| WSB 2010: Hoe ervaar jy die Wêreldsokkerbeker vanuit die buiteland? |
Loammi Wolf
Hoe ervaar jy die Wêreldsokkerbeker vanuit die buiteland?
Dit lyk asof Suid-Afrikaners ’n ball of ’n time het met die Wêreldsokkerbeker. In Duitsland heers ook ’n fantastiese gees en daar kom reuse-skares byeen vir “public viewings”. Woensdagaand toe Duitsland teen Ghana gespeel het, was daar 200 000 mense by die Brandenburger Tor in Berlyn. In Hamburg en München en ander groot stede is daar net sulke reuse-skares.
Natuurlik is die vuvuzelas ook hier ’n groot tema. Die Duitsers het die vuvuzela as kultuur-instrument ontdek. Dit het ’n groot deurbraak belewe toe stukke van Brahms en Ravel in die Konserthuis van Berlyn debuteer het.
So ‘n Wêreldbeker is natuurlik ook ’n fantastiese kans om die land en sy mense nuut te verpak en glansvol te bemark. Ons het vier jaar gelede ons beurt gehad om gasheer te wees en dit was ’n ongelooflike ervaring. Duitsers het gewys dat die vooropgestelde idees dat hulle stug en humorloos is, van alle waarheid ontdaan is. Hulle het hulle arms wyd oopgegooi vir die gaste. In Dortmund het ’n brouery selfs ’n rooi tapyt uitgerol op sypaadjies – die hele pad van die stasie af tot by die stadion. Duitsers is eenvoudig sokkermal. Dit was een groot fees gewees. Vanjaar is Suid-Afrika aan die beurt. Daar is talle wonderlike TV-programme oor Suid-Afrika. Ek het toevallig nou die aand ’n program oor massa-kore op Arte gesien wat my koue rillings van lekkerte gegee het.
Vir my is die lekkerte dat ek vanjaar vir twee spanne kan skree. Bafana het sekerlik ‘n paar sportjies van die ranglys opgeklim soos hulle deur die skares gedra is. Hulle het fantasties gespeel!
Ons is natuurlik baie in ons noppies dat Jogi Löw ons deur het na die volgende ronde toe. Ons span is bietjie jonk en onervare vanjaar, maar ek dink hulle het groot potensiaal. Özil is ons Messi van die toekoms. Gelukkig kan Klose ook weer speel. Klose en Podolski vorm ’n weird simbiose. As die een kort is dit asof die ander een se skopvoet ook dwarstrek.
Alles in betrag genome, dink ek dat Suid-Afrika bewys het dat hulle ’n waardige sokkergasheer is wat vir niemand hoef terug te staan nie. Die nuwe stadions is argitektoniese pragstukke.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|