| ''Quickie''-kompetisie: Vurigheid |
Ansia van Schalkwyk
Dit was ’n Donderdagoggend toe dit uitgebrand het. Ons vurige liefde gereduseer na ’n ylerige rookwolkspiraal. Groot genoeg vir branderigheid in jou keel, maar te min vir hitte. Eens was dit anders. Sy jongmanlyf was onbekend maar gewillig onder my vraende hande. Die ontdekkings het in bruisende vreugdevure ontaard, ons stomend uiteindelik verskroei. Daarna is vreugdevure beplan rondom begrotings en kinderoppasser-skedules. Vreugdevure wat niks meer as verwoestende bergbrande was wat uitbrand voor die honger heeltemal versadig was nie. Hoe keer ek die verdwyning van ons liefdesavontuur na vandag se hofbevel? Vyftien jaar se vreugdevure. Jongmanlyf, middeljarelyf, egbrekerlyf. Nou háár vurige lyf. Koud en alleen sonder vuur sit ek en staar na die rookwolkspiraal.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|