| "Afrikaanse ons" dien Engelse belang |
Dan Roodt
Die bekende slagspreuk van George Orwell lui mos: “In ’n tyd van universele bedrog is dit ’n revolusionêre daad om die waarheid te praat.” Orwell was ’n Britse intellektueel wat wreed ontnugter is deur die gelykheidsideaal van die kommunisme; vandaar sy negatiewe voorstelling van dié ideologie in Animal Farm.
Wat ek hier onder te sê het, gaan sekerlik as kettery ervaar word deur diegene wat deur die heersende ideologie in Suid-Afrika verblind word. Daardie ideologie word tans oral op ons uitgegiet: in die kerk en die skool, vanaf die kansel of die kassie waar Terrance April vir ons saans die nuus al struikelend oor doodgewone Afrikaanse woorde lees vanuit ’n kammaland met die hoofstad Tshwane.
Terwyl ek hierdie woorde skryf, hou ek die tyd dop, want oor twee ure gaan ek deelneem aan die betoging voor die Pretoriase Hooggeregshof waar ’n dringende aansoek oor die verandering van naamborde in Pretoria voorkom. Op 24 September gaan ons ’n betoging voor die SAUK-gebou teen Terrance April en sy trawante se ge-Tshwane op TV hou. Oral rondom my sien ek ’n beduidende aantal Afrikaners wat sê: Genoeg is genoeg! Die taalstryd is maar ’n onderdeel van ’n groter stryd teen oorheersing waarvan die einddoel is om Suid-Afrika te suiwer van alles wat Afrikaans is, maar veral van die Afrikaner, wat tot dusver die hoofkampvegter vir Afrikaans was.
Slegs revolusionêre dade kan Afrikaans nog red en daardie dade sal deur die Afrikaner gevoer moet word. Is Afrikaans nie op 14 Augustus 1875 geloods deur ’n Genootskap van Regte Afrikaners nie? Of word die hele geskiedenis van Afrikaans tans herskryf sodat ons iewers vorentoe in hierdie kwasikommunistiese Afro-totalitêre staat gaan lees dat die GRA eintlik staan vir “GeRekonstrueerde Afrikaanse multikulturaliste”?
Hermann Giliomee, wat tot dusver ’n positiewe bydrae tot ons stryd gelewer het, kom gevaarlik naby aan ’n nuwe “Kreoolsteorie” à la Marius Valkhoff as hy beweer: “Afrikaans het ontwikkel deurdat mense van alle rasse en klasse dit as verbindingstaal gebruik het.” Ook die gedagte dat figure soos Neville Alexander en Jakes Gerwel “vir Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak in die bresse (sou) tree”, openbaar myns insiens ’n naïwiteit wat slegs oortref word deur sy verdere stelling: “Val Afrikaans op Stellenbosch ... dan val Afrikaans in die land.”
My liewe Hermann, Afrikaans is darem groter as Stellenbosch! En het Stellenbosch nie reeds “geval” toe hy aan Braam Fischer ’n doktorsgraad toegeken en daarmee simbolies sy ideologiese onderdanigheid teenoor die regime betuig het nie? En wat is die Kreoolsteorie anders as maar net die taalkundige napraat van die regime se Milneriaanse obsessie om, soos die Britse lord dit gestel het: “(to) eradicate the last vestiges of Afrikanerism from South Africa”?
“Afrikaans sonder die Afrikaner” is mos die nuwe slagspreuk wat die regime vir ons uitgedink het en binne die “Afrikaanse ons” sal die Afrikaner wel sy plek moet ken. Anders gestel: Is die “Afrikaanse ons” nie maar net nog ’n variant van die naakte rasse-oorheersing wat die Afrikaner vandag op alle gebiede ervaar en waarin ons mense van blanke of Europese afkoms à la Mugabe, Gbagbo, Amin en die res as “uitheems” en daarom verdryfbaar gesien word nie?
As daar een boek is wat elkeen vandag behoort te lees, is dit Edith Raidt se Afrikaans en sy Europese verlede. Nie net verteenwoordig dit ’n boeiende historiese oorsig oor die ontwikkeling van Afrikaans - soos sy dit stel, “van Tacitus tot Van Wyk Louw” - nie, maar dit verlos mens ook van enige illusies dat Afrikaans enigiets anders as ’n Westerse, spesifiek Wes-Germaanse, taal sou wees.
Die GRA-beweging, soos ook elke Afrikaanse taalbeweging sedertdien - ons huidige taalbeweging daarby inbegrepe – het maar net die oeroue suiweringsproses in Nederlands wat vanaf die sestiende eeu af geld, herhaal. Op een manier was 1875 dus maar net die soveelste Nederlandse spelhervorming en suiweringsveldtog wat gemik was teen vreemde woorde.
As Afrikaans hoegenaamd ’n Kreools van Koisan sou wees (en daar is maar baie min Koisanwoorde in Afrikaans; gaan soek hulle maar op in Raidt se boek), dan is Nederlands of selfs Britse Engels Kreoolse vorme van Frans!
Een van my toekomstige projekte sou wees om ’n essay te skryf in die trant van “Die Afrikaner as Westerling”. Sekerlik is dit nie, in die tydvak van die Afrika-renaissance wat met naamsveranderings, instromende Zimbabwiërs en Xhosas in afslaankap-Mercedesse gevier word, ’n polities korrekte onderwerp nie.
Nietemin weet ek, en Giliomee weet, dat Raidt se argument taalkundig onbesproke is. Gegewe al die Xhosas in magsposisies regdeur die land – ook binnekort aan Stellenbosch? – klink dit egter net te ekstreem. Afrikaans ’n Europese taal wat deur Afrikaners op tipies, amper stereotipies Westerse en Germaanse wyse gestandaardiseer, uitgebou en onderhou word? Tog, gedagtig aan Orwell se spreuk hierbo, weet ons dat dit die waarheid is, die revolusionêre waarheid wat niemand vandag durf sê nie, omdat hy of sy oor die kop geknuppel sal word, gevra sal word om die vergadering te verlaat, of selfs en veral sy werk mag verloor indien so ’n persoon byvoorbeeld ’n dosent aan Stellenbosch of enige ander “histories Afrikaanse universiteit” sou wees.
In my voorgenome essay oor “Die Afrikaner as Westerling” sou ek wou argumenteer dat Van Wyk Louw, onder andere, verkeerd was toe hy Afrikaans as ’n “brug tussen die Weste en Afrika” voorgestel het. Louw was ’n Kapenaar wat so te sê niks van Afrika begryp het nie, anders as ’n boer in die Noord-Transvaal wat byvoorbeeld vlot Venda praat. Dis ’n stuk koloniale Engelse romantiek, dis al. Veel eerder moet die Afrikaner se hele stryd van meer as drie eeue lank verstaan word as ’n strewe om juis dit wat vandag so ongewild, selfs taboe, geword het: om Westerling te bly. En daarmee saam: om die Westerse standaardtaal wat hy met geweldige energie en toewyding – amper sê ek met Teutoonse drif – geskep het, aan te hou praat en skryf. Sonder dat Terrance April of al die ander regstellende-aksie-omroepers ons ore seermaak.
Die argument dat Afrikaners slegs 43 persent van Afrikaanssprekendes verteenwoordig en daarom moet terugstaan vir sogenaamde “Afrikaanses”, is vergesog. Afrikaans sonder die Afrikaner is tot ondergang gedoem. Hier op die Witwatersrand, wat deesdae onder die pidginwoord Gauteng bekendstaan, het die provinsiale onderwysminister, Ignatius Jacobs, al die voormalige kleurlingskole sonder slag of stoot verengels. Jakes Gerwel, wat aan ons as ’n groot taalstryder voorgehou word, het binne enkele jare die UWK verengels omdat hy sy Xhosa- en Engelse meesters terwille wou wees.
My vraag is daarom: Hoe Afrikaans is die “Afrikaanses”?
In Frans praat hulle mos van ’n faux débat, ’n valse debat. Die hele geding oor ’n “Afrikaanse ons” verteenwoordig so ’n valse debat. Leë blikke maak die meeste geraas en die “Afrikaanse ons” is so ’n leë blik. Kom ons wees eerlik: anders as die Afrikanertradisie, die lang verhaal van stryd en verfyning, het dit geen inhoud nie.
Die Kaap word al twee eeue lank deur Engelse regeer (kyk maar net na die huidige Kaapse burgemeesteres) wat op hul Engelse manier besig is met ’n oorheersingstrategie. Die Afrikaner moet as buffer dien tussen hulle en die bruines wat die meerderheidsbevolking in daardie provinsie verteenwoordig. En op hul beurt moet die bruines as buffer dien tussen hulle en die Xhosas wat die meerderheidsbevoling van die toekoms gaan wees. Sodat Constantia hoog en droog kan sit, moet Bellville of Stellenbosch hulself met Mitchellsplein besig hou en Mitchellsplein moet sorg dat Khayelitsha nie die rus agter Tafelberg versteur nie. Dis die Kaapse kastestelsel in ’n neutedop.
Waarom wil Gerwel, Alexander en al die ander bruines wat kwansuis so begaan is oor Afrikaans, nie hê dat ons Engels en Engelse die stryd moet aansê nie? Want uiteindelik weet hulle ook dat hulle maar net die Engelse saak dien, om ons aandag van belangriker kwessies af te trek.
Naskrif: Tydens die betoging teen die Pretoriase naamsverandering dreig die ANC se gehuurde skare om my aan te rand terwyl hulle skree: “Go back to Europe!” Ten minste gee die Afro-fasciste van die ANC my gelyk dat Afrikaans in wese ’n Europese taal is ... wat natuurlik nie ons reg op grondgebied en om ons taal en plekname en kultuur in dié land te behou, in die gedrang bring nie, ewe min as wat die Amerikaners of die Australiërs nie hulle Europese taal op húlle kontinente mag besig nie.
<< Terug na "Die Afrikaanse ons" Miniseminaar <<
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|