Erika Terblanche
|
|
|
Sêgoed van Dan Sleigh
“Ons kan die Hollanders daarvoor [boekstawing van gebeure] dankbaar wees. Dis oor hulle byhou van rekords – al was dit net om te sien wie is verantwoordelik vir verliese en wie daarvoor sal boet – dat daar so baie inligting vir die navorser is. Wat sou ons van die vroeë Kaapse geskiedenis geweet het as die Hollanders dit nie so volledig opgeteken het nie?”
“In die loop van jou werk as navorser kom jy agter jy het nie met leë inskrywings te doen nie. Jy loop mense raak in die blaaie van joernale. Mense, kom jy agter, wat – net soos ons vandag – in moeilike omstandighede aan die lewe probeer vasklou het: soldate, matrose, beeswagters, klerke ... mense arm aan alles, ook aan emosie, behalwe miskien basiese vrees en woede. Hulle was individualiste. Een het sy briewe en kontrakte met ’n ankertjie onderteken – want hy kon nie skryf nie. Maar waarom ’n anker? Dit is hoekom ek die roman (Eilande) geskryf het. So hou jy dié mense in die lewe. Mense sterf eers werklik as hulle nie meer onthou word nie.”
“Daar is baie matrose wat stories het om te vertel, en ek is maar net nog ’n matroos met ’n storie. Ek het die roman geskryf, omdat ek gedink het mense sou dit interessant vind. Ek hoor hulle deesdae sê: ‘Ek het genoeg gehad van geskiedenis!’ Ek weet hoe geskiedenis op skool doodgemaak word. Ons kyk ons vas teen ons vooroordele en onkunde, en ons weet nie watter skatte in argiewe opgesluit lê nie.”
“Maar Afrikaans was nooit ’n seetaal nie. Die Britse besetting het die taal as ‘t ware afgesny van die see. Maar ek weet niks van taal nie. Tegnies kan ek nie oor taal praat nie, maar ek reken my karakters moes baie naby aan moderne Afrikaans gepraat het. Soms het ek hulle egter sekere woorde laat gebruik, dan maak my redakteur vier vraagtekens by een sin. Stel jou dit voor ... Vier!”
Dan het nes Carelina in Wals met Matilda sy radio verban: “Dit gee my ’n pyn, werklik, dit maak my seer. Nee, ek voel dit nie in my vel soos Carelina nie, ek voel dit in my kop. Jy voel jy wil die mense ’n klap gee, maar die beste wat ek kan doen, is om die draadloos af te sit. Ek het vroeër dikwels radio geluister oor die musiek, maar nou skreeu hulle skielik ’n advertensie tussendeur die musiek. As hulle die hele advertensie in Engels wil sit, sal ek glad nie omgee nie, of in Duits, maar nou doen hulle dit in Afrikaans, met ’n Engelse finale sin. Wat probeer hulle daardeur aan ons sê?”
Oor die tema van Wals met Matilda: “Wat maak ’n mens ’n mens? Is die liggaam die groot ding? Of is daar ’n gees? En dit is die groot, groot tema van die boek … Onthou die skildery van die geraamte wat dans met die mens. Die dans tussen die dood en die lewe. Dit is wat met Japie van der Merwe gebeur het. Dit is wat met Koos gebeur het. Die probleem is net ons moet daardie lewe deurgaan, van ons jeug tot ons ouderdom, en heeltyd dans die dood met ons, wals die dood met ons.”
“Ek word dikwels gevra om ’n boek te resenseer, en as ek nie daarvan hou nie, sê ek nee, ek gaan dit nie doen nie. Ek sal nie ’n negatiewe woord skryf oor al die moeite wat iemand anders gedoen het net om hom te probeer afskiet nie. Hoekom?”
Oor sy vrees dat boeke nie meer gelees nie, nie meer gepubliseer gaan word nie: “Ja, ek sal seker nie meer hier rond wees om dit te beleef nie, maar dit kan nie baie langer as 20 of 30 jaar duur nie. In sekere geboue kry jy noutevrees, engtevrees. Dit is wat ek hier kry. Dit trek toe rondom my. Dit maak my benoud. Ek weet watter plesier ek van my kinderdae af uit boeke gehad het. Ure omgelees, en later het dit ’n beroep geword. Maar ek sien die agteruitgang.”
“Daar is geen geskiedenis nie, anders as die ontleding en vertolking van dokumente, ’n soektog na oorlewendes in die eindelose ruimte.” |
Gebore en getoë Daniel Sleigh word op 3 November 1938 op Geelbeksfontein aan die Langebaanstrandmeer aan die Weskus gebore. Die seevaart lê diep in sy voorgeslagte. Sy pa, Francis, was die vierde geslag van kaptein Francis Sleigh van HMS Russel wat in 1806 aan die Slag van Blouberg aan die Kaap deelgeneem het. Sy ma, Susanna, is die vierde geslag van skipper Klaas Acker van die VOC se skepe Duifie, Diamant en Zoutman.
Terug na bo
Verdere studie en werk Dan matrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg en sluit daarna by die Suid-Afrikaanse Vloot aan. As lid van die Vloot onderneem hy reise na die ooskus van Afrika (Mombasa) en suid van die Prins Edward-eilande. Daarna gaan werk hy by die destydse Barclays Bank as agentskapteller en as kroegman by die Saldanha Hotel. Van 1960 tot 1962 studeer hy aan die Opleidingskollege Paarl om hom te bekwaam as onderwyser in liggaamsopvoeding. Hy gee onderwys aan Mariental Hoërskool in die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië), Marist Brothers’ College in Rondebosch en die Laerskool Pinelands-Noord. In 1985 begin Dan om die Onderwysmuseum in die historiese Aliwal Skool in Wynberg in te rig. Dit was in 1996 die enigste onderwysmuseum in die land nadat die museums in die Vrystaat en Gauteng gesluit het. In 1988 word hy aangestel as hoof van die Sentrum vir Bewaringsopvoeding, waar spesiale kursusse in die bewaring van die natuurlike, mensgemaakte en sosiale omgewing jaarliks aan leerlinge en onderwysers aangebied is. Deur Dan se inisiatief is die Walters-toekenning en die Volkskasprys vir Bewaringsprojekte van skole in die lewe geroep; hy is in 1995 aangestel as koördineerder van bewaringsopvoeding in die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. In 1996 tree hy af. In 1969 behaal Dan sy BA-graad met geskiedenis en Engels as hoofvakke aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy trou met Dewetia Hendriksz, kunslektrise aan die Mowbray Opleidingskollege in Kaapstad. Hulle het ’n dogter, Jean. Dewetia is in 2006 oorlede. Dan behaal sy MA-graad cum laudeen in 1987 sy doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Sy doktorsgraad se titel is “Die buiteposte in die ekonomie van die Kaapse verversingstasie, 1652-1795” met DJ Kotzé en DJ van Zyl as promotors. Dan was redakteur en vertaler vir die Van Riebeeckvereniging se reeks in 2003 en is ook redakteur van die reeks vir die Kasteel Militêre Museum oor die Kaapse militêre geskiedenis. Hy is ’n vryskutnavorser en -konsultant vir verskeie instansies, soos die Departement van Kultuur, Kuns en Tegnologie van die Wes-Kaapse regering, SAHRA, Kasteel Militêre Museum, Munisipaliteit van Blaauwberg en Gawie Fagan Restourasie Argitekte, om maar net ’n paar te noem. Dan is lid van die VOC Stigting (sedert 1995), die Suid-Afrikaanse Vereniging van Argivarisse, die Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Vereniging, die Suid-Afrikaanse Militêre Historiese Vereniging, Vriende van die Kasteel Militêre Museum, lewenslange lid van die Stigting Simon van der Stel, Vriende van Mostert se Meul, en Raad vir Nasionale Monumente, en hy dien ook in die Pleknaamkomitee van die Kaapse Stadsraad. In 1974 publiseer Tafelberg Uitgewers ’n bundel poësie van Dan getiteld Duif oor water, waarvoor hy die C Louis Leipoldt-prys vir poësie van die Departement van Nasionale Opvoeding ontvang. Die keurverslag van hierdie bundel is in 1970 deur die bekende letterkundige Rob Antonissen geskryf: "My aanbeveling is onvoorwaardelik: dat hierdie bundel gedigte in sy geheel uitgegee moet word. Die lees hiervan het vir my een van die heuglikste verrassings van die afgelope jare besorg.” Na die verskyning van die bundel spits Dan hom toe op die skryf van boeke met ’n geskiedkundige agtergrond vir jongmense. In 1993 word Die buiteposte: VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652-1795 gepubliseer. Dit is die resultaat van 30 jaar se navorsing in Suid-Afrika en in Nederland, waar die VOC sy ontstaan gehad het, en vestig Dan as een van die voorste kenners van die vroeë Kaapse geskiedenis. Barend Toerien sê in 1995 van Die buiteposte: "[D]ie interessantste, fassinerendste boek wat ek die afgelope vyf jaar in Afrikaans teengekom het, is ’n geskiedenisboek.” In 2004 word Die buiteposte deur Protea Boekhuis heruitgegee. Oor die herdruk van Die buiteposte het Dan aan Martiens van Bart vertel dat hy lank na ’n uitgewer gesoek het om dit te herdruk, maar dat die mark daarvoor nie sodanig was dat uitgewers dit wou aanpak nie. Maar toe, met die sukses van Eilande, het Nicol Stassen van Protea Boekhuis die uitdaging aanvaar. Hoewel daar ’n betreklik klein navorsingsmark vir boeke soos Die buiteposte wêreldwyd is, is hierdie boek deur navorsers in Australië, Nederland, Rusland, Amerika en Noorweë aangekoop. “Ek het briewe van navorsers van oor die hele wêreld ontvang. Afrikaans is vir hulle geen probleemtaal nie. Dit hang als af van daardie kop agter die bril.” DJ Kotzé, Dan se destydse promotor, het gesê Die buiteposte gaan nog die nuttigste boek wees wat uit die Geskiedenis-departement van die US gekom het. Die VOC was destyds die vernaamste en kenmerkendste bydraer tot die Goue Eeu van die Nederlandse staat, indertyd die magtigste moondheid ter wêreld wat gelyktydig kon oorlog maak teen Engeland, Frankryk en die Bisdomme van Münster terwyl hy sy handelsbelange in die Ooste uitgebrei het. Nederland het as entiteit van prag en krag algeheel staatgemaak op die VOC as eienaar van handel- en oorlogskepe, indiensnemer van werkers en betaler van belastings. Die VOC het op sy beurt op sy Oosterse handel staatgemaak. Laasgenoemde het op suksesvolle skeepvaart staatgemaak. Dié het weer staatgemaak op die verversingstasie Kaap die Goeie Hoop, wat op 57 buiteposte staatgemaak het. Die buiteposte was in werklikheid mense wat gesaai, gemaai en geoes het. En toe verskyn Eilande in 2002, nadat Dan twintig jaar vantevore al daaraan begin skryf het. Die titel was toe Stemme uit die see. Dit was die Brit Julian Barnes se A History of the World in 10½ Chapters (Picador/Jonathan Cape 1989), wat daartoe gelei het dat Dan hierdie onvoltooide manuskrip weer uit die laai gaan haal het - die manuskrip wat Eilande sou word. “Ek het die oorspronklike manuskrip weggesit omdat ek nie geweet het hoe om dit klaar te maak nie. Die boek het ’n sentrale karakter gekort, iemand deur wie se oë alles saamgevat word.” Toe hy Barnes se boek gelees het, het hy egter besef hy het nie ’n sentrale karakter nodig nie. “Jy kan alles bloot rondom ’n tema organiseer!” Barnes se ironiese “popgeskiedenis” bestaan uit ’n reeks vinjette wat aaneenskakel via onwaarskynlike leitmotiewe. Dit word die beste beskryf met ’n aanhaling uit die boek self: “The history of the world? Just voices echoing in the dark; images that burn for a few centuries and then fade; stories, old stories that sometimes seem to overlap; strange links, impertinent connections.” Die manuskrip is weer uitgehaal, afgestof en klaargemaak en aan Tafelberg Uitgewers voorgelê. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis. Eilande word aangewys as die wenner in die gesogte Sanlam/Insig/Kwela-romanwedstryd in 2001. In 2003 verower dit die WA Hofmeyr-prys en die RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk en in 2004 die M-Net-Boekprys en die Helgaard Steyn-prys. Die Nederlandse vertaling van Eilande, Stemmen uit zee, haal in 2004 die 98ste plek op die topverkoperlys van Nederlandse boekhandelaars. Die Engelse vertaling word in 2005 deur Booklist, ’n Amerikaanse biblioteekpublikasie, en die Seattle Times aangewys as een van die top tien debuutromans en word in 2006 genomineer vir die International IMPAC Dublin Literary Award. Eilande is verdeel in ’n proloog getitel “Stemme uit die see” en sewe afdelings wat elk vertel word vanuit die perspektief van ’n karakter wat op die een of ander manier deel uitgemaak het van die jare net voor en ná die vestiging van ’n verversingstasie aan die Kaap deur die VOC. Indien ’n mens hulle op ’n rytjie moet neersit, is daar Autshumao, oftewel Harry, Peter Havgard (ook bekend as Pieter van Meerhof), die visser Bart Borms, die poshouer Hans Michiel Callenbach, die advokaat Deneyn, die kuiper Daniel Zaaijman en die klerk De Grevenbroek, wat aan die woord is in die proloog en in die laaste afdeling van die roman. Omdat hy die enigste ek-verteller in die roman is en boonop besig is met die skryf van ’n geskiedenis van die eerste 50 jaar van die nedersetting aan die Kaap, lei ’n mens af dat hy eintlik die een is wat die verhale van die verskillende karakters vertel. Samehang en deurlopendheid tussen die verskillende afdelings word bewerkstellig deur die wyse waarop die verhale vervat op mekaar en mekaar byna onopsigtelik aanvul. Die beskrywing van die klerk De Grevenbroek, wat sy notatjies inligting aan ’n garedraad ryg, gee die leser ’n goeie beeld van die manier waarop Sleigh die draad behou in hierdie enorme epos, wat strek oor verskillende vastelande en die seë daartussen. De Grevenbroek vertel byvoorbeeld in die proloog hoe sy karakters met mekaar verbind word deur die feit dat hulle elkeen op die een of ander manier betrokke was by Pieternel van Meerhof (ook die onderwerp van Dalene Matthee se roman Pieternella van die Kaap). Hoewel dit so is dat haar verhaal in elkeen van die vertellings ter sprake kom, is dit eintlik haar ma, Krotoa-Eva, wat die pynlikste in die leser se geheue nadraai. Sleigh se roman bring ’n mens sterk onder die indruk van die tragiese lewe van hierdie Koina-vrou, wat deur haar kontak as meisie met Van Riebeeck se gesin vernederlands het, later met die Deense sjirurgyn Pieter van Meerhof getroud is, en uiteindelik deur sowel die Nederlanders as haar eie mense verwerp is. Soos die titel voorspel, speel ook eilande ’n kardinale en samebindende rol in die roman. Enersyds is die lewe van die karakters verbind met letterlike eilande soos Robbeneiland (wat reeds in daardie jare die rol van gevangenis en strafeiland begin speel het), die eilande in Saldanhabaai, en ook Mauritius. Andersyds is die eiland egter ook beeld van die manier waarop mense deur die noodlot gestroop kan word totdat hulle alleen staan. Eilande is ’n sterk tradisionele historiese roman waarin letterkunde en geskiedskrywing soos in vorige eeue baie na aan mekaar beweeg, skryf Louise Viljoen. Viljoen sê sy het nog selde ’n boek, hetsy feitelik of fiktief, gelees wat vir haar so ’n skerp beeld kon skep van die Kaap rondom die begin van die Nederlandse nedersetting en wat aan historiese gegewens so ’n ryk tekstuur kon gee. Met sy noukeurige navorsing en verbeeldingryke vertolking van historiese dokumente in hierdie roman skep Sleigh vir die Suid-Afrikaanse leser ’n soort geborgenheid in die “eindelose ruimte” van die geskiedenis deurdat jy jouself herken in die “bloedige geboorte” van die kolonie wat hier beskryf word. Vir HP van Coller gaan Eilande nie om dorre geskiedenis nie, maar is dit ’n egte roman waar ’n reis onderneem word en beelde gevind word, ’n narratief waarin mense uit vergeelde blaaie opstaan, vleis en bloed kry en in al hul passies, welluste én ellendes voor ons kom staan; selde beter as in die tekening van die ellendige Hans Michiel en die flegmatiese David Zaaijman. Hierdie werk is sonder twyfel groots; trouens een van die beste historiese romans in Afrikaans. André P Brink het Eilande in Engels vertaal. Brink het die vertaling beskryf as “een van die verrykendste en aangenaamste ondervindings in my lewe”. In ’n paneelbespreking oor dié vertaling het hy vertel dat hy hom “eenvoudig oorgegee het aan die innerlike, stuwende ritme van Sleigh se prosa. Oor die algemeen het dit gegaan soos met ’n liefdesverhouding. By die lees van die oorspronklike teks het die bliksemstraal van die liefde my getref en ek het my daardeur laat meesleur.” Sleigh was, net soos met die Nederlandse vertaling deur Riet de Jong-Goossens, nóú gemoeid met Brink se vertaling. “Die grootste hulp en riem onder die hart was om te weet dat ek, soos ’n akrobaat in die sirkus, ’n veiligheidsnet het. Daardie veiligheidsnet was Dan Sleigh en hy help jou met liefde en begrip.” Michael Paye, wat Islands vir The Scotsman geresenseer het, het hom só daaroor uitgelaat: “Dan Sleigh het ’n hele geskiedenis laat dans en soos ’n towenaar het hy die tyd teruggedraai om die polsslag en bloed van lewens terug te bring wat andersins net spore in dokumente van ’n ou kolonie sou gewees het.” Agt jaar na die publikasie van Eilande is Dan se volgende roman, Afstande, uitgegee. Die gebeure in Afstande speel af op die leë blad tussen die Ou en Nuwe Testament en vertel die verhaal van Xenophon en ’n leër van tien duisend Griekse soldate wat in 401 vC gehuur is om koning Xerxes van die Persiese Ryk te ontsetel. Die veldtog misluk en die rebelleleër se leiers word uitgewis. Xenophon moet dan die leër uit Persië, in die omgewing van Babilon, na die Swart See teruglei. Xenophon het hierdie epiese tog van enorme uithouvermoë in die Anabasis beskryf. Oor die Anabasis sê Sleigh: “Meesterlik beskrywe! Hy het dit in die pragtigste styl beskryf. Bondige, duidelike taal. Daardie ou is só goed. En so slim.” Hy vertel vir Murray la Vita van een gebeurtenis: “Die Griekse leër moet kos en geld soek om die winter te oorleef, en die Spartane soek hulle om hulle te vang. Toe sluit hulle maar aan by hierdie barbaarse koning Seutes se leër. Toe gee hy vir hulle hierdie verwelkomingsfees. Nou skryf Xenophon van wie almal daar is: daar’s sangers, en die musikante met die trompette is daar en daar is die kos en daar’s die drank en hulle bring geskénke en al daai goed; een ou bring ’n perd in vir die koning, en so aan. En dan op een stadium trek die koning daar ’n paar tafels bymekaar en hy klouter bo-op en dan soos ’n bokram dans hy heen en weer. En toe Xenophon die aand by die huis kom, toe skryf hy: ‘Daar was ook professionele narre gewees.’ “Deur wat hy nie sê nie, sê hy so baie. Dit laat ’n mens baie, baie dink oor hierdie ou en wat hy alles gesien en wat hy oor stilgebly het. Wat hy nie gesê het nie.” Dan wou nie die Anabasis bloot in Afrikaans vertaal nie. “Vertalings is sýwaarts, terwyl ek wil vorentoe na nuwe goeters toe gaan. Toe dink ek: doen ’n verwerking daarvan. Dink aan hoe jy dit kan verwerk dat mense sal belangstel. “Afstande is bedoel as iets nuuts. Vreemd van inhoud, tyd en plek. Van buite beskou, is dit die verhaal van ’n reis, van dáár en terug, ’n avontuur. Waag tot in die hart van die bose, en oorleef … “Dit is ook ’n storie oor ‘ons’ soort: ménse. Verlei, veroordeel en verdoem omdat hulle mens is. Duisende soos ons: gewoon, ongewoon, in ellendige omstandighede en aaklige beproewinge, uitgelewer aan en strydend teen bekende en onbekende gode, regerings, die natuur en hul eie mislike menslike toestand.” Daar is soveel dinge van Xenophon wat Dan beïndruk. “Die een is sy vermoë om sy kop te gebruik om mense te oorreed. Soos toe die leër … daar lê hulle verslae en almal wag net: môre gaan hulle gevang word en in boeie weggelei word. En hy sê: ‘Nee, kom manne, staan op, ons moet iets doen! Ons kán iers doen.’ “Dit is sy vermoë om mense te inspireer. Dit was vir my deurgaans … Hulle het gesúkkel. Jy weet hoe hulle gesukkel het. Tot op die einde nog het hy probeer om hulle te inspireer en bymekaargehou: ‘Moenie dat enigiemand julle verdeel nie; blý bymekaar’,” verduidelik Dan aan Murray la Vita. “Jy kry soldate – baie – wat … selfs uit die moderne jare kry jy kêrels wat … Ek dink aan ’n voorbeeld soos Montgomery in die Tweede Wêreldoorlog. Hý kon niemand inspireer nie. Een van die onaangenaamste mense – ’n selfsúgtige magsbehepte tipe, maar hy het nie die inspirasie gehad nie. Ek dink Kitchener in die Boereoorlog was ook so iemand. “Dan kry jy weer ’n ander een wat mense kan – selfs wanneer hulle op hulle knieë is – weer vir hulle laat opstaan. De la Rey was so ’n man. Ek dink De la Rey was in die Boereoorlog die een man wat sonder skade aan sy reputasie daar uitgekom het. Ál die ander – aan albei kante – het iets verloor in daardie oorlog. Maar De la Rey het groter daar uitgekom as wat hy daar ingegaan het. “So Xenophon kon mense bemóédig om hulle verby hulle huidige ellendes te laat kyk vorentoe en te laat aanbeweeg. “Ons politici kan dit nie meer doen nie. Hulle weet nie hoe om mense te bemoedig nie. Dit is ’n kuns wat miskien verbygegaan het. Of hulle stel nie meer belang daarin nie?” Die ander groot karakter in Afstande is Nagri, die eunug en Joodse profeet wat uit Babilon gevlug het om hom by die Grieke aan te sluit omdat vroeëre Joodse profete voorspel het hul verlosser gaan ’n Griek wees. Oor Nagri sê Dan: “Nagri self is die brug vorentoe én agtertoe, tussen die oue en die nuwe, wat ek gesoek het: die heel laaste Joodse profeet, éérste profeet van ’n nuwe tyd. “Dit is vir hom wat ek uit Psalm 137 uitgetrek het. Nagri noem dit ‘Die Wasvrou se Lied’: ‘By die riviere van Babilon het ons gesit, en gehuil as ons Jerusalem onthou/ Toe vra dié wat ons gevange hou / Sing vir ons van julle land …’ “Wat ’n wrede versoek. Hoe antwoord ons? ‘Julle … Julle het gesê: Breek Jerusalem af, slaan sy mure tot die fondamente plat. Geseënd Hy wat julle babas se skedels teen die muur verbrysel.’ “Só eindig Psalm 137. Nie mooi nie, maar so menslik. Dít is die woede in Nagri se hart wanneer hy uit Babilon vlug … Ek het Psalm 137 met Xenophon se hulp tot dié verhaal uitgebrei. Die psalm is hierdie storie se temalied.” Murray la Vita vra Dan uit oor die ooreenkomste tussen sy vorige boek, Eilande, en Afstande. “Regerings wat mense rondmors en hulle stuur op moeilike, amper onmoontlike sendings. En dan nie eintlik belangstel in die ménse nie. Hulle stel net belang in hul eie oorwinning en wat hulle daaruit kan kry. Kyk byvoorbeeld hoe Simon van der Stel teenoor Mauritius gevoel het, nè,” is Dan se reaksie op die vraag. “Mense moet hulleself red. Hoe daardie Zaaijman-familie hulleself kon red terwyl baie ander ouens ondergegaan het. In die geval van Afstande het Xenophon opgestaan soos Moses opgestaan het en sy mense uitgelei het. “Dit is ’n stryd teen gode, bekend en onbekend; die natuur, en teen jou medemens. Dinge soos regerings, offisiere … alles wat hulle teen jou kan gooi en wat ’n mens kán oorwin mits jy ’n goeie leier het. ’n Goeie, vasbeslote, bekwame iemand wat net wil oorleef ten alle koste.” Sleigh sê in Eilande is die see die verhoog en in Afstande is dit die slagveld. Tydens sy navorsing vir Afstande was die fisieke kontak met die verlede vir Dan baie belangrik. Hy en sy dogter Jean het die roete van Xenophon en die tien duisend so na as moontlik gevolg. “Sy het die foto’s geneem, sy het die rekenaar gewerk. Die héle pad. As Xenophon sê van hier na daar is 37 parasang moet ons nou parasang omsit in kilometer. Dan kom ons by die plek aan en kyk op die kaart hoeveel kilometers – presiés. Nou hoe het Xenophon dít geweet? Hy het nie ’n rekenaar gehad nie. Tog is al daardie afstande van hom presiés korrek.” Hy sê dit was nodig om hul trekpad en landskappe te sien. Hy wou dit sintuiglik beleef. “Om net kaalvoet deur die Meanderrivier te loop soos hulle. Of op die plek te staan by Abidus waar ’n tweeling gekruisig gehang het aan die ankerpale van ’n brug, vier dae lank terwyl Xerxes se leër van ’n miljoen man tussen hulle deur trek, van Abidus in Asië na Sestus in Europa.” Die geskiedkundige en skrywer Helena Scheffler, ’n vriendin van Sleigh, se insigte was kosbaar. “Ek bespreek altyd my tekste met haar. Sy het ’n groot kennis van kultuurgeskiedenis, maar dan het sy ook ’n wysheid oor die lewe. En dan het sy ’n kritiese ingesteldheid om vir jou te sê wanneer dit geloofbaar is of wanneer dit vals is. Sy het ook ’n vermoë om haarself binne die verbeelde tyd te plaas en van daar af uit te kyk. “Dáár het jy nou iemand met wie jy hierdie goed kan bespreek en iemand wat die gode ken, wat die kléredrag ken. En sy het vir my baie leesstof gegee oor daardie tydperk. “Dit is beter om so iets met ’n vrou te bespreek om balans te hê; dat jy nie ’n eensydige manlike beskouing het nie, want dit is nie menslik nie. Goethe het byvoorbeeld sy vriendin Charlotte von Stein gehad met wie hy gepraat het. Conrad het Marguerite Boradovska gehad. En dis dieselfde met Helena Scheffler. Sy is my … amper soos ’n mentor … in al daardie gebiede. En vir my iemand om my oorspronklike gedagtes mee te bespreek.” Gedagtes wat dan die wonderbaarlike stories word waarmee hy so baie mense bekoor. Soos weer met Afstande. “By die mallemeul verkoop die een ou kaartjies vir die groot wiel. Die ander ou verkoop kaartjies vir die perdjies. Maar die skrywer verkoop kaartjies vir die towertapyt waar die leser opgaan en hy neem hom na wónderlike plekke, wónderlike tye, wónderlike gebeure. As hulle terugkom en hulle kom sê vir jou: ‘Dít was nou lekker!’ dan weet jy: ja, dit het gewerk. Die towertapyt werk – die Persiese towertapyt!” Die kritici was oor die algemeen beïndruk met Afstande. In Rapport Boeke skryf Francois Verster dat wanneer jy Afstande oopslaan, jy onmiddellik ’n ander stemtoon opmerk as in Eilande. Daar is ’n meer liriese inslag, ’n vreemde milieu weg van die Kaapse hinterland na ’n ander stuk aarde tussen die Middellandse See en Swart See. Dit was volgens Dan juis die bedoeling, omdat hy die idioom van Homeros wou laat herleef en die styl van die profete laat eggo – stemme wat roep uit die woestyne en die valleie van die doodskaduwee. En die leser trek saam met hom, die Joodse profeet Nagri en die Atheense skrywer-soldaat Xenophon oor daardie skynbaar oneindige afstande. Die verhaal begin waar die Jood Nagri, wat homself as die boodskapper van die Verlosser beskou het nog vóór Johannes de Doper, in ’n herberg sit en skryf. Hy herskryf Anabis, die Atheense generaal Xenophon se beskrywing van een van die ongelooflikste reekse veldtogte in menseheugenis, maar meer as dit – hy voeg sy eie perspektieweby. Want hy was dáár. Daar lê egter verskriklike ontberings voor en uiteindelik ’n wrede ontnugtering – vir Nagri, en ook vir Xenophon. Die leser wonder telkemale: wat kan nóg verkeerd loop? Hoe ver kan enige mens se uithouvermoë getoets word – fisiek en geestelik? Wie van Xenophon of Nagri gaan eerste sy god faal? Afstande is vernuftig gekonstrueer, skryf Verster. Dit is nie bloot chronologies uitgestippel soos ’n rits bakens oor ’n kaart nie. Eers vertel Nagri, dan weer Xenophon, en tussendeur is die leser bewus van die derde verteller: Sleigh. Die Athener, tipiese liniêre denker, was ’n kroniekskrywer. En heel gepas het hy die feite neergestip: “kort, direk en onversier”. Nagri, weer, voeg nie net versiersels op die primêre manuskrip by nie – soos sy rooi blomme by naamlyste van soldate wat in konflikte sterf. Hy bied méér as net name en uitslae van skermutselings. En dan kom Verteller Drie, Sleigh, en bied sy insigte, as gesoute historikus én romansier – hý dwing ewige lewenslesse na die oppervlak. En die ontwikkelingslyn loop van kroniekskrywing, geskiedskrywing na historiese roman. By die bekendstelling van Afstande het Petra Müller verklaar dat Sleigh “altyd na gedeelde en verwaarloosde menslikhede (soek)”. Inderdaad. Al in die gepubliseerde weergawe van sy doktorsgraad, Die buiteposte (1993 en 2004), sê Sleigh: “Kyk; soos die Wandelende Jood is menslike onnoselheid kanniedood, die albatros om julle nekke, julle Achilleshiel.” Sleigh lewer reeds dáár sosiale kommentaar. ’n Literator het onlangs beweer dat historici onbetroubaar is; net fiksieskrywers praat die waarheid. Dit laat mens wonder: en die historiese roman? By die bekendstelling noem Sleigh hy geniet dit om die dissipline van geskiedskrywing weg te skuif, vry om te interpreteer. Tog het hy, meesterhistorikus, sy bronne geraadpleeg – van die Bybel tot die mites en legendes wat Sokrates bestempel het as pogings om die werklikheid te rasionaliseer. Met Afstande slaan Sleigh ’n brug tussen die Ou en Nuwe Testamente om die leë bladsy tussenin te vul. Hoekom, wat het hom daartoe genoop? Via Xenophon erken Sleigh dat hy gedrewe is om te skryf (en te leer); hy wag nie op die muse nie. Oudergewoonte het hy sy veldwerk gedoen, dié keer ver van bekende weë, op die spore wat die Onsterflike Tienduisend, van Sardis (vandag bekend as Sart) tot by Bisantion (Istanbul), meer as ’n eeu voordat ’n verenigde Griekeland bestaan het . En dan ... dié epiese boek oor ’n klassieke quest. Sleigh slaag daarin om op Anabis te bou, “soos ’n ranker ’n ou boom gebruik”, dit uit te spin soos ’n goue draad, en die leser se aandag daarmee vas te vang. En hy máák dat ons dínk. “Oor hoe lank ons gesamentlike ontwikkelingsrit(e) nog is. Dis die slag wat Sleigh slaan. Met feite genuanseer deur insig.” Willie Burger skryf dat hy halfpad deur Afstande gevoel het dat daar té veel konstruksie en té min hartklop is, té veel inligting en té lang beskrywings wat mens laat ophou omgee. Maar dat daar tog iets van die uitmergelende tog oor afstande van tyd en ruimte ’n mens bybly. Dit laat ook ’n mens met melancholie oor die mens wat steeds in die naam van gode, gemotiveer deur eiebelang, selfsug en hebsug, veldslag ná veldslag veroorsaak en steeds vergeefs probeer om sin en patroon te vind uit dieselfde herhalende handelinge. “Enige huiwering wat ’n mens aan die begin van die roman voel oor jou vermoë om die afstand vanaf jou eie tyd na ’n periode meer as twee duisend jaar gelede af te lê, word opgehef wanneer die verhaal van die veldtog in Persië op dreef kom,” skryf Louise Viljoen op LitNet. “Na ’n effens moeisame begin word die roman onweerstaanbaar meesleurend. Die vertelling is beweeglik en vol aksie: dit verloop doelgerig vooruit, die hoofstukke is kort en hanteerbaar met rigtinggewende titels, die verskillende Midde-Oosterse ruimtes word konkreet voor die leser opgeroep, die Afrikaans is lewendig en toeganklik. Dit is ’n ruie verhaal waarin die leser nie die wreedaardige besonderhede van die veldslae gespaar word nie (soos byvoorbeeld wanneer die oorwonne Kuros se kop uit ’n sak pekel gepluk word om ’n dreigement teenoor sy leër te onderstreep), ook nie die uitmergelende besonderhede van die Grieke se moeisame tog huiswaarts nie. “Die boek word uitgegee saam met ’n DVD waarop Sleigh kortliks oor die roman praat. Tesame met die kaart binne die skutblaaie van die boek, help dit die leser om hom- of haarself te oriënteer binne die magtige afstande van ruimte en tyd wat hier ter sprake kom. Die verklaring van vreemde terme word ook gemaklik in die teks ingewerk sodat die leser dit nie as leesversperring ervaar nie. “Om Afstande te lees is om op die aangenaamste en heilsaamste manier moontlik opgevoed te word: deur die vertel van ’n storie. Dit is ’n besonder onderhoudende roman wat vir jou deure oopmaak na ’n vervloë geskiedenis, maar ook laat nadink oor die nawerking daarvan in ons eie tyd. Dit is ’n leeservaring wat niemand moet misloop nie.” Sonja Loots skryf ook op LitNet dat dit moeilik is om geringskattend te wees oor die geweldige taak wat Sleigh met Afstande verrig het. Dit is ’n nougesette rekonstruksie van die verlede. Die reikwydte en intellektuele diepgang van hierdie epiese werk is enorm. Maar, kwalifiseer Loots, hoewel daar onbetwisbaar baie vleis aan die been sit, het die murg helaas weggekook. “Afstande vertel ’n verhaal waarvan die verloop en uitkoms reeds bekend is. Baie veldslae, baie teenspoed. Optog, gevolg deur aftog. Dood, bloed en geweld. Waar die verhaalverloop op sigself nie meesleurend is nie, en die uitbeelding van een veldslag na die ander maklik eenselwig te raak, is die behoefte aan aangrypende karakteruitbeelding, kreatiewe beeld- en taalgebruik of ander stilistiese en tematiese kragtoere groot. Helaas vind ek geen van hierdie dinge in die teks nie.” Loots sluit af: “Ten slotte: Afstande spruit uit en word omring deur van die grootste tekste in die geskiedenis van die letterkunde. Xenophon maak ’n bestaan deur die werke van die meesters Tukidides, Aeskulos, Aristofanes, Euripides, Sofokles en ander te kopieer vir Athene se gegoede bibliofiele. Sy reis lei deur stories. Die geplaveide pad na Apollo se tempel lei hom op die spore van Herodotus, Pithagoras en Oedipus. Xenophon en sy neef Proxenos bespreek ’n gedig van Homeros. Daar is talle verwysings na Griekse tragedies, blyspele en legendes, en ook Bybelse verhale kom ter sprake. Nagri skryf in teen die tradisie van die Farao se Boekrol van die Dooies, wat Moses as openingstrofes van sy Genesis gebruik het (aldus Afstande). Hy hoop die Verlosser, wanneer hy eendag gebore word, voeg sy skrywe naas dié van die laaste profete sodat die wêreld vir Nagri in hul geselskap sal reken: Habakuk, Sefanja, Sagaria, Maleagi, Nagri. “Nagri herskryf Xenophon se teks, ‘Hy som dié teks op, hy laat dele weg, hy herskryf dit na eie behoefte, na die wens van die Vaders en vir die Verlosser se doel alleen.’ Aan sy manuskrip dink hy as Die Boek van Afstande. Daar sit iets van die metatekstuele spel in die feit dat Nagri hom besig hou met dieselfde bronteks as die skrywer van die roman Afstande, en deur die wyse waarop die titels ooreenkom. Hierdie gegewe word egter helaas nie op vindingryke of diepgaande wyse ontgin nie. “Soos met Eilande, sal kritiese opinie oor Afstande waarskynlik verdeeld wees. Die sjarmante skrywer sal na alle waarskynlikheid ook met hierdie roman enorme kommersiële sukses, plaaslik en oorsee, behaal. Daar sal vele Hosannas wees, maar daar sal ook die afvalliges wees wat, soos ek, verkies om aan ander gode op die berg Olimpus te offer. Mag Zeus ons almal genadig wees.” Wals met Matilda word in 2011 gepubliseer en weer is Dan die wenner van Sanlam en Tafelberg se Groot Romanwedstryd. Hy vertel aan Willemien Brümmer dat hy Wals met Matilda binne twee jaar geskryf het nadat hy die koerantadvertensie vir die Groot Romanwedstryd gesien het. Die vonk vir die storie was twee dinge: ’n beriggie in ’n Engelse Sondagkoerant in 1995, tydens die honderdjarige viering van die nie-amptelike Australiese volkslied, “Waltzing Matilda”. “Daar het gestaan ’n ondersoeker in Australië het vasgestel die oorspronklike swagman (die bondeldraende trekarbeider waaroor die liedjie gaan) was ’n Suid-Afrikaner met die naam Jacobus van der Merwe.” Daarna kon Dan nie weer ’n enkele woord oor Jacobus of Japie opspoor nie. Maar toe lees hy hoe HB Thom in sy tesis vertel hoe, aan die einde van die 1800’s, jong manne uit die Karoo na Australië is om te gaan leer oor skaapboerdery, en dan ook aanteelvee teruggebring het. Dié aanteelvee is onder meer afstammelinge van die einste merino’s wat die Nederlandse “mooiweersoldaat” Robert James Gordon, destydse bevelvoerder van die Kaapse garnisoen, gesteel het. Nederlandse filantrope het in 1789 ’n troppie van die beste Spaanse wolskape aan die Kaapse burgery geskenk en Gordon moes die skape op die buitepos Groene Cloof (deesdae die sendingstasie Mamre) van die Kompanjie hou. In Junie 1795 het die Britse vloot die Kaap ingeval, maar Gordon se troepe moes “leierloos voor die Engelse retireer”. Die Engelse kry die stad en kolonie op ’n skinkbord aangebied, en Gordon pleeg selfmoord. Sy vrou verkoop die skape op ’n vendusie aan twee Engelse skippers wat Australië toe gaan. “Ek het gedink die jaar (1897) val saam met die groot runderpes en ek maak vir Japie die groot runderpes-reeksmoordenaar wat (noodgedwonge) in Middelburg net alles skiet wat voorkom,” sê Sleigh. Die ander vonk vir Wals met Matilda was ’n briefie in Die Burger, geskryf deur ’n onderwyseres van die Hoër Meisieskool Paarl. “Op ’n Maandag verskyn, saam met die koerant, die bylae vir skoolkinders met die vieslikste taalgebruik, en toe sê die redakteur: ‘Ja, maar die kinders práát so.’ “Ek sal graag eendag vir die onderwyseres wil dankie sê, want toe skryf sy hulle práát nie almal so nie. Met haar bydrae het ek vir Carelina ontwikkel. Ek het ’n geleentheid gesoek om te skryf oor iemand wat taalsensitief is. Daar is ’n ding wat ek glo bestaan – dat mense byvoorbeeld so musieksensitief is dat hulle die musiek in kleur kan sien of met hul vel kan voel. Vir haar het ek nou so taalsensitief gemaak dat sulke gemors soos hierdie in die jeugkoerantjie haar in blou kolle sal laat uitslaan.” In Wals met Matilda is die hoofkarakter Koos van der Merwe (al het Dan gesê jy vat ’n vet kans as jy ’n karakter in ’n boek Koos van der Merwe noem), ’n skrywer en oudgeskiedenisonderwyser. Sy historiese romans laat die drukkerspers van Goeie Hoop Uitgewers vrolik kletter totdat hy eers sy vrou en kort daarna sy dogter en haar gesin verloor. Daarna verval hy en sy gedagtes in donkerte en wis hy sy rekenaarmanuskrip getiteld Wals met Matilda uit. Hy bly in ’n gerieflike woonstel wat aan die uitgewers behoort, op Milnerton-strand, en dié sal hy moet prysgee as sy skryfstilte te lank aanhou. Sy uitgewers stuur ’n kleinniggie van Boerneef, Carelina van der Merwe, na Koos as die “muse” wat hom moet help om van sy skrywersblok ontslae te raak. Sy word biegmoeder, beeldpoetser, leefstylafrigter en reisgenoot wat toegang nie net tot Koos se woonstel verkry nie, maar ook tot sy gedagtes. Dan beskryf Carelina aan Charles Smith: “Sy is die reddende engel wat Koos weer op sy voete staanmaak. Koos was baie horisontaal en sy maak hom weer staan op sy voete.” Sy het haar gawes van haar grootoom, Boerneef, geërf, wat ook ’n Van der Merwe was. “Sy kan dit nie help nie. Sy het dit in haar bloed. Sy het dit baie sterk in haar bloed. Sy onderdruk haar eie skeppende skryfwerk, want dan klink sy presies soos haar bekende grootoom. Sy is bang hulle noem haar Boernig.” Thys Human skryf verder: “Koos stry egter nie net teen sy eie demone nie, maar ook teen die verval en verlies aan sy omgewing, sy taal, sy kultuur en sy geskiedenis. Só gelees, kan die roman beskou word as ’n klaaglied vir Koos se geliefdes, die stad (Kaapstad) waarin hy woon, maar ook die Zeitgeist waarvan hy hom deel voel. “Sleigh beskik oor die sonderlinge vermoë om selfs van daardie wasige figure wat dreig om in die stof van geskiedenisboeke te verdwyn, karakters van vlees en bloed te maak. In die verhaal wat Koos oplaas aan Carelina dikteer, word die jong Japie (Jacob) van der Merwe byvoorbeeld die berugte runderpes-reeksmoordenaar wat in 1897 groot troppe beeste in die Karoo van kant moes maak en in dieselfde jaar na Elizabeth Farm in Nieu-Suid-Wallis vertrek het om daar meer van skaapboerdery te leer. In Australië maak hy kennis met die plaas se erfgenaam, Matilda, wat hom in haar rooi skoene leer wals. Onverhole geluk is hulle egter nie beskore nie en ná talle omswerwinge word Japie uiteindelik deur die groot, groot onbekende ingesluk. “Op dié wyse betrek Sleigh nie net die interessante ontstaansgeskiedenis van wolboerdery in die Karoo nie, maar ‘bevestig’ hy ook op kreatiewe wyse die vermoede dat die oorspronklike swagman (bondeldraende trekarbeider) waaroor die liedjie ‘Waltzing Matilda’ gaan, ’n Suid-Afrikaner met die naam Jacobus van der Merwe was. “Hoewel die historiese agtergrond van Sleigh se romans radikaal van mekaar verskil, vertoon Wals met Matilda sekere tematiese ooreenkomste met Eilande en Afstande: die individu as slagoffer van ’n identiteitsverterende bestel; die sogenaamde ‘klein man’ wat deur magshebbers op moeilike, amper onmoontlike sendings gestuur word; en die byna desperate hunkering van alleenmense om van hul isolasie (eiland-wees) bevry te word. “Sleigh struktureer sy roman op uiters vernuftige wyse. Van die eerste bladsy slaag hy daarin om die leser se nuuskierigheid oor selfs die kleinste verhaalaspek te prikkel. Veral meesterlik is die manier waarop hy die rampspoedige reis wat Koos in 2006 saam met sy kleindogter-hulle na die Slagtersveld onderneem, jukstaponeer met die reis wat hy in die hede van die roman (2009) met Carelina meemaak. “Voorts handhaaf Sleigh ’n baie fyn balans tussen erns en humor. Koos se taksering van die skrywers wat saam met hom in die woonstelblok woon, asook sy striemende tirade teen literêre kritici en resensente, laat ’n mens se tone krul. Van die beskrywings in die roman is so spitsvondig dat jy dit nie onaangehaal wil laat wegkom nie, byvoorbeeld: ‘Koos was in ’n kettingbotsing met die noodlot se nagwa’; ‘Maar net twee dinge vra hy as skrywer, twee goed alleen, en dit is belastingvrye kontantpryse en gereelde applous’; en ‘Wanneer haarkappers sterf, verskyn geen komete nie.’ “Sleigh gee self toe dat hy sy eie voor- en afkeure het en by monde van sy hoofkarakters verwoord. Veral in die laaste deel van die roman kry ’n mens soms die gevoel sy skrywerstem slaan te duidelik en te prekerig in die karakterdialoog deur. Dit is egter bysaak in ’n roman wat my as leser én as lid van daardie laakbare groep ‘aanmatigende akademici’ gróót plesier verskaf het. Wals met Matilda is ’n roman waaruit Sleigh se ‘uniekheid, eiesoortigheid en seldsaamheid’ as woordkunstenaar onweerlegbaar blyk.” Joan Hambidge beskryf Wals met Matilda as ’n metafiksionele roman, ’n roman-oor-’n-roman, waarin die skrywende instansie ’n skrywersblok beleef en besin oor die skryfproses én die verhouding tussen skryf en lewe. Dit lewer kommentaar op die kreatiewe proses en die ontvangs van ’n roman. Ons beleef die skrywende instansie se werklike lewe teenoor nog ’n lewe in fiksie, wat spanning skep, bykans soos cliffhangers in ’n vervolgverhaal. Hambidge skryf dat die boek vlot geskryf is met ’n hele arsenaal tekste wat voor die deur kom staan. Die boek het attitude. Teenoor die bakens en dikwels lang, uitgesponne romans soos Eilande en Afstande is hierdie roman veerlig sonder om oppervlakkig te wees. Dit vra besonder tersaaklike vrae oor die aard van die romankuns. Dit lewer ook skerp kommentaar op die moderne uitgewersbedryf wat eerder ’n geldmaker sal publiseer as een wat goed nagevors en geskryf is. Dan wil sy weet: En die skrywer? Haak hy af met sy muse? En Japie Jumbug? En Matilda? Hoekom verdwyn sy so vinnig? Die historiese kenner Dan Sleigh lewer baie interessante kommentaar op taalkwessies, historiese feite en die algemene kulturele stand van sake. Van hier toe Doer onder. Anders as sy skrywer, Koos, in Wals met Matilda het Dan nog nooit aan skrywersblok gely nie. Tydens die skryf van Matilda het hy tegelykertyd aan die monumentale geskiedkundige roman Afstande gewerk, maar gelukkig het die jare tussen Afstande en Matilda hom glad nie deurmekaar gemaak nie. “Matilda het byvoorbeeld motorkarre in. Yskaste, tikmasjiene, daai klas van goed,” sê Dan aan Brümmer. “Met Eilande het ek reeds gedink hier is ’n waagstuk. Ek vat 300 jaar gelede, hier is nie ander mense wat dit doen nie, en dit het ’n sukses geword. Toe dink ek (met Afstande) ek gaan nog iets groters aanpak – nog vreemder, nog langer gelede, verder afstande, buitelands – soos om jou droom van Kilimandjaro te verwesenlik. Jy het dit gedóén, die foto is aan jou muur en jy kan altyd daarna kyk.” Oor ooreenkomste tussen sy romans het hy voorheen gesê die ding wat Eilande en Afstande gemeen het, is “regerings wat mense rondmors en hulle stuur op moeilike, amper onmoontlike sendings.” “[Matilda] is iets heeltemal anders. Koos is wel in baie opsigte teen die bestaande stelsel. Hy’t ’n groot afkeer van die regering en in werklikheid van alle politici. Hy dink hy kan homself regeer. As daar ’n ordentlike administrasie is, het jy nie politieke partye nodig nie, en hoe minder politiek, hoe beter. “Ek stem met Koos in hierdie een opsig saam: Noem dit wat hier genoem word demokrasie, maar dit is net een man, een stem. Dit is ’n identiteitsverterende stelsel vir almal, of jou party nou gewen het of verloor het.” Brümmer wou weet hoe hy in Matilda die verlede so moeiteloos laat vlees word het, veral Japie se omswerwinge in Australië. “Ek doen moeite om die leser te oortuig dit is die werklikheid, die skrywer wás daar, hy hét dit gesien, ek glo in hom, hy sal nie vir my lieg nie. As ek vir jou sê ek was nog nooit in Australië nie, dan breek dit die illusie. Ek het laas so gevoel in die bioskoop met daardie groot haai wat die mense opgevreet het, en ek het daai stoel so vasgehou: Jaws. As daar nou iemand gekom het en gesê het: ‘Toemaar, dis maar net ’n stuk masjinerie’, sou ek gesê het: ‘Dan liég julle mos vir my!’. “Elke towenaar is ’n skelm, nè? Hy trek ’n hasie uit ’n hoed, maar dis nie ’n regte hasie nie. Hy’t ’n kuns bemeester om dit te doen, en jy moet hom nie die kuns afvra nie, anders doen jy afbreuk aan sy beeld as towenaar.” In Matilda is Koos een maal deur ’n leeskring gevra oor sy “skryf-resep”: “Een emmer suiker, ’n emmer swart verf, vier emmers bloed. Meng en laat gis. Sit voor met ’n lyk op bladsy een en ’n ongelukkige einde.” Dan Sleigh kan egter nie volgens ’n resep werk nie. “Ek doen iets heeltemal anders.” Dan ontvang in 2002 die Molteno-medalje van die Kaap 300-stigting vir prestasie in die literêre, visuele en uitvoerende kunste en natuurlike en kulturele omgewing. In 1998 ontvang hy die goue erepenning van die Stigting Simon van der Stel en in 2007 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir die Bevordering van Geskiedenis. Die motivering vir die toekenning lui: “Dr Sleigh kan vandag met reg beskou word as een van Suid-Afrika se voorste en gesaghebbendste kenners en wêreldkundiges oor die geskiedenis van die Nederlandse koloniale tydperk soos vergestalt in die VOC se heerskappy in die Kaap. Hy het ongeveer 24 boeke die lig laat sien, waaronder Jan Kompanjie: Die wêreld van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, Die Buiteposte. VOC-buiteposte onder Kaapste bestuur 1652-1795 en Eilande. Deur sy gereelde artikels aangaande die Kaapse kultuur-historiese erfenis in die Saterdag-bylae van