| breyten – die groot Onvoltooide |
Koos A Kombuis
Koos Kombuis besoek weer ’n vergete kamer in die huis van die dowe
Vir die eerste keer is daar weer ‘n breyten-digbundel wat ek kan lees. Lees, terwyl die reën van buite af teen my ruite hamer. Lees, soos iemand wat in die geheim sondebrood eet. Lees, want lees, op sy beste, is beter as meditasie of slaap.
breyten, die tronk-breyten, die taal-breyten, die bitter breyten kon ek nie lees nie. Net hier en daar by wyse van uitsondering het ‘n gedig, of ‘n deel van ‘n gedig, sy hand opgesteek en gefluister: "luister bietjie hier." Maar ek sal nooit ‘n yk-mens kan wees, of ‘n mouroir-mens, of ‘n toeskouer op die rand van die Ongedanste Dans nie. Daardie breyten is vir my so onbekend soos Stalin. Daardie breyten was hard op die oor, en duister, en onverstaanbaar. Dalk was dit wat tronksit aan hom gedoen het. Dalk is die tronksit die rede hoekom ek nou nog nie kan vat kry aan die man of sy politiek nie. ‘n Ewige idealis, ‘n mompelende troebadoer. Die ou wat belowe het om die volk na die beloofde land te lei, net om vas te haak by die eerste boring website ver duskant die Rubicon. Van Rubicon gepraat: PW se laaste interview voor sy dood het vir my meer sin gemaak as breyten se fascistiese brein-sosialisme.
Maar sy gedigte.
Sy gedigte is weer hier.
die windvanger het my sit en my opstaan, my lê en my sluimering geword. Soos destyds toe ek die ysterkoei moet sweet ontdek het. Ek bewandel die gedrogtelike leë landskappe van sy nuwe eskatologie. Ek verwonder my aan die hompe vleis wat hy so skynbaar moeiteloos ophang aan die hoeke van elke bladsy.
die windvanger is grusaam, verstommend, benouend, eensaam, vol verdoemenis en weersin; en tog sag op die oor. En mooi, ja, mooi, so mooi soos wat die taal lanklaas was.
Luister bietjie hier. Eet hierdie paragrawe:
die lekkerste stuk lewe is die laaste wanneer jy die hef teen die been tik om desnoods met ‘n bewerige vinger die soet murg uit die holte te krap
(en wanneer niemand meer kyk nie ook te vroetel aan die halter om die kop)
die lekkerste, pa, is om aan te hou totdat die bloederige stomp mes van die hand tot lê kom oor die dooie swart murg van woorde.
Ja, dit is wat breyten nog altyd kon doen. Hy kon woorde raakskiet soos met ‘n windbuks, en hulle dissekteer waar hulle val. Dis nie die vrye vers, of die gebrek aan rym, wat my van die eerste saldo af getref het nie. Al hierdie nuwe tegnieke was groot nuus toe breyten die eerste keer ontplof het in die Afrikaanse landskap, ja. Daar was polemieke by dosyne oor hierdie man met die groen trui wat ons vanuit Parys oorkant die water bestook met sy vormlose verse. “Voorstudies vir gedigte,” het my Oom, die Professor in Sielkunde, gesê. breyten was die laatlammetjie van die Franse Simboliste, per abuis gebore in Afrika, uitgewyk terug na Parys, om daar tussen wapperende wasgoeddrade en malvas op balkonne sy wrewel jeens die stam van sy herkoms uit te kots. Eintlik wou hy ‘n skilder word: sy gedigte het hy, so vertel Etienne van Heerden my, onder sy matras weggesteek en daar vergeet, totdat ouens van die uitgewery dit daar stuk-stuk uitgesnuffel het vir amptelike boekstawing in die Republiek.
Toe ghwêrts die hele besigheid in ons gesigte, ‘n barsende bom kouevuur, en ons Letterkunde word skielik Lekkerkunde.
Meteens was alles moontlik. Dit het ek as jong skoolkind besef toe ek breyten begin lees het, skelm onder die skoolbank, terwyl ons onderwyser, ene “Klaas Vakie”, ons probeer wysmaak het van AG Visser.
breyten was my bekering tot die reddende krag van woorde.
Gered het hy my van die verveling van Kadette, die walging van Jeugweerbaarheidsperiodes, die knetterende hellevuur van Calvinisme, die angs van Seksuele Skuldgevoelens, die oorgeërfde vrees vir die Kaffer, die hele boel Kak en Kulkuns en Kroekery van die Koninkryk van die Kalkoene. Want ‘n foksterriër moet ook sy weekend kry, demmit.
Vandag bêre ek steeds daardie eerste liefde, daardie breytenbefoktheid van my prille jeug, kosbaar in ‘n kissie in ‘n kamer van my hart.
En daar sou my breytenbefoktheid gelê en eindelik gemuf het, vergete, onderdruk, vir altyd weg, as hy my nie hierdie moerse guns bewys het en eindelik weer ‘n boek gemaak het soos daai eerstes nie …
dit sneeu in die binneland dit sneeu in my hart ek droom ‘n rooi kamer ek droom ‘n vingervat klanke uit die kalbaskitaar
die heuwels is wit gesneeu my geliefde in die bos lê ‘n dooie hond ek droom my mond teen joune wat so rooi is en jou lyf so koel soos vuur
die praatdrom se note is ‘n holle geroep in my hart en ek droom met my vingers pluk jou lieflike lyf onder die laken sneeu.
“Voorstudies vir gedigte”. Is dit waar? Nee, seker nie van sy gedigte nie. Maar die idee van “voorstudie” is wel van toepassing as mens kyk na breyten se totale output, sy lewe, die idioom van sy bestaan, die "larger than life"-skaduwee wat hy altyd sal gooi teen die mure van die kamers waar ons sy werk probeer ontsyfer.
Dink maar aan katastrofes. Dit sou ‘n wonderlike moewie kon wees, as die plot effens meer samehangend was. Dink aan sy toneelstukke by Oudtshoorn. Ek het nie een gesien nie, so ek mag seker nie kritiseer nie, maar breyten het self aan my erken dat groot dele daarvan oorhaastig saamgeflans is. Volgens die akteurs was dit meesal samestellings van e-mails wat breyten van tyd tot tyd, knorrig en impulsief, deurgeblits het Suid-Afrika toe. Dit was soos assegaaie wat hy blindelings oor ‘n muur gooi. Die enkele kere dat hy ‘n teiken getref het, was die effek fenomenaal; maar daar was altyd meer debris as duidelikheid. ‘n Slaai van metafore, sleg omgeroer. Toe ‘n resensent hom van “literêre draadtrekkery” beskuldig, is breyten vir die soveelste maal woedend oorsee.
Vir my om hom nou te loof vir die windvanger, terwyl ek my al soveel maal gedistansieer het van sy openbare geredekawel, is seker ‘n bietjie soos die girl op LitNet wat eenkeer gesê het Koos moet maar net so nou en dan “Lisa se Klavier” sing en verder sy bek hou. Ek vermoed breyten sal hierdie resensie, as dit is wat dit is, ervaar as patronising. Dit sal hom wond, al is dit nie my intensie nie.
Dit is egter ‘n feit: breyten se totale loopbaan tot dusver is soos ‘n onvoltooide sirkel. Hy kom selde of ooit by die punt uit. Die meeste van sy openbare redes en essays verval in ennumerasie. Hy is gewoonlik verstaanbaar slegs wanneer hy iemand anders aanhaal.
Maar dan is daar sy gedigte.
Dan is daar, hier in die windvanger, oomblikke waarin hy hierdie einste onvoltooidheid erken, oopbieg, asof hy al die tyd geweet het hy is eintlik ‘n troebadoer sonder wysie:
ek was ‘n soepel singende stryder
om die horison binne te haal: in die spieël staan en buikpronk ‘n lelike mens nou
ek het gedog ek sou die jeugdiges se hart met sang en vervoering om kon praat maar my enkele lesers is ou wrakke wat met week en stywe oog
die losgetorringde voering van my betoog my toga van klagte tussen vers en kapittel kwytraak
ek het probeer ek het hard en bitter geprobeer om ‘n groot gedig te skryf en soms darem dit opgebring wat in die plek daarvan kon staan.
En eindelik besef ek, vermufde ou leser, ook: die waarde ‘n onvoltooide sirkel is die feit dat so ‘n sirkel eindeloos is. So ‘n sirkel kom nooit by die punt uit nie juis omdat dit nie doel van die sirkel is nie.
G’n wonder dit is al eeue lank die simbool van Zen-Boeddhisme nie: ‘n onvoltooide sirkel. Waar ander godsdienste strak en volledig simmetriese kentekens het - kruise, Ster-van-Dawids, swastikas, reghoeke – is Zen-Boeddhisme ‘n ewige reis sonder bestemming. ‘n Vakansie sonder budget. ‘n Dinsdag in die middel van die week. ‘n Vryheid sonder vaandels of Krismisbonus.
Dalk is dit juis breyten se bydrae tot Afrikaans: die ewige onvoltooidheid van sy soeke na
hoesê?
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|