Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Die MK Derde Avontoer is op pad: Ontmoet die seerowers
Annie Klopper
2008-12-02 Druk dit/Print it

Die MK Derde Avontoer is op pad. Daar word hardop gefluister, geskinder, ge-SMS en ge-Facebook oor die 2 busse, 10 bands, 50 seerowers en ’n ziljoen fans wat hierdie somervakansie tussen 18 en 31 Desember Suid-Afrikaanse kusdorpe met mening op horings gaan neem. Die bands is Foto Na Dans, Straatligkinders, Tidal Waves, New Holland, Zinkplaat, City Bowl Mizers, eF-eL, Captain Stu, The Pretty Blue Guns en Reaanrottweiller. Daarbenewens maak Die Heuwels Fantasties, Die Helde, Mr Cat & The Jackal, Willim Welsyn & Die Sunrise Toffies, Die Melktert Kommissie en Etienne Terblanche & Dikazzins as gaste hul verskyning by ’n paar van die shows.

Mense wat die Eerste en Tweede Avontoer se optredes bygewoon het, sal weet: daar is veel meer as die musiek om na uit te sien. Wat die Avontoer so uniek en geesdriftig maak is die seerowers.

Vir die meeste mense mag die konsep seerower miskien verwarrend voorkom in die konteks van bands en fans. Dit gaan nie hier oor daardie Somaliese seerowers wat deesdae so amok maak in die Indiese oseaan nie. Dit gaan om die terminologie en kultuur van Die Plate Kompanjie (DPK) wat aan die stuur van die MK Derde Avontoer is. Daarom het ek, met die toer om die draai, aan ’n paar kenners op dié gebied die vraag gestel: Wat is die definisie van ’n seerower?

 

Liam “Die Bison” Erwin, die oorspronklike DPK-seerower

Seerowers was bose mense wat skepe en kusdorpies geplunder het, vrouens verkrag het en die mans geforseer het om te kyk. Maar ná Zinkplaat en Die Helde (destyds genoem Merry Melodies) se eerste Weskus-toer in 2005 is daar met die hedendaagse, meer “gesofistikeerde”, seerower-konsep vorendag gekom. Hiervolgens is Seerowers vredeliewende mense wat kusdorpies oordonder met übergees, nie eintlik omgee waar hulle die aand slaap of wat hulle eet nie – net solank hulle van die land se beste bands so pas ten volle beleef het en dan nog meisies, ofte wel outjies, verlei het. (En die ander geslag geforseer is om te kyk hoe de hel hulle dit regkry, aangesien hulle so effe onwelriekend is na ‘n paar dae op die pad.)

Bouwer Bosch, voorsanger van Straatligkinders

Iemand wat verlief is op ‘n roadtrip en musiek.

Beer Adriaanse, tromspeler van Zinkplaat en mededirekteur van DPK

Daar is drie antwoorde op daardie vraag …

  • Liam “Die Bison” Erwin is ‘n definisie van ‘n Seerower.
  • Seerowers is mens wat betrokke raak met DPK-projekte om die optimale hoeveelheid gees uit events, gigs en toere uit te melk.
  • Die amptelike definisie: ‘n Seerower is ‘n anderste ding. Hulle is mense, maar hulle is ook bietjie meer as mense. ‘n Seerower bekommer hom nie oor die onnodige goed in die lewe nie. Seerowers weet dat dit wat saakmaak, is goedkoop of verniet, en die res is net ‘n keuse.

Seerowers lewe vir die avontuur in alles. ‘n Seerower word in ‘n sloot, of op ‘n sypaadjie, of in ‘n boom, of in iemand se klerekas, of op die strand, of in ‘n bus, of onder ‘n bus, of langs ‘n asblik, of in ‘n tent, of langs ‘n warm lyfie, of langs ‘n koei, of onder ‘n kar, of op ‘n jetty, of op ‘n verhoog, of onder ‘n verhoog wakker, en vat dit dan van daar af.

‘n Seerower aanvaar almal en alles as deel van die magtige misterie van die lewe. Moslem-busdrywers en Boeddhistiese bassists toer saam met Christelike kitaarspelers en ateïstiese tromspelers, met Joodse joernaliste en agnostiese ampdraers, Kabala-kameramanne en Rooms-Katolieke roadies.

Seerowers maak musiek, luister musiek en ondersteun musiek. As daar niemand by ‘n konsert opdaag nie, sal ‘n Seerower aleen voor staan met ‘n bier in die hand en die musikante op die verhoog laat voel asof hulle by Oppikoppi speel. Vir ‘n seerower bly die musiek nooit op die verhoog nie, dit word ná konserte na afterparties toe gesleep. In tente en om vure word instrumente saam met bottels wyn en blikkieskos in ‘n kring omgestuur. ‘n Seerower sing saam, al ken die seerower nie die woorde nie.

Seerowers werk goed in sirkels. Dan kan alles, alles, alles, makliker links om gestuur word. Hulle dans makliker in sirkels, hulle trance beter in sirkels, hulle lê makliker in sirkels.

‘n Seerower bring ‘n bietjie wilde natuurlikheid na die stad toe, en vat ‘n bietjie stad-energie na die natuur toe.

Seerowers dink anders. Seerowers hou van nuwe mense, en nuwe idees.

Seerowers volg nie die res van die wêreld se idee van dag en nag nie. Elke dág is nie ‘n nuwe begin nie, elke óómblik is ‘n nuwe begin.

Seerowers deel niks meer as die feit dat hulle alles met mekaar deel nie.

 

Luca Vincenzo, radio-omroeper en seerower

Seerowers share many commonalities, which can be defined by music, passion and sharing. Yes, there are the many other interests that are shared, such as excessive drinking, which is most likely to be followed by a generally lewd display of shouting, bad dancing and false singing, but who am I to judge?

 

Tertius Kapp, skrywer en seerower

Seerowers handhaaf wetteloosheid en wanorde op die toer. Sonder hulle loop die toer die gevaar om in beskaafdheid te verval.

 

Die MK Derde Avontoer lyk so:

18, 19 Des - Club Mykonos, Langebaan
20 Des - Gemeenskapsaal, Lambertsbaai
22, 23 Des - Sandbaai Saal, Hermanus
26 Des - Groot Gees Rock Fees III , Stilbaai
27 Des - o/18 show, Hartenbos
29, 30 Des - Stadsaal, Mosselbaai
31 Des - Havanna Parking Lot, Jeffreys

Foto's: Annie Klopper

 



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za


VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Elsa Engelbrecht
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur