Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Die Kaapstad-stadion
Hannes Meiring
2009-12-08 Druk dit/Print it

Die Kaapstad-stadion, ontwerp deur die Duitse argitek Robert Hormes, wat in sy laat dertigerjare is, is van die argiteksfirma GMP van Hamburg, Duitsland. Hormes moes ’n ontwerp maak in ’n baie omstrede en emosionele terreinkeuse as gevolg van die cul de sac-posisie vir die stadion en ook teen die plaaslike mening daarteen.

Dit bly ’n ope vraag of die alternatiewe terrein naby die Kaapse lughawe op die lange duur nie n meer praktiese keuse sou gewees het nie.

Wel is die stadion soos hy nou staan, ’n wonderlike voorbeeld van die integrasie van argitektuur saam met strukturele ingenieurswese, iets wat nie dikwels genoegsame erkenning langs die prestasie van die opvallende argitektuur  kry nie.

By een van die heel eerste voorleggings insake die ontwerp het ek op die terrein vir Robert Hormes gevra of hy nie dink dat die stadion te groot en te hoog bo grondvlak vertoon nie. Hy het eerlik  genoeg erken dat hy dit graag laer sou wou sien, maar dat dit weens die rotsfondament op daardie spesifieke Mouillepunt-terrein teenaan die see onmoontlik was om dit dieper in die grond te laat sak.

Tog glo ek dat, soos Sydney se bekende operahuis, hierdie stadion met Tafelberg in die agtergrond en die see in die voorgrond vir jare vorentoe ’n ikoon verteenwoordigend van Kaapstad gaan word.

Soos een groot bad of skottel, selfs soos ’n impressionistiese walvis,  of soos die platgedrukte keil (soos in die program Top Billing), het die reuse-vorm ’n eenvoud wat die toets van tydloosheid behoort te weerstaan. Met sagte, vloeiende lyne wat op en af  beweeg, herinner dit iets aan die internasionale pretparkmonsters waar die oop sitplekke soos ’n wurm teen ansgwekkende spoed op en af en selfs onderstebo beweeg.

Soos so dikwels met goeie argitektuur vandag, gaan die pragtige voorkoms van die struktuur verlore sodra die objek voltooi en beklee word. Dink maar aan enkele maande gelede hoe opwindend die karkas van beton toe nog vertoon het teenoor die finale, deftige en stroombelynde bekleding van die produk van vandag. Gelukkig gaan daardie effek weens die beligting van binne en buite saans nie heeltemal verlore nie en kry die stadion weer die subtiele voorkoms van ’n X-straalplaat wat die beenstruktuur sonder die vlees van die liggaam toon.

Die dakkonstruksie is op die eeue oue beginsel van ’n speekwiel of fietswiel gebaseer wat uit ’n buitering en ’n binnering bestaan.

Die effens verhewe en indrukwekkende piazza, of voorhof, by die hoofingang vra om die aanbring van een of meer reuse-beeldhouwerke van abstrakte vorme om met die stadion ’n eenheidskomposisie te vorm.

Die gevoel aan die binnekant van die stadion en die verhouding tussen speelveld en paviljoene en omgekeerd is hoogs suksesvol, en vir ’n skare van 68 000 toeskouers is hierdie menslike skaal op meesterlike wyse behou, veral as gevolg van die styging van die sitplekke in ’n lae trajek.

Kaapstadstadion mag miskien nie die opwindende voorkoms van byvoorbeeld die Durbanstadion hê nie, maar met al die uitstaande natuurlike eienskappe daaromheen  is dit net so goed dat die beheerste eenheid hier so ’n groot rol gespeel het.

Die stadion moet ook uiteindelik beoordeel word as een element in die groter ontwikkeling van verskeie parke en sportvelde rondom, ook in sy veeldoelige verwagting.

Ek self kan nie wag om die Stormers in Februarie daar te sien uitdraf nie. Of om ’n reuse-konsert daar by te woon nie.   

 

Lewer kommentaar op Gerrit Brand se LitNet-blog, DinkNet, of stuur jou kommentaar aan SêNet.

<< Terug na die "Kaapstad-stadion"-blad | Back to the seminar page <<

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van SĂȘNet

© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur