| Hoe standaard kan ‘n taal wees? Perspektiewe op die teenstrydighede van Afrikaans |
Ernst Kotzé
Bydrae gelewer tydens Roots-konferensie by Universiteit van Wes-Kaapland, 22-23 September 2009 Prof Ernst Kotzé , Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Port Elizabeth 1. Inleiding Die bekende taalkundige Max Weinreich het in 1945 ’n treffende definisie gegee van wat nou eintlik ’n taal is. Sy bewoording in Jiddisj lui: “A shprakh iz a diyalekt mit an armey un a flot”, oftewel “’n Taal is ’n dialek met ’n leër en ’n vloot.” Hierdie definisie kan goedskiks aangepas word om ’n standaardtaal te definieer, naamlik as ’n taal met ’n leër en ’n vloot. In hedendaagse terme sou ’n mens kon praat van ’n taal wat bemagtig is om die funksies te verrig wat daarvan ’n standaardtaal maak. Standaardisasie as taalbemagtiging volg tradisioneel ’n bepaalde roete waardeur die betrokke taal eerstens deur ’n aanpassingsproses gaan om aan bepaalde kommunikatiewe voorwaardes te voldoen (byvoorbeeld deur korpusbeplanning) en tweedens amptelike sanksie ontvang, of “gelisensieer” word (deur ’n vorm van statusbeplanning), om sekere belangrike funksies te vervul wat vir die behoorlike taalinfrastruktuur van die land as noodsaaklik geag word. Hierdie twee aspekte van standaardisasie is uiteraard interafhanklik, maar kan ook, soos ek hoop om aan te toon, afsonderlik funksioneer. Ter wille van groter duidelikheid en begrip wil ek graag die afgeleide terme destandaardisasie en herstandaardisasie kontrasteer en soos volg definieer: Destandaardisasie beskou ek as die omgekeerde van standaardisasie, waardeur die taal (a) sy sanksie of lisensie ontneem word om soos voorheen te funksioneer en (b) leksikaal ontmagtig word deur die afname of beëindiging van sowel taalinterne normering as die gebruik van die taal vir die hoër funksies waarop die normering afgestem was. Met herstandaardisasie, aan die ander kant, bedoel ek ’n herdefiniëring van standaarde, deurdat nuwe norme van toepassing gemaak word, of ander of nuwe funksies aan die taal toegeken word. Ek wil graag die voordrag struktureer deur die soeklig op drie fasette van die tema te laat val, wat hopelik sal lei tot ’n ingeligte perspektief op wat met Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika aan die gang is. Die eerste faset behels die historiese roete wat standaardisasie in Afrikaans gevolg het, die tweede die sosiolinguistiese effek wat die 1994-kentering tot gevolg gehad het, en die laaste die wyse waarop standaardisasie (of herstandaardisasie) as nadraai van die gebeure van 1994 taalpolities gestruktureer word. 2. Die roete van Standaardafrikaans Om die proses van standaardisasie goed te kan kleinkry, is dit nuttig om Haugen se welbekende raamwerk van vier stappe ook op Afrikaans toe te pas. Hierdie stappe is naamlik: (1) seleksie, (2) kodifisering, (3) funksie-uitbreiding en (4) aanvaarding. Wat in gedagte gehou moet word, is dat hierdie stappe nie noodwendig volgens ’n vaste patroon op mekaar volg nie, soms gelyktydig plaasvind, en soms selfs mettertyd herhaal word. Die seleksie van ’n taal of taalvariëteit deur ’n taalgemeenskap is normaalweg (maar nie altyd nie) ’n eerste stap op hierdie roete. Hierdeur word die inherente variasie van so ’n taalvariëteit drasties verminder, ter wille van optimale bruikbaarheid. ’n Mens sou hierdie keuse as ’n taaleksterne proses kon beskryf. Seleksie is egter ook ’n taalinterne proses: hiervolgens word bepaalde taalelemente van tyd tot tyd gestandaardiseer aan die hand van sekere formele vereistes (dit sluit aan by die vermindering van inherente variasie hier bo genoem). 2.1 Taaleksterne prosesse Ek bepaal my dan eerstens by die taaleksterne seleksieproses in soverre dit op Afrikaans van toepassing was. Die motivering en besluit vir die seleksie van Afrikaans as standaardtaal naas Engels en bo Nederlands was van meet af aan geen eenvoudige saak nie. Voordat Engels as regeertaal op die toneel verskyn het, was daar geen twyfel oor die superioriteit van Nederlands as die hoëfunksievorm in die diglossiesituasie nie, ’n situasie wat reeds uit die ontstaansperiode van Afrikaans dagteken en waardeur ’n skeiding van sogenaamde hoër en laer funksies saamhang met ’n keuse van óf die een óf die ander vir die betrokke soort kommunikasie. Ná die Britse oorname van die Kaap het ’n nuwe faktor egter na vore gekom, en in die besonder in reaksie op die doelbewuste verengelsingsbeleid van lord Charles Somerset (vanaf 1822), naamlik ’n sentiment van solidariteit rondom Nederlands teenoor die taal van die koloniale heersers as gevolg van die ontmagtiging van die nie-Engelssprekende bevolking. Die aanvanklike steun by sommige Afrikaanssprekendes vir Nederlands as gevestigde taal teen die genoemde verengelsingsbeleid was waarskynlik ’n onbewuste vereenselwiging met wat hulle as eenvoudig ’n spreektaalvariëteit van Nederlands beskou het. Die houding van 19de-eeuse Afrikaanssprekendes teenoor hulle taal, as gevolg van die diglottiese verhouding met Nederlands, was dus in wese ambivalent. Nederlands is beskou as ’n soort ouboet-taal wie se hand hulle kon vashou in die aangesig van die oorheersende teenwoordigheid van die nuwe koloniale/kolonialistiese base, terwyl die taal wat hulle gepraat het, wel, darem nie juis opgewasse was teen die mag van Engels nie. Siedaar die ontstaan van die koloniale geestesingesteldheid ("colonial mindset") by Afrikaanssprekendes – iets wat tot vandag toe nog voortduur. Daar was egter ook ’n praktiese oorweging: daar was ’n intuïtiewe besef dat taalinterne standaardisasie, of kodifisering, by die spreektaal ontbreek het. Om met Engels in konkurrensie te tree, moes ’n taal ’n goed-gedokumenteerde grammatikale en leksikale grondslag hê. En juis hier was daar sterk teenstand teen die bevordering van ’n ongekodifiseerde variëteit soos die spreektaal van die heterogene versameling sprekers van wat beskou is as ’n verinheemste Nederlands. Hierdie gebrek aan kodifisering van die Afrikaanse spreektaal was die grondslag van die problematiek rondom die seleksie van Nederlands as bemagtigingsmedium en taal van identiteit. Die kernprobleem was dus verdeeldheid onder die sprekers van ongestandaardiseerde Afrikaans oor die mees geskikte wapen in die stryd om taalbemagtiging: die skryftaal Nederlands, of die spreektaal Afrikaans. Dit sou dus ’n bemagtigingstryd op twee fronte wees: enersyds om gelykberegtiging met Engels, en andersyds oor die seleksie van die mees geskikte vorm as standaard. Die verdere interessante verloop van hierdie taaleksterne stryd tot die erkenning van Afrikaans as ampstaal in 1925 is, weens tydsbeperkings, ’n verhaal vir ’n ander geleentheid. Wat die taalinterne proses betref, net die volgende: die aanvaarding in beginsel, teen die einde van die 19de eeu, van die versameling gesproke variëteite wat as Afrikaans bekend gestaan het as kandidaat vir standaardisering het die tafel gedek vir ’n proses van gerigte kodifisering en die uitbreiding van gebruiksfunksies. Kodifisering het egter deur verskeie voorstadia gegaan voordat daar oor ’n gemeenskaplike ortografie vir Afrikaans ooreengekom kon word. In hierdie prestandaardisasiefase is daar aanvanklik doelbewus van Nederlands afgewyk (vgl hier die Ons Klyntji- en Patriot-spelling). Hierdie ortografie het deel uitgemaak van ’n hele literatuur van populêre kultuur, of volkskultuur, wat ’n fonetiese weergawe van Kaaps-Hollands verteenwoordig het, en meestal informeel en humoristies van aard was. Die populêre geskrifte is dikwels gekenmerk deur stereotiperings van sosiolektiese variëteite. Maar ook meer formele tekste is foneties weergegee, byvoorbeeld Moesliems wat godsdienstige geskrifte in Afrikaans met behulp van die Arabiese ortografie geskryf (of sogenaamd getoelies) het, ’n aanduiding dat daar wel behoefte was aan ’n duidelik verstaanbare skriftelike medium vir onderrigdoeleindes, sonder ikoniese waarde of as identiteitsmerker. Reeds in die 1870’s het ook Hoogenhout gedeeltes uit die Bybel (byvoorbeeld "Die Geskiedenis van Josef") in Prestandaardafrikaans gepubliseer. Om saam te vat sou daar, met verwysing na Ponelis (1992), altesaam vyf skryftradisies geïdentifiseer kon word: - Afrikaans-Hollands, ’n poging van swakgeletterde Afrikaanssprekendes om Nederlands te skryf.
- Die Afrikaanse koeranttradisie van die 1840’s, vanaf Meurant, op Nederlandse lees geskoei.
- Die Arabies-Afrikaanse skryftradisie gedurende die eerste helfte van die 19de eeu, wat in madrassas, of Kaapse Moesliemskole, tot die 1950’s voortgeduur het. (Hierdeur is ’n eie Arabiese ortografie vir Afrikaans ontwerp, waardeur daar bygedra is tot die kultivering van die taal as draer van Islam, asook die bestendiging van Afrikaans binne die wêreld van Islam.)
- Die tradisie van Di Patriot en Ons Klyntji, ’n nuwe koeranttradisie waardeur daar, soos gesê, doelbewus van die Nederlandse spelpraktyk afgewyk is.
- Die skryftradisie van die SA Akademie vanaf 1915.
Met die totstandkoming van die eerste Taalkommissie in 1911 as Kommissie voor Taal en Letteren is daar ’n begin gemaak met ’n meer wydlopende proses van kodifisering, wat nie slegs vir spelreëls voorsiening sou maak nie, maar ook vir ’n omvattende verklarende woordeboek van die Afrikaanse taal, ’n grammatika van Afrikaans en vertalende woordeboeke tussen Engels en Afrikaans. Die belangrikheid van die normering van die ortografie is egter reeds besef voor die seleksie van Afrikaans as standaardiseringsvariëteit, en in die Kaapkolonie is ’n stel spelreëls reeds in 1908 deur die sogenaamde Afrikaanse Taalvereniging opgestel. CJ Langenhoven het dit met betrekking tot die ontwikkeling van leer- en leesmateriaal duidelik gestel dat so iets net kon slaag as die grondslag van ’n ooreengekome spelling gelê is. Ná die verampteliking van Afrikaans het die staat toenemend as normeringsagent opgetree, byvoorbeeld deur die instelling van ’n Nasionale Taaldiens en verskeie taaldiensstrukture in ’n verskeidenheid staatsdepartemente. Ook die nasionale radiodiens, die SA Uitsaaikorporasie, het toenemend ’n rol as normagent begin speel, ’n funksie wat mettertyd belangriker geraak het met die koms van televisie. Tot hiertoe dan voorlopig die historiese verloop van die standaardisasieproses by Afrikaans in soverre dit betrekking het op die deelprosesse van standaardisasie, naamlik seleksie, kodifisering, normering en funksie-uitbreiding. ’n Belangrike oorweging wat ook ’n rol speel wanneer die moontlikheid van herstandaardisasie ter sprake kom, is die feit dat die niegestandaardiseerde variëteite van Afrikaans as omgangstaal, dus in die private domein, geo- en sosiolekties bly voortbestaan het. Hiermee word hoofsaaklik die suidwestelike en noordwestelike variëteite (ook bekend as Kaapse en Oranjerivierafrikaans) bedoel, maar ook niestandaardaspekte van die oostelike variëteit, histories bekend as Oosgrens-Afrikaans, waarop Standaardafrikaans primêr gebaseer is. Belangrik is dat die standaardtaal (hier dus Standaardafrikaans) slegs ’n register, of groep registers, verteenwoordig uit al die variëteite van Afrikaans, ’n register wat bedoel is om bepaalde funksies te vervul, byvoorbeeld akademiese diskoers, wetgewing, edm. 2.2 Taalinterne aspekte van standaardisasie As ons nou na taalinterne aspekte van standaardisering in Afrikaans kyk soos dit in die verlede plaasgevind het en tans nog plaasvind, kan daar in ooreenstemming met die verskillende taalbeskrywingsvlakke ’n sekere indeling gemaak word. Benewens die ortografie, wat slegs die sigbare verpakking van ’n taal verteenwoordig, vind standaardisasie naamlik ook plaas ten opsigte van uitspraak (fonologie), grammatika en die leksikon (laasgenoemde ook ’n funksie van ’n publikasie soos die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls). - Beginnende by die leksikon word daar, wat die algemene leksikon betref, byvoorbeeld deur die Taalkommissie erkenning gegee aan nuwe items, die aanvaarding van vroeëre niestandaardwoorde en die skrapping van verouderde items. Wat betref terminologie (dus gespesialiseerde leksikon), word die standaardisasierol grotendeels vervul deur die samestellers van vakwoordeboeke, wat egter ook kennis neem van bepaalde riglyne wat deur die Taalkommissie neergelê word en in dié opsig ook moet voldoen aan die Spelreëls wanneer nuwe terme geskep word.
- Wat uitspraak betref, bestaan daar geen algemene voorskrifte nie (behalwe Le Roux en Le Roux se Uitspraakwoordeboek van Afrikaans, wat die enigste betreklik uitvoerige bespreking en beskrywing van die klanke van Afrikaans bevat, aan die hand van IPA-transkripsies, soos die outeurs dit vakkundig waargeneem het vanaf rondom 1945. Die feit dat daar beslis ’n behoefte aan so ’n woordeboek bestaan (het), blyk uit die vyf uitgawes tot 1976 en die feit dat die vierde uitgawe oor nege jaar drie herdrukke beleef het. ’n Mens vermoed dat hierdie behoefte ook verband gehou het met die onderrig van Afrikaans aan niemoedertaliges. Verder openbaar die outeurs ook ’n sensitiwiteit vir uitspraakvariasie en stel dit duidelik dat die fonetiese transkripsies maar een moontlike uitspraak (uit ’n aantal moontlikhede) van die betrokke lemma verteenwoordig.
- Wat die standaardisering van grammatika betref, is daar geen amptelike of semi-amptelike liggaam soos die Taalkommissie wat besluite oor ’n standaardgrammatika van Afrikaans neem en publiseer vir kennisname deur taalgebruikers nie, hoewel daar tans sprake is van ’n internetpublikasie te dien effekte wat deur die Taalkommissie geïnisieer sal word. Hoewel dit die bespreking effens vooruitloop, is dit is op hierdie stadium ook van belang dat die Taalkommissie in die nuwe bedeling ná 1994 deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad opgeneem is as Tegniese Komitee vir Standaardisasie van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans.
2.3 Die rol van stigmatisering Aangesien die sosiale stratifikasie van die taalgemeenskap ’n bepalende rol gespeel het by die vaslegging van die standaardtaalbasis, en die taalvorme van dié wat sosio-ekonomies beter daaraan toe was, ook deur die normering bevoordeel is, is variante wat hiervan verskil het, gestigmatiseer. Dit het beteken dat stereotipes (veral fonologiese sjibolette, maar ook leksikale variante) wat ander variëteite kenmerk, as niestandaardvorme uit die taalgebruik van normerende instansies soos die radiowese, die gedrukte media en die regswese geredigeer is. Dit het deur die grootskaalse politisering van rasseverskille ook bygedra tot diskriminasie op taalgronde. Die implikasies van die apartheidsbeleid was sodanig dat nie net rasse van mekaar geïsoleer is nie, maar rasgekoppelde variëteite van dieselfde taal as skeidingsmaatstaf gebruik is. 3. Die sosiolinguistiese effek van '94 op die standaardstatus van Afrikaans Die totale herrangskikking van die taallandskap in die nadraai van die staatkundige kentering in 1994 en die gelykstelling, de jure, van 11 tale in Suid-Afrika onder die grondwetlik bepaalde toesig van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, het ’n wydlopende effek gehad op sowel die strukture vir standaardisasie (ook met betrekking tot die nuwe ampstale) as die wyse waarop standaardisasie plaasgevind het. Hoewel dit alle amptelike tale raak, bepaal ek my hier, in die lig van my tema, by die effek op Afrikaans, en by die vraag of daar sprake van destandaardisering kan wees. 3.1 Taaleksterne destandaardisering? In ’n meertalige samelewing waarin ’n aantal ampstale geakkommodeer word, word die verwagting geskep dat elk van dié tale sekere hoër funksies moet kan vervul. In watter mate dit realiseerbaar is, hang van twee faktore af: die ontwikkeling van gepaste registers in ’n betrokke taal (in die vorm van ’n standaardvariëteit), en of die wil daartoe by die taalgemeenskap bestaan. Daarby speel materiële vermoë en die politieke wil van die owerhede uiteraard ook geen geringe rol nie. Teen hierdie agtergrond is die ontwikkeling en rol van ’n standaardregister in Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika dan te beoordeel. Eerstens is die vlak van standaardisasie wat bereik is ten opsigte van Afrikaans nie te betwyfel nie. Die historiese roete wat Afrikaans tot 1994 gevolg het, is dié van ’n taal wat ontwikkel het van ongekodifiseerde vernakulêr tot ’n taal met kultuur-, wetenskaps- en tegniese registers binne die bestek van skaars ’n eeu. Wat die tweede voorwaarde vir voortgesette eksterne standaardisasie betref, naamlik die politieke wil van die bewindhebbers daartoe, dui ’n ontleding van die stand van sake in die huidige staatshuishouding egter op ’n besliste proses van destandaardisering. Die lotgevalle van standaardiseringsagente in die res van die staatshuishouding is ’n droewige verhaal van atrofie en verwaarlosing, ook wat die ander tale betref, grootliks as gevolg van apatie en die nietoepassing van die Taalregte-artikel van die Grondwet. Anders as by die aanvanklike taaleksterne standaardiseringsproses, waar die Afrikaanse taalgemeenskap via ’n proses van kodifisering en kultivering, met gebruikmaking van Nederlands as ’n stuttaal, oortuig moes word van die houdbaarheid van ’n selfstandige variëteit as standaardiseerbare taal, gaan dit hier om die verlies van hoër funksies, waardeur Afrikaans fundamenteel verswak word as standaardtaal (dit wil sê een met ’n standaardkomponent). In dié opsig sou dit juis wees om van taaleksterne destandaardisering te praat. Teen die verwagting in van ’n groter sensitiwiteit teenoor die wense van Jan/San Publiek by die demokraties verkose owerhede en veel groter sprake van ’n verteenwoordigende inset van alle sprekers uit die taalgemeenskap (byvoorbeeld in die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans en die Afrikaanse Taalraad, waar kleurverskille in die agtergrond vervaag), is taaldemokrasie teenoor die inheemse tale klaaglik afwesig. 3.2 Taalinterne destandaardisering? Aangesien daar ’n aantoonbare verband bestaan tussen die vlak van standaardisasie (veral in formele registers) en die uitskakeling van variante van bepaalde woorde, sou die vraag gestel kon word oor die mate waarin variasie binne Standaardafrikaans toegelaat word. As die openbare domein as die gebruiksfeer van ’n standaardtaal beskou word, teenoor die private domein, sou ’n mens na variasie binne openbare registers moes kyk, na die taalgebruik van die reg, die onderwys, die kerk, die letterkunde en die media. Sommige registers is uiteraard meer gereglementeerd as ander, soos die regswese en die kerk, terwyl by andere, soos die media en die letterkunde, veel groter variasie verwag kan word. Dit is in die jongste tyd opvallend hoe die neiging tot die gebruik van omgangstaalvorme toeneem in gewone koerantberiggewing wat normaalweg ’n betreklik formele register gebruik in gedrukte media wat afgestem is op taalgebruikers vir wie die gebruik van kultuurtaal nie alledaags is nie. Die taalgebruik van Afrikaanse poniekoerante (“tabloids”) is maar een voorbeeld, en uitdrukkings soos dié in Bylaag A is opgeteken. ’n Direkte gevolg van die afskaling en afskaffing van taalversorgingsafdelings in staatsdepartemente is die privatisering van normering, wat in die vorm van huisreëls en stylgidse deur instansies soos uitgewers opgestel en deur redigeerders of subredakteurs toegepas word. Hierdie praktyk is wel ook aangehelp deur ’n groter mate van opsionaliteit wat by sommige spellingkategorieë, byvoorbeeld die los en vas skryf van eienaamverbindings, in die 8ste uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls toegelaat is. Een gevolg hiervan was dat koerantkopie wat tussen verskillende mediamaatskappye uitgeruil word, herskryf moes word. Dit is opvallend dat ’n regstelling in die 9de uitgawe tot groter eenvormigheid (lees standaardisasie) gelei het wat teksversorging en die interpretasie van die reëls betref. Demokratisering van die gemeenskap het bepaalde taalkundige implikasies gehad wat ook die vorm van Standaardafrikaans beïnvloed het. Die aandrang op beginsels soos nieseksisme en niediskriminasie het daartoe gelei dat benamings soos skryfster, maatskaplike werkster, lektrise, ens as polities inkorrekte vorme beskou en deur vele vervang word deur die voorheen uitsluitlik manlike, maar nou as ongemerk geagte pendante, naamlik skrywer, maatskaplike werker, lektor, ens, iets waardeur die leksikon van Standaardafrikaans uiteraard verskraal is. Deur die gebruikmaking van ’n meer verteenwoordigende spektrum van die Afrikaanse taalgemeenskap as omroepers oor Radio Sonder Grense en SABC-TV is daar ook groter variasie wat betref die uitspraak van Standaardafrikaans oor die eter. Aangesien Standaardafrikaans veral as skryftaal aangewend word en uitspraakvariasie dus meestal nie ’n bepalende norm verteenwoordig nie, is hierdie soort variasie ’n heel natuurlike verskynsel binne die standaard. Die omvattende sisteem van sogenaamde “taalkaartjies” wat by RSG as riglyne dien vir die uitspraak van Afrikaans, bevat byvoorbeeld geen verwysing na uitspraakkenmerke van niestandaardvariëteite nie – oorwegend oor die uitspraak van buitelandse eiename en klempatrone wat soms deur die uitspraak van die Engelse ekwivalente van die standaarduitspraak kan afwyk. Hoewel daar dus aanduidings is dat sommige registers (soos die nuusberiggewing in die pers) wat tradisioneel met standaardtaalvorme geassosieer word, neig om niestandaardvorme toe te laat, sou ’n mens in den brede nie kon konkludeer dat daar op ’n beduidende skaal interne destandaardisering van Afrikaans plaasvind nie. 3.3 Taalinterne herstandaardisering? Kan ons, op grond van ’n oorsig van veranderings in Standaardafrikaans, werklik praat van taalinterne herstandaardisering sedert 1994? Die veranderings wat binne die standaard waargeneem kan word, hang saam met nuwe sosiale verhoudings in die gemeenskap, die erkenning van items wat as neologismes of vroeëre omgangstaal- of niestandaarditems beskou is, en groter uitspraakvariasie by sprekers wanneer standaardtaal paslik is. Herstandaardisasie sou inderwaarheid ’n nuwe basisdialek veronderstel. Hieroor skryf Ponelis (1992:76) byvoorbeeld: Wanneer die dialektiese basis van die kultuurvariëteit verander (bv wanneer die oostelike basis van Standaardafrikaans deur ’n suidwestelike of noordwestelike basis vervang sou word), sou hierdie nuwe kultuurvorm ook weer dieselfde prosesse moet deurgaan as wat tot nou toe op Standaardafrikaans ingewerk het. ’n Vergelyking van Standaardafrikaans met ’n kernvariëteit van Suidwestelike Afrikaans, te wete Maleierafrikaans (of ook Kaapse Moesliemafrikaans), laat blyk dat bepaalde sintaktiese en morfologiese kenmerke óf nog steeds beperk bly tot die spreektaalvorm van die variëteit, óf, in beperkte mate, deur ander niestandaardvariëteite soos Suidwestelike Afrikaans as geheel oorgeneem is, en ook in die omgangstaalvariëteite elders in die land voorkom. In standaardtaaltekste word sulke kenmerke egter nie aangetref nie. Die gevolgtrekking waartoe ’n mens dan moet kom, is dat interne standaardisering ’n voortdurende proses in lewende kultuurtale is, en dat, wat Afrikaans betref, die basis van standaardisasie verbreed is om ’n groter spektrum van belangegroepe in die taalgemeenskap te verteenwoordig, waardeur die standaardleksikon enigermate uitgebrei is en daar groter variasie binne die standaarduitspraak voorkom. Verder dat sommige (veral gedrukte) media niestandaardvariante in beriggewing inkorporeer met ’n bepaalde lesersteikengroep in die oog. Dit val ook nie te betwyfel dat die omgangstaal van die taalgemeenskap as geheel toenemend begin afwyk van Standaardafrikaans nie, en wel onder die geweldig sterk invloed van Engels. Op die keper beskou het die basis van standaardisering egter nie beduidend verander deur voorsiening te maak vir dié van ’n ander basisdialek nie. 4. Standaardisering – taalpolitieke strukturering Ten slotte net enkele opmerkings oor die wyse waarop taalstandaardisering in die nuwe bedeling taalpolities gestruktureer word. Met die instelling van nasionale taalliggame, dus ook die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans, deur PanSAT, is daar ’n grondwetlik erkende liggaam wat in die vorm van sy Tegniese Komitee vir Standaardisasie die standaardiseringstaak ontvang het. Uit die jongste twee uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls blyk dat daar, benewens erkenning van nuwe items wat uit die staanspoor tot die standaardvariëteit toegevoeg is, ook ’n aansienlike reeks items opgeneem is uit die religieuse register van ’n verskeidenheid christelike denominasies en kulturele en religieuse items wat oorwegend deur Moesliems (veral in die Wes-Kaap) gebruik word, waarvan ’n uittreksel op die uitgeestuk verskyn (Bylaag B). Dit is wel ’n aanduiding van die verbreding van die leksikale basis van Standaardafrikaans, maar nog beswaarlik van die ander vlakke van taalkundige beskrywing. Samevattend sou ’n mens dus die vraag in die referaatstitel soos volg kon beantwoord: Inderdaad is daar taaleksterne destandaardisasie van Afrikaans ten opsigte van sy voormalige funksies en posisie in die staatshuishouding. Vanuit ’n taalinterne perspektief is dit egter duidelik dat standaardisering steeds voortgaan, sonder dat daarby ook sprake is van herstandaardisasie op die basis van ’n nuwe variëteit. BYLAE Bylaag A: Uittreksels uit Afrikaanse poniekoerante Son , 5 Augustus 2009 - Hulle het toe mooitjies die koedoe in die ambulans gelaai en gesê ons moenie worry nie, hulle gaan ’n ander ambulans stuur. Hy vertel hy het genuinely nie geweet of hy moet lag of huil nie, want hy sê so iets het hy in sy dag des lewens nog nooit teëgekom nie. Volgens hom is die paramedics met die massiewe bok in die ambulans vort terwyl hy en sy kollegas in die koue moes staan (p 2).
- John Mayer (31) het ge-joke hy wil bed toe gaan saam met iemand wat transsexual is (p 3).
- Die dame wat die foon geantwoord het, het gesê die skoolhoof, mnr. J. Witbooi, is af siek en hulle mag volgens departementele reëls nie kommentaar lewer nie (p 6).
- Lamppaalopskrif: COP SE KILLERS KRY LIFE
Bylaag B: Maleierafrikaanse (Kaapse Moesliemafrikaanse) lemmas in Afrikaanse Woordelys en Spelreëls abdas neem (Islamities) (rituele was), geneem asser (Islamities)(gebedsbeurt), - s bai (aanspreekvorm vir ouer man) bang (Islamities)(die bilaal – ons tot gebed), ge- barakat (Islamities)(gasvryheidsgeskenk), - s batja (Islamities)(uit die Koer’aan resiteer), ge- bilaal (Islamities) (muezzin), - s binnelik (innerlik), - e boeja (vader), - s boeka (Islamities)(die vas breek), ge- deen (Islamities)(geloof) djannat (Islamities)(hemel) djoemoea (Islamities)(moskeediens), - s do’a maak (Islamities)(voorbidding doen), gemaak eid (Islamities)(fees), - s eid- moebarak (tw.)(Islamities) (seëngroet) fadjer (Islamities)(gebedsbeurt; soeboeg), - s fietna (iemand wat skinder), - s fietna (skinder), ge- gadj (Islamities)(pelgrimstog na Makka), - e galaal of halaal (die kos is –), – (die – kos) garaam (Islamities)(verbode) (varkvleis is –), – (die – kos) gatiep (Islamities)(assistent van imam), - e goedjadji (Islamities)(pelgrim na Makka), - ’s hadjie (Islamities)(iemand wat die gadj voltooi het), - s hak- en- tak (stry), ge- hak- en- tak (stryery), - s handvol (die kinders is vandag ’n –), –; - ler, - ste iblies (die duiwel) idikaatskap (Islamities) (roeping), - pe imaam of imam, - s inkommer, - s isjaai (Islamities)(gebedsbeurt), - s kafier (Islamities)(ongelowige), - s kanalla (asseblief) kaparrang of kaparring, - s karienkel (met stemglydings sing), ge- kitaab of kitaap (Islamities) (geloofsonderrigboek), - s koefia (fes), - s koenoet (Islamities)(gebedsbeurt), - e Koer’aan of Koran of Qoer’aan of Qur’aan kramat (Islamities)(graf van heilige), - te kris (Moesliemnaam vir ’n Christen; – draai), - te Labarang (Islamities)(feesdag) (bv. – Ramadaan/Gadj) staanvastig (Islamities)(ortodoks gelowig), - e (’n – mens) sweetgeld tartiep (Islamities)(ortodoks gelowig), – (’n – mens) tatta (oupa), - s tjaia (voorkoms; gesig), - s trammakassie (dankie) werksloon (Islamities)(rituele plig), ..lone whaktoe (Islamities)(gebedstyd), - | Kommentaar is welkom. Stuur ’n brief aan webvoet@litnet.co.za vir publikasie op SêNet. << Terug na die Roots-konferensieblad | Back to Roots conference page << << Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|