| Die boek in krisis: Hoe die ANC bepaal wat leerlinge mag weet |
Charles Malan
Die ANC se huidige bedreiging van spraakvryheid met wetgewing oor mediabeheer en inligtingbeperking is maar net die oortjies van ’n vet seekoei wat opvoeding betref. Die magsugtige regime is reeds besig om ’n ystergreep op die beheer van kennis en inligting vir toekomstige geslagte leerlinge te verkry.
Is dit vergesog dat skimagtige groepe in Luthuli-huis of waar ook al kan besluit wat kinders mag weet of leer? Kan hulle leerstof nie slegs sensureer nie, maar totaal oorneem? Kan hulle uitgewerye versmoor deur die opvoedkundige bedryf in te palm?
Die moontlikhede word erger. Kan hulle moedertaalonderrig van graad 1 af begin nek omdraai? Kan hulle ’n veelheid van stemme en perspektiewe tot ANC-speak verskraal? Kan hulle die geskiedenis verteken deur byvoorbeeld die Boererepublieke se hele vryheidstryd uit hul goedgekeurde geskiedenishandboeke weg te laat?
Dit is helaas geen versinsel nie, want dit gebeur reeds. Selfs die kritiese media het egter min om oor die groter prentjie te berig, waarskynlik omdat soveel belange ter sprake is en selfs die beleërde uitgewerye bang is om hulle posisie te benadeel.
In die skrywersdrukgroep Vrye Woord se poging om talle vorme van die ANC se aanslag op skrif bloot te lê het ons op ontstellende inligting oor hierdie “projek” van die ANC (hulle beskrywing) afgekom. Onder die individue wat die meeste gaan ly, tel naas leerlinge skrywers van allerlei aard – van fiksie sowel as opvoedkundige, historiese en ander tekste. Die jongste skok vir belangegroepe is dat die nasionale Departement van Basiese Onderwys (DBO) pas begin het met die verspreiding van hul eie gratis pakkette leermateriaal aan leerlinge van graad 1-6.
Uitgewers wat miljoene rande bestee het aan die ontwikkeling van werkboeke, leesboeke en leesreekse word netjies uit dié mark gerangeer. Gaan daar enige haan na kraai? Sal dít uitgewers uit hul verstarring ruk terwyl hulle tans nie protesteer nie? En indien wel, wat sal dit hulle in hierdie (te) laat stadium baat?
Die apartheidspook loop weer
Dit is duidelik dat die belange van skrywers en woordwerkers van allerlei aard blatant geminag en ondermyn word. Vrye Woord moet deesdae oorneem waar die Afrikaanse Skrywersgilde se weerstand tydens die apartheidsera in samewerking met die media opgehou het.
Ons kan nie sonder verset toesien hoe die ANC jaar na jaar demokratiese diversiteit en in die besonder die onderrig van en in Afrikaans, die letterkunde, die kunste en geskiedenis ondergrawe nie.
Die apartheidspook van algehele sensuur en manipulasie is weer besig om angswekkend op te doem, net soos media- en inligtingbeheer. Die voorskryfmark was destyds, soos tans, ’n uiters lonende bedryf.
Die NP-regime het dit veral op twee maniere beheer: deur boeke te verbied of deur voor te skryf wat die inhoud mag wees om vir skole voorgeskryf te kan word. ’n Hele klein biblioteek boeke is verbied, ook van die land se voorste skrywers. As die onderwysbase nie hulle goedkeuring gegee het nie, kon geen boek voorgeskryf word nie.
Omdat dermiljoene rand soos tans ter sprake was, is daar op groot skaal gekonkel om boeke by die vrome hekwagters verby te kry. Die Gilde het aan die kaak gestel hoe daar tussen sommige uitgewers, skrywers en onderwysowerhede geknoei is om boeke op die voorskryflys te kry. Vooraf-sensuur was aan die orde van die dag en selfs gepubliseerde boeke moes vir ’n volgende uitgawe “gesuiwer” word. Grootbroer het die laaste sê gehad.
Van ons as akademici was getuie van senior professor-kollegas wat herehuise en wildplase met hulle opbrengste kon koop. Die NP het egter nietemin nooit so ver gegaan om self te begin publiseer en uitgewerye uit te skakel nie. Manipulasie en beheer deur die NP het natuurlik geensins beteken dat daar nie gelukkig ook voortreflike tekste op eie meriete vir die voorskryfmark gepubliseer is nie. Van die bekendste skrywers se werke is wel by die sensors verby omdat hulle nie die regime of "morele standaardisering" aanstoot gegee het nie.
Die opvoedkundige staatsgreep
Die situasie het onder die ANC-bewind drasties verander. Die party, dus die regering, is strategies veel meer uitgeslape as die NP. Hulle gebruik wel steeds keuring van tekste, maar hulle palm eenvoudig die hele bedryf van die laagste grade af boontoe in.
’n Lang lys ANC-meelopers baat tans by die nuwe opvoedkundige staatsgreep, hoofsaaklik as kontrakteurs en goedbetaalde besluitnemers in strategiese posisies. Vrye Woord het name van “herontplooide kaders” en sal dit bes moontlik verder openbaar.
In ’n stap met verreikende implikasies vir moedertaalonderrig en veeltaligheid word die hele land se kinders van vanjaar af reeds in graad 1 gedwing om Engels as ’n verpligte tweede taal te neem, ongeag hulle eie taal-agtergrond. Hoewel groot getalle beginners Afrikaans as tweede taal gebruik en geen blootstelling aan Engels het nie, gaan hulle summier vanaf die eerste graad na Engels gedwing word. Op nog ’n terrein word Afrikaans dus uitgerangeer. Die belange van moedertaalonderrig in die beginfase wat internasionaal erken word, tel vir die ANC duidelik al minder. Leerlinge word van die begin af gekondisioneer om soos hulle ouers te glo dat Engels hulle toegang tot werk en geleerdheid is.
Die roekelose oorname van die opvoedkundige bedryf is in volle gang. Die staat begin vanjaar formeel met state publishing, staatsuitgewery, deur self werkboeke vir die laer grade te publiseer en gebruik veral nieregeringsorganisasies (NRO’s) as alternatief vir uitgewerye wat jare lank met groot kundigheid leermateriaal ontwikkel en gepubliseer het. Die DBO het onlangs trots aangekondig dat hulle miljoene bespaar het deur “self” die werkboeke vir graad 1-6 in elf tale te ontwikkel. Hulle het slegs die helfte van die sowat R750 miljoen wat hulle vir die projek gekry het, gebruik. Natuurlik kom die ontsaglike verliese van ander partye in die groter bedryf nie ter sprake nie.
Die ANC se skrikwekkende agenda is dus nou reeds min of meer uitgespel. Deur staatsuitgewery verkry die staat nie slegs volkome beheer nie, maar kan hulle die enorme winste weg van die tradisionele opvoedkundige bedryf na hulle eie, goedgekeurde NRO’s kanaliseer. Daar is duidelik by kommunistiese regimes oor staatsbeheer geleer.
Agterop die staatswerkboeke staan dat hulle deur Rainbow Books gepubliseer word – hulle is onbekend in die uitgewersbedryf. Hierdie leermateriaal mag boonop nie verkoop word nie, wat talle tussengangers in die bedryf uitskakel. Wat alles erger maak, is dat die driedelige pakket ook ’n leesboek insluit. Dit beteken DBO het nie woord gehou nie: hulle sou slegs werkboeke in wiskunde en tale voorsien het. Wat van die uitgewers se derduisende gegradeerde leesreekse wat teen groot koste ontwikkel is? ’n “Big Book” maak deel uit van die pakket. Dit is wat onderwysers gebruik om oa leestegnieke te onderrig. In die druk en verspreiding van leermateriaal word talle instansies naas uitgewers, soos drukkers, verspreiders, tenderaars per provinsie en boekwinkels in effek uitgeskakel. Die staat neem hierdie bedrywe deur middel van hulle eie kontrakteurs oor. Tenders word vir alles gevra. Die tenderprosesse kom boonop daarop neer dat die staat bo die reg verhef word – tenderaars kan maar sommer deel wees van die instansie wat die tenders uitreik.
Volgens die ANC-model maak dit nie saak dat soveel kundigheid en ervaring daarmee van die tafel af gevee word nie, want die topbestuur van uitgewerye en verwante bedrywe is in baie gevalle in wittes se hande en dus “ongetransformeerd”.
Basiese keuring, en dus ANC-voorskrifte, geld selfs strenger as onder apartheid. Uit duisende voorleggings deur uitgewers vir teks- en werkboeke word drasties verkorte katalogusse saamgestel waaruit skole, en soms selfs die departement (soos onlangs in Wes-Kaap gebeur het), moet kies.
Uitgewers moet voltooide produkte vir keuring voorlê en gooi dus miljoene rande se ontwikkelings-, produksie- en voorleggingskoste in die water as die teksinhoud nie “voldoen aan die standaarde” nie – basies uiteraard ANC-standaarde.
Anders as in die onlangse verlede waar uitgewers keurdersverslae ná voorleggings ontvang het en gedeeltelik goedgekeurde leermateriaal kon hervoorlê, selfs teen ’n keurdersverslag appelleer, verval appèl en hervoorlegging tans.
Net om vir keuring vir opname in katalogusse oorweeg te word, moet uitgewerye vier tot agt konseppublikasies teen soveel as R2 000 per titel/pakket voorlê. Tydens die laaste grondslagfase-voorleggings is slegs agt publikasies per leerarea/vak goedgekeur vir die beplande nasionale katalogus.
Die katalogus is intussen onder druk van onder andere uitgewerye geskrap omdat die DBO nie keurdersverslae beskikbaar kon stel nie, en ook nie die lukrake seleksie van titels vir die nasionale katalogus kon of wou verklaar nie.
Selfs vir die parlement hou die ANC nogtans hulle kaarte dig. Daar beantwoord hulle kritiese vrae van die opposisie met vaagpraat en ontwyking. Hulle deel die opposisie in April 2010 bloot mee dat hulle publikasiebeleid “beskikbaar” is en dat die staat “vir drukwerk bo R20 000” sorg.
Statistieke soos uitgawes word oor die provinsies heen verdeel, wat dit moeilik maak om bepaalde vorme van korrupsie vas te pen.
“Tender” – wat is dit?
Wat wel volgens berigte duidelik is, is dat die onderwysowerhede met baie vreemde tenderprosedures betrap is vroeg in hulle veldtog om die uitgewersbedryf oor te neem. Daar is merkwaardige ooreenkomste tussen die tenderprosesse van 2009 en 2010, wat albei in November gesluit het. Die DBO het laat in 2009 ook die ontwikkeling van werkboek-pakkette vir graad 1–6 soos tans aangekondig. Die tender vir die aanstelling van ’n diensverskaffer of instelling om die leer- en ondersteuningsmateriaal te ontwikkel en te versprei is op 13 November geadverteer en het op 27 November gesluit.
Die sowat 12 miljoen pakkette met 45 miljoen boeke moes skole reeds in Februarie 2010 bereik het – dus twee maande na die toeken van die tender. Die hele dwase onderneming is na openbaarmaking laat vaar. Die DA het die departement se ondeursigtige hantering van die tender as ’n skandaal beskryf.
’n Ingeligte bron het aan Beeld gesê gegewe die kort tydjie wat die tender geadverteer was, kan bespiegel word of die departement nie reeds ’n instelling vir die reusewerk in die oog gehad het wat nie die mas kon opkom nie. Die hele proses met dieselfde vergesogte tydskaal is egter in November 2010 herhaal, maar hierdie keer was die ANC se uitverkore tendertrawante goed voorberei.
Niemand weet steeds hoe die tenderprosedures werk nie, maar almal vermoed daar is grootskaalse probleme. Alet Rademeyer van Beeld het al verskeie kere berig oor die omstrede maatskappy EduSolutions wat in Gauteng, KwaZulu-Natal en nou ook in Limpopo die tenderkontrakte vir verspreiding het.
Die minister het