| Sheila Cussons (1922–2004) |
Erika Terblanche
Gebore en getoë Verdere studie en werk Publikasies Sheila Cussons as vertaler Artikels oor Sheila Cussons beskikbaar op die internet Gebore en getoë Sheila Cussons is op 9 Augustus 1922 op die sendingstasie Morawië naby Piketberg gebore en is van Ierse afkoms. Sy het een suster, Maureen. Haar broer, André, het op twintigjarige ouderdom verongeluk. Hoewel daar gereeld Engels in hulle huis gepraat is, was Afrikaans hulle huistaal.
Sheila se ouers was beide begaafde mense, maar soos baie van hulle tydgenote, kon hulle nie verder gaan leer nie, weens ekonomiese probleme. Haar pa wou graag ’n ingenieur word, maar moes as klerk by die Spoorweë begin werk. Hy het wyd gelees en Sheila se logika altyd probeer opskerp. Hy tree in 1953 af as afdelingsbestuurder van Oos-Kaapland en is in 1972 oorlede. Sheila se ma was ’n verpleegster wat eintlik wou dokter word. Sy was, volgens Sheila, ’n meer emosionele mens, en vol deernis, en kon pragtig sing.
Vanweë haar pa se werk woon Sheila ’n groot aantal skole by. Haar suster sê dit was net 13 skole, maar vir Sheila voel dit soos 23. Sy vertel aan André le Roux dat sy plekke in die ou Transvaal onthou: Witrivier en ’n Modderfontein. “Maar toe word dit groter dorpe: Port Elizabeth – twee keer – Beaufort-Wes, Pretoria. Ek het matriek in Pretoria geskryf aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool. Dit was die eerste keer in my skoolloopbaan dat ek onderrig in Afrikaans gekry het, en dit was nogal ’n taamlike aanpassing.”
In Rooi Rose van Augustus 2002 vertel sy aan Amanda Botha dat haar duidelikste herinnering dié is van ’n kloosterskool in Port Elizabeth. Sy dink nou dat sy in daardie milieu haar latere aangetrokkenheid tot die Katolisisme herken het.
Van kleins af het sy al met woorde gespeel, en sy kon nog skaars praat, toe het sy haar al aan die woordklanke verluister. In Rooi Rose van 13 Februarie 1980 vertel sy: “En wanneer ’n mens effens ouer is, skryf jy goedjies neer en jy lag daaroor of dis vir jou mooi. En dan sal jy sê: ‘Mammie, ek het vir Mammie ietsie geskryf’, en hier kry jy jou eerste aanmoediging.” Vir haar is die aanmoediging baie belangrik, want dit plant die eerste saadjie. Van haar eerste skoolboeke onthou sy dié met versies, soos Palgrave se Golden treasury en Pegasus.
Sheila het begin teken toe sy twee-en-’n-half jaar oud was. Later begin sy stories skryf, wat sy self illustreer. In Die Taalgenoot van Augustus 1935 verskyn sketse van haar by die gediggie "Reënboogvlerkies" van De Wet Laubscher. In 1934 neem sy aan die Afrikaanse Kunswedstryd in Port Elizabeth deel.
Op sesjarige ouderdom verskyn haar eerste kinderversies in Die Jongspan en in die ATKV se amptelike tydskrif. Kort daarna het sy haar versies en ander stories geïllustreer. Amanda Botha vertel dat sy selfs vir die pret van AG Visser se versies in die laerskool vertaal het. “Ek het so ’n gelukkige kindertyd gehad. My ouers het soveel ruimte toegelaat om net myself te wees en my verbeelding ten volle uit te leef. Dit was so spesiaal.”
Sy vertel ook dat sy altyd gelees het: “Shakespeare, Dickens en wat daar was. Sê maar grootmensboeke.” Sy het later baie van Rupert Brooke se werk gehou. “En ek het gedink ons eie Afrikaanse digters se werk is net so mooi ... Eugène Marais se 'Winternag' en Jan Celliers se 'Martjie'. Ek het regtig gedink dat 'Martjie' een van die grotes is.”
Later op skool, met die skryf van opstelle en die kinders wat vorentoe geroep word om hulle opstelle voor te lees, het Sheila al so effens die gevoel van skryf gekry. En toe kom die aanmoediging van ’n onderwyseres, Miss Lovelace van Pearston Skool, wat vir haar sê: “Sheila, jy moet skryf.” Dit was so dat haar eerste verse in Engels was, want dit was net toe die Dertigers begin skryf het en min mense het nog in Afrikaans geskryf.
Sheila onthou ook dat haar eerste groot freskoskildery in haar ouers se toilet was – “’n Maria-figuur wat haar pa met verslaentheid laat vra het: ‘Hoekom die ongemak in die gemakshuisie?’”
Terug na bo
Verdere studie en werk In 1939, op sestienjarige ouderdom, ontvang Sheila ’n beurs vir studie in die skone kunste aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg. In 1942 verwerf sy haar BA-graad in die skone kunste met lof en ontvang die goue medalje van die Fakulteit. Sy studeer onder Rosa Hope en professor John Hopley en word baie gou as ’n belowende jong kunstenaar erken. Na haar BA-graad word ’n verdere studiebeurs aan haar toegeken om haar meestersgraad te voltooi. Sy verwerf daarna haar Hoër Onderwysdiploma met dubbele onderskeiding. Een van haar opdragte van die universiteit is om ’n portretstudie van die Nederlandse digter A Roland Holst te maak tydens sy besoek aan Pietermaritzburg in 1941. Sheila neem aan verskillende groepuitstallings deel en bied onder beskerming van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging ook solo-uitstallings aan. Voor haar vertrek na Europa in die 1940's bied sy ses solo-uitstallings aan in Johannesburg, Kaapstad en Pretoria. Sy word vir ’n jaar as tydelike dosent in die skone kunste aan die Universiteit van Natal aangestel.
’n Ander aspek van haar talent wat in haar universiteitsjare sterk op die voorgrond tree, is haar kreatiewe digwerk. Sy skryf hier, net soos in haar kinderjare, gereeld gedigte in Engels en Afrikaans en bied meestal die Engelse werk vir die universiteit se jaarblaaie aan. Die agtergrond in Pietermaritzburg was in daardie tyd oorwegend Engels, maar daar was tog ook ’n kerngroep Afrikaners wat in en rondom Pietermaritzburg gewoon en gewerk het. Onder hulle was die Nienaber-broers, Gawie en Stoffel (albei letterkundiges), Philip Grobler (radioman en letterkundige) en DJ Opperman (toe digter-onderwyser) en sy vrou Marié. Sheila vertel aan Amanda Botha dat sy op daardie stadium van haar lewe min kontak gehad het met die Afrikaanse letterkundige wêreld en feitlik net Engels gelees het. “In die Afrikaans-klas het ek kennis gemaak met die digters van Dertig en het ek ’n baie begaafde dosent in Gawie Nienaber gehad. Só het ek die Nienaber-broers leer ken en is ek op ’n aand vir ete na die Oppermans genooi. Dit was die begin van ’n intieme kring wat gereeld vergader het, meestal aan die huis van Dirk en Marié. En hier was die gesprek hoofsaaklik net rondom die Afrikaanse literêre toneel.” Opperman het begin torring aan Sheila om eerder in Afrikaans te skryf en sy kon nie nee sê nie. So het Sheila Opperman se eerste protégé geword: “Elke gedig wat ek geskryf het, het ek aan hom voorgelê.”
In 1943 is Sheila met Stoffel Nienaber getroud. Sy was so begeesterd dat sy haar vir lang tye afgesonder het net om te skryf. Op daardie stadium was publikasie nie haar eerste gedagte nie, maar “net die leerskool van skryf”.
Opperman het ’n keur uit haar vroeë verse gemaak en aan die Louw-broers en Jan Greshoff gestuur, en die gedigte word in 1946 in Stiebeuel gepubliseer. Vertalings van hierdie verse is later opgeneem in The Penguin Book of South African Verse. Sheila was gretig om as negentienjarige reeds te publiseer, maar Opperman wou nie. Hy het altyd gesê sy moet eers haar ondervindings in Europa verwerk voordat sy publiseer.
Kort voor Sheila se vertrek na Europa in die 1940's is sy na Worcester, waar sy tydelik verbonde is aan die Hugo Naudé-kunssentrum, met Jean Welz as hoof. (Die presiese jaar wanneer Sheila na Europa vertrek het, verskil van bron tot bron. Party bronne gee dit as 1945 aan, ander as 1947 of 1948.)
In Londen studeer Sheila aan die Camberwell Polytechnic onder Victor Passmore en kom diep onder die indruk van die na-oorlogse Europa, wat duidelik in haar gedig "1945" in Plektrum spreek. In 1948 vertrek sy na Amsterdam, waar sy verder in die etskuns studeer onder Theo Berrendonck, en word sy weer deel van die groep Afrikaners wat in Amsterdam gewoon en gewerk het. Sy werk ook as vryskutjoernalis vir die Afrikaanse en Engelse senders van Wêreldomroep in Hilversum, Nederland, en vir die BBC in Londen.
In Amsterdam dig die jong Sheila verwoed en ‘n groot aantal gedigte verskyn uit haar pen. Sy stuur steeds haar verse na Opperman in Suid-Afrika, wat nog steeds publikasie wil uitstel, maar belowe dat haar gedigte “’n beroering sal veroorsaak”. ’n Noue verbintenis ontstaan in Amsterdam tussen Sheila en NP van Wyk Louw. Die vriendskap tussen hulle het rondom 1950 in ’n ernstige verhouding ontwikkel nadat Stoffel na Suid-Afrika is vir sy vader se begrafnis en Truida Louw en haar kinders eers later na Nederland vertrek het. Sheila vertel in Insig van Januarie 1999 dat Louw daarop aangedring het dat sy vir Stoffel van hulle verhouding vertel met sy terugkeer vanaf Suid-Afrika. Stoffel het hulle egter toe reeds een middag saam gesien en Sheila het hom verlaat en alleen gaan bly. Hulle is in 1950 geskei. Daar was ’n onmiddellike aanvoeling tussen Sheila en Louw. Hulle kon oor alles gesels en “’n heerlike geargumenteerdery het baie van ons saamwees gekenmerk – dit was idee teen idee en argument teen argument.” Die verhouding het egter later tot ’n einde gekom.
Sheila het in die 1950's na Suid-Afrika teruggekeer met die skielike dood van haar enigste broer. In 1957 gaan sy na Spanje en vestig haar in Barcelona. In 1956 trou sy met die Spaanse sakeman Juam de Saladrigas, vir wie sy ontmoet het terwyl sy radiowerk gedoen het. Sy aanvaar in Barcelona amptelik die Rooms-Katolieke geloof en word in 1957 in die imposante katedraal gedoop. Uit hierdie huwelik is twee seuns gebore – Jordi, wat as kunstenaar bekend is, en Jaume, eers mode-ontwerper en later toerismeleier.
Sheila vertel aan Jeanne Coetzer in Die Burger van 15 Augustus 1979 oor haar herdoop as Katoliek in die katedraal van Barcelona. “Dit was ’n baie groot oomblik in my lewe, wat noodwendig in my werk neerslag vind. Ek het gevoel ek het tuisgekom. Ek het heel gevoel, volkome. Die Katolisisme betrek die héle mens – die emosionele, die sintuiglike én die intellektuele mens. Toe eers het ek die Christendom in die grote begryp. Dinge wat vroeër nie gerym het nie, het tóé geklop.”
Sy verduidelik die verskil tussen skryf en skilder aan Jeanne Coetzer: “Dis moeilik. Wanneer jy skryf, verbeel jy in woorde. Wanneer jy skilder, verbeeld jy in formules op doek. Jy’t te make met ritmes in vorm, lyn en kleur. Op die oomblik vind ek dat wanneer ek skryf en ek probeer dan tussendeur skilder, ek stram is. Ek maak klein vignettes in plaas van groot vrye bewegings en vorms. Ek dink om die digkuns en die skilderkuns te versoen, moet ’n mens meer abstrak skilder. Jy moet die ekwivalente vir idees in vorms vind. Dit is nou vir my die ideaal: om die poësie en die skilderkuns te integreer.”
In Sheila se eerste dertien jaar in Spanje is sy huisvrou en moeder. Saam met haar man bou hulle twee pragtige huise – een in Barcelona, waar sy ’n pragtige ateljee het en waar sy die grootste deel van haar poësie skryf, en een ’n vakansiehuis aan die Costa Brava by Estartit.
In 1970 verskyn Sheila se eerste digbundel, Plektrum, by Tafelberg Uitgewers. Dit word beskou as die beste poësie-debuutbundel wat ooit in Afrikaans verskyn het. En dit doen die verwagtinge gestand deurdat dit met die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en WA Hofmeyr-pryse bekroon word. Sy sê self dat hoewel Van Wyk Louw haar aangemoedig het om vroeër te publiseer, sy op advies van Opperman daarmee uitgestel het “totdat die lewe my ingehaal het”. FR Gilfillan skryf dat Plektrum ’n kragvertoning in diepte en vormbeheer was.
Sy vertel aan Paul Alberts in Sarie van 15 Junie 1977 dat haar verblyf oorsee vir haar ’n oorweldigende ervaring was waartydens sy baie geskryf het: “Ek wou toe weer bundel, maar Opperman het nog steeds geweier om sy seën daaroor uit te spreek. Hy’t gesê ek moet twee, drie jaar wag, sodat ’n vergisting van die baie invloede kan plaasvind. Dit was ongetwyfeld wyse raad.”
Dit was in Estartit waar Sheila in 1974 in ’n ernstige brandongeluk was. Sy het ’n paar dae in die huis gelê voordat haar seun haar gekry het. Sy bring die volgende twee jaar in die hospitaal deur. Haar gesig was veral erg verbrand en vingers aan albei haar hande moes geamputeer word, asook een van haar bene. Dat sy hierdie ongeluk oorleef het om as gestremde haar lewe weer te moet aanpak, getuig van haar wil om te leef. Sy skryf hierna van haar aangrypendste gedigte. Amanda Botha skryf in Rooi Rose van Augustus 2002 dat Sheila alles in oënskou kon neem en met haar gedig "Christ of the burned men" erkenning gee aan die “verskriklike akkoord” dat sy gemerk is vir die avontuur van Christus.
Sheila vertel in ’n onderhoud met Rooi Rose van 13 Februarie 1980 dat ’n kombuis nog altyd ’n bekoring vir haar ingehou het. “Soos my ouma se kombuis en die kombuis van my tant Siel – nie om eendag daar te staan en kook nie, maar dis altyd vir my asof die hele siel van die gesin in so ’n kombuis is.” Op ’n vraag of die kombuistema wat soos ’n draad deur haar lewe loop, al kleintyd begin het, soos in die bundel Die swart kombuis wat agt jaar na haar eerste bundel in 1978 verskyn het en ook die gedig "Die geel kombuis", antwoord Sheila: “Ja, is dit nie miskien interessant nie? Dit was toe al vir my ’n toorkombuis, ’n alchemistiese plek. En daai ou ysterstowe wat altyd warm is en waarop daar altyd iets is wat in ’n pot of ’n ketel staan en sis, amper soos die alchemis se eksperimente.”
Die swart kombuis word as ’n mylpaal in die Afrikaanse poësie bestempel en Sheila maak hierin baie gebruik van drome. Die titelvers was, soos sy dit stel: “’n soort nagmerrie wat sommer op ’n dag onverwags by my in versvorm opgekom het. Al wat ek moes doen, was maar net om te transkribeer.” Danie van Niekerk, afgetrede hoof van Tafelberg Uitgewers, beskou Die swart kombuis as ’n hoogtepunt van die Afrikaanse letterkunde wat ’n groot bydrae gelewer het tot die geestelike literatuur van nie net Afrikaans nie, maar die hele Dietse taalgebied.
Sheila se derde bundel, Verf en vlam, verskyn slegs enkele maande na Die swart kombuis en kan beskou word as haar mees visueel-geïnspireerde bundel, vol beelde en verwysings na die skilderkuns. Hoewel Verf en vlam in die geheel as swakker beskou word, bevestig dit, saam met Die swart kombuis, Sheila se digterskap.
Op uitnodiging van die SAUK om die boekeveiling van die Afrikaanse Radiodiens in 1979 by te woon, bring Sheila vir die eerste keer in tien jaar besoek aan Suid-Afrika. Sy was toe al reeds oor die dertig jaar in Europa. By die geleentheid word Die sagte sprong en Die skitterende wond, haar dubbeldoorbundels, gelyktydig bekendgestel. Dit was ook haar eerste ontmoeting met die Afrikaanse literêre wêreld. André Brink het met die verskyning van hierdie twee bundels uitgeroep: “Dit is weelde; dit is oordaad!” Met dié bundels verseker Sheila vir haar ’n plek onder die heel sterkste Afrikaanse digterstemme van die 1970's, sê Wium van Zyl, en bevind sy haar weer in noue verbinding met haar Afrikaanse wortels.
In 1979 stuur Sheila haar jongste seun, Jaume, na Suid-Afrika met die opdrag om hier te woon en werk. Hy gaan woon by sy ma se suster, Maureen.
Die somerjood word in 1980 gepubliseer en volgens Amanda Botha kom haar eie sieninge oor kunstenaarskap en die digkuns in die bundel na vore. Die bundel wat Sheila “onbetwistelik as voorste digter kroon”, Die woedende brood, verskyn in 1981. Dit verken haar gebondenheid aan haar geloof en “plaas haar as mistieke digter op die voorgrond”. Die bundel word met al die belangrike pryse bekroon: die CNA-, WA Hofmeyr-, Louis Luyt- en Hertzogprys. Benewens Die woedende brood word die Hertzogprys ook aan al haar vorige werk toegeken. Sheila vertel aan Kerneels Breytenbach dat hierdie bundel van haar beste werk bevat en dat daar heelwat gedigte in is wat haar gunstelinge is.
Sheila vertaal die Argentyn Jorge Luis Borges se kortverhale uit Spaans en dit verskyn in 1981 onder die titel Die vorm van die swaard en ander verhale. Hieroor spreek Sheila haar teenoor Kerneels Breytenbach as volg uit: “Maar die vertalings eis baie van jou. Hy is so ’n woordmens, elke woord tel so, selfs sy interpunksie, en jy moet getrou daaraan bly en dit tog nog laat lees soos Afrikaans. ’n Mens werk lank aan een so ’n verhaal. Dit is tydrowend. Dit het my maande gekos voor ek tevrede was.”
In 1982 keer Sheila na Suid-Afrika terug. Haar man het op 58-jarige leeftyd besluit om verder te studeer en haar twee seuns was groot, en hulle het as gesin elkeen in hulle “eie rigting” getrek. Dit lei tot Sheila se groot besluit. Sy het aanvanklik gedink dat sy net vir drie maande op ’n slag na Suid-Afrika sou terugkom, maar haar toe afgevra: Hoekom nie vir altyd nie? Daar was egter geen sprake van egskeiding nie. Sy moes ook na Suid-Afrika kom om die CNA- en Louis Luyt-pryse vir Die woedende brood te ontvang en besluit toe om te bly.
“Ek het al hoe meer na my land gegroei,” vertel sy aan Loep Jordaan in Rapport van 20 Junie 1982.
Vir haar sestigste verjaardag publiseer Tafelberg Uitgewers twee geleentheidstukke: Gestaltes 1947, haar eerste prosastuk, wat sy reeds in 1947 in Londen geskryf het, en Omtoorvuur, ’n keur uit haar vorige ses bundels. Die omslae van hierdie twee werke is deur Sheila self ontwerp. Sy bring ook haar nuwe bundel, Verwikkelde lyn, saam, wat in 1983 gepubliseer word.
Met die ontvangs van die CNA-prys spreek Sheila haar sterk oor die kwessie van sensuur uit en sê sy onder andere: “[Ek] glo die hele sensuuraffêre is tydmors, geldmors en self-defeating [...], maar ek dink ek sien ’n dag kom, wanneer almal in SA, al daardie waarskynlike lesers, byvoorbeeld, eindelik vry sal wees om te wei waar hulle wil, sonder om hulle siele in die proses te verloor. [...] As kampvegter vir ’n vrye literatuur, bloei ek natuurlik die meeste vir die skrywer – of tóg miskien ewe veel vir skrywer en leser: vir die geknelde kreatiwiteit, én die verarmde leser. As ’n ryk, vitale literatuur ons erns is, sal daar eenvoudig ’n end moet kom – nie ’n halwe end nie, maar ’n hele end – aan die preutse, skrikkerige onderdrukking van die natuurlike kreatiewe libido.” Tydens hierdie toespraak voeg Sheila ook haar stem by al die ander vir die begenadiging van Breyten Breytenbach.
Met die oorhandiging van die Hertzogprys aan Sheila lewer prof Merwe Scholtz van die Universiteit van Stellenbosch se Departement Afrikaans-Nederlands die huldigingswoord. Hy sê dat Sheila se werk die eerste volgehoue verwoording in ons poësie is van die haas onverwoordbare mistieke ervaring en ekstase.
Haar eerste ses bundels noem Sheila haar “Spaanse bundels”, omdat hulle almal in Spanje ontstaan het. Verwikkelde lyn is haar laaste bundel wat op Spaanse bodem geskryf is. “Dit is metafisies van aard en deurgaans introspektief bespiegelend” (Amanda Botha).
Terug in Suid-Afrika tree sy vir die eerste keer in die openbaar op. In 1983 vra Merwe Scholtz haar om vanaf die derde kwartaal die Letterkundige Laboratorium by US te lei. Hierdie Laboratorium is in 1960 deur prof DJ Opperman begin vir senior studente in die letterkunde met geld wat deur Nasionale Pers bewillig is. Na Opperman se aftrede het hy voortgegaan om elke jaar ’n groep gekeurde studente te lei en te inspireer. Weens slegte gesondheid moes hy die taak in 1982 verlaat en het Lina Spies dit behartig. Sy aanvaar egter ’n pos aan die Universiteit van Pretoria en die pos was dus vakant. Sheila het dit aanvaar en die Laboratorium vir twee jaar gelei. Sy het haarself egter nie as ’n dosent of lektrise gesien nie, maar gesê sy sal haar taak op haar eie manier aanpak en “net as digter oor die digkuns gesels”. Sy meen ook dat sy veel uit haar kontak met die studente sal leer. Sheila gee ook voorlesings oor haar eie werk aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Sheila is genooi om op ’n Akademiese Dag by die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch te praat oor die betekenis van pyn soos dit in haar gedigte vergestalt is, maar ook soos sy dit aan lyf en gees ervaar het.
In 1983 word ’n retrospektiewe uitstalling van haar kunswerk wat tot die dertigerjare terug dateer, by die Wes-Kaapse tak van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging aangebied. Dit het saamgeval met die publikasie van Die verwikkelde lyn. Die uitstalling word ook by die Bellville Biblioteek aangebied. Oor hierdie uitstalling laat Johan Bruwer hom as volg uit: “Die meeste werke op die tentoonstelling is dus ouer werk, veral uit die jare veertig en die laat sestigs. Hulle spreek van ’n fyn talent, maar ’n talent wat nog besig was om die visuele media te ondersoek en nog nie tot ’n sterk persoonlike visuele taal gevoer is nie. [...] Die visuele taal wat Cussons in haar jongste sketse praat, is basies nog dieselfde as dié van haar vroeër werke. Die verskil is dat dit wegbeweeg van die stywe, goedgemanierde idioom na die regstreekse, alledaagse uitdrukkings van ’n gewone mens wat in sy gewoonheid liefde gevind het en daarom wonderlikheid.”
Sheila se eerste bundel wat in Suid-Afrika sy ontstaan gehad het, Membraan, word in 1984 gepubliseer. Sy beskou die bundel self as haar jubelbundel, en drome is die onderwerp van baie van hierdie gedigte. Die bundel is egter met gemengde gevoelens deur die breë publiek ontvang en koel deur die literatore. Sy self het erken dat die ontvangs haar ’n knou gegee het.
In Desember 1985 besluit Sheila om voorlopig na Spanje terug te keer. Sy is in Februarie 1985 gehospitaliseer na ’n ineenstorting weens slapeloosheid. Sy is ook na Spanje vir die geboorte van haar eerste kleinkind, Max. Sy bly in Spanje tot ses maande na die geboorte op 21 Desember 1985. Sheila beskryf die ervaring in De Kat van Mei 1988 as volg: “Toe ek Max vir die eerste keer in my arms hou, het ek emosies ervaar wat ek nie geweet het ek het nie. Emosies wat ek nie onder woorde kon bring nie. Dit was die besef dat Max iets onbetwisbaar herkenbaars van my dra.”
Die heilige modder verskyn in 1988 en Sheila beskryf die bundel as “die gladwaterbundel wat homself los geworstel het uit swaar medikasie”. Amanda Botha skryf dat die mistieke krag van Sheila in hierdie verse treffend is. “Sy verwonder en verlustig haar in die eenvoudige dinge wat vir haar die ewige wonder van God omskryf.”
In 1986 word Poems gepubliseer, wat ’n vertaling is van ’n keur van haar verse deur Sheila self. Die heilige modder bevat gedigte wat gedurende die laaste derde van 1986 hulle ontstaan gehad het, asook sommiges wat in 1987 ontstaan het.
Na die verskyning van laasgenoemde bundel vertel Sheila aan André le Roux dat sy ’n inspirasiedigter is. “Verse moet by my opkom, jy weet. Ek moet ’n paar reëls gegee word. Dan werk ek daaraan. [...] Sommige kom baie, baie maklik. Ek moet sê, veel van my gedigte is sommer byna in hul geheel aan my ingegee. [...] Maar ek wil nie eens probeer om te ontleed hoe ’n gedig ontstaan nie ... daar is soveel misterie in die hele skeppingsproses.”
Sheila se laaste bundel is Die knetterende woord wat in 1990 verskyn en wat bekroon word met die WA Hofmeyrprys. In trant sluit die bundel aan by Die woedende brood en Verwikkelde lyn. Dit sluit ook ’n aantal Spaanse en Engelse verse in.
Sheila word in 1992 vereer toe die Universiteit van Natal ’n eredoktorsgraad aan haar toeken uit erkenning vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. In 1996 word ’n DLitt (honoris causa) deur die Potchefstroomse Universiteit aan haar toegeken vir haar onderskeiding as een van die belangrikste religieuse digters in die Afrikaanse digkuns en vir haar temas in poësie wat algemeen-Christelik toeganklik bly.
Vanaf Januarie 1997 woon Sheila in Nazareth House, ’n eertydse kloosterhuis in Vredehoek in Kaapstad, en met die viering van haar 75ste verjaardag publiseer Tafelberg Uitgewers ’n keur uit haar godsdienstige verse getiteld ’n Engel deur my kop. In 2000 verskyn Die asem wat ekstase is, ’n keur uit haar niereligieuse poësie.
’n Multimedia-produksie rondom Sheila se gedigte waarin die teatrale en die digkuns bymekaargebring word, het deel uitgemaak van die hooffees se Poësie-Paleis by 1998 se KKNK. Die produksie, getiteld Cussons se kombuis, is geskep deur en geregisseer deur Charles Fourie. In 2000 word ’n produksie, Heilige modder, in Bloemfontein aangebied onder regie van Gerben Kamper met teks deur Marc Hosten. Annette Engelbrecht was die aktrise.
Met haar 70ste verjaardag skryf Charles Fryer in Die Burger: “Sheila Cussons se beste gedigte word gekenmerk deur ’n sensuele aardsheid; ook ’n duiselende uitreik na die ‘Onverwoordlike’ – ’n dwarreling, ’n dans van woorde waardeur soms ’n straal skiet van ‘daardie rilling wat God is’. Sy het Afrikaans na uiterstes gevoer waar sy seggingskrag soos selde tevore beproef is, op soek na woorde wat gestalte kan gee aan dit wat raaiselagtig en verwikkeld is. Of dalk net ’n glimp, want ‘die hemel verblind verbeelding’. [...] Om Cussons te lees, is om ’n vinger oor ‘’n hunkering se grein’ te voel soek; om te weet daar het so pas ’n engel deur jou kop gegaan.”
Tydens 2002 se Woordfees en in haar 80ste geboortejaar is Sheila se dubbele kuns – woord- en skilderkuns – gevier. ’n Tentoonstelling van haar werke is in die Sasol-kunsmuseum op Stellenbosch gehou en Amanda Botha en Adrie van Eeden het die verband tussen die woord en die skilderkuns belig in ’n lesing getiteld “Sheila Cussons: verf en vlam”. Die lesing was ’n voorloper tot Helena Conradie en Annalise Wiid se woord-en-musiekprogram oor Sheila. ’n Huldigingsprogram vir Sheila is ook tydens die Volksblad-Kunstefees in Bloemfontein in 2002 aangebied.
Wium van Zyl skryf in 1997 in Die Burger van 9 Augustus dat Sheila, ondanks haar laat debuut, kan aanspraak maak op ’n unieke oeuvre wat styg bo tyd en ouderdom, poësie met ’n volgehoue lenige gang “oor Sy sneeuende sierras”.
Sheila is op 25 November 2004 in Nazareth House oorlede.
Selfs na haar dood bly sy steeds die fokuspunt van besprekings. In 2007 was sy die fokus van die Afrikaanse Letterkundevereniging se simposium tydens die Woordfees en in 2006 verskyn haar Versamelde gedigte, wat tydens die Versindaba op Stellenbosch bekendgestel word. Hierin verskyn sekere verse van Sheila vir die eerste keer – verse wat haar debuutbundel sou gewees het, soos aanbeveel deur NP van Wyk Louw. Hierdie verse is deur Johann de Lange “ontdek” in ’n stapel dokumente wat in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) bewaar word. De Lange meen dat die verse, wat onder die titel Dekade 1943-1953, verskyn, pragtig is uit eie reg. “Ek glo hulle gee ’n vollediger beeld van die jong Cussons en hoe sy met haar medium geworstel het op soek na ’n eie stem.”
In 2008 ontvang Sheila die Suid-Afrikaanse Literêre Toekenning Postuum van die Nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur vir haar letterkundige bydrae.
Huldeblyke aan haar:
- André P Brink: "Met maar min woorde het sy vir haar ’n plek in die Afrikaanse literatuur, en in ons gewete, oopgeskroei waaruit nog lank heling en nuwe groei denkbaar is."
- Antjie Krog: "Ek het deur baie digters leer skryf, maar deur Sheila Cussons se werk het ek leer leef. Sy het die sintuie oopgeboor van almal wat poësie liefhet en ons met taal op ’n high gesit."
- Wilma Stockenström: "’n Vriendskap meet jy nie in jare nie, veral nie as ’n mens reeds in die eerste oomblikke ’n affiniteit voel gegrond op ’n respek vir mens, dier en ding nie. Haar aardse humorsin het my aangetrek. Sy bly vir my die vrou van die onverminkte gees. Haar liggaamlike gebrek het jy sommer dadelik vergeet, want haar gees was helder, so deurstraal soos haar verse."
- TT Cloete: "Cussons kon ’n gedig skryf oor hoe ’n digter ’n gedig skryf, wat ons ’n insig gee in haar innerlike werkwyse. Sy was nie net digter nie, maar ook skilder, wat graag geskryf het oor ander skilders en oor skilderye, etse en akwarelle. Hierdie gedigte bied ’n verstommende insig in die onvergelyklike talent van hierdie digter en in die toorkrag van haar woord."
- Hennie Aucamp: "Sheila Cussons het ’n Helleense helderheid en harmonie na die Afrikaanse letterkunde gebring, in haar prosagedigte sowel as in haar poësie. Ook in haar alledaagse spraak was daar ’n swewende ligtheid, die deursigtigheid van ’n vlam, veral haar beeldspraak."
- Johann de Lange: "As digter was Sheila Cussons se bydrae tot die Afrikaanse poësie onberekenbaar. Haar begeerte om tydloos te wees, is vervul."
- Hannes van Zyl: "Sy het lig gedra aan haar wysheid, haar wye visuele geletterdheid, haar fyn humor. ’n Tyd by haar het ’n verskerpte sin vir wonder en wondbaarheid gebring; ’n stil blydskap in die lewe, asof ’n mens ’n uur naby ’n engel was."
- Zandra Bezuidenhout: "Vir my was Sheila Cussons die een met die aanvoeling vir die mistieke."
- Wium van Zyl: "Ons het ’n groot digter verloor, maar ’n digter met ’n nalatenskap só ryk dat ons haar bede, troos en skerpte nie sal kan vergeet solank ons die onbekende deur Afrikaans bly oopkloof nie."
- Vader Peter John Pearson: "Sy was iemand wat ’n evangelie van transendensie geleef het, een van vreugde en vrede oor pyn."
- Hans Ester: "Sheila Cussons toets die taal voortdurend op sy moontlikhede. Die versreëls rol dikwels soos golwe oor mekaar. Daar is soveel wat by die digter aandring om in woorde weergegee te word."
Terug na bo
Publikasies:
Terug na bo
Sheila Cussons as vertaler
- Borges, Jorge Luis: Die vorm van die swaard en ander verhale. Kaapstad: Tafelberg, 1981 [ISBN 0624016579 (hb)]
Terug na bo
Artikels oor Sheila Cussons beskikbaar op die internet
- Aucamp, Hennie: Die lyf as landskap 2005
- Botha, Amanda: Die kunstenaarskap van Sheila Cussons
- Botha, Amanda: Sheila Cussons word 80
- Digter van ’n ewige jeug
- Du Plessis, Bertie: Cussons dig ’n venster oop op die ewigheid
- Du Plessis, Bertie: ’n Visie vir die lewe
- Engelbrecht, Theunis: Cussons het duiselend uitgereik na die onsêbare
- Hambidge, Joan: Sheila Cussons
- Sheila Cussons oorlede
- Smith, Francois: Cussons sê sy is klaar gedig
- Smith, Francois: Mistieke blom van die aarde
- Spies, Lina: Kluitbeklam na die lig
Terug na bo

Terug na bo
Bygewerk: 2009-03-12 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|