Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Christiaan Bakkes (1965–)
Erika Terblanche
2009-10-15 Druk dit/Print it

Sêgoed van Christiaan Bakkes

“Stap maak ’n ou se kop skoon. Jy loop met jou rugsak en stewels en werk dinge in jou kop uit. As dit warm word, gaan sit jy onder ’n boom en dink. En as ’n kar of iets verbykom, steek jy maar jou duim uit.”

“My broer is ’n reisiger, maar ek is iemand wat my tuiste in die wildernis gevind het. Ek bly in ’n afgeleë plek wat groot genoeg is sodat ek dit nooit ten volle sal kan verken nie. Daar is altyd nog ’n berg om te klim, nog ’n vallei om te verken. Ek is nou op die plek waar ek gaan oud word. Ek het die Afrika gevind wat ek soek en waar ek wil bly.”

“Waaroor gesels mense wat nog nie in die woestyn (Mowani) was nie?”

“Ek skryf waar ek kan. ’n Paar van my oefeningboeke het al in vloede weggespoel. Dan koop ek pakke Bicpenne. Dis altyd in my rugsak, oor my skouer as ek in die veld stap. Want ’n storie kom soos ’n aanstormende olifant. As hy daar is, moet jy hom skryf.”

“Met skryfwerk lê mens baie van jou siel bloot. Dit het my aanvanklik gepla. Nou worry ek nie meer daaroor nie. Dit was ’n ontlading. Die seerplekke is gesond.”

“Ek lei my lewe soos ek dit gekry het. So eg as moontlik. EK soek net selftevredenheid.”

“Ek glo aan die wildernis, want dit maak jou vry in jou gees.”

“Hetsy die Caprivi of die Yukon. Ek vind my vrede in die wildernis. Altyd.”

“Kyk, daar is ouens wat baie beter as ek skryf, wat dalk beter natuurbewaarders is as ek. Ek roem my op niks behalwe dat ek doen waarvan ek hou nie. Ek vat nie graag orders nie.”

Hoekom bly hy in die Kaokoveld? “Ek kan nie meer in ’n plek met heinigs bly nie ... ’n Veldwagter is wat ek in my hart is. As die Kaokoveld jou eers gevat het ... hy maak jou óf sterk óf dood óf mal ... dis ’n groot land daai.”

Gebore en getoë

Christiaan Bakkes is op 3 Augustus 1965 op Vredenburg aan die Weskus gebore as die jongste van vier kinders van die geskiedkundige Cas Bakkes en die bekende skrywer Margaret Bakkes. Sy oudste broer, Johan, ’n rekeningkundedosent aan die Universiteit van die Wes-Kaap, is ook ’n skrywer. Sy ander broer, Marius, werk in die rolprent- en televisiebedryf en sy suster, Mathilda, is ’n spraakterapeut wat saam met haar man in Kanada woon.

Vandat Christiaan kan onthou, wou hy veldwagter word, vertel hy aan Elise-Marie Tancred. As kind op sy pa se plaas duskant Hatfield het hy altyd na aan die veld gevoel. Pofadders en skerpioene het hom gefassineer. En hy wou altyd wildernis toe. Hy onthou dat hy altyd ’n prentjie van ’n ruiter met ’n rugsak en ’n perd geteken het.

Christiaan vertel: “Ek was so vier, vyf toe Johan eendag op sy fiets by my kom en sê: ‘Haai, boetie, wil jy saam met my na LC de Villiers gaan?’ ‘Wie’s sy?’ het ek gevra. ‘Nee, man, die sportgrond (van die Universiteit van Pretoria),’ het hy gesê. Hy het my toe voor op die stuur van sy fiets gelaai en vir ’n ride gevat. Dit is waar die reis begin het en dit het nog nie opgehou nie.”

Hy onthou ook dat hy ’n rebelse tiener was wat teen enige vorm van dissipline geskop het.

Christiaan matrikuleer in 1983 aan die Pro Arte Kunsskool in Pretoria.

Terug na bo

Verdere studie en werk

In Huisgenoot van 24 Mei 2001 vertel Christiaan aan Dana Snyman dat hy na matriek filmproduksie gaan swot het, omdat hy graag natuurlewe-films wou maak. Maar die filmwêreld was nie wat hy gedink het dit is nie. Hy het opgeskop, sy pa se bakkie geleen en Krugerwildtuin toe gemik. “Ek het as ongeskoolde arbeider daar begin werk. Ek het lakens opgevou en till geslaat.”

Christiaan is terug Pretoria toe waar hy sy familie inlig dat hy ’n kursus in natuurbewaring gaan volg. “Almal het net gefrons.” Hy vertel aan Tancred: “Vir die eerste keer het ek iets geleer wat vir my lekker was. Ek het my diploma gekry en op ’n wildplaas begin werk. Ek was in my element.”

Na sy eerste jaar diensplig in Kimberley is hy as luitenant “grens” toe gestuur - Wes-Caprivi waar hy dertien maande lank saam met Boesman-spoorsnyers op die Kwando-rivier patrollies moes doen om stropers en ivoordiewe te vang. Christiaan meen dat sy passie vir noord-Namibië daar begin het – “die kameeldorings, anabome, rivierlope”.

Christiaan wou egter ’n staptoerveldwagter in die Krugerwildtuin word – een van die elite-veldwagters en uiteindelik is hy aanvaar. “Ek het ’n hoogtepunt bereik. Van kleins af het ek gehou van gevaar, opwinding. Ek weet nie wat wat dit in my is nie. Om op die spoor van grootwild te loop, of konfrontasies met wilde diere – dis die lewe. Ek was die koning van die wêreld. Niemand kon aan my raak nie. Die lewe was lekker. Om te sien hoe ’n trop leeus ’n luiperd jag, of om midde-in ’n buffelstormloop te bly staan, is alles goed wat die adrenaline laat pomp.”

Hy het gou uitgeblink en vir hom naam gemaak: as ’n uitstekende veldwagter, maar ook as ’n wildewragtig en ’n meisiemagneet.

Toe op ’n warm dag in 1994 gaan kyk Christiaan saam met vriende na wild kyk in die Timbavati. Daar is ’n dam waarin almal spring om af te koel, wel wetend dat daar krokodille in is. “Almal weet dit is gevaarlik, maar nou ja.” Die spesifieke dag was daar ’n krokodil aan die oorkantse wal. Christiaan het ingespring, maar toe hy die water tref, het hy reeds omgedraai om uit te klim. Hy moes egter langs ’n ander krokodil ingespring het, want toe hy in die water land, gryp die krokodil hom aan sy regterskouer. Christiaan het gestoei en baklei en gelukkig kon hy sy balans behou en op sy voete bly. “Stadig maar seker het ek teruggebeur wal toe, met die krokodil wat aan my skouer hang. My vriend het my pistool gaan haal om die ding te skiet. Weens al die gespartel in die water het die ander krokodil ook ingegly. Net toe ek amper halflyf uit is, het die eerste een my laat los. Skielik het die ander krokodil aan my linkerkant opgekom. Hy’t my arm net onder die elmboog afgebyt. Ek het my hand by sy bek sien uithang. Ek het nie gedink ek gaan dit oorleef nie.”

Sy vriende het hom in die bakkie gelaai en per radio laat weer wat gebeur het. Hulle het sy wonde so goed moontlik toegebind. Christiaan kan self nie veel onthou van die jaagtog na die kamp en die helikopterrit hospitaal toe nie. Hy is na die militêre hospitaal in Pretoria geneem en die een operasie na die ander het gevolg. Hy het baie pyn verduur en daar was sprake dat hy sy ander arm ook sou verloor. Toe die dokters sê dit lyk of hy sy regterarm gaan behou, was dit die eerste ligpunt. “My gemaklike lewe het ek agtergelaat toe ek met my rehabilitasie begin het. Ek moes weer begin. Net om dáárdie besluit te neem, was vir my die moeilikste ding.”

Christiaan was voor die ongeluk linkshandig. Hy moes dus leer om met sy regterhand te skryf en te skiet en om met die kunsarm motor te bestuur. Maar hy wou so gou moontlik terug bos toe en met sy lewe aangaan soos voor die ongeluk.

’n Paar maande na die ongeluk meld hy hom weer by Skukuza aan, net om te hoor hy sal nooit weer ’n staptoerveldwagter wees nie. “My lewe was aan flarde. Ek het vir ’n rukkie ’n ander werk gedoen, maar dit was nie goed genoeg vir my nie. Die ouens was ook nie meer dieselfde teenoor my nie. Voorheen was daar hierdie broederskap. Nou het hulle gedink ek is gebreklik. Ek moes wegkom van alles en almal. Dit was tyd vir ’n nuwe lewe. Ek moes ’n plek vind waar ek ’n veldwagter kon wees.”

In 1996 pak Christiaan sy rugsak en begin die lang pad Afrika instap. Aanvanklik in geen spesifieke rigting nie, maar na ’n ruk was dit asof iets “ingekliek” het. “Ek het geweet ek stap na ’n nuwe lewe toe.” En dit is hier waar Stoffel Mathysen se reis deur Afrika begin het.

Hy het in Kaapstad begin, langs die Weskus op, tot in Namibië. Dit was aanvanklik moeilik en hy het na sy mense verlang. Dit hartseer oor wat gebeur het, was ook swaar. Van Namibië is hy na Zambië waar die klein seuntjies gedink het hy is Chuck Norris. Bedags het hy gestap of duimgery en saans het hy by die naaste dorpie ingestap om slaapplek te kry. “Daar was altyd iemand wat vir jou ’n hut sou skoonmaak en slaapplek aanbied met ’n bord pap.” In Zambië het hy malaria gekry, maar gelukkig medisyne gehad en in Malawi het hy die berugte Malawi-diarree opgedoen en hy kon nie daarvan ontslae raak nie. Boonop breek hy sy hand, maar besluit om die geleentheid wat hy gekry het om na die Serengeti in Tanzanië te reis, te benut. “Ten minste was die Serengeti nie ’n teleurstelling nie. Daar is soveel wild dat sommige toeriste kla dit lyk soos ’n dieretuin. Troppe en troppe blouwildebeeste strek van horison tot horison. Een aand terwyl ek saam met ’n groep reisigers in ’n tent gelê het, het leeus hulle reg langs die tent kom tuismaak en ’n lang ruk daar gelê en brul voor hulle uiteindelik vort is. Selfs ná al my ervarings in die bos, is daardie nabyheid van diere, die wildernis elke keer ’n groot lekkerte.”

Hy was op pad om ’n boot na Uganda te kry toe ’n boodskap van sy ma, Margaret, hom bereik. Hy moes so gou moontlik na die Kaokoveld in die noorde van Namibië gaan waar daar werk vir hom was. Dit was in 1996 en die Namib in al sy fasette vloei nou dik deur sy are. Vir drie jaar werk hy by die WWF Internasionaal. Hy het die mense van die omgewing opgelei as veldwagters sodat hulle die wild doeltreffend kan bewaar. “Ek dink die Kaokoveld is miskien die laaste werklike wildernisgebied in Afrika waar mens en dier só kan saamwoon. Die gemeenskap trek voordeel uit die wild terwyl hulle terselfdertyd die gebied bewaar. Dis belangrik dat die gemeenskap se houding teenoor die wild gunstig moet bly. Die wild moet getel en uitgedun word. En planne moet beraam word om stropers weg te hou en olifante uit die inwoners se mielielande.”

Christiaan vertel aan Susan Lombaard dat almal dink dit is idillies en romanties om alleen in die bos en die woestyn te bly, “maar party keer is dit bloedsweet. Die eerste drie jaar in Kaokoland het ek elke aand onder ’n ander boom geslaap, my bedrol in die stof oopgevou en net pap en bokvleis geëet.” Na die eerste drie jaar is hy vir ’n tyd lank Botswana toe waar hy safari’s help reël het, maar sy hart het in Kaokoland agtergebly. Toe hy dus die pos as konsessie-bestuurder in die Skedelkuspark gekry het, is hy onmiddellik terug. “Hulle sal my nou óf moet uitskop, óf moet skiet om my daar weg te kry. Self gaan ek nie padgee nie!” Hy is ook gids op die Skedelkus, asook in die Kaokoveld in Noordwestelike Namibië teen die Angolagrens.

In 2006 is Christiaan met Emsie Verwey getroud en werk hulle in Damaraland waar hy gorilla-safari’s in die woude van Uganda lei. Hy is ook nog gids en areabestuurder by Wilderness Safari’s. Hy en Emsie woon saam met ’n hond, twee katte en ’n gemsbok met die naam Jakob in ’n tent in Damaraland in die noordweste van Namibië.

In 1998 verskyn Christiaan se eerste boek, Die lang pad van Stoffel Mathysen, by Human & Rousseau. Hierin word Christiaan se reis van vyf maande opgeteken deur Stoffel, ’n staptoerveldwagter in die Krugerwildtuin. Christiaan sê dat hy die boek geskryf het om dinge te verstaan. “Ek kyk terug na die vier jaar wat sedert die aanval verloop het. En dis ’n intense, tevrede kyk. Dat ek my arm verloor het, is ten volle my skuld. Ek het vir myself gesê jy sal aangaan met jou lewe. Jy sal nie een keer kla nie. Ek dink ek het nogal oukei gevaar. Die doelwitte wat ek vir myself gestel het, het ek bereik. Dis genoeg.” Hy erken ook dat die boek soort van outobiografies is. “Dit is ’n reisverhaal, maar mense se name is verander.”

Manie Wolvaardt skryf in Volksblad dat Christiaan Bakkes ’n opwindende nuwe talent is. “Hy vertel die ‘storie’ van Stoffel Mathysen sonder tierlantyntjies en woordoordaad. Die swerftog deur Afrika word ook vir die leser ’n ontdekkingsreis. [...] Voeg hierby die humor en deernis  waarmee die innerlike katarsis van Stoffel Mathysen ontbloot word en dit word ’n verhaal wat die leser nie onaangeraak sal laat nie.” Willlem M. Botha meen dat Christiaan hom bewys as bobaasverteller. “Hy gebruik die nugterste taal om op die gewoonste manier van die ongewoonste ervarings van ’n avontuurlustige, fikse, liggaamlik aktiewe jongman op ’n ryloop deur Suider-Afrika vertel. [...] Stoffel Mathyssen word ’n simbool van die jong mens in die heersende oorgangskoppelvlak van hierdie veranderende subkontinent. Hy onthul sonder kommentaar – net deur goeie vertelling, karakterisering en situasiebeskrywing – selfaanvaarding en ’n bepaalde psigiese instelling teenoor die omgewing, en ’n spontane aanvaarding van alle mense van en inskakeling by die nuwe Afrika. Alles met ’n volgehoue tikkie humor en ironie.”

LS Venter meen dat Christiaan vroeg in sy skrywersloopbaan alreeds ’n belangrike kuns geleer het: naamlik om die leser nuuskierig te hou. Want lank nadat bykarakters reeds weet wat met Stoffel gebeur het, weet die leser steeds nie.

Stoffel in die wildernis word in 2000 gepubliseer. Hierdie is ’n bundel kortverhale en sketse waarin Stoffel se avonture in die wildernis beskryf word van sy kommerlose studente- en weermagjare tot sy lewe as ’n ervare veldwagter in die afgeleë Kaokoland. Andries Visagie skryf dat hoewel nie al die vertellings op sigself slaag as verhale nie, skryf Bakkes onopgesmukte prosa waardeur hy blyke gee van ’n sekere integriteit as skrywer. “Hy slaag ook daarin om nuwe en voorheen verhulde werklikhede oop te skryf. Charles Smith meen dat Bakkes op sy beste ’n tweede Doc Immelman is en dat Afrikaans ware avontuurverhale bitter nodig het. Volgens Jan-Jan Joubert is dit in die jagverhale dat Bakkes uitblink. “Die liefde vir die diere en die natuur is enigmaties vervleg met die bloedlus van die jagters.”

Christiaan vertel dat hy uit sy eie verwysingsraamwerk skryf. “Ek verduidelik wat natuurlewebestuur en die wildernis is. ’n Sentrale tema in my skryfwerk is die onderlinge afhanklikheid tussen die mens en die wildernis – ongeag wie en wat jy is. Ook die interaksie tussen mens en dier.”                  

In 2002 word Skuilplek ook deur Human & Rousseau uitgegee. Die drie hoofkarakters is lede van die teenstropereenheid in die Wes-Caprivi in 1989. “Dit was amptelik my beste jaar, ná dit was alles ’n antiklimaks,” vetel Christiaan aan Charles Smith. Die boek is gebaseer op die waarheid, maar die karakters is fiktief aangesien die verlede te onlangs is. In die verhaal word daar op ’n patrollie ’n ontdekking gemaak: die laaste paar swart renosters in die Caprivi word deur die eenheid opgespoor. Dit bring ook die wildvangspan van Natuurbewaring na die Caprivi. Ernstige wrywing ontstaan tussen die twee groepe en hul leiers. Jaco Nel skryf dat in Skuilplek kom die spanning en die drama van oorlog, natuurbewaring en rou menslike emosies in die wildernis die sterkste ter sprake en dat dit ’n boek is wat ’n mens met nuwe oë na wildbewaring laat kyk.

Gretel Wybenga meen dat hierdie toeganklike verhaal besonder filmies van aard is. “Reeds in daardie eerste paragrawe is dit asof ’n kameralens die loop van die rivier volg en dan vassteek by die vervalle houthuis met ’n man op die stoep. Een voorbehoud het ek egter: met so ’n magtige hoeveelheid stof het dit vir my gevoel of die verhaal roep om nog breër en voller uitgewerk te word. En die vaardige pen van Bakkes is beslis daartoe in staat.” Die boek bevat beslis al die elemente wat Christiaan se eerste twee so aantreklik gemaak het vir lesers wat belangstel om te lees oor die misterie van die harde lewe in Afrika se afgeleë streke, en veral oor die mens wat hom alleen bevind in daardie wildernis.

Christiaan se volgende Stoffel-boek word in 2004 uitgegee – Stoffel by die afdraaipad, wat in 2005 op die kortlys was vir die M-Net-prys in die kategorie “kort formaat”. In hierdie 26 verhale word die leser weer eens teruggevoer na die wilderniswêreld van Stoffel Mathysen. Daar is verhale uit sy tydperk as veldwagter in die Kaokoveld, wat aansluit by die wêreld wat in Stoffel in die wildernis verken is en dan ook verhale uit sy jare as safarileier aan die Skedelkus. Fanie Olivier skryf dat die styl en aanslag van die stukke dieselfde is: “gestroopte prosa, kort sinne, ’n slot wat dikwels onderbeklemtoond is, maar ook verhaalmatig bedag of na my gevoel onbeholpe kan voorkom. Die Afrikaans altyd mooi.” Hy wil egter sien dat Bakkes sy Stoffel Mathysen-bakkie moet los en die “eindelose wildernis” van sy verbeelding wil aandurf, want hy kan dit doen, “en ek sidder om te dink wat met die stoftrappende konvooie van die Afrikaanse prosa in die proses kan gebeur.”

Stoffel se vierde boek, Stoffel se veldnotas, verskyn in 2007. Thomas Minnaar skryf in Die Burger dat die 25 stories in gestroopte taal saam ’n geheel vorm. “Aan die hand van nostalgiese herinnerings aan verlies én vrolikheid uit sy ‘jongmansdae’ neem die verteller ’n bestek op van sy huidige posisie: ’n man in sy veertigs wat eindelik ’n ewewig  bereik het met sy omgewing én die mense wat hom omgeef. [...] En dis lekker om te lees oor ’n aardse man wat vrede maak met homself en met oudword, iemand uit die ou bedeling wat in postkoloniale Afrika tuiskom.”

In sy resensie in Beeld skryf Dirk Jordaan dat die stories kort is, met bondige taalgebruik en beskrywings. “Sommige van die stories kry dit tog reg om, in hul slotparagrawe, die ooglopende te oorbrug. Dan kry hulle meer universele waarde en laat dit die leser dink oor sy plek in die natuur en daardie mees natuurlike van al sy eienskappe, die feit dat die dood onvermydelik is.” Jordaan sien die verhale as onpretensieus wat nie probeer om grootse literatuur te wees nie. Volgens graffitibooks is hier ’n nuwe Stoffel aan die woord: ouer, wyser en, op veertig, rustiger. “Maar steeds spreek elke ‘veldnota’ van ’n skerp aanvoeling, onopgesmukte egtheid en fyn waarneming.”

’n Keur uit Christiaan se werke word in 2008 deur Elsa Silke vertaal en deur Human en Rousseau uitgegee onder die titel In Bushveld and desert: a game ranger’s life. Anthony Stidolph skryf as volg: “Living in one of Africa’s last true wilderness areas – where threatened species like the black rhino are still able to roam freely outside the protective confines of game parks and private  sanctuaries – Bakkes writes about his experiences in this harsh environment in a stripped-down, economical prose style that manages to capture the desolation and magic of the landscape. His writing is evocative and informative and he has produced a highly readable, honest and humorous account of a life spent beyond the fringes of civilisation.”

Christiaan voel dat hy dié Afrika wat hy ken deur sy stories met mense deel wat nie so bevoorreg is om te kan reis nie. “Ons bly op ’n opwindende kontinent. Maar almal het nie dieselfde geleenthede nie. Sommige mense is dalk vasgevang in hul werk en kan nie self reis nie. Maar daar is ’n groot verlange in mense vir die wydheid, vreedsaamheid en wonderlikheid van Afrika en ek probeer die liefde vir die wye vlaktes in my boeke uitbring.”

Christiaan lees graag Hemingway en sy gunsteling is In our time. En wanneer hy gedigte nader trek, is dit dié van ’n Amerikaanse prospekteerder, Robert Service, wat meesal oor die wildernis dig. “Ek dink ek is ook op soek na die Wilde Weste. Dis seker maar hoekom ek skryf oor mans wat nie inpas nie en ouens wat nie sissies is nie, alhoewel hulle dikwels weghardloop van gebroke verhoudings.”

Hierdie gebied waar Christiaan bly, is ’n wye, groot gebied, sonder heinings. “Dit is vir my die belangrikste. Sonder obstruksies en versperrings. Die enigste duidelike grens is as jy op die strand staan en kyk na die Atlantiese Oseaan. Dan weet jy nou, nou kan jy nie meer verder wes nie.” Hy beskryf sy verhouding met die gebied as ’n absolute liefdesverhouding. “Daar bleef ek oomblikke  van ekstase, alleen of met besoekers.”

Christiaan vertel aan Charles Smith dat die natuur een groot legkaart is, waar jy altyd moet weet wie jy is en waar jy is. Hy weet hy is ’n Dorslandtrekker in die tradisie van Oom Gert Alberts onder wie die Dorsland-jagters in Namibië in die klipklowe ingery het, te perd, om te soek na ’n hawe vir die republiek. “Hulle enigste navigasie was die sakkende son. Hulle het van die Etosha gery. Dit is ’n geweldige dramatiese landskap langs die Huanibrivier, onheilspellend. Hulle het bewus geword van ’n dreuning en gesoek na die bergsebras wat so hardloop. Een man het gesê dis ’n aardskudding, nog een, ’n diep Calvinis, het gesê nee man, hulle het nou so ver gery, hulle is naby aan die hel. Net Naas Labuschagne het gesê hy was al by die see voor die trek, en die klink net soos die see.” Die storie is belangrik, omdat Christiaan homself as ’n Dorslander beskou – een wat bewaar.

Terug na bo

Publikasies:

Publikasie

Die lang pad van Stoffel Mathysen

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2004

ISBN

0798137800 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stoffel in die wildernis

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140674 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skuilplek

Publikasiedatum

2002

ISBN

0798142294 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stoffel by die afdraaipad

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798144300 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stoffel se veldnotas

Publikasiedatum

2007

ISBN

0798148144 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In Bushveld and desert: a game ranger’s life

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149280 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Vertalings uit al sy boeke in Engels deur Elsa Silke

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Christiaan Bakkes beskikbaar op die internet

 Terug na bo


Terug na bo

Bygewerk: 2009-10-15
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van SêNet

Read more about Louis Heyneman
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur