| Is DIT die sonde van die moderne węreld? |
Koos A Kombuis
Nog ’n vinnige klip in die bos deur Koos Kombuis
As kind was ek gefassineerd deur die verhale in my Kinderbybel. Veral die epiese stories uit die Ou Testament: Moses, Josef, en die wedervaringe van die Israeliete. Vandag leef ons in die 21ste eeu. Die eeu van die internet, Sky News en selfone.
Tog: elke keer wanneer iets soos 11 September gebeur, elke keer wanneer ons hoor van nog ’n skermutseling tussen Israel en Hisbollah, besef ons opnuut dat ’n baie groot deel van die wêreld se bevolking vandag nog leef in die tye van Dawid en Goliat.
Dit is nie ’n patronising statement nie. Die Ou Testament is ’n wonderlike boek. Ek het onlangs die Koran gelees, en dieselfde soort argaïese woede daarin teëgekom. Daar is ’n antieke waarheid daar, iets wat roep van bloed tot bloed. Ek verstaan dit met my hart, maar nie met my verstand nie.
Die vryemarkstelsel, daarenteen, is ’n ekonomiese sisteem wat logies amper honderd persent sin maak. Ek vind dit ongelooflik vindingryk van die ontwikkelde Westerse wêreld dat hulle ’n stelsel kon uitdink wat die inherente selfsug van die mens kan inspan tot prestasie deur kompetisie eerder as oorlogsug.
Maar wat as kapitalisme in duie stort? Dit het met die kommunisme gebeur. As daar genoeg tsunami’s is, genoeg orkane, genoeg droogtes en natuurrampe, genoeg retro-idiote soos George W Bush wat op die toneel verskyn, kan die wêreldhandel faal sonder dat die ekstreme Moslems of Greenpeace ’n enkele skoot skiet of betoging organiseer.
Is daar – dalk net – ’n inherente swakpunt in kapitalisme?
Volgens die Bybel is daar wel!
Volgens die Bybel is die beginsel van “rente” ’n doodsonde, so erg soos verkragting of moord. “Usury”, noem die King James-vertaling dit.
In die Ou Testament het God die Israeliete verbied om varkvleis te eet. Met goeie rede: varkvleis, sou dit gaargemaak word met die tegnologie van daardie tye, is deurtrek met larwe-eiers.
Toe Jesus beweer het: “Aan dié wat het, sal gegee word, en van dié wat nie het nie, sal weggeneem word wat hy het”, was Hy dalk besig om kapitalisme te beskryf? Waarom het Hy die geldvoorskieters uit die Tempel verwilder? Dalk nie soseer omdat Hy in beginsel teen die idee van koop en verkoop was nie, maar omdat die Tempel – in Sy woorde - ’n “nes van rowers” geword het?
Daar was ’n tak van Fidentia in die kerk! Die skale was ongelyk!
Die idee van “sonde” het, as teologiese begrip, in onbruik verval die afgelope paar dekades. Maar is sonde werklik so “relatief”? Kan enige dominee iets soos die moord op kinders goedpraat?
Stel jouself, vir ’n oomblik, ’n vryemarkstelsel voor sonder rente. Gee jou verbeelding vrye teuels …
Veronderstel jy het, soos ek, jou huis vyf jaar terug teen R400 000 gekoop, en intussen ’n swembad en twee kamers aangebou. Na raming behoort die waarde van jou eiendom te gestyg het na omtrent R700 000. In stede daarvan het dit byna vervyfdubbel na net onder twee miljoen. As gevolg van “markfaktore” volkome buite jou beheer het jou huis se waarde vinniger gegroei as die inflasiekoers, en kan jy nie meer die paaiemente bekostig nie … tensy jy superryk is.
Is rente, eerder as geld of handel, nie dalk die wortel van die kwaad nie? Sou ’n wêreld sonder rente nie heelwat rustiger en stabiel gewees het nie? Sou motorfabrikate motors gebou het wat vir twintig jaar of langer kon hou in stede daarvan om elke jaar ’n nuwe model uit te bring? Sou winkels soos Joshua Doore ophou om dieselfde meubelstuk teen drie maal die prys aan armes te verkoop as aan rykes, net omdat hulle kontant het? Sou die “onsigbare hand” wat kapitalisme reguleer met iets soos Shakespeare se “quality of mercy” uitreik na die armes en sukkelaars sonder om hulle voor die voet alles verniet te wil gee soos die (ewe onpraktiese) voorstanders van Marxisme en regstellende aksie?
Dit is, na alles, nie geld wat die wortel van alle kwaad is nie, maar die liefde vir geld. Geld is bloot ’n waardestelsel. Liefde is iets wat ons moet reserveer vir ons medemens … en vir God, hoe ons Hom of Haar ook al konseptualiseer.
Is dit dalk die rede waarom die Westerse wêreld tans die knie buig voor mense en groepe wat in ons oë “primitief” voorkom?
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|