Johann H Crafford
Een van die gewildste dorpe in die Boland vir binnelandse sowel as buitelandse besoekers is ongetwyfeld Franschhoek. En as mens na al daai uitsonderlike eetplekke, boetieks, galerye en dies meer in sy hoofstraat kyk, is dit duidelik hoekom.
Maar Franschhoek se rykdom lê nie net binne sy dorpsgrense nie. Die verskeidenheid wynprodusente in hierdie pragtige vallei bied op hul eie meer as genoeg rede om keer op keer terug te gaan.
Een Saterdag besluit ek en vroulief toe mos om weer ‘n slag die pad te vat na die dorpie waar ons ‘n wonderlike wittebrood deurgebring het, maar hierdie keer wou ek spesifiek twee wynprodusente aandoen, en om baie goeie redes. En dit het nie net oor wyn gegaan nie!
Ons het die R45 van die N1 af gevat en ‘n hele paar kilometer later verby Plaisir de Merle aan die regterkant en nog ‘n ent verder verby Allée Bleue aan die linkerkant gery. Albei is wynlandgoedere wat beslis die moeite werd is om te besoek.
‘n Kilometer verder het ons links afgedraai na Solms Delta (021 8743937), ons eerste besoek van die dag. So 800 meter verderaan is die ingang na die plaas aan jou linkerkant.
Nou kyk, hier is ‘n uur nie lank genoeg om alles in te neem nie! Eers moet jy die Museum van de Caab deurloop saam met ‘n plaaslike gids, en asof dit nie genoeg rede is om terug te kom met vriende en/of familie nie, proe dan die landgoed se wyne. Maar wag, alles is nog nie verby nie. Nou gaan wys jou gids vir jou die argeologiese uitgrawings.
 |
| Op Solms-Delta proe jy wyn sommer daar in die Museum van de Caab. |
Teen die tyd dat jy terugklim in jou voertuig, sal jou mond behoorlik oophang, want dis die Solms Delta-ervaring. Dis nou wragtag te goed om waar te wees!
Die landgoed se geskiedenis gaan so ver terug as 1690. Dit lê langs die Dwarsrivier, omring deur berge, en sy wingerde spog met uitsluitlik Rhône-kultivars soos mourvèdre, grenache noir, carignan en viognier. ‘n Antieke proses van desikkasie, of uitdroging, van die druiwetrosse aan die wingerdstok word gebruik en slegs een van die vyf wyne wat hier aangebied word, word van druiwe gemaak wat nie gedesikkeer is nie, naamlik die Solms Lekkerwijn. En hierdie wit versnit doen beslis sy naam gestand!
Dan is daar die Solms Hiervandaan (‘n rooi versnit), Solms Amalie (nog ‘n wit versnit), Solms Africana (‘n shiraz) en Solms Koloni (‘n derde wit versnit).
Piekniekmandjies kan vooraf gereël en dan langs die rivier geniet word.
Hiervandaan is ons terug na die R45, links in die rigting van Franschhoek, en sowat een kilometer verder het L’Ormarins (021 8749000) regs op ons gewag.
Wanneer jy onder daai erewag van bome opry na die imposante proelokaal en motormuseum (ja, hier’s ‘n motormuseum vir al ons petrolkoppe!), besef jy die Ruperts het baie geld gemaak (en doen dit steeds), maar hulle ploeg darem baie terug ook. Hier word ses puik wyne aangebied, van ‘n sauvignon blanc en rooi versnit tot ‘n portwyn en ‘n sangiovese.
 |
| Benewens wyn van formaat bied L’Ormarins ook wat elke warmbloedige man se hart sal laat vla pomp, al is dit net vir die oog. |
Maar daai vier baie spesiale skure en hul inhoud van sowat 80 motorkarre en -fietse en ander verwante gedenkwaardighede het op ons gewag en die vinnigste wynproe van die 21ste eeu het in daai pragtige proelokaal plaasgevind!
Glo my vry, die Franschhoek Motormuseum is ‘n ervaring wat enige seun van enige ouderdom se mond sal laat water, se neus sal laat loop en se oë sal laat traan. Meer as 100 jaar van motorgeskiedenis word hier uitgebeeld, van antieke karre wat voor 31 Desember 1904 gebou is tot die jongste bloedrooi Ferrari’s en selfs my persoonlike gunsteling, ‘n Porsche Carrera GT. Ai, hoekom het ek dan nie ryk ouers gehad nie!
Maar nouja, alle goeie dinge kom mos tot ‘n einde en ons het ‘n ete-afspraak by een van ons gunsteling-restaurante gehad waarvoor ons nie durf laat wees nie.
Ons is terug R45 toe, het regs gedraai en verby Graham Beck se plek, oor die Bergrivier, verby Richeneau Wines, La Chatagne Wines, La Motte (wat ook aan die Ruperts behoort), Môreson, GlenWood, Rickety Bridge Winery, Grande Provence en Franschhoek Wingerde gery tot binne Franschhoek.
En al die pad was ons bewus van die teenwoordigheid van die majestueuse berge wat hierdie vallei omhels, selfs toe die Kaap sy ou streek uithaal en ‘n somerige wintersoggend prysgee vir ‘n bitterkoue, bewolkte wintersmiddag.
Ons het deur die dorp gery (hierdie hoofstraat bied ‘n smorgasbord van alles wat die lewe ‘n plesier maak en is ‘n rustige deurstap werd), links gedraai by die Hugenote-monument op die R45 na Villiersdorp, en die 1,4 km na Haute Cabrière Kelder en Restaurant (021 8763688) afgelê.
Die reeks Pierre Jourdan-wyne wat op die Cabrière-landgoed gemaak word, word opgedra aan die Franse Hugenoot met dieselfde naam aan wie die grond in Desember 1694 toegeken is. Die plaas is vernoem na die dorpie naby Avignon van waar hy gevlug het.
Eienaar Achim von Arnim se lewenslus word uitgedruk in sy passie vir wynmaak, en hy sê dat dit vir hom voel of Cabrière net vir hom gewag het. Onder Von Arnim het Cabrière die eerste landgoed in die Kaap geword waar wyne toegewyd volgens die Methode Cap Classique (in Frankryk bekend as méthode champenoise) gemaak word, en in 1989 is een van die wêreld se veeleisendste kultivars, pinot noir, teen die westelike hange van die Franschhoekberge aangeplant.
Maar genoeg van die wingerde en die wyne, behalwe om te sê dat die 14 spogwyne in ‘n unieke proelokaal/kelder wat in die berg gebou is, geproe kan word. Net langsaan in die berg is die restaurant waar ek en my wederhelf al meer as een keer ‘n ongelooflike gastronomiese ervaring gehad het. Waar die meeste restaurante ‘n spyskaart gevolg deur ‘n wynlys aanbied, is die wyne by Haute Cabrière ‘n absoluut integrale deel van die ete. Geen voorgeregte nie. Geen hoofgeregte nie. Slegs aptytwekkende geregte wat spesiaal geskep is om die Pierre Jourdan- en Haute Cabrière-wyne te komplementeer. ‘n Smaaksensasie, soos vroulief dit stel.
Soos elke keer tevore het ons onsself met die terugry weer belowe dat dit nie te lank moet neem voor die volgende besoek nie. Daar is ‘n hele paar skatte wat nog ontdek moet word.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|