Die Burger dra dr Sleigh ’n belangrike opvoedings-, bewarings- en bewussynsboodskap oor unieke en waardevolle historiese Suid-Afrikaanse terreine, erfenisgeboue en artifakte aan die lesende publiek oor.” In 2011 word Dan met ’n Spesiale Prys van die Departement van Kultuursake en Sport van die Wes-Kaapse regering gehuldig. Benewens die versamel van skeepsmodelle (hy sê self dat hy admiraal is van omtrent twintig skepe), is Dan se groot liefde geskiedenis en die opteken daarvan. Hy is een van slegs ’n handjievol geskiedkundiges wat die 17de-eeuse skrif van die VOC-dokumente kan lees, en in opdrag van die Nederlandse regering is hy verantwoordelik vir die transkribering van die resolusies van die Generale Vereenighde Nederlantsche Geoctroyeerde Oostindische Compagnie (VOC) se Politieke Raad. Dan Sleigh is iemand wat in ’n ander lewe net sowel skeepskaptein kon gewees het, of navigator op die brug, of self stoker in die enjinkamer – ’n maritieme man, want soos reeds genoem, vloei die seewater sterk in sy are. Die Nederlandse verbintenis van sy ma se kant af kan dalk ook verantwoordelik wees vir sy belangstelling in die vroeë Kaapse geskiedenis. Hy is ook een van die min mense met ’n wetenskaplike agtergrond wat die oorgang van koue navorsing na fiksie kon maak. Publikasies
Publikasie |
Duif oor water
|
|
Publikasiedatum
|
1971
|
|
ISBN
|
— (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
C Louis Leipoldt-prys van Departement van Nasionale Opvoeding
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
Die nege-maande-mars
|
|
Publikasiedatum
|
1972
|
|
ISBN
|
0624002519 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
’n Man om te hardloop
|
|
Publikasiedatum
|
1973
|
|
ISBN
|
0624004686 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
Tussen twee vlae
|
|
Publikasiedatum
|
|
|
ISBN
|
- 0624005461 (hb)
- 0624010260 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Jeugfiksie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
Onder die bittervaan
|
|
Publikasiedatum
|
1975
|
|
ISBN
|
0624007561 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Jeugfiksie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
Anselm en die jut
|
|
Publikasiedatum
|
1976
|
|
ISBN
|
0799302406 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Pretoria: Van der Walt
|
|
Literêre vorm
|
Jeugfiksie
|
|
Pryse toegeken
|
2de prys Van der Walt se wedstryd vir oorspronklike jeugverhale
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
Sersant Barodien, Kaapse Korps
|
|
Publikasiedatum
|
|
|
ISBN
|
- 0624009327 (hb)
- 0624013294 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
Jan Kompanjie: die wêreld van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie
|
|
Publikasiedatum
|
1978
|
|
ISBN
|
06240116658 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Niefiksie (geskiedenis vir die jeug)
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
’n Kanon vir Barbier
|
|
Publikasiedatum
|
1978
|
|
ISBN
|
0624011240 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
Ruiters teen die Ryk: die verhaal van die Tweede Vryheidsoorlog
|
|
Publikasiedatum
|
|
|
ISBN
|
0625015762 (hb)
|
|
Uitgewer
|
- Goodwood: Nasou
- Kaapstad: Casteel Militêre Museum
|
|
Literêre vorm
|
Niefiksie (geskiedenis vir die jeug)
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Vryburger Tas
|
|
Publikasiedatum
|
|
|
ISBN
|
- 0624012709 (hb)
- 0624019373 (hb)
- 0624020304 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
The Huguenots. Met AJ Grant en Ronald Mayo
|
|
Publikasiedatum
|
1988
|
|
ISBN
|
0636010813
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Maskew Miller Longman
|
|
Literêre vorm
|
Niefiksie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
Die buiteposte: VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652-1795
|
|
Publikasiedatum
|
|
|
ISBN
|
- 0798633123 (hb)
- 1869190858 (hb)
|
|
Uitgewer
|
- Pretoria: HAUM
- Pretoria: Protea Boekhuis
|
|
Literêre vorm
|
Niefiksie (geskiedenis)
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
The forts of the Liesbeeck frontier
|
|
Publikasiedatum
|
1996
|
|
ISBN
|
0620207752
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Casteel Militêre Museum
|
|
Literêre vorm
|
Niefiksie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
They rode against an Empire
|
|
Publikasiedatum
|
1999
|
|
ISBN
|
0620244577
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Casteel Militêre Museum
|
|
Literêre vorm
|
Niefiksie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
—
|
|
Publikasie
|
Eilande
|
|
Publikasiedatum
|
2002
|
|
ISBN
|
0624040313 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
- Sanlam/Insig/Kwela Groot Romanwedstryd 2001
- WA Hofmeyr-prys 2003
- RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk 2003
- M-Net-prys vir Skeppende Werk in Afrikaans 2004
- Helgaard Steyn-prys 2004
|
|
Vertalings
|
- Engels vertaal deur André Brink 2004, 2005
- Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens 2004
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- SA roots in literature
- Abrahams, Fernel: Eilande is ’n meesleurende, vaardig geweefde teks
- Brand, Gerrit: Oorsese kritici hou van “Eilande”
- Brink, André: Sleigh-vertaling “was soos liefdesverhouding”
- Burger, Willie: Ontsnap na ’n ander wêreld
- Du Plooy, Heilna: Liminality and liminal figures in Islands by Dan Sleigh: a novel about early Dutch colonial history in South Africa
- Eilande kry Steyn-prys
- Islands
- Oorsese resensente hou van Eilande
- Philip, John: Meer dydelikhyt oor die punch en die vis: ’n vergelyking van Niggie, Daar’s vis in die punch en Eilande (Literator, April 2004)
- Rousseau, Leon: Sleigh se nuwe roman is groots
- Smith, Francois: Sleigh met Tolstoi vergelyk
- Steinmair, Deborah: Fok voor die wind – Dan Sleigh trotseer ons paneel
- Van Coller, HP: Eilande g’n dorre geskiedenis
- Venter, LS: Baken as historiese roman
- Viljoen, Louise: Vroeë Kaap meesterlik verbeeld
|
|
Publikasie
|
Afstande
|
|
Publikasiedatum
|
2010
|
|
ISBN
|
9780624049098 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Wals met Matilda
|
|
Publikasiedatum
|
2011
|
|
ISBN
|
9780624051466 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Wenner Sanlam Groot Romanwedstryd 2009
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
Artikels oor Dan Sleigh beskikbaar op die internet
Artikels deur Dan Sleigh beskikbaar op die internet

Terug na bo
Bygewerk: 2011-11-04 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|