Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Die Graaf van Bloemfontein
Christa Jonker-Jordaan
2007-08-07 Druk dit/Print it

Ek was in 1973 in standerd nege. Vir my was dit die lekkerste jaar ooit op skool! Dit was ook in hierdie jaar dat my neef en sy ma vir ’n paar maande by ons in die huis kom bly het. Hulle was in ’n groot ongeluk en sy ma moes eers weer leer loop. My ma het haar dus help versorg. Hy was tweedejaar op Kovsies en dit was heerlik om skielik ’n groter “boetie” te hê, een met pêlle! Ek was ’n laatlam en my eie broers was toe toeka al getroud. Elke Saterdag was ons by die rugby op die stadion, al was my aandag meer by die mooi pêlle. Ek onthou darem dit was in die tyd wat Gerrie Germishuizen ’n groot “hit” was! Ter versagting moet ek darem sê neef Daan het weer ’n groot belangstelling in my vriendekring getoon, so die een hand het wel die ander gewas.

Daar is ’n liedjie wat lui: “Oompie Daan, die Graaf van Bloemfontein, hy’s ’n kenner van die wyn.” Neef Daan was ook ’n kenner van die wyn. Wyd belese in dié rigting! Hy en sy makkers, waaronder ene Koos-eerstejaar getel het, het op ’n hoë graad gekuier! Die einste Koos het een oggend met ’n intervarsity verward voor die koshuis wakker geword – hy kon die vorige aand nie ’n deur kry nie!

Elke naweek is daar gebraai ... en gebraai! Die meisies is dan gedruk en gedoen, gevry en gesoen, want dit was nog in die goeie ou dae – die vroeë sewentigs, toe alles nog lank aangehou het en lekker was! Die wyn, oftewel die “Tassies”, is ook tot die uiterste beproef en beproe ...

Daan was na aan sy moeder se hart, want ná die ongeluk was hy al wat sy gehad het. Sy het alles geglo wat hy gesê het en het geen rede gehad om sy woord in twyfel te trek nie.

So hoor ons toe van sy groot allergie. “Weet jy,” sê sy op ’n dag, “Daan is tog so allergies vir braaivleis – hy is altyd so vreeslik naar en siek as hy ’n vorige aand gebraai het!”

Daan is ’n jaar of wat daarna Stellenbosch toe en is tien jaar later oorlede. Ek dink egter met groot nostalgie aan die lekker kuiers van 1973 (dié sonder die Tassies!).

 
 


Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za



VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van SĂȘNet

Read more about Pieter Kapp
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur