Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Kerneels Breytenbach (1952–)
Erika Terblanche
2010-12-03 Druk dit/Print it

Sêgoed van Kerneels Breytenbach

“Mens leer gou dat elke boek, ongeag wat dit is, iets besonders is, en ’n spesifieke soort kreatiwiteit vereis. En dat elke skrywer ’n unieke mens is.”

“Daar is geen plesier wat vergelyk kan word met dié wat mens kry wanneer jy die eerste is om ’n nuwe manuskrip van mense soos Breyten Breytenbach, André Brink, Ingrid Winterbach, John Miles of enigiemand anders te kry, en jy begin leer en jy besef dis iets groots. Dis ’n tinteling wat jy nêrens anders kry nie.”

“Die vennootskap van uitgewer en outeur is ’n kosbare een.”

Wat het jy die nodigste om te kan skryf? (In 1994 na die publikasie van Glimlag): “Eie tyd, baie eie tyd. En ’n kalm gemoed. As ek ontsteld is, of kwaad, kan ek nie gaan sit en werk nie. Ek skryf vroeg in die oggend – ’n absolute onbelemmerde vloei van woorde, daar’s niks wat jou kan ontstel nie. Die ander ding is: niks drank terwyl jy skryf nie. Dis hoekom die oggende ook so goed werk.”

“Uit ’n kreatiewe oogpunt is daar min dinge wat so ’n helse bevrediging gee as om te sit en dink aan ’n verhaal, karakters te skep, alles bymekaar te kry en te voel hoe die roman begin loop.”

“Ek vermoed ek is maar soos enige ander mens lief vir die ontlading wat humor bring. Humor is die enigste en beste wapen teen arrogansie, hovaardigheid, onnoselheid en plein ongeskiktheid. En dit herinner jou daaraan dat almal net mense is. Daarom dat Afrikaners en Afrikaanses en selfs die odd Boer dit so geniet. Ek vermoed die enigste mense wat nie van lag hou nie, is dié wat traumatiese Sondagskool-ervarings gehad het.”

“Jy moet op hoogte wees van wat in skrywers se lewens aangaan sonder om dit ooit te misbruik; jy moet dit gébruik om hulle te help.”

In 1993 oor die etikettering van skrywers: “Dis nogal ’n probleem – om opgesaal te sit met ’n etiket wat nie regtig pas nie. Dit help soms om mense se aandag te trek, mense te laat besef dat iets moontlik in hul smaak val. Ongelukkig sal dit ander weer wysmaak dat dit dalk nie in hul smaak val nie.”

In 1993 oor sensuur: “Sensuur is onnodig. Gelukkig beweeg ons volgens die mense by die Publikasieraad in die rigting van klassifisering, weg van verbannings en al daardie dinge wat die nuuskierige dier in die Afrikaner-bors laat ontwaak het, wat verbode dinge gesog gemaak het. Laat mense self besluit wat hulle wil sien en lees.”

“Die lewe bestaan uit verskuilde skinderstories.”

“Ek dink nie aan myself as ’n grapjas nie. Ek hou net daarvan om dinge uit ’n ongewone hoek te sien. Ek weier om te glo dat alles swaar en ernstig moet wees.”

In 1997 oor die toekoms van Afrikaans: “Daar’s ’n ou spreekwoord wat sê: As iets nie stukkend is nie, moet jy dit nie regmaak nie. Terwyl mense Afrikaans praat, en daar ’n groot klomp tydskrifte soos Sarie verskyn en gekoop en gelees word, kan niks verkeerd loop nie. Ek deel nie die pessimiste se siening oor Afrikaans nie. As ’n taal iets beteken, sal hy mos oorleef. Ek glo Afrikaans sal.”

“’n Mens moet eintlik nie vra wat die Afrikaanse boekrak nodig het nie. Jy moet eerder net hoop en bid vir ’n boekrak in elke Afrikaanse huis.”

“Jy moet die leser voor ’n versoeking stel waarvoor hy nie nee kan sê nie: gehalte, aktualiteit en ’n bemarkingsaksie wat by die skryfproses begin en by die boekhandelaar eindig.”

Gebore en getoë

Cornelis Tobias (Kerneels) Breytenbach is op 13 April 1952 in Emmarentia, Johannesburg gebore – die oudste kind van die gesin met een jonger suster, Elsebe. Sy pa, Braam, soms ook bekend as Breyt, was ’n skoolinspekteur in die ou Transvaal nadat hy die gebruiklike pad van onderwyser tot skoolhoof, ensovoorts gevolg het. Hy het op die plaas Leliefontein tussen Carolina en Belfast grootgeword en was lid van die Breytenbach-tak wat van Swellendam via Humansdorp na die Transvaal getrek het.

Kerneels se ma was ’n nooi Schumann – haar pa was PWS Schumann, dramaturg van Hantie kom huis toe en Katrina, en op sy dag hoof van die Hoërskool Monument. Kerneels se ma was ook in die onderwys, verbonde aan die Hoërskool JG Strijdom en Suidheuwels (die omstreke waar die sepie Agter elke man afgespeel het).

“In my eerste vier lewensjare het my oupa Schumann nog by ons ingewoon ná die afsterwe van my ouma. My pa-hulle het in die nadraai van die oorlog vier groot erwe in New Redruth, Alberton gekoop, waarvan drie gebruik is vir vrugtebome. Dit was ’n klein paradys, en tussen dié boorde het ek gespeel. Sulke donker, vrugbare hoëveldse grond.”

Kerneels vertel aan Murray la Vita: “(Daar was) altyd druiwe, altyd vye, appelkose ... hy het selfs mielies gegroei, aarbeie en dan nog groot hoenderhokke ook aan die een kant. Dit was eintlik ... dit was vreeslike idilliese, paradyslike kinderjare. Maar toe het dit te veel vir hom geword en hy het die plek verkoop. Ons het net een van die erwe gehou.”

Aan LitNet: “My oupa het in daardie jare homself besig gehou deur vir Nasionale Boekhandel boeke by skole te bemark. Ek het by hom in sy kamer met die groot boekrakke geboer – daar was altyd boeke. Hy het my verbeelding oopgemaak met die stories wat hy vertel het uit die ou klassieke (hy is een van die geslag wat nog Plato se Republiek in Grieks gelees het), en met die geïllustreerde kinderboeke van Nasionale Boekhandel en die ou JL van Schaik. Een wat ek spesifiek onthou, is ’n Duitse uitgawe van Heinrich Hoffmann se Der Struwwelpeter. Hy het dit nog saamgebring uit Duitsland waar hy kortliks voor die oorlog met nagraadse studies besig was voordat die rassehaat hom laat terugvlug het. My ma het speurverhale verslind, en ek het my eerste JT Edson-boek by my pa geleen.”

Kerneels woon die Laerskool Generaal Alberts by en voltooi sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Alberton in 1969. “Ons hoërskool was in daardie jare een van die Transvaal se top-presteerders en het puik onderwysers gelok. Die twee wat die grootste invloed op my gehad het, was Mafie Geyser, die Engelse onderwyseres (wat nogal ’n besielende soort mens was) en Johann (Tjol) van der Westhuizen, die wiskunde-onderwyser – ’n ongelooflike mens, en tragies vroeg oorlede. Ons klas was daardie jaar in die eindeksamen gemiddeld 10% bo die Transvaal-gemiddeld.”

Van Kerneels se herinneringe uit sy kinderjare is dié van New Redruth Fish & Chips wat net om die draai van die Laerskool Generaal Alberts was. “Dáár het my pa elke Saterdagmiddag vir ons vis en tjips gaan koop. Saterdagmiddag was vir my die kulinêre hoogtepunt van die week. Dit was die voorspel tot die aand se inry-bioskoop, en ek en my suster het baklei vir die leeue-aandeel van die tjips.

“Teen die tyd wat ek besig was met katkisasie, was ek al heeltemal verslaaf aan tjips. Ek het tydens die diens gemaak of ek my kollektegeld ingooi, en ná die katkisasieklas saam met ’n paar mede-katkisante op pad huis toe ons kollektegeld gebruik om ’n pakkie slaptjips met asyn te koop. Dit het maande lank aangegaan totdat ’n Van Rooyen-outjie ’n gaatjie onder in sy sakkie ontwikkel het en sy asyn met ’n boog oor my Sondagpak uitgespuit het. Sedertdien kan ek asyn slegs oor my lippe kry as dit hewig gemaskeer is.”

Hy beskryf sy ouers as uiteenlopende mense. “[M]y pa was joviaal en ontsettend lief vir die jongste skinnernuus. Sy skolekring was die Suid- en Oos-Transvaal, en ek het altyd die indruk gehad dat hy feitlik almal ken en weet watse kattekwaad hulle aanvang. My ma weer sou niks leliks van enigiemand sê nie, het glad nie geskinder nie, maar kon haar verkneukel aan my pa se stories. Wat my ouers wel spesiaal gemaak het, was dat hulle kinders as gelykes benader het – nooit neergepraat op jou nie.”

Kerneels se oupa se boeke het hom, nog voor hy kon skryf, laat besluit hy wil ’n skrywer word, en teen die tyd dat hy ’n tiener was, het hy al begin boeke koop met sy sakgeld. “Ek het nou nog die oorspronklike stel Fritz Deelmans en wens ek het vasgeklou aan my ou Swart Luiperd-, Trompie- en Keurboslaan-boeke!”

Oor die oorsprong van sy liefde vir musiek vertel Kerneels: “Musiek is ’n ander storie. My ma het ’n musiekgraad op Stellenbosch verwerf, en het Engels op skool gegee en musiek tuis aan privaatstudente. Daar was altyd musiek in die huis. Fritz Potgieter, een van my pa se vriende, het my eerste plate as geskenke aan my gegee toe ek vier was: Harry Belafonte se ‘Banana Boat Song’ en Chris Blignault se ‘Bosveld Bul’ (met ‘Kom dans nou saam op die Nuwe Jaar’ aan die ander kant). Ek het nie voor my ouers na LM-radio geluister nie, maar by die bure. Só het ek versot geraak op Elvis, die Beatles, die Stones en veral die Beach Boys. Ek het eers laat in die laerskool voor my ouers na rock geluister, en was verbaas toe my ma ook van die melodieë hou.”

Terug na bo

Verdere studie en werk

In 1970 is Kerneels weermag toe – na die Geneeskundige Dienste te Voortrekkerhoogte. Hy vertel dat die kamp oorvol was en dat die weermag redes gesoek het om mense medies ongeskik te verklaar. “Ek is glad nie lief vir militêre dinge nie, en hulle het met my saamgestem dat ’n letsel wat ek met ’n sonsverduistering opgedoen het, my baie ernstig kortwiek. Hulle het ook mense met asma en plat voete vrygestel. Toe moes ek blitsvinnig ’n besluit neem. My neef, Peter Schumann, het in Bloemfontein ingeskryf om te gaan leer vir argitek. Ek dag ek sou sy voorbeeld volg, maar die enigste universiteit waar daar nog plek was, was Natal s’n in Durban. Binne twee maande het dit tot my deurgedring dat ek op pad na groot ellende was (Fisika het gelol), en het ek stert tussen die bene huis toe gevlug.”

Hy het die res van die jaar as kassier by Volkskas gewerk en genoeg tyd gehad om te kon insien wat hy met sy lewe wou doen. In 1971 is hy na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom vir ’n BA-graad ingeskryf het. In 1975 verwerf hy sy MA-graad met die skripsie “Enumerasie in die Afrikaanse letterkunde” onder DJ Opperman. Die besluit om aan die US te gaan studeer was ’n voortsetting van ’n tradisie: sy ma se mense, die Schumanns, is ’n ou Bolandse familie met diep verbintenisse met Stellenbosch en met die universiteit.

Kerneels was die laaste student wat ’n MA by DJ Opperman gekry het voor sy koma; ná Opperman se herstel, toe Kerneels reeds by Die Burger was, het ’n ander soort vriendskapsband tussen hulle ontwikkel. Opperman was aanvanklik vir hom ’n groot enigma. “Hy was nie naastenby so aangrypend agter die podium as WEG Louw nie, maar tog het hy, waarskynlik danksy sy status as digter en boheem, daarin geslaag om mens deeglik te toets en te besiel. Ek was wel deeglik daarvan bewus dat Opperman ná die koma ’n heeltemal ander mens as daarvoor was. Voor die koma was hy kamerasku, daarna was hy die een wat versoek het dat ons ’n foto moes kom neem van hom terwyl hy herstel. Die foto het nogal opspraak verwek, maar hy was tevrede daarmee. Opperman het my beïnvloed om die letterkunde op ’n sekere manier te benader, maar sy invloed was nie naastenby so groot op my soos dié van JJ Degenaar nie.”

In Junie 1977 is Kerneels met Carien Hoffman getroud. Hy het op universiteit met haar suster Jalna uitgegaan, maar sy was lankal vergete toe hy Carien weer sien. Carien was lank grafiese kunstenaar en het ook juwele gemaak en is ’n baie goeie fotograaf. Hulle het twee kinders, Jana en Braam. Jana aard meer na Kerneels as na Carien en het dieselfde humorsin as haar pa. Sy sien humor in die vreemdste situasies. Jana is tans verslaggewer by Die Burger. Braam, ’n finalejaar-student, was as kind meer sagmoedig en, soos sy ma, kan hy dit nie verduur dat ’n probleem onopgelos bly nie.

Na universiteit begin Kerneels werk as joernalis by Beeld in Johannesburg en later by Die Burger. Hy word as kunsredakteur aangestel (1976 tot 1989), en sonder Victor Holloway as sy mentor uit. In ’n onderhoud met Suzette Truter beskryf Kerneels die koerantwerk, veral die soort by die kunsredaksie, as ongelooflik stimulerend. Hy meen ook dat hy die geluk aan sy kant gehad het, want hy hou van nuwe dinge en by Die Burger het die lewe presies dit gebied: elke dag iets nuuts.

Onderhoude waarvan Kerneels gehou het, al het dit nie altyd goeie kopie opgelewer nie, was dié met Dollar Brand (voordat hy Abdullah Ibrahim geword het), Wilma Stockenström, Ross Devenish, Goldie Hawn (in haar hotelsuite in die ou Landdros-hotel, waartydens haar bedgenoot skielik die kamer binnegeloop het – “Ek sal liewer nie sê wie nie”), Dennis Wilson van die Beach Boys, Milos Forman, David Brown, David Kramer, Pieter Fourie, Hennie Aucamp, Chris Rea (“Ons het heeltyd gesels oor ons babas”), Jan Scholtz, en Con de Villiers.

Tydens sy jare as joernalis kon jy Kerneels se onvergelykbare skryfstyl altyd uitken aan sy ewe onvergelykbare humorsin. Hy was ook vir baie mense sinoniem met musiek. Suzette Truter meen dat hy immers ’n hele generasie se musieksmaak beïnvloed het met sy jare lange musiekrubrieke op die kunsblad (“Byklanke”) en in Huisgenoot.

En sy eintlike passie in die lewe ís musiek: “By Koos (Prinsloo) het ek leer luister na Arvo Pärt en Chett Baker, die trompetblaser wat ook gesing het. Koos het van sy plate gehad waar hy sing in so ’n desolate stem. Dit was fantastiese musiek. Vir my was dit altyd ’n plesier om by Koos te gaan kuier, want hy het hierdie fantastiese musiek gehad.”

Sy resensies oor daardie tyd se popmusiek het hy aanvanklik met oorgawe geskryf, en later alleen uit genade; in 1993 het hy egter opgehou, omdat hy besef het hy is te oud. “Jy kom agter jy kan nie meer soos ’n tiener dink nie en jy verstaan nou wat jou plek in die kosmos is. Die boekewêreld het ál meer aandag geverg; ek het nie meer tyd (gehad) om te analiseer hoekom Acid House meriete (gehad) het nie.”

Daar was baie hoogtepunte in die jare waartydens hy “Byklanke” behartig het, vertel Kerneels aan Emile Joubert. “Daar's verskillende soorte hoogtepunte. Soos die brief van ‘Heavy Metal Freaks’ in Kroonstad wat my met die dood gedreig het as ek nie my mening oor Def Leppard en Judas Priest verander nie. Dan was daar Bles Bridges wat verseg het om te glo dat ek ’n suster het en dat sy dol is op sy musiek. Of die dag toe Cora Marie in Die Burger se kunskantoor ingestap het en daarop aangedring het om my ’n soen toe te dien. Of my heel eerste jazz-resensie vir Die Burger, in September 1976, van ’n Dollar Brand-konsert, en hoe sy warme reaksie daarop baie dinge vir my verander het.”

Voorvalle wat hy wil vergeet, is albei kere dat hy deur Ipi Tombi moes sit en die kulturele boikot en die manier waarop dit alle plaaslike musici benadeel het. “Dan het ek ook Cher se Sun City-konsert misgeloop. Maar die grote was dat ek nié by was toe Freddie Mercury voor ’n klomp joernaliste ’n carry pack-bier op Jan Smuts-lughawe sit en uitdrink en toe oor die tafel siek geword het daarvan nie.” Hoewel die kulturele boikot sy blootstelling aan internasionale popsterre beperk het, is local darem ook lekker. “Daar's baie myle tussen Jurie Ferreira en Johannes Kerkorrel. Die ontwikkeling was alles ten beste, veral die sogenaamde ‘alternatiewes’.”

Deesdae het Kerneels groot plesier aan skryf oor die musiek van voor die negentigs op sy blog “Naklanke” op LitNet. “Dis wonderlik wat ’n mens kan regkry met behulp van YouTube se videogrepe – ek skryf oor musiek waarvan ek hou en illustreer dit met videogrepe. Ek luister nie meer aaneen soos twintig jaar gelede nie, maar daar is selde stilte in ons huis.”

Hy is in 1989 na die uitgewery Human & Rousseau en toe hy daar instap, het hy besef hy weet niks nie. “Dit hou jou op die aarde en leer jou met ander oë kyk na dinge waaroor jy voorheen skepties was.” By Human & Rousseau was Koos Human, een van die stigters van die uitgewersmaatskappy, Kerneels se mentor en by Koos het hy baie ander truuks geleer as net oor die uitgewery. In 1994 volg Kerneels vir Koos amptelik op as hoofbestuurder van Human & Rousseau.

“Koos het vir my heel in die begin twee goed gedoen: Hy het vir my twee boeke gegee om te lees en daarna die kontrak gegee wat met skrywers aangegaan word. En so ’n kwessie van ’n week daarna het ek en hy eendag gaan sit en eet en hy het vir my verduidelik (...) wat (die kontrak) alles beteken. As jy die skrywerskontrak van ’n kant af vat en jy lees hom behoorlik, dan weet jy eintlik álles wat aangaan in ’n uitgewery en wat daar behóórt aan te gaan,” vertel Kerneels aan Murray la Vita.

“Jy weet, dis ’n vreemde ding, maar die verhouding tussen die skrywer en die uitgewer; uitgewer en skrywer; hoe beskerm die kontrak die twee teen mekaar; met ander woorde: watse voorregte het die een en watse verpligtinge het die ander een. Dis dáái ding. En dan weet jy presies wat die werk behels. En toe ek dit nou eers agter die blad het, toe weet ek ek gaan nooit weer terug koerante toe nie.”

Oor die kuns van uitgewer wees vertel Kerneels aan Murray la Vita dat ’n groot deel daarvan is om ’n “móérse respek” te ontwikkel vir ’n die persoon se skryfwerk en vir sy privaatheid, “maar ook naby genoeg te wees om binne daai privaatheid te operate deur die persoon te hélp of te beskérm of aan te moedig om net weer aan die gang te kom.

”Jy weet Koos (Human) self het vir Etienne Leroux gewéldig baie beteken. Selfs so ver gegaan in die ou dae as Leroux ’n manuskrip gelewer het, het hy afgekom Kaap toe en dan het hulle ’n week lank al twee ’n kamer gevat in die Metropole Hotel daar in Langstraat. En dan het hulle in die hotel gesit en í­n daai week het hulle daai manuskrip van ’n kant af deurgewerk en hom reggekry.

”Baie skrywers kan jy nie só hanteer nie, maar jy moet tog weet om iets soortgelyks vir hulle te kan doen. André Brink, byvoorbeeld, gee vir jou ’n manuskrip wat, danksy die manier wat hy skryf - Afrikaans-Engels tegelyk - al so goed gestruktureerd en deurgedink is dat jy nooit rêrig eintlik vir hom hoef te sê: ’Man, jou slot werk nie; skryf dit oor’, nie.

”Jy kan by André hoogstens vir hom sê, soos ek gemaak het met Duiwelskloof ... vir hom sê: ’Man, jy’t hier ’n misdaadjoernalis wat nooit bliksem sê nie.’

“By Karel Schoeman, weer, soek jy eintlik net vir tikfoute in die manuskrip. Jy peuter nie daaraan nie. Breyten ... dit is ook ’n digter wat so goed nagedink het oor sy goed, dis eintlik ’n belediging om vir hom te sê: man, luister die gedig werk nie vir jou nie, want jy weet die fout lê eintlik by jou, nie by hom nie.”

Kerneels praat oor wyle Koos Prinsloo en onthou die aand toe hy die manuskrip van Slagplaas by Prinsloo se woonstel in Hillbrow gaan haal het en hoe hy terug is na sy blyplek, waar hy tot laat die nag aan dié “geweldige sterk, brutale, emosionele bundel” gelees het.

In April 2001 het Tafelberg en Human & Rousseau saamgesmelt onder die NB-Uitgewers-vaandel, met Hannes van Zyl as hoofbestuurder en Kerneels as publikasiehoof.

In 2009 het Kerneels afgetree en het hulle ná jare as Kapenaars in Kloofnekweg na ’n huis tussen die see en die vleie van Bettysbaai verhuis.

Maar Kerneels is nie net uitgewer nie. In 1992 word sy bundel kortverhale, Morsdood van die honger, gepubliseer en in dieselfde jaar met die CNA-Debuutprys bekroon. Hennie Aucamp het hom soos volg oor Kerneels se verhale uitgelaat: “Sy speelsheid is ’n gevaarlike frenetiese gewals op die rand van die afgrond.”

Kerneels skryf baie van die sukses van hierdie bundel toe aan sy beoefening van die joernalistiek: “Dit maak jou vingers los en jou selfvertroue sterker.” Hy het hierdie bundel beskryf as kortverhale wat probeer aantoon dat die ergste apartheid (seksueel, godsdienstig, sosiaal, politiek) dié is wat jy in jou gedagtes bedryf.

HJ Pieterse skryf dat Kerneels met Morsdood van die honger sy horisonne as satirikus uitbrei en – soos dit ’n goeie satirikus betaam – geen heilige koeie ontsien nie. “Om die waarheid te sê: ná dié boek sal die naaste heilige koei in die omstreke van die Ganges gesoek moet word. (...)

“Alles en almal loop deur onder Breytenbach se pen: wittes, swartes, gays, feministe, kultuursnobs en pretensieuses (‘Die teater van bloed’), godsdiensdwepers, Afrikaanse liedjies, en, veral natuurlik, politici. Kortom, die hele Suid-Afrikaanse samelewing kom onder skoot.” Pieterse meen dat die gehalte van die verhale wissel, maar dat daar selfs in van die mindere verhale heelwat passasies is om die leser se lagspiere te prikkel. Die verhale word verbind deur onder meer figure soos Chelodie Davel/De Villiers, Broer Shawn, OD Hardon en Realdus Columbus wat herhaaldelik in verskillende verhale optree.

Abraham de Vries voel dat daar laas in Afrikaans by Etienne Leroux so ’n “redelik ondeugdelike, komieklike stoet” bymekaar was. “Die satirikus, sê Walters iewers (en hy behoort te weet), is heimlik ’n idealis, in diens van die genesing van menslike booshede. Wat Aucamp waarskynlik in die oog had, is dat daar onderliggend aan hierdie skeefbekykte karakters, aan selfs die hilariteit, die breër konteks van ‘inherente dekadensie’ is; patrone van ’n afloop, ’n eindtyd, verwant aan die laat-romantiek van die einde van die vorige eeu: die ‘cherishing of the unnatural’. Dat juis Aucamp dit raaksien, verbaas nie, want dáárin is sy eie verhale (hoe verskillend ook sy aanslag en stem) verwant aan dié van Breytenbach. (...)

“Dis in die skep van fantastiese situasies wat Breytenbach homself oortref. Insinkings in die vertel is die onvoorbereide, dus moeilik interpreteerbare slot van die titelverhaal, grootliks ’n oorvertelling van Dahl se ‘Taste’. (...) Maar as dit kom by die werklik goeie verhale, (...) sê hierdie resensent: Sny ’n stadige lyn; dis kos vir diegene wat die lag nog nie afgesterf het nie, wat hulle in ongeregtigheid nie verheug nie, en wat by die herken van die ondeugdelikhede nie vir genadeloosheid skrik nie. Daar’s nie baie sulkes in Afrikaans nie.”

Cecile Cilliers skryf dat die veertien verhale van uiteenlopende aard en ongewone inhoud in Morsdood op interessante wyse tot eenheid saamgesnoer word. “Sekere karakters kom naamlik by naam in etlike verhale voor, maar in wisselende situasies en omstandighede. (...) By dié bindende effek, prikkel en verras hierdie werkwyse, én boei dit.

“En binne die satiriese raamwerk kom daar ’n belangrike allemansidentifikasie tot stand, sodat én situasies én karakters die ganse samelewing geld. ‘Mnr X hou braaivleis’ is ’n goeie voorbeeld: die alomteenwoordige dood en die samelewing se groeiende disrespek word skitterend verbeeld in die steeds meer bisar verloop van die verloop, en die oop einde.

“Breytenbach het ’n verbasende vermoë om die leser, meteen, in die eerste paragraaf, in die verhaal te laat beland, en om maksimale inligting met ’n minimum van woorde te verskaf. ’n Vermoë wat hy ongelukkig nie deurgaans benut nie. Van die verhale is gans te lank sodat, die prikkelende ongewoonheid ten spyt, belangstelling verflou.

“Kerneels Breytenbach kyk met ’n skuins blik na die mensdom, en hy skryf en béskryf om te skok. En die resultaat skok wel, én amuseer, want hy ken die kuns van koddige segging en vergesogte situasies. Maar ’n werklik geslaagde satirikus, in my woordeboek, moet ook deernis toon, empatie, bý die skerpte. En dit ontbreek in hierdie bundel geheel en al. Die verhale is bitter goed, bitter snaaks, en bitter. Net dit. Bitter.”

In Zuid-Afrika van Maart 1993 skryf Hans Ester dat Kerneels Breytenbach ’n begaafde en selfs virtuose skrywer is en dat die bundel sy talent bewys. Hy voel egter dat Breytenbach se volgende boek minder grotesk en selfs positief moet wees.

En hoewel Gretel Wybenga voorbehoude gehad het, voel sy daar is te veel wat goed en lekker in die bundel is om dit nie ter hand te neem nie. “Enige gesonde samelewing móét ’n hofnar hê wat met lag en spot konings van trone mag afhaal. Welkom aan ons eie hofnar, Kerneelsie!”

Glimlag, Kerneels se eerste roman, word in 1993 uitgegee. Hierdie roman is een van die min romans in Afrikaans waarin populëre, oftewel pop-musiek as deel van die struktuur van die roman gebruik word. Kerneels vertel aan Willem de Vries op LitNet dat Glimlag struktureel gevorm is deur ’n ou speurroman van EC Bentley getiteld Trent’s Last Case, maar sy titel is ’n direkte verwysing na die Beach Boys se Smile, wat nooit uitgereik is nie, maar waarvan hy ’n roofopname het. “Baie van die hoofstuk-opskrifte is Smile-liedjies. Smile had ongelukkig minder snitte as wat Glimlag hoofstukke het, dus het ek by die Beach Boys se voorafgaande LP, Pet Sounds, gaan leen. Met die lirieke het dit effe anders gegaan: ek het enigiets geneem wat daardie sardoniese afstand kon help vestig – banale gedagtes, nooit aangehaal uit werklike Afrikaanse liedjies nie, maar in strekking en sfeer vanuit die Afrikaanse musiek-dampkring. In ’n vroeë draft het ek FAK-liedjies gebruik, maar dit was té styf en formeel. Ek wou iets gehad het wat oënskynlik diep dinge sê, maar in wese flou en geweldig oppervlakkig is.”

Die hoofkarakter, Trens Phillips, maak die leser tydig en ontydig attent op sy bykanse beheptheid daarmee om mense en situasies tot lirieke kenmerkend van populêre Afrikaanse musiek te reduseer. Dit vervreem die leser verder van die karakter. Kerneels beaam dat hierdie sardoniese draakstekery ’n hoofbestanddeel van Glimlag is. Hy wou hê die leser moet van Trens en Quarta [die hoofkarakter se groot liefde – Willem de Vries] hou, maar wat die res betref, moes hy/sy baie bewus bly van almal se feilbaarheid. By sommige wou hy hê dat dit duidelik moet wees dat hulle verteenwoordigend is van tipes Afrikaners: ambisieuse, korrumpeerbare mense.

Oor ‘n opmerking dat die lirieke so kenmerkend prosaïes is van vele ligte musiek in Afrikaans en dat Afrikaanse musikante hier aan die kaak gestel word sonder dat name genoem word, antwoord Kerneels vir De Vries dat as iemand sou sê hier is nou ’n geval van ’n oudmusiekresensent wat die Afrikaanse musiekbedryf die middelvinger wys, maar dit met fiksie verbloem, dit beslis waar is. “In die eerste draft was daar ’n lang stuk oor Cora Marie, die country-sangeres. Ongelukkig kry sy toe kanker en het die boek se redakteur gevoel dit sou swak smaak wees om die deel in te hou. Maar ek het in daardie stadium baie beslis genoeg gehad van Afrikaanse musiekkunstenaars. Ek was in die tweede laaste jaar van my termyn as Huisgenoot se popresensent, en in daardie stadium het die hele luisterlied-beweging in sy eiewaan versmoor, en was Afrikaanse musiek besig om geweldig onopwindend en selftevrede te word. My liefde vir popmusiek was altyd daarin gesetel dat ek altyd soek na iets nuuts en iets vernuwends. In die vroeë negentigs was dit ’n skaars ding in Afrikaanse musiek. Ek het dit ook ’n stap verder gevoer deur baie van die dinge in die roman in verband te bring met werklike Afrikaanse films. Aan die een kant die musiek en hierdie menslike smagting om te sing en te besing, al is dit hoe vrot, en aan die ander, die romanwêreld wat gelyk gestel word aan aardsetter-flieks en -karakters wat, om die minste te sê, wêreldvreemd is.”

De Vries meen dat dié soort kensketsing en vervreemding deur liriek sentraal is tot die humor van die boek. Die glimlag is eerder grimas. Hy wou by Kerneels weet watter ander musiekidees in die roman bygewerk is. “Daar was in 1990 in die tydskrif Q ’n beskrywing van ’n klankateljee, Karl Wallinger se ateljee. Dié het ek gebruik vir die ateljee in Glimlag. Die dinge wat tóé so wonderlik was, is nou alledaags. Vir die slot het ek aan twee dinge gedink: die middelste deel van die Smile-liedjie ‘Cool cool water’ en Gavin Bryars se komposisie Sinking of the Titanic, waarin hy die skip se orkes laat voortgaan met die speel van ‘Autumn’ onder die water. Mense wat bekend is met die verse van Rilke, sal dwardsdeur die roman verwysings na sy Duino-elegieë opmerk.”

Na Gunther Pakendorf se mening is daar heelparty raakpunte tussen Glimlag en Morsdood van die honger. Soos sy voorganger speel Glimlag in die onmiddellike hede in die Kaap af en toon eweneens ’n sterk satiriese neiging wat hier en daar bisarre en groteske vorme aanneem. “In ’n ander opsig sluit dit aan by ’n duidelike waarneembare kenmerk van die jongste Afrikaanse prosa, en dit is dat die verdwyning van apartheid skynbaar groter beweegruimte en dus ’n ongekende oplewing van kreatiwiteit onder Afrikaanse skrywers veroorsaak het. (...)

“In wese is Glimlag ’n kombinasie van speurverhaal en triviale liefdesverhaal. Kort nadat Helen Mills as Sakevrou van die Jaar aangewys is, verdwyn sy op geheimsinnige wyse. Die koerant, Ons Stem, berig eers verkeerdelik dat sy vermoor is, maar pas nadat die berig reggestel is, word haar lyk in geheimsinnige omstandighede gevind.

“Dit is die begin van die ondersoek deur Trens Phillips, vryskut-joernalis en popmusikus, wat hom al dieper in die militêre en politieke knoeispul van die land laat inbeweeg. Terselfdertyd beland hy in die arms van die beeldskone Quarta Prins saam met wie hy die een en ander avontuur beleef.”

Volgens Pakendorf mors Glimlag behoorlik met die ou Suid-Afrika en gooi sommer ’n paar ander temas by. “Dit is dus ’n satiriese bredie met ’n verskeidenheid bestanddele wat aan die leser opgedis word. Die vernaamste een is die Afrikanerpolitiek, knoeiery, korrupsie en al, wat ten spyte van sy kitsch-vertoonsug, nie stuit voor kriminele aandadigheid nie.”

Daar is ook geniepsige houe na die Afrikanerkultuur, en verder figureer die Afrikaanse joernalistiek, populêre kultuur soos popmusiek, en Afrikaanse rolprente en die staatsdiens. Sommige van die personasies het al in Breytenbach se kortverhale voorgekom; ander het name wat die leser uit ’n ander verband ken: Sonny Corleone, Sonja Groesbeek, Joey en Gert van Rooyen ...

Pakendorf voel dat die roman dalk net té haastig geskryf is en dat dit by deeglike redigering kon gebaat het. Hy het menige keer by die lees lekker gelag, maar moes net so dikwels terugblaai op soek na die verband tussen die verskillende episodes of karakters.

In sy resensie het in Rapport het JC Kannemeyer geskryf dat Breytenbach vrek goed skryf, maar dat wat hy skryf, vir hom, Kannemeyer, nie aanstaan nie. Hy erken dat hy persoonlik reageer en dat dit ’n groot fout is. Vir sommige mense mag die soort satire en die soort seks van Glimlag snaaks wees, skryf hy, maar vir hom was dit kru en aangeplak; diegene wat genoeë neem met al die vlugtige stukkies geestigheid en die politieke toespelings sal die boek egter geniet.

Tom Gouws meen dat hierdie debuutroman van Breytenbach in dieselfde trant is as sy resensies van films, restaurante, boeke en musiek – stout en stuitig, maar intelligent en ingelig, met with-it slengfrases, klinkende stukkies taal uit die lospraatjies van elke dag. Die vertelhouding is sinies, boosaardig, grynsend. Die “glimlag” van die titel is ’n sardoniese beskrywing van die verteller se grynslag terwyl hy vertel. Gouws is egter van mening dat die fiktiewe verklarings van werklike landsprobleme van daardie tyd ’n vertelling van oordrewe selfgenoegsaamheid bly. Die beterweterigheid en gemeensaamheid van die alwetende verteller irriteer op die lang duur.

LS Venter sluit sy bespreking af met: “Daar is gesê dat ons tyd nie meer die tragiese toelaat nie. Al wat moontlik is, is die komiese: óók as die skrywer ernstig is. Glimlag val in die genre van hierdie komedie van die erns. As dit laat lag, goed. Maar dit wil eintlik laat dink. Kerneels Breytenbach laat na my mening albei gebeur.”

Oor die negatiewe dinge wat resensente oor Glimlag geskryf het, vertel Kerneels aan André le Roux dat die eerste paar resensies wat jy lees, jou geweldig ontstel, maar dan moet jy maar jou eie raad aan ander skrywers volg: dat dit net ’n persoonlike mening is. “Ek dink nie Glimlag is ’n foutlose roman nie, maar ek dink ook die resensente het nie werklik gesien wat hulle behoort te gesien het nie.”

Kerneels het in 1997 aan Suzette Truter vertel dat wat sy skryfwerk betref, hy ná Glimlag heeltemal tot stilstand gekom het. Daar kom manuskripte by jou as uitgewer verby wat jou laat nietig voel, wat jou laat dink jy moenie jou naam krater maak deur te skryf nie; laat dié maar aan die regte skrywers oor. “Maar aan die ander kant is dit baie inspirerend. Dis ’n plesier om in die kantoor in te stap en ’n pakkie daar aan te tref, soos ’n nuwe roman van André Brink of Karel Schoeman. Of iets opwindends deur iemand van wie jy nog nooit gehoor het nie, maar jou van die eerste sin af vasgryp. En dat ek een van die eerste mense in die wêreld is wat dit gaan lees.”

Oor die gewilde Harry Potter-reeks wat Human & Rousseau in Afrikaans vertaal het, was Kerneels in ’n polemiek met Maretha Maartens betrokke. Maretha het in die rubriek “Soos ek dit sien’ in Volksblad onder meer geskryf dat hoewel Potter “in die goeie leef”, hy boosheid bemin en dat ouers twee keer moet dink voordat hulle dié boeke vir hul kinders vir Kersfees koop. Sy het in Rapport gesê haar rubriek is onvolledig en nie in die regte konteks aangehaal nie. Sy het ook verwys na wat JK Rowling in ’n onderhoud met Time te sê gehad het, iets waarna Breytenbach (in Rapport) nie verwys nie. Breytenbach het gesê sy kry haar inligting in die satiriese internet-koerant The Onion, wat feite fabriseer.

“Ek het ’n baie groot bewondering vir die fantasiewêreld wat JK Rowling geskep het. Maar wat ek aangehaal het, staan in swart op wit,'' het Maartens gesê. Hoewel dit eintlik “nie vir publikasie is nie”, sê sy Breytenbach moet maar met “sulke groot kanonvoer skiet as hy wil” in sy opmerking dat hy haar integriteit bevraagteken. Wat het geword van die feit dat elkeen op ’n opinie geregtig is, het sy gevra. “Weer eens, ek kan nie my bewondering vir JK Rowling se werk genoeg uitspreek nie. Maar dit gaan oor wat sy gesê het.”

Kerneels het gemeen dat Maartens moet erken dat sy mislei is deur The Onion en dat sy net die gedeelte van Rowling se onderhoud met die Amerikaanse nuustydskrif Time gebruik wat haar argument pas. “Lees ’n mens die hele paragraaf in die onderhoud en jy sien wat Maartens weggelaat het, besef jy dat Maartens besig is met ’n baie slim, maar nogtans gemene spel,” het Kerneels gesê. Hy het gevoel dat sy die eerbare ding moet doen en die publiek wat haar ondersteun het, moet inlig dat nóg Rowling nóg die Harry Potter-boeke enigiets met satanisme te make het.

In antwoord hierop het Maartens in ’n brief aan Volksblad geskryf dat sy nóg slim, nóg berekend was, maar dat sy, soos die meeste ander denkende mense, net na antwoorde soeke. Sy haal dan voorts passasies uit die Harry Potter-boeke aan om haar sieninge te staaf.

Kerneels was darem nie heeltemal stil wat kreatiewe skryfwerk betref ná die publikasie van Glimlag nie. Hy het ’n paar stories geskryf wat in versamelbundels opgeneem is en nêrens anders beskikbaar is nie. In 1998 is “Oorlog ter plaatse”, ’n anti-oorlog-, antimilitêre stuk opgeneem in Boereoorlogstories wat deur Jeanette Ferreira saamgestel is en deur Van Schaik uitgegee is. ’n Liefdesverhaal, “Die einde van die pad”, is opgeneem in Liefde loop ver, wat ook deur Jeanette Ferreira saamgestel is en in 1999 deur Human & Rousseau uitgegee is. Piet Roodt het ook ’n stuk opgeneem in Granaat en Kerneels het vir Queillerie bydraes gelewer vir die bloemlesings van skrywers se reaksie op die verkiesings van 1994 en die bestekopname daaroor ’n jaar later: 27 April 1994: ’n Skrywersdagboek en 27 April een jaar later.

In 1987, by die viering van die Baxter-teater se eerste tien jaar, het Brian Barrow en Yvonne Williams-Short’n bloemlesing getiteld Theatre Alive! saamgestel. Kerneels se bydrae was “What the critic should know about the theatre”.

In 2001 het Kerneels se humorsin aanleiding gegee tot die publikasie van Die skoon grapboek. Oor die grappe in die boeke sê hy dat min van die grappe oorspronklik genoem kan word. “Of dit nou op die internet of papier is, daar is min grappe wat nie baard het nie. Grappe wat oor Stalin vertel is, word deesdae oor George W Bush en Tony Blair vertel. Koos van der Merwe en Mike Schutte het ’n Ierse neef genaamd Paddy. Ek het die meeste van hulle verplaas na ’n landelike omgewing in Mpumalanga. Hopelik sal baie daarvan vir ons lesers onbekend wees.” Hy is trots op die feit dat al die grappe, ofskoon baie van hulle in kroeë afspeel, aan jou ouderling of dominee vertel sal kan word tydens die volgende huisbesoek.

In Die skoon grapboek het Kerneels as ’n soort teenhanger vir Leon Schuster se versameling doelbewus net “skoon” grappe oorvertel, vertel hy aan Corné Coetzee. “Dit spaar ’n mens ook al die verdriet van kinders wat hul skaam vir hul skurwe pa. Maar algaande het ek besef dat ek ’n effens meer gewaagde versameling ook sou kon saamstel. Een wat bronstig is sonder om smerig te wees. Ek is versot op James Thurber se humor, en die titel kom direk van een van sy skeppings af.”

In 2009 verskyn toe Die ding tussen man en vrou, nog ’n grapboek. Hy vermoed dat dit is omdat hy, soos enige ander mens, lief is vir die ontlading wat humor bring en met verloop van tyd agtergekom het dat Afrikaners taamlik skatologies in hul humorsin is, maar dat daar gelukkig meer aan ons humor is as die gatkant van die wêreld. Daar is ook ’n magdom seks-, skoon, rassistiese, seksistiese en siek grappe.

Kerneels staan ook bekend as ’n smulpaap en in sy hoedanigheid as restaurant-resensent – alias die pittige Braam Kleinhans – het hy almal se lagspiere geprikkel. En hy het oor die jare ’n groot kosliefhebber gebly en in Insig ander kosliefhebbers aan ’n groot verskeidenheid restaurante bekendgestel.

In 2005 gee hierdie liefde op aandrang van Leserskring aanleiding tot die samestelling van Die lekkerste lekker, ’n resepteboek wat Madeleine van Biljon as volg beskryf: “Daar is inderdaad baie gesellige resepte, sommige geyk, sommige kraakvars en heel oorspronklik. Elkeen wat onder ’n bekende se naam verskyn, dra die amper proebare stempel van die persoonlikheid van wyle Rufus Kenney se werklik topklas-tamatiebredie tot die romantiese kookster (soos in hemelliggaam) Marlene van Niekerk se lofsang oor beet. Die foto’s is ’n fees, die uitleg netjies, ’n plesier vir die oog. Dit is ’n mooi boek, maar ’n bietjie swaar op die hand – nie maklik hanteerbaar in ’n kombuis nie. Eerder leesbaar as bruikbaar, en lekker om te lees daarby. Alles pluspunte”; maar sy het dit teen die swak nasienwerk – Kerneels moes haar oor ’n bord kos en ’n fles wyn om verskoning vra vir die verkeerde spelling van haar naam in dié boek.

Madeleine Roux (skuilnaam van Madeleine van Biljon junior), ook ’n kok en koskenner, skryf dat nostalgie volgens ’n Frans gesegde niks meer is as verlange na die kos waarmee jy grootgeword het nie. “En Kerneels Breytenbach, uitgewer en ook befaamde Kaapse gourmand, het uiteindelik geswig en ’n kookboek saamgestel wat drup van die nostalgie. Met resepte uit ons jeugjare, asook die gunstelinge van ons oumas, pa’s, jagvriende, ou tantes en ja, selfs ons kinderbediendes, weerspieël dié eklektiese versameling die tradisionele kossmake van geslagte Afrikaners. Dan het die skrywer ook heerlike onafrikaanse ekstras ingegooi, soos chowder (die onweerstaanbare Amerikaanse vis-en-aartappelsop gegeur met spekvleis), Franse uiesop, Griekse skaapboud, Thaise gemarineerde vis en Camembertkoek.

“Die aanslag is net reg: Jamie Oliver kook Huisgenoot se Wenresepte. Die samesteller se gevatte, skalks-vrome opmerkings, sy eie kort essays en lieflike bydraes van skrywers is in die kol. Veral mooi is die resepte binne-in die essays. Niks irriteer ’n kosleser meer as ’n gesoek na resepte by ’n verwysing in die meegaande storie nie.

“Vir my is kos onlosmaaklik aan humor verbind. Die beste resepteboeke is dus samestellings van sensuele inligting en vreeslike snaakse opmerkings – dink maar aan Elizabeth David met haar droë kritiek op gemorskos en passieryke kostoere deur Europa, of aan Julia Child se wonderlike verhale oor haar TV-rampe, maar ook die manier hoe sy haar hande so mooi op kos kon lê, soos alle goeie kokke. Breytenbach is ’n humoristiese skrywer en sy aweregse sin vir humor is nommerpas. ‘Ek het die grootste respek vir vegetariërs. Dit wil egter nie sê dat ek dieselfde fout as hulle moet maak nie.’ Kosbaar ook is sy vertellings oor ou eetplekke soos die Kaapse Tafel-restaurant in Koningin Victoriastraat in Kaapstad. Ewe goed is bydraes van onder meer Antjie Krog, die jagter Johan Botha, die rubriekskrywer Mariëtte Crafford en die rolprentmaker Herman Binge. Die akademikus Elize Botha se storie oor haar pa en die nagmaalwyn is van Herman Charles Bosman-gehalte.

“Kortliks, ’n indrukwekkende, mooi boek met werklik lekker resepte. Daar is mooier foto’s binne-in die boek as dié op die voorblad, maar dis kibbel. Die foto van droë harders en ’n knipmes op bl 179 is lieflik, maar hulle sê mos vis op die voorblad van enige resepteboek behalwe ’n vis-een, sal nie die boek laat verkoop nie.”

Sy het egter dieselfde voorbehoude oor woorde wat verkeerd gespel is en ander foute in die boek en haar vraag is waarom het Breytenbach soveel moeite gedoen het om vir sy lesers plesier te verskaf en dan taal- en resepteversorging laat links lê het.

In Oktober 2010 verskyn 7de Laan kook, wat saamgestel is deur Daleen van der Merwe, Human & Rousseau se kookboekredakteur, met teks deur Kerneels. Hy hét slaafs die sepie 7de Laan op SABC2 gekyk, en doen dit al die jare, en daarvoor blameer hy vir André P Brink. Brink se bewondering vir een van die karakters in die reeks het Kerneels nuuskierig genoeg gemaak om te begin kyk. In hierdie boek deel sewe van die karakters in die sepie hul beste resepte. “Die lekkerte hiervan was om ’n storie rondom elke karakter te skep, binne karakter te bly, en in sy of haar ‘stem’ te praat.

“Matrone het byvoorbeeld ’n vorige lewe wat so saam met haar resepte uitkom: die mans wat sy in die oog gehad het, die jare by Bothaville se landbouskou. Hel, daai vrou het ’n stem waarmee jy boerpampoen kan skil, maar haar Generaal De la Rey-koek met droë vye en pekanneute maak jou knieë slap!”

En ja, hy hét deeglik meegedoen aan die soek-en-proe-sessies van die verskillende resepte, hoewel die meeste van die 75 resepte deur Daleen van der Merwe bymekaargemaak is.

Hy vertel aan Elmarie Rautenbach dat daar egter ’n storie ágter die storie is: “In 1995 het ek by die Frankfurt-Boekebeurs een aand langs ene Barbara Beck gesit. Sy was ’n uitgewer by die Metropolitan Museum of Art en vertel my toe hoedat sy in die bedryf beland het.

“Rex Stout, ’n Amerikaanse skrywer, het van die dertigs tot die sewentigs ’n misdaadreeks, die sogenaamde Nero Wolfe-boeke, die lig laat sien. Wolfe was ’n speurder met ’n lyf so groot soos sy ego en ’n voorliefde vir geel sypajamas, orgideë en die gastronomie. Al probleem was Stout kon nie kook nie. Dit was Barbara se taak as jong uitgewerassistent om elke boek se resepte en kookrituele uit te dink en agterna die manuskripte na te gaan om seker te maak Wolfe kap darem ’n ui op die regte manier. En dis hoe sy die idee gekry het vir The Nero Wolfe Cookbook – tot vandag toe een van die top-kookboeke op amazon.com!”

Na sy sogenaamde aftrede is Kerneels nog steeds besig met boeke: resensies, lees van manuskripte en ander soortgelyke dinge. “Aftree is miskien iets wat ek eendag sal doen. Op die oomblik wentel my lewe om boeke, musiek en pogings tot my eie skryfwerk. En natuurlik, my hond, Jasper. Ek en my vrou, Carien, kan dit net nie oor ons harte kry om hom te vertel hy is nie ’n mens nie.”

Breyten Breytenbach beskryf Kerneels as volg: “Die kern van Koning Neels (of Klimneels, of Knorneels) is gulhartigheid en ’n fyn-fyn onbevange gees propvol intelligensie en nuuskierigheid. (In die ope-gemoed en vermoë tot verwondering sin ...)” Breyten sê verder: “[V]ra hom, in alle erns, of ons nou die blerrie groot skrywer wat hy is, vreesloos na vore gaan sien tree.”

Hierdie vraag word beantwoord wanneer ’n mens Kerneels pols oor waarom hy nóú (in 2009), op 56, uittree.

“’n Mens werk mos maar altyd met daardie idee dat jy nou as jy 60 of 65 is, sal gaan. Ek het in 1993 laas gepubliseer – Glimlag (...), wat ek gedink het ernstige werk is.

“Sedertdien was daar daai kookboek (Die lekkerste lekker) en ’n grapboek (Die skoon grapboek). Maar op een of ander manier het ek verskeie kere begin met goed skryf en elke slag dan ontspoor dit ... of tyd haal my in, of ek het nie tyd om daaraan te werk nie, of ek raak sinies halfpad want ek besef ek hou nie daarvan nie – daai soort van normale goed.

“Maar die eintlike ding is jy sit by ’n uitgewery en jy sien ander mense se goed en jou kreatiewe tyd gaan in personeelsake in en in die bestuur van ’n maatskappy. En uiteindelik skryf jy basies níks. En daar is nou twee of drie goed. Een is ’n roman wat ek al mee begin het in 1999, 2000 – daar rond, en wat ’n baie ernstige terugslag gekry het toe hulle my laptop (in November 2003) gesteel het met ’n klomp hoofstukke daarmee saam. Toe moes ek hom van voor af skryf want ek het nie ’n backup gehad nie, maar sedertdien hou ek religiously backups.

“Maar dit het ek toe herskryf, ek het toe gaan sit en ’n taamlike poging aangewend. En met dáái roman het ek verder as halfpad gekom, maar hy sit nou daar en wag vir my. Dis die eerste ding wat ek nou gaan doen. ’n Mens raak so verlief op die stories partykeer en die karakters ... in hierdie geval is dit ’n bruin vrou wat groot opgang maak in die sakewêreld en hoe sy trou met ’n jong wit ou en dan die familie wat vir haar vra hoe kan sy benede haar met ’n witmens trou – die omgekeerde situasie van wat voorheen sou gebeur het.”

André Brink sê naas rugby is musiek die ding wat ook húlle oor die jare “baie heg verbind het”.
“[A]s ’n paar manne eers saamgehuil het oor ’n Habana-drie op die rugbyveld, of ’n Monty-skop in die doodsnikke, of oor Anna Netrebko in Traviata, dan staan daardie vriendskap soos ’n paal bo water.”

Oor Kerneels die uitgewer sê hy: “Hy was soos oorle’ Watermeyer se mure teen die suidewind.”

In ’n onderhoud met Elmari Rautenbach gesels hulle oor ouer word en lesse leer en Kerneels vertel vir haar van sy dogter, Jana, wat as ’n junior verslaggewer by Die Burger die moeilike opdrag gekry het om die Eersterivier-taxi-ongeluk op die treinspoor te dek. “Die een waarin tien kinders dood is.”

Hy skud sy kop. “Ek tel die oggend die koerant op en ek lees: ‘Ek is lief vir jou. Wees tog gaaf met die taxi-bestuurder.’ Dít was gisteroggend me. Rochelle Smith van Eersterivier se laaste woorde aan haar seun, Reece.’ En ek dink: my dogter het dit heeltemal op haar eie geskryf. Weet jy hoe trots voel ’n mens?”

In 1995 het Kerneels aan Rapport-Tydskrif gesê dat hy graag sy goue jare op Carolina in Oos-Transvaal wil woon. “Daar moet ’n Aga-koolstoof in die kombuis wees en baie koffie en boerebeskuit. Met ander woorde, dit moet rustig wees en ek moet tyd hê vir baie herinneringe – selfs oor goed wat ek nie gedoen het nie.

“Ongelukkig moet elkeen maar self vir sy eie oudag voorsiening maak. Hoewel pensionarisse en senior burgers afslag kry op uitgawes soos fliek en haarsny, kry hulle nie korting op die werklike uitgawes van die lewe nie. G’n wonder so baie van hulle moet hulle bekommer nie.”

En as hy ’n tweede kans kry om terug te kom aarde toe: “Ek sal graag Mozart wil wees. Hy is die enigste mens wat weet hoe die Requiem werklik moes geëindig het. En met die moderne mediese wonderwerke sou ek graag ’n kat in my skoonsuster se huis wou gewees het – dan sou ek ewigdurende vreugde kon hê en heerlik baas kon speel.”

Sarie wou weet hoe hy hom in die winter warm hou: “Daar’s ’n paar stelreëls. Nommer een: bou voortdurend aan jou koolhidraat-vlakke – wat goed is vir atlete, is goed vir TV-kykers. Jy’t daardie ekstra energie veral nodig vir nuusberigte.

“Nommer twee: betaal jou mediese rekenings eers ná maande. Nommer drie: gebruik die rooiwyn-en-blondine-opsie slegs wanneer jou vrou en kinders tydens die skoolvakansie Wildtuin toe is saam met jou skoonouers. Nommer vier: onthou, ’n knetterende kaggelvuur is die duiwel se oorkussing.”

Soos in sy jeug is Kerneels steeds ’n ywerige leser. “Ek verslind alles van Reginald Hill, Lee Child en James Ellroy wat ek in die hande kan kry. Dis my verstrooiingsplesier. Onder die ernstiger skrywers is dit ’n vreugde om met nuwe name soos Jonathan Franzen, Ian McEwan en Roberto Bolano kennis te maak. Die skrywers wat my beïnvloed het, is Henry Adams, Thomas Pynchon, Don DeLillo, Milan Kundera, Richard Ford en William Gaddis. Ek betrap myself ook elke paar jaar dat ek Pynchon se Gravity’s Rainbow en DeLillo se The Names herlees. Wat Afrikaanse boeke betref, probeer ek byhou.”

Publikasies:

Publikasie

Enumerasie in die Afrikaanse letterkunde

Publikasiedatum

1976

ISBN

(hb)

Uitgewers

Stellenbosch: CT Breytenbach

Literêre vorm

M-tesis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Morsdood van die honger

Publikasiedatum

1992

ISBN

098129859 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

CNA-debuutprys 1993

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Glimlag

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798131977 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Die ding tussen man en vrou: grappe byeengebring en oorvertel

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150729 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Grapboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

7de Laan kook. Teks deur Kerneels Breytenbach en saamgestel deur Daleen van der Merwe

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151634 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Kerneels Breytenbach as samesteller

  • Die lekkerste lekker. Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 0798145587 (hb)]
  • Die skoon grapboek. Kaapstad: Human & Rousseau, 2001 [ISBN 0798142103 (sb)]
  • Kerneels Breytenbach as vertaler

  • Impey, Rose
    • Gril jouself simpel. Kaapstad: Tafelberg, 1989 [ISBN 0624028143 (sb)]
    • Die groen enkelgryper. Kaapstad: Tafelberg, 1990 [ISBN 0624028704 (sb)]
    • Lappe-Lena. Kaapstad: Tafelberg, 1990 [ISBN 0624028712 (sb)]
    • Ou Platkop. Kaapstad: Tafelberg, 1989 [ISBN 0624028135 (sb)]
    Artikels oor Kerneels Breytenbach op die internet

    ’n Keur van artikels deur Kerneels Breytenbach op die internet

     


    Terug na bo

    Bygewerk: 2010-11-16
    Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za



    Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




    VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
    Dwelmbase voer heerskappy
    Die gemors by UJ ens

    Word 'n Vriend van SêNet

    Read more about Al Lovejoy
    © 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
    Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
    Webblad ontwerp deur