Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Joan Hambidge (1956 - )

2008-05-29 Druk dit/Print it

Gebore en getoë

Joan Helene Hambidge is op 11 September 1956 in Aliwal-Noord gebore, naasoudste van vier dogters. Haar pa se voorgeslagte was Iers en haar ma Afrikaans. Sy begin haar skoolloopbaan in Aliwal-Noord, maar omdat haar pa in die versekeringsbedryf was, trek hulle baie en gaan sy skool in Witbank, Pretoria (Hoërskool Wonderboom) en matrikuleer aan die Hoërskool Standerton. In standerd vier skryf sy in vir die Transvaler se poësiewedstryd en wen sy R5 met ’n gedig wat begin met “die verlange passer vannag in my”. Dit is ook dan voorlopig die einde van haar digwerk.

Op skool is Joan ’n stil, introverte kind en in standerd agt besluit sy al manier waarop almal haar gaan uitlos, is as sy begin presteer. In matriek ontvang sy die Beheerraadsmedalje vir die beste matriekuitslae. Op skool besoek sy die biblioteek gereeld en lees sy al die “wilde” stories wat hulle as kinders nie mag gelees het nie, soos Konsalik en die fotoverhaal Die Ruiter in swart. Sy kom egter gou agter dat kinderboeke ’n leuenagtige voorstelling van die werklikheid bied. As jong student is sy gewoonlik met vakansie na die platteland gewapen met leesstof uit die klassieke van die wêreldliteratuur.

 

Verdere studies en werk

Joan gaan na die Universiteit van Stellenbosch vir verdere studie en in 1979 verwerf sy haar BA Honneursgraad daar. Sy voltooi haar MA-graad aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van prof Elize Botha. Haar tesis is getiteld Die ek-verteller in die belydenisroman. Sy skryf haar in vir ‘n PhD aan die Universiteit van Rhodes en onder prof André P Brink se leiding verwerf sy dit in 1985 met haar tesis Die metaroman – ’n dekonstruksie-ondersoek.

Vanaf 1980 tot 1992 doseer sy Algemene Literatuurwetenskap aan die Universiteit van die Noorde. In 1990 word sy aangestel as hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van die Noorde, en in Julie 1992 as senior lektor in Afrikaanse poësie aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy tot vandag haar kennis met studente deel. Vandag doseer sy egter kreatiewe skryfwerk in poësie aan nagraadse studente. In 2007 was sy ook Direkteur van die Skool vir Tale en Letterkundes, en benewens die kursus in kreatiewe skryfwerk bied sy ook kursusse in gender en letterkunde aan. In 2006 word Sean O’Toole, ’n student van Joan, se kortverhaal The road to Rephile aangewys as wenner van die SA Pen literêre prys. Joan het ook ’n ruk lank aan die Universiteit van Yale in die Verenigde State van Amerika navorsing gedoen oor literêre teorie. In Mei 2003 lewer sy haar professorale intreerede aan die Universiteit van Kaapstad. Die titel van haar rede is Whose inaugural is it anyway? Modern criticism in crisis.

In 2001 behaal Joan haar tweede doktorsgraad, dié keer in kultuurstudies, aan die Universiteit van Kaapstad. Die titel van haar proefskrif was Gender-konstruksie in die Afrikaanse letterkunde: ’n ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk.

Binne vyf jaar na haar studies bou Joan vir haar die reputasie op as een van die mees omstrede literêre figure in Suid-Afrika. Sy skroom nie om haar sê te sê nie en is altyd gereed om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig. Volgens prof Louise Viljoen is dit “vir enige letterkunde gesond om so ’n uitgesproke persoon met so ’n sterk strydende ingesteldheid te hê. Dit keer dat mense selfgenoegsaam word, en wys ook die letterkunde is nie ’n keurige, hoogheilige bedryf nie.”

Joan wou advokaat word, en ook ’n mediese dokter, maar gelukkig het haar ouers haar na die letterkunde toe gedwing, wat sy vandag as die regte keuse beskou. Sy beleef die lewe ten volle, is versot op reis en gaan elke jaar oorsee – om die lewe te sien. Haar ouma Hannah Loubser, ’n suster van Maggie Loubser, het ook die wêreld vol gereis en dit is dalk by haar wat Joan haar reislus geërf het. Reis het die sentrale metafoor van haar lewe geword: “Dis wonderlik om die wêreld te sien, maar daar’s ook die innerlike reis, om tot ’n soort persoonlike klaarheid te kom.” Joan het ook gereeld vir Die Burger se bylae By ’n reisrubriek Wegkomkans geskryf.

Na die eerste poging in haar laerskooljare begin Joan weer in 1983 ernstig poësie skryf. Sy debuteer in 1985 met Hartskrif en dit is die begin van ’n baie produktiewe skryfloopbaan. Die pryse het ook nie agterweë gebly nie. In 1986 wen sy saam met Deon Opperman, die dramaturg, die Eugène Marais-prys; haar wenbundel is getitel Bitterlemoene. In 1999 volg die Litera-prys vir haar gedig "Eugène N. Marais (1871-1936)" en sy ontvang ook die Poetry Institute of Africa-prys se tweede prys vir haar gedig "’n Gedig plagiariseer die werklikheid". Die Litera-prys word aangebied deur die letterkundige tydskrif Literator. André Brink beskryf Joan in ’n Rapport van 1987 as “een van die heel beduidendste stemme van die Tagtigs”. En in dieselfde jaar praat TT Cloete van haar “ryp, boeiende visie”. Vroeg in haar skrywersloopbaan vertel sy dat sy tussen drie-uur snags en sesuur soggens skryf, want “wanneer die ritme van die liggaam op sy laagste is, is ’n mens die naaste aan jou onbewuste”. Temas waarna sy gereeld terugkeer in haar poësie, is familie, die dood, die digkuns, reis, portrette van digters en bekendes.

Lykdigte, wat in 2000 gepubliseer is, het sy nege maal oorgeskryf. Sy het in 1997 begin skryf daaraan na die dood van die digteres Rika Cilliers. Daarna het verskeie ander digters, soos Johann Johl, Patrick Petersen, Stephan Bouwer en Ernst van Heerden, ook te sterwe gekom.

In 2006 is Joan se pa oorlede en na haar pa se dood word haar negentiende bundel, Dad, gepubliseer. Slegs die eerste reeks gedigte in dié bundel is na haar pa se dood geskryf. Hierdie bundel gaan oor haar verhouding met haar pa, oor die vader-kind-verhouding in die algemeen, en oor die verhouding met vaders binne ’n bepaalde digkuns.

Joan waag egter haar hand nie net aan poësie nie, maar ’n hele aantal romans het al uit haar pen verskyn, soos Swart koring en Die swart sluier, albei parodieë van die hygroman, en Die Judaskus. In 2001 haal haar roman Skoppensboer die Sanlam/Insig-romanwedstryd se kortlys.

In 1999 behartig sy saam met Ingrid Gouws en Marlene van Niekerk ’n week lange kursus in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Port Elizabeth en in 2008 lewer sy waardevolle insette tydens ’n Kreatiewe Beraad aan die Universiteit van die Vrystaat.

Joan se gedigte is ook al aangewend vir ander fasette van die kunste. In 2003 bied die La Rosa-geselskap vir Spaanse Dansteater ’n dansproduksie getiteld Elementos aan in die KunsteKaap-arena. Die eerste deel van die produksie heet Imagenes en is gebaseer op gedigte uit Joan se bundel Ewebeeld. Die gedigte word deur Nicole Holm gesing en voorgedra met kitaarbegeleiding terwyl dit deur flamenco-dansers uitgebeeld word. Dié gedeelte van die produksie is ook in 2001 by die KKNK aangebied.

Joan is ook ‘n gereelde bydraer tot rubrieke in koerante en tydskrifte. So het sy in "Op my literêre sofa" in die dagblad Beeld met haar vlymskerp kommentaar gesorg vir vele polemieke en briewe aan die pers. Sy skryf ook gereeld "Kopstukke", ook in Beeld.

In ’n onderhoud met Hettie Scholtz in Insig van Junie 2000 bieg Joan dat sy van eerstes hou: die eerste PhD oor dekonstruksie, asook ’n eerste studie oor postmodernisme in 1995. In haar skryfwerk is daar ook ’n eerste beskrywing van liefdesverbintenisse tussen vroue, ’n eerste gay-parodie in Afrikaans (Swart koring, 1996) gevolg deur Die swart sluier (1998). Ook in haar roman Die Judaskus (1998) word die lesbiese psige verken. Die eerste internetroman in Afrikaans is ook uit Joan se pen – Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het – ’n gesprek met Jan Lion Cachet se Sewe duiwels.

Joan glo in holistiese genesing en in tarotkaarte wat sy self kan lees; en ander dinge wat haar besig hou, behalwe reis, is lees en die skryf van literêre kritiek. Laasgenoemde is ook een van dié dinge wat haar so bekend (of is it berug?) deur Suid-Afrika gemaak het. Sy skroom nie om in haar resensies reguit te skryf wat sy van die betrokke boek dink nie, hetsy goed of sleg, en bevind haar dan heel dikwels midde-in ’n polemiek in die dagpers waaraan almal met groot genoeë kan deelneem of lees. “Hambidge is sinoniem met die polemiese. Sy deins nie daarvoor terug nie en erken sy is ‘vlymbekkig’. In dieselfde asem maak sy dit duidelik dat sy nie kleinserig is nie.” (Uit ’n onderhoud met Murray la Vita in Die Burger, 9 Februarie 2007)

“Joan Hambidge is ook ’n soort taalstryder, iemand wat deur haar literêre bydrae, haar kritiese werk, haar satiriese send-ups en haar polemieke die taal op verskeie fronte aan die gang en lewend hou. Onder hierdie wakende oog sal Afrikaans nie in die vergetelheid verdwyn nie, al is dit net omdat sy altyd die laaste woord moet hê.” – Hettie Scholtz.

 

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

’n Keur van artikels oor Joan Hambidge op die internet beskikbaar

 

’n Keur van artikels deur Joan Hambidge beskikbaar op die internet

Gedigte:

Artikels:

Onderhoudreeks:




Bygewerk: 2008-05-29
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van SĂȘNet

Read more about Riana Barnard
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur