| SkryfNet XXV: Enigste I (tweede weergawe) |
Lee Beeslaar
Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXV - Poësie Tweede weergawe van Lee Beeslaar se gedig:
Enigste I
Die sondes van die vadere
Ek was verwonderd oor jou eerste dowwe beeld; Die eerste vlinderroering in my lyf – My liggaam eindelik van waarde.
Jy’t my voltooi, volbring. Volmaak het jy in my gegroei. Al duideliker die beeld van jou in my.
Ek’t diep in my gaan soek na alles wat verhaspel of verderf. Ek wou dit uit my wese uitskroei.
Ek wou die skewe griffel van my erfenis wegkeer van jou blanko lei, jou ongeskonde hou.
Maar steeds was daar die vrees dat al my strewe dalk verniet was; dat ek steeds verydeling in my dra –
Toe ek jou die eerste maal kon vashou, jou helder oë jou onherroeplik aan my bind; jou honger mondjie oor my bors bevestig
Jy het my nodig.
<< Terug na SkryfNet XXV <<
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|