| “Quickie”-kompetisie: Leermeester |
Maryka Marais
Die baba was vroeggebore, en ons was net sewe maande getroud.
Dit was ’n nagraadse klas tydens die wintervakansie. Ek was besig om my troue te beplan. Die man met die grys slape kyk my geamuseerd aan toe ek die onderwerp verander na my troue. Later gaan ons ’n drankie drink, en beland langs mekaar. Ek nooi hom vir koffie, maar hy maak verskoning, ook die volgende dag. Die laaste dag van die kursus aanvaar hy my aanbod.
Hy haal ’n gedig uit sy baadjiesak en gee dit woordeloos vir my. Ek was aangedaan en soen hom. Ek voel veilig en snoesig in sy arms. Ek gee my oor.
Ons word wakker,verstrengel soos die nuwe lote van ’n wingerdstok.
Ek was ’n maagd.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|