Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Taaltrots vir almal
Anzil Kulsen
2010-09-01 Druk dit/Print it

Afrikaans is jonk, veelkleurig en sexy. Afrikaanssprekendes uit alle geledere het ten minste een gemene deler: hul passie vir die taal wat hulle praat.

Sprekers van ander variante van Afrikaans het by die konferensie hul kommer uitgespreek dat hulle dalk uitgesluit mag word by debatvoering rondom die taalkwessie.

“Hoekom nog debatteer oor die taal?” wonder ek heimlik. Solank ek in staat is om te dink, praat en skryf in my taal, kan ander op hul kop staan.

“Die gesprekvoering van belanghebbendes vind op ’n hoogs gesofistikeerde vlak plaas,” beskuldig iemand wat bekommerd is oor haar mense se dialek. Dat hulle dalk uit skaamte vir hul manier van praat eerder oorslaan na Engels.

Dialekvariante word deesdae bestudeer en opgeskryf, reken ek stilweg by myself. Ek kyk om my rond en ek kry die indruk dat almal wat die moeite kon doen om vir drie dae oor ons taal te konfedereer, verdraagsaam genoeg moet wees en enige dialek luisterryk behoort te vind.

“Engels is die bedreigde taal,” beweer nog ’n liefhebber van sy taal.

“Ons praat Engels om mekaar te akkommodeer; dit ontneem ons van die reg om ons moedertaal te praat.”

Afrikaanse mense is immers uiters tegemoetkomend. Maar moenie dink dit gee ander (die regering?) die reg om bo-oor ons te loop nie. Ons, ja. Ongeag jou naam en adres.

Moedertaalonderrig is die kwessie wat almal wat genoeg omgee, se bloed laat kook. Ons het baklei vir demokrasie, ons land baklei vir salarisverhogings, mense baklei vir  magsposisies. Wie dink aan die volgende generasie? Is die doel van so ’n beraad nie juis om te keer dat die land nóg ’n verlore generasie oplewer nie?

Luister ons nie juis vir drie dae na mekaar se vrese én vooruitsigte sodat daar op een belangrike gemeenskaplike vlak hande gevat word nie?

Taal is die een ding wat mense van mekaar kan vervreem; taal is ook die een ding wat mense kan saamsnoer. En dis wat die drie dae by die konferensie gebeur het. Verskeie groepe Afrikaanssprekendes het kragte gemeet, mekaar geweeg, gevind ons is só verskillend, maar tog só eenders. Al is ons vet en koue water, al eet party kaiings en ander mossels, is ons in een opsig eenders.

Die eerste koesterende woorde wat ons in die wêreld gehoor het, was die liefdestaal van ons moeders.

Dit is egter so jammer om te sien dat daar nog steeds mense is wat dink die ATR se missie is om uit te sluit en te isoleer. Dit is jammer dat mense dink hul eie taal word gebruik as wapen in ’n reeds gewonne rassestryd.

“Dis nie ras wat mense van mekaar vervreem nie,” meen ’n kundige. “Dis kultuur.” Nie almal stem met haar saam nie. Afrikaner-patriotisme moet vervang word met Suid-Afrikaanse trots.

In hierdie land van ons het ons, ten spyte van die onderwys-flaters en so aan en so aan, baie om op trots te wees.

Teen die einde van die konferensie is almal dit eens: ons is trots Afrikaanssprekend, en ek is trots, al is my manier van praat so effe verdwaal van die Standaardafrikaans.

Die passie, die bande wat gesmee is, die hoop dat ons kinders suksesvol tot die land se ekonomie sal kan bydra, nadat hulle (hopelik) in Afrikaans studeer het, is verblydend.

Viva Afrikaans, viva! Mag moedertaalsprekers van al elf ons amptelike landstale, en selfs die Namas en die San, dieselfde taaltrots ervaar!


Anzil Kulsen is ’n skrywer en die fasiliteerder van LAPA Uitgewers se gemeenskapsprojek vir lees- en skryfbevordering in die Noordkaap.  Die jeugboek Zita het uit haar pen verskyn en sy is pas verkies tot die ATR-direksie.

Anzil saam met leerders van Laerskool Karos wat deel vorm van die kreatiewe skryfprojek.




Reageer op hierdie miniseminaar deur ’n e-pos te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

<< Terug na invalsblad | Back to index <<

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za



VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van SĂȘNet

Read more about Marius Bekker
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur