “Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade” (wat ’n heerlike titel!).

“Hoewel die flapteks die indruk skep dat die verhale in die bundel minder somber is as dié van sy voorganger, moet die leser tog nie verwag dat ‘alle gesukkel’ in die meeste tekste ‘wonderlik sinvol’ word, soos die flapteks beweer nie. Die fiktiewe skryfster in die slotverhaal bely in die nag toe sy haar ‘welwillende gasheer se baard oor haar vel voel skuur het’ (68): ‘Met al my sintuie oop kon ek bevestiging vind dat ek, ten spyte van alles wat so stukkend gebreek het, nog altyd lewe en vir ’n kort wyle ’n toevlug kon vind in die weerloosheid van ’n medemens’ (69).

“Die meeste van hierdie verhale vind hul ‘toevlug’ in die weerloosheid van die mens wat juis so selde weet hóé om te lewe (benewens die een in ‘Arme fool’ is dié tekste vol arme fools). Veral in die eerste agt verhale (daar is tien) staan die verwondbaarheid van die mens voorop. In die eerste vier is die aartsmoeder as toevlug 'n sentrale gegewe, en dan veral dié ‘met doeke laag gebind om hulle voorkoppe en hande gevou oor hulle buike’ (14): die swart vrou wat niks het om te verloor nie.

“In ‘Die pad na Lusikisiki’ en ‘Pièta’ word die gebrek aan erbarming en egtheid in die wit opset by wyse van kontras juis ontmasker. Dié tema klink ook later onverwags op in ‘Die wedstrydverhaal.’

In die volgende vier verhale ontbeer die eenlingmens enige vorm van koestering en is oorgelewer aan die gebrokenheid van die bestaan self. In die subtiele ‘Ik heet Wouter’, wat ook in De Kat se kortverhaalwedstryd goed gevaar het, gaan dit om die onversoenbaarheid van mense, ons wat mekaar leed aandoen selfs as ons dit nie bedoel nie, en die eksistensiële eensaamheid wat daaruit voortvloei.”

Wybenga meen dat daar nog baie oor hierdie bundel, en veral die laaste twee verhale, gesels gaan word en dat ’n mens met groot verwagting na volgende publikasies uitsien.

Joan Hambidge vind die verhale in Die vrank smaak van frambose tegnies goed versorg en in die briljante slotverhaal, “Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade”, weef die verteller ’n reeks indrukke, ervaringe en reisbeskrywings tot ’n weelderige tapisserie wat met elke lees ’n nuwe (ander) interpretasie ontlok.

“Die verhale verval nie in selfbejammering of schmaltz nie vanweë die tegniese beheer van die skrywer. Hiervan lewer die troostelose (en uitsiglose) ‘Ik heet Wouter’ bewys. In die hande van ’n mindere kon dit ’n uitgesponne gay-relaas geword het. Nou wen die verhaal juis aan interpretasie en gehalte, omdat die leser sélf die drade moet saamtrek.

“Dis nie ’n bundel wat terugval op skoktegnieke óf -onthullings nie; en tog is die leser deurentyd ontredder oor die ‘naakte waarhede’ van misverstand, uitsigloosheid, eensaamheid.” Dit is een kortverhaalbundel, sê Hambidge, wat kan aanbeveel.

Die vrank smaak van frambose verras Marion Hattingh met ’n komplekse en besonder sensitiewe registrasie van mense in hul reaksies op mekaar en op die wel en wee van die lewe. Die klem val hier op diegene wat ondanks jammerlike omstandighede veredeling vind, of wie se onvaste bestaan binne bundelkonteks op ’n paradoksale wyse na sin uitreik. Hierdie is verhale wat sinisme en relativisme afwys en wat ’n soeke na betekenis as ’n basiese kenmerk van menslikheid belig. Die vrank smaak van frambose is by uitstek ’n bundel waarin vrouekarakters as sterk persoonlikhede funksioneer. Op ’n subtiele wyse lewer al die verhale oor die ontberings van mense teen wie daar op een of ander manier gediskrimineer word, skerp samelewingskritiek en word patriargale konvensies telkens in die gedrang gebring. Dit is opvallend dat wanneer mans wel in enkele verhale in die fokus staan, hulle voorgestel word as bejammerenswaardige figure wat nóg hul adolessente wellus, nóg hul alleenheid en ontnugtering kan verwerk.

In 1995 beweeg Rita weg van die kortverhaal en word haar eerste kort roman of novelle by Human & Rousseau gepubliseer onder die titel Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen.

In Insig skryf JP Smuts dat ‘n mens by ’n eerste lees van die boek dadelik elemente van die vroeëre Gilfillan herken – die problematiek van die sensitiewe maar ontwortelde kind is byvoorbeeld ook in die nuwe werk ’n belangrike gegewe – maar jy voel terselfdertyd die greep is groter, en stilisties is hier met vaster hand geskryf. “En dan nie vas in die sin van strakker en meer gestroop nie, maar steeds sonder hinderlike oordaad. Die wyse waarop die taal in hierdie werk gehanteer word, is ’n belangrike pluspunt van Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen. (...)

“Die werk verloop in sewe kort hoofstukke, en ’n enersheid in die struktuur val onmiddellik op. Elke hoofstuk het ’n titel wat begin met die woord Waarin: (‘Waarin daar pasta gekook word en ’n meisie haar hande verloor’; ‘Waarin ’n besorgde grootmoeder melksnysels voorsit en waarin ’n leeu uit gevangenskap ontsnap’) en eindig met ’n resep wat in die loop van die betrokke hoofstuk in die kombuis berei is.

“Sewe is ’n magiese getal wat pas in die sprokiesfeer, en die patroonmatige opbou is eweneens kenmerkend van sprokies.

“Sentraal in die eerste hoofstuk staan Engela Verster, eienares van ’n gastehuis op Stellenbosch. Reeds van die tweede hoofstuk af word egter uitvoerig teruggewerk in die verlede en algaande word ’n beeld opgebou van Engela se ma, Rachel, wat op ’n hoewe naby die Paarl bly. Rachel se lewe het in baie opsigte ’n sprokiespatroon gevolg, maar dan nie in die romantiese sin van die woord nie, maar wel in terme van die gruwelike wat so ’n inherente deel van baie sprokies is. (...)

“Teenoor Rachel wat deur die kodes van die samelewing verkneg is, staan haar dogter Engela, die bevryde vrou wat probleemloos buite die huwelik met ’n man saamleef.”

Smuts beskryf Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen as een van die boeiendste, fantasierykste en verrassendste Afrikaanse prosatekste wat gedurende daardie jaar in Afrikaans verskyn het.

Joan Hambidge meen dat Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen nie alleen ’n storie is nie, maar ’n verslag van die kreatiewe vrou se probleme wanneer sy haar in die diepe, psigiese waters van die kreatiwiteit plaas. Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves (1992) is ’n belangrike interteks, met veral die verwysing na die transformasie van die lelike eendjie, die meisie met die afgekapte hande, die ou storieverteller wat langs die vuur sit. Trouens, op ’n plek verwys die verteller ironies genoeg na die feit dat Pinkola Estés se studie nie bestaan het toe sy dit juis bitternodig gehad het nie!

Tom Gouws skryf: “Daar is veel in hierdie novelle wat ’n mens beïndruk: die gemaklike vertelstyl, die verbeelding, die knap taalbeheersing, die vermoë om te kan komponeer, wêrelde te integreer, onverwagte dinge naas mekaar te stel. Maar ’n mens vermoed Gilfillan het intertekstualiteit te letterlik opgeneem: dit as ’n produk gebruik en nie as proses nie. Al is daar ’n uitgebreide pleidooi vir ‘die plekke waarin die skrywer se hand sigbaar word’ in die teks, is dit vir my gevoel ’n té maklike uitweg.

“Die gebeure in die novelle van Gilfillan is gebou op die fassinerende sprokie van die maagd wat haar hande verloor het. Die verteller in die novelle lig die simboliese betekenis van die sprokie soos volg toe: ‘Clarissa Pinkola Estés verduidelik dat die meisie haar pad na inisiasie inslaan wanneer sy haar hande verloor. Sy volg nou die weg na die selva subterránea en die kanse is goed dat sy uit die onderwêreld sal kom met haar psigiese en kreatiewe herstel.’

“Op dieselfde trant word die uitstekende storie ‘van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen’ deurentyd onderbreek met ’n beterweterige Jungiaans-gerigte verteller wat vir die leser dieptesielkundige en alchemie-toeligtings gee, byvoorbeeld: ‘haar ou, hulpelose self moet afsterf voor ’n nuwe self gebore kan word’, of: ‘Soos die stamper en vysel reeds aandui, is die Baba Yaga ’n oer-vroulike simbool ... Jy verstaan natuurlik dat binne die Jungiaanse sielkunde die stiefmoeder en haar lui dogters simbole is van Wassilissa se eie skadukant.’

“Soos ook in haar kortverhaal ‘Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade’ in haar vorige bundel, Die vrank smaak van frambose, sal dié novelle handig deur literêre teoretici gebruik kan word om die metafiksionaliteit of uitgebuite narcissisme van die eietydse postmodernistiese prosa uit die wys.

“Maar vir die gewone leser word dit ’n teksversperring, ’n aangenaalde teoretiese lap wat nie die gate in die teks genoegsaam wegsteek nie. In die sprokie van die maagd wie se hande afgesny is, kan sy net so min met haar gemaakte silwerhande maak as met haar stompies. As sy uiteindelik met deursettingsvermoë aanhou probeer om haar eie identiteit te vind, groei haar hande weer aan. Gilfillan het soveel talent dat sy met groot vrymoedigheid Estés, of ander, se silwerhande kan begrawe. Ek nie kan wag om te sien wat sy kan doen met haar eie, nuutaangegroeide hande nie.”

Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen het die derde plek in die Ou Mutual-prys behaal.

Rita vertel aan Hilda Grobler dat sy nie ’n bewuste besluit geneem het om ’n roman te skryf nie, maar dat dit lyk asof sy so half onwetend wegbeweeg het van die kortverhaal af.

Sy meen ook dat die kritici haar al skerp gekritiseer het oor die orde wat sy in haar skryfwerk probeer skep. “Hulle sê alles pas altyd mooi netjies, en ek maak mooi oplossinkies. Maar dit was heeltemal anders toe ek Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen geskryf het. Dié was nie ’n verhaal vir orde nie. Dit was gewoonweg ’n uitbarsting van vreugde, die lekker om mens te wees, Afrikaans te wees, vrou te wees, in Durban te wees. Dis ’n boek oor boeke en dit bring ’n huldeblyk aan al die boeke wat ek al gelees het, asook aan al die vreugdes van my lewe.”

Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen is in 2008 in ’n tweede uitgawe deur LAPA gepubliseer.

Rita se tweede novelle, Pouoogmot, word in 1997 gepubliseer. Dit gaan oor ’n groep vroue wat in saal 13 van ’n private kliniek lê. Elkeen het haar eie fisieke probleem, maar elkeen dra ook, minder opsigtelik, haar eie persoonlike wroeging diep binne-in haarself. Dit is die nuwe Suid-Afrika – daar is Indiër-, swart en wit vroue saam in een saal en elkeen het haar eie vooroordele en aanpassingsprobleme. Om verveling te besweer, besluit die vroue op ’n storie-uur waartydens elkeen die kans kry om ’n storie oor klere te vertel. Onvermydelik handel elkeen se storie oor haar eie lewe en haar hartsgeheim. En die vertellings begin die historiese agtergrond eggo van die Waarheid-en-Versoeningskommissie waarteen hierdie novelle afspeel, skryf Annemarié van Niekerk.

Van Niekerk beskou Pouoogmot as ’n verhaal wat enduit boei, omdat die stukke storie spannend is en in afwisselende style vertel word. Hoewel daar hier en daar spore is van oordrewe mooi beelding, skend dit nooit die vloei van die novelle nie. Saam met die lees sal elke leser besef dat ons eie hartstories deel is van ’n groter patroon – dat dit nie slegs nodig is dat ons met ons eie stories gekonfronteer word nie, maar dat ons ook na die stories van ander moet luister om bevryding en genesing binne ’n groter konteks te bring.

Hoewel die proses van roman-skryf ’n belangrike gegewe in Gilfillan se Pouoogmot is, is hierdie roman allermins ’n serebrale oefening, skryf Louise Viljoen. Dit begin naamlik met ’n vrou wat beplan om ’n roman te skryf, gedagtes rondom ’n aanvanklike idee versamel en dit langsamerhand begin orden. Dit wat sy uiteindelik begin skryf, vorm dan die roman-binne-’n-roman wat ons te lees kry. Dit handel oor ’n groep vroue wat saamgegooi is in ’n hospitaalsaal en vir mekaar verhale vertel om hul vrees en verveling te besweer. Hoewel die skrywende vrou erken dat die idee ontleen is aan voorbeelde soos Chaucer se Canterbury Tales, Bocaccio se Decamerone en selfs Calvino se If on a winter’s night a traveller, kom die idee binne die konteks van haar roman van suster Precious Mafokeng, terwyl dit die onderwyseres in die groep vroue is wat voorstel dat die stories om ’n bepaalde tema moet sentreer. Saam besluit hulle dan om stories oor klere te vertel.

“Hiermee sluit die roman aan by ’n reeks tekste wat klere en naald- of handwerk gebruik om aspekte van vroulike ervaring uit te beeld. (...)

“Hierdie roman oor vertellende vroue word geraam en op verskillende plekke onderbreek deur gedeeltes wat handel oor die skryfster waardeur dit tot stand kom. Verbande word voortdurend gelê tussen die skryfster se ervaring en elemente in haar verhaal. Haar gekweldheid oor die ontstellende onthullings voor die Waarheidskommissie vind byvoorbeeld neerslag in die karakter Mara Malan wat selfs fisiek siek word oor die dinge in die verhaal oor haar verhouding met die aktivis Freddie Philander wat sy nie die moed het om te vertel nie. Die invloed van die Ooste is ook deurslaggewend vir die skryfster. Soos die twee borde wat ’n vriendin vir haar gemaak het, verteenwoordigend is van die pole jin en jang, staan haar persoonlikheid ook in die teken van teenoorgesteldes: sy is tegelyk ’n afgetrokke en magnetiese persoonlikheid; ’n amateur op die terrein van die lewe en as skrywer ’n toegewyde waarnemer daarvan. Die gesprekke oor bonsai-bome en die Japannese landskapskilderkuns word ook betekenisvol van toepassing gemaak op haar skryfwerk. Aan die slot van die roman wonder sy: ‘Sal sy ooit streng genoeg wees om alle oortollige groei genadeloos uit te knip? Sal sy haar werk kan terugdwing tot die gestroopte vorm van bewuste geweld teen simmetrie?’

“Met hierdie selfondersoekende vraag van die skryfster vestig Gilfillan in ’n sekere sin die leser se aandag op haar eie skryfstyl. In die geval van hierdie roman word die leser opgeval deur haar vermoë om ’n ryk tekstuur te weef met haar skryfwerk eerder as om af te stroop. Aan die eksotiese, boerse, delikate en verbeeldingryke lappieskombers wat Gilfillan met haar roman skep, behoort lesers egter baie plesier te hê.”

Fanie Olivier het egter voorbehoude oor Pouoogmot. Hy voel dat die gegewe van die roman baie moontlikhede bied, maar dat dit nie altyd teregkom nie. Hy gaan voort: “Nouja: vir my is Pouoogmot se aanslag tipies politiek-korrek. Suster Precious Mofokeng is presies wat haar naam sê en boonop ook nog ’n ‘balling gekom oor die oseaan’ vol liefde vir Afrikaans en die ouer digters.

“Van die vroue se stories (en/of hulle ‘werklike’ lewens) eggo ‘die lied van ’n meisie in haar liefde verlaat’ in ’n verskeidenheid gedaantes. Die romanskryfster-karakter self sukkel om rondom die WVK met haarself en die gemeenskap waartoe sy behoort vrede te maak.

“Die reënboogkleed moet ook plek maak vir Nirmala Govender wat die eksotiese Ooste kan invoer saam met haar rooi sari. Ek kan terselfdertyd geen regverdiging vind hoekom haar storie nie binne die opset van hierdie roman in Engels vertel kon word nie: die ‘vertelling’ daarvan in ’n tipiese Oosterse sprokie-formaat rym nie met die res van die aanslag nie.

“Ek vind verder dat Gilfillan die suggestiewe wins van die gestrenge gebruik van bywoorde en byvoeglike naamwoorde wat haar werk aanvanklik gekenmerk het (dink maar net aan die stiltes wat met die stemme saamgeklink het in haar debuut) prysgegee het. Dit dra daartoe by dat die roman (albei die ‘romans’, trouens) neig om by tye sentimenteel te raak.”

Joan Hambidge skryf dat, soos te verwagte van Gilfillan, die aanslag van Pouoogmot liries en kompleks is. “Daar is meesterlike ingebedde verhale soos die subtiele ‘Die rooi sari’, ’n verhaal-binne-in-’n-verhaal, soos ons ook aantref in die 1001 nagte. Die leser(es) bevind sig in ’n labirint van komplekse verhaal-betekenisse soos in haar verhaal ‘Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade’ in Die vrank smaak van frambose. Hierdie verhaal was as ’t ware die vertrekpunt vir hierdie novelle wat wil kommentaar lewer op vroue se posisie, hul rol in ’n samelewing én die ondermynende mag van die private storie.

“Die man in hierdie novelle mag byvoorbeeld nie die verhaal lees nie; tog kan een ongewenste woord haar kreatiwiteit laat stol. Hiermee lewer Gilfillan sydelings kommentaar op die mag van die manlike kritici waaraan vroueskrywers, ironies genoeg, steeds onderworpe bly. Nie om dowe neute nie duik Jung se naam op in ’n gesprek oor die politiek van die land. (Dit is wanneer die skryfster en haar man mense besoek.) Die genesende mag van vertellings/sprokies aktiveer ook Clarissa Pinkola Estés se Woman who run with the wolves en ’n mens sou ’n fassinerende ontleding kon maak van Gilfillan se novelle na aanleiding van die tipes wat Pinkola Estés beskryf.

“Die pouoogmot van die titel aktiveer die Oosterse dimensie van die boek: ‘In die Ooste word die sy van een soort pouoogmot waarvan die larwes op akkerblare leef, gebruik om sjantoeng van te weef,’ (p 104). Die verskillende verhale vorm dan ’n ryk geskakeerde tapisserie wat die leser help knoop.

Pouoogmot is meer as ’n postmodernistiese toertjie of ’n steriele eksperiment met die grense van die verbeelde werklikheid. Dit is ’n novelle wat die bevrydende mag van stories ondersoek, die heling wat hierin opgesluit lê en dat vroueskrywers nie meer voëltjies in ’n kou wil wees nie. Dit is ’n boek vir nalees en nadink. Dit lewer kommentaar op die proses van skryf en vertel, en veral kritiek op ’n gemeenskap waar geweld ons daagliks al hoe meer afstomp en van mekaar vervreem. Tog lê daar heling in vertel, uitpraat. En is daar versoening moontlik as mense luister na mekaar, volgens die ‘cantadora’ Pinkola Estés en die skryfster in Pouoogmot.”

Tien jaar na die publikasie van Pouoogmot keer Rita terug na die kortverhaal as genre met die publikasie van Glas, wat in 2007 deur LAPA uitgegee is.

Glas bestaan uit twintig kortverhale wat meestal uit die perspektief van die vrou vertel word – soms die naïewe stem van ’n kind, soms volwasse vroue wat die lewe ken. Die karakters openbaar hulself in oomblikke van krisis: siekte; ontreddering oor mislukte verhoudings. Die boek handel dus oor die breekbaarheid van die lewe aan die een kant, maar ook hoe dit aan die ander kant mooi kan wees. Die titel vat dit saam in een woord: glas.

Dis verhale vol empatie en humor en fyn waarneming wat ’n mens ontroer en ’n bevredigende leeservaring tot gevolg het.

Joan Hambidge vind bekende temas soos liefde, onvervulling, verraad, stiltes en die metarefleksie (’n verhaal oor ’n verhaal) terug in hierdie bundel. Vir Hambidge is die sterkste verhale dié waar die skrywer afstand kry oor haar emosies, en juis omdat sy oor die intiem-vroulike skryf soos klere, gevoelens, en so meer, word die verhale dikwels deur ’n soet inslag bedreig. Soms is die aanslag vir Hambidge te soet, maar in haar sterkste verhale is Gilfillan op haar beste. Sy voel egter dat die verhale skerper gefokus moet word en die oordadige taal gesnoei moet word.

Thys Human meen dat dit in dié bundel by uitstek gaan oor die breekbaarheid van verhoudings en die weerloosheid van mense eerder as oor geluk of vervulling. “Desondanks is Glas nie ’n somber óf uitsiglose leeservaring nie. Inteendeel. Die meeste verhale werk eerder suiwerend en beswerend. ’n Belangrike rede hiervoor is Gilfillan se vermoë om karakters, situasies en insidente só helder en herkenbaar te skets dat dit soms vir die leser voel asof hy deur eenrigtingglas op mense se intiemste belewenisse inkyk.

“Gilfillan maak haar ook, anders as sommige ander skrywers, selde daaraan skuldig om menslike verhoudings vir dramatiese effek te oorvereenvoudig. Verhale soos ‘Besoek’, ‘Kleur’, ‘Ek onthou vir Stoffel en tant Ellie’, ‘Swartvlei’, ‘Die brief’ en ‘Of Cabbages and Kings’ bring ’n mens juis onder die indruk van die verwikkelde aard van verhoudings en die komplekse dryfvere wat menslike gedrag onderlê.

“Die veelseggende bundeltitel, Glas, dien as leidraad na die belangrikste tematiese elemente in die bundel. Soos glas bewerkstellig die bundel ’n kaleidoskopiese effek deur die groot verskeidenheid perspektiewe waaruit vertel word, asook die uiteenlopende invalshoeke wat daar – in verhale soos die novelle-agtige ‘Die kersieboom’ – op ’n enkele insident gegee word. Dit is byvoorbeeld nie moontlik om die vertellers of fokaliseerders in die bundel op grond van hul ouderdom, geslag, kleur óf sosiaal-ekonomiese agtergrond in ’n enkele kategorie in te deel nie. Op dié wyse verkry Glas ’n universele trefkrag: ondanks hul onderlinge verskille staan ál die karakters uiteindelik uitgelewer aan ander, aan pyn, siekte en sterflikheid. En soos glas blyk geluk buitengewoon broos te wees: iets kosbaars wat in ’n ommesientjie aan skerwe kan spat. (...)

“Wanneer ’n mens die verhale in Glas lees, val dit jou op dat Gilfillan nie net ’n bedrewe skrywer is nie, maar ook ’n kranige leser. En dat sy haar leesindrukke ruimskoots in haar skryfwerk aanwend. Vir ’n ingewyde leser is daar byvoorbeeld baie plesier te put uit die literêre eggo’s wat in Glas weerklank vind: die skunnige inspeling op Aucamp se ‘’n Bruidsbed vir tant Nonnie’ in ‘Ant Dolly’; die kersieboom wat so sterk aan die peerboom in Opperman se ‘Ballade van die Grysland’ herinner of Nadia se motorneuronsiekte wat jou onwillekeurig aan die onverbiddelike Milla in Agaat laat dink. Van Eybers se ‘Herinnering’ is daar mooi nafluistering in ‘Padkamp’: ‘Agter die verste rant sien sy die ronde bol van die maan loskom. Vir ’n rukkie hang dit los teen die lug, maar skuif dan agter ’n vlieswolk in. Antjie kan nog die musiek hoor met tussendeur stemme van mense wat lag. Almal is vrolik, behalwe sy.’

“Maar die bundel sal net soveel genot verskaf aan lesers wat bloot agter die storie aan lees.”

Izak de Vries meen dat Glas ’n bundel oor mense en hulle geliefdes is en dat die tien jaar van stilte sedert haar laaste boek ’n stem gegee het aan twintig gestroopte verhale wat konsentreer op die prag van die oomblik, die sagtheid van die liefde en die skerp prikke van die dorings waarmee ons verhoudings elke dag saamleef.

Hy eindig sy resensie op LitNet as volg: “In haar vierde gepubliseerde werk, Pouoogmot, skep Gilfillan ’n karakter wat skryf. Hierdie skrywende karakter sit voor haar rekenaar en dink: ‘’n Skrywer durf sy haarself nie noem nie. Nie voor daar ten minste vyf boeke uit haar hand op die rak agter haar staan nie’ (Pouoogmot, 7).

“Nou ja. Ek weet nie hoe Gilfillan oor nommer vyf voel nie, maar ek wil sê: Draai om. Daar staan vyf boeke uit jou hand en hulle is goed. Jy mag jouself ’n skrywer noem.”

Publikasies:

Publikasie

Van stiltes en stemme

Publikasiedatum

  • 1989
  • 2004

ISBN

0798124997 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Stellenbosch: African Sun Media

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Ou Mutual-prys 1990

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Die vrank smaak van frambose

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798131098 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhaan

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2008

ISBN

  • 0798134860 (sb)
  • 9780799342345 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Pouoogmot

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798137665 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Glas: kortverhale

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799339208 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor JM Gilfillan beskikbaar op die internet

Artikels deur JM Gilfillan beskikbaar op die internet

 

 

 

Terug na bo

Bygewerk: 2011-07-14
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Martin Kidd
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur