Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Versoening gaan juis hand aan hand met transformasie
Christi van der Westhuizen
2009-09-03 Druk dit/Print it

In Gerrit Brand se artikel word aangevoer dat die “politieke spel” in Suid-Afrika nie op grond van die versoeningskonsep voortgesit kan word nie en dat ’n “meer saaklike toonaard van ‘geen stabiliteit sonder ’n regverdiger verdeling van mag, status en hulpbronne nie’” nodig is.

Ek wil eerder aanvoer dat “’n regverdiger verdeling van mag, status en hulpbronne” juis tot dusver die voorwaarde vir versoening was en dat juis dít sommige, moontlik die meerderheid, wit mense uiteindelik laat wegskram het van versoening as politieke opsie. Voorts behels versoening die moontlikheid vir die loswikkel uit apartheidsidentifikasies, wat die weg vorentoe na ’n inklusiewe Suid-Afrikanerskap voorberei.

Versoening is nie net “berou, belydenis en vergifnis” nie. Hierdie begrippe is wollerig en herinner te veel aan ’n Christelik-godsdienstige retoriek, ’n geldige punt van kritiek wat al teen Desmond Tutu oor sy hantering van die WVK gerig is.

Versoening is eerder die erkenning en praktiese oorbrugging van veral die maatskaplike krake wat apartheid en kolonialisme veroorsaak het. Dit behels die ommekeer van daardie stelsels se onderdrukkende insluitings en uitsluitings van individue op grond van sekere maatskaplike konstruksies.

Voorts is versoening nie teenstrydig met transformasie nie, soos Brand redeneer, maar gaan versoening en transformasie hand aan hand. Laasgenoemde gaan tog oor ’n ommekeer van die politieke, ekonomiese en maatskaplike nalatenskap van apartheid- en koloniale ongeregtigheid. Soos die volledige onthulling van apartheidsmisdade die WVK se voorwaarde vir die kwytskelding van apartheidsoortreders was, so behels versoening ’n proses wat onder meer ’n erkenning van die verlede se ongeregtighede en die herstel daarvan vereis.

Hoewel dit waar is dat nie alle wit mense “ewe skuldig aan apartheid” is nie, het alle wit mense by apartheid gebaat – selfs wit anti-apartheidsaktiviste; selfs wit vroue wat gender-diskriminasie van wit mans moes afweer. Voorts is dit waar dat sommige swart mense met die rassistiese regime meegewerk het, maar dit verwyder nie die feit dat ook hulle onder rassistiese diskriminasie gely het nie.

Ook beteken die feit dat daar Suid-Afrikaners ná die amptelike afloop van apartheid gebore is, nie dat hulle die historiese nalatenskap van apartheid – bevoorregting en benadeling op grond van ras – vrygespring het nie. Dit is te vroeg om die teenoorgestelde voor die voet aan te neem, ook gegewe die teenstand wat transformasie kry.

Hier probeer ek nie aanvoer dat swart Suid-Afrikaners moet wag op grootskaalse wit boetedoening nie. Ek probeer wel aanvoer dat dit in wit mense se belang is om transformasie deur middel van die uitwissing van die gevolge van die rasse- en ander diskriminasies van die verlede te ondersteun. Die uitwissing van diskriminasie is noodsaaklik vir die verwesenliking van die liberaal- en sosiaal-demokratiese regte in die Grondwet. Die verwesenliking van hierdie regte is ook deel van transformasie en help dus versoening verder aan.

Maar ongelukkig blyk dit dat die transformasie-aspek van versoening die verwerping van laasgenoemde deur wit én swart mense, om verskillende redes, veroorsaak. Die meeste swart mense het nog te min transformasie ervaar; heelparty wit mense wil die minimum transformasie sien. Die feit dat swart mense ook versoening nie meer as politieke projek omhels nie, word gewoonlik oorskadu deur die steeds meer invloedryke wit verwerping daarvan.

Maar kom ons kyk eers hoekom heelparty swart mense nie meer sou belangstel in versoening as demokratiese projek nie.

Transformasie per die definisie hier bo uitgespel is uiteraard nie die transformasie wat die ANC tot dusver in die praktyk in werking gestel het nie. Regstellende aksie, die ANC se poging om die samestelling van instellings weerspieëlend van die nasionale demografiese werklikheid te maak – wat Brand uitlig – is een voorbeeld van transformasie in die praktyk.

In die Mbeki-era het die klem veral op die interseksie tussen ras en middelklas geval, vandaar die impetus vir regstellende aksie en die opbou van ’n swart middelklas deur swart ekonomiese bemagtiging. (Gender is op die hoër politieke vlakke meer gebruik as ’n status-klassifisering om die lojaliteit van ’n klompie vroueleiers in te win.)

Die transformasie gemik op die uitbouing van ’n swart middelklas was tot dusver geslaagd – ook weens die ekonomiese bloeitydperk van die middel-2000’s – maar steeds te beperk in omvang. Transformasie het ook daaroor gegaan om die staat aan te wend om rasgegronde armoede meer breedweg aan te pak deur welsynstoelae, behuising, basiese dienste en dies meer aan swart mense beskikbaar te stel. Mislukkings in hierdie verband het meer te doen met die uitwerking van die neoliberale aspekte van die ANC se ekonomiese beleid en die insinking in staatskapasiteit as met ’n gebrek aan politieke wil, per se.

Neoliberalisme en die beperktheid van staatskapasiteit het veral bygedra tot die verlangsaming van transformasie in Suid-Afrika, met die gevolg dat Suid-Afrika se Gini-koëffisiënt – die internasionale maatstaf vir maatskaplik-ekonomiese ongelykheid – vererger het en sowat 50 persent van die samelewing steeds op of onder die broodlyn lewe.

Dié situasie het veral tot ontgogeling by swart mense gelei. Die Grondwet se beloofde menseregte, wat transformasie deur sosiaal-ekonomiese beregtiging belowe, het betekenisloos geraak in lewens waarin selfs dag-vir-dag-bestaan alreeds ’n opdraande stryd is. Deel van die kulturele nasleep van neoliberalisme is die opvallende materialisme en verbruikerskultuur van die swart en wit elite en middelklasse, wat die ander klasse verstaanbaar met wrewel vul en waarskynlik misdaad verder aanstu. Uiteindelik het die gebrek aan transformasie vir die onderste helfte van die bevolking versoening betekenisloos gemaak.

Buiten ’n al hoe manker wordende staat, het die faktor van neoliberale kapitalisme transformasie laat vashaak. Neoliberalisme, wat hier verstaan word as ’n ekonomiese en maatskaplike beleid insluitend liberalisering, deregulering en die inkorting van maatskaplike staatsbesteding, het oral ter wêreld die vergroting van die welvaartsgaping tot gevolg. In Suid-Afrika het hierdie gevolg ’n selfs onregverdiger uitkoms, gegewe dat die welvarendes in Suid-Afrika histories wit is en wit mense daarom veral baat by die ANC-regering se grotendeels neoliberale beleidsrigting. Heelparty swart mense wat sukkel om vooruitgang te maak in die konteks van ’n oorheersend(e) wit privaat sektor, sal uiteraard verbitterd voel.

Soos hier bo aangedui, is transformasie in die vorm van die verwesenliking van die waardes en beginsels van die Grondwet in die belang van wit mense. Tog het heelparty wit mense onttrek van versoening as projek weens juis die oproep tot transformasie – die “regverdiger verdeling van mag, status en hulpbronne” – as deel van versoening. Hoekom? Versoening as diskoers wedywer met ’n diskoers van witheid, ’n kontinuïteit uit die apartheidsverlede wat steeds kragtig op wit én swart mense inwerk.

Witheid, of die identiteit van wit oppergesag, word internasionaal eers sedert relatief onlangs as diskoers ontleed. Een van die redes is dat dit eerstens as die onsigbare middelpunt werk vir die skepping van betekenis en die rangskikking van maatskaplike verhoudings. Wat hier van belang is, is die konstruksie van ontkenning as deel van die identiteit van wit oppergesag, ’n proses wat vergemaklik word deur die onsigbare sentrale posisie van witheid as betekenismaker.

Net soos onder meer wit Amerikaners, wit Australiërs en wit Argentyne byvoorbeeld "hard gewerk" het vir wat hulle vandag het, net so het wit Suid-Afrikaners, en dan spesifiek Afrikaners, “hard gewerk” vir wat ons het. Vergete is die wette en die instellings en die informele praktyke waarmee wit mense swart mense gerelegeer het tot nieburgers in hul eie land; en die verskeidenheid misdade wat in die naam van kolonialisme en, hier, apartheid gepleeg is om aan wit mense te oorhandig waarvoor hulle kwansuis so “hard gewerk” het. (Dit is nie te sê dat wit mense glad nie gewerk het nie. Uiteraard het hulle. Maar hulle het deurslaggewende hulp ontvang van wit wette, norme en instellings.)

Die ontkenning van bevoorregting, as deel van die kragtige diskoers van witheid, maak dit vir baie wit mense moontlik om versoening te verwerp as dit nie volgens hul eie voorwaardes geskied nie. En hierdie voorwaardes sluit in die verskansing van wit bevoorregting en die verwerping van transformasie.

Wat laastens pla in Brand se artikel, is die verwysings na groepe en intergroepspanning en -konflik. Ten spyte van die suggestie dat sommige standpunte nie groepsverteenwoordigend is nie, is daar ’n aanhoudende verwysing na groepe sonder kwalifikasie. Ons moet onthou dat hierdie groepe “verbeelde gemeenskappe” is; dat Afrikanerskap en witheid en swartheid en bruinheid slegs maatskaplike konstruksies is; en dat elites hierdie konstruksies vir magsdoeleindes manipuleer.

Wit mense se aanhang van ’n regressiewe diskoers wat uit apartheid oorgedra is, gebeur nie in ’n vakuum nie, maar is die produk van steeds bestaande Afrikaner- en wit elites se gekonkel om mag te versamel (soos dit ook in die apartheid-era was). Die uiterste gevolg van die diskoers is jong Afrikanermans (gewoonlik mans) wat rassistiese geweld pleeg.

Swart mense se gewelddadige aanvalle op die swarter Ander van elders op hierdie vasteland gebeur in ’n konteks van gemeenskapsgegronde en nasionale swart elites se haatspraak teen andere (op grond van geslag, seksuele oriëntasie of politieke affiliasie). Eerder as Brand se suggestie dat sulke aanvalle ’n wegbeweging van “foutlyne van die verlede” is, is die aanvalle met gepaardgaande haatspraak juis ’n voortborduring op apartheid se aangeleerde anders-maak van mense; die hiërargiese indeling van identifikasies wat diegene met minder mag as teikens beskikbaar stel vir diskriminasie. Ons is vandag nog steeds lede van rassekuddes weens die langdurigheid van apartheid se anders-maak-prosesse. Versoening gegrond op transformasie is een van die hoofweë uit die moeras van rassekudde-denke, wat uiteindelik die enigste manier is om stabiliteit te verseker.

Laat weet wat jy hieroor dink op Gerrit Brand se blog, DinkNet.

<< Terug na die Versoening Miniseminaar <<



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Elbie Adendorff
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur