| LitNet Akademies-heupvuur: Francis Galloway gesels met Jan Hendrik Naude |
Francis Galloway, Jan Hendrik Naude
Jan Hendrik Naude se artikel, “Tegnologiese singulariteit en transendentale monisme: medeskeppers van volhoubare alternatiewe toekomste”, het pas op LitNet Akademies verskyn. Francis Galloway het hom daarna uitgevra.
Wat is "Toekomsstudie"? Klink soos 'n veld vir wetenskapsfiksie!
Toekomsstudie is nie ‘n “kristalbal”-dissipline nie, maar ‘n multidissiplinêre studieveld vir die ontwikkeling van alternatiewe toekomste. In plaas daarvan om jou geld op ‘n fortuinverteller te verkwis en niks wyser oor die toekoms te word nie, is dit beter om jou eie grysstof op ‘n gestruktureerde wyse in te span en self so bietjie oor die toekoms te tob. Die geheim hier is nie om te probeer bepaal wat die toekoms gaan oplewer nie, maar (en dit is die kern) om te besluit hoe jou toekoms moet lyk en dan tot aksie oor te gaan om daar uit te kom.
Wat beteken die titel van jou artikel in leke-terme?
Die mens is liggaam, siel en gees wat ‘n nuuskierigheid het vir wat die toekoms vir hom/haar inhou. Hierdie nuuskierige agie gebruik basies twee metodes om die toekoms te verken, naamlik ‘n hardewerklikheid-metode (die wetenskaplike) en ‘n filosofies-spirituele metode (die geestelike “nerd”). Die ouens wat die hardewerklikheid-metode gebruik, is tans so besig om elkeen op sy/haar eie gebied nuwe dinge te ontwikkel dat hulle nie agterkom dat ‘n punt bereik is (singulariteitsgebeurtenis) waar al hulle harde werk ineen gaan vloei en die mens se toekoms radikaal gaan verander nie. Die geestelike “nerds”, daarenteen, bly iewers daar bo in die wolke rondrits asof daar geen harde werklikheid is nie en waar hulle ‘n ander soort werklikheid ervaar wat nie ernstig deur die ander opgeneem word nie.
So, ek argumenteer dat die twee groepe bymekaar moet kom om ‘n sinergie te ontwikkel vir die skep van die beste moontlike toekoms vir die mensdom: ‘n toekoms wat beter gaan wees as die een waarnatoe ons tans op pad is … en ons huidige beste is tans nie goed genoeg om lewe op die planeet volhoubaar te maak nie.
Het die (internasionale) debat tussen voorstanders van meer innovasie en die teenstanders van innovasie al neerslag gevind op wetenskaplike en spirituele vlak in Suid-Afrika? Waar? Hoe? Wie?
Ek glo nie so nie - en as dit het, is dit baie beperk in omvang. Ek reken dat ons in Suid-Afrika te veel gepla is met politieke en sosiale wanbalanse in ons land. Hoewel dit belangrike debatte in ons onderontwikkelde land is, kan ons beter konteks daaraan gee deur die debat op ‘n hoër vlak te voer, naamlik om weg te beweeg van die ideologiese onderbou daarvan en eerder ons situasie binne die konteks van die globale wetenskaplike en geestelike uitdagings te bekyk.
Hoekom is "informasie" nie dieselfde as "in-formasie" nie?
Informasie is blote data en op sigself beteken dit nie veel as jy nie iets konstruktiefs daarmee doen nie. In-formasie, daarenteen, beteken dat ons moet raaksien dat die data belangrike skeppingsvermoëns het en dat ons die skeppende element daarvan moet gebruik om iets konstruktief daarmee te maak.
Wat sien jy as die groot uitdaging(s) van ons tyd en toekoms?
Die grootste uitdaging is om ‘n oop gemoed oor vandag en die toekoms te hê, dit wil sê om groot ruimte te laat in ons denke vir die moontlikheid dat ons verkeerd kan wees in die aannames wat ons oor ons huidige situasie en ons toekoms het. Die hardewerklikheid-voorstanders moet oop wees daarvoor dat die werklikheid ook ander vorme kan hê en dat hulle nie alleen oor die waarheid beskik nie. Die geestelike “nerds” moet oop wees daarvoor dat ons met ons voete op ‘n fisiese planeet staan en dat daar rekening gehou moet word met daaglikse werklikhede waarvoor oplossings bewerk moet word.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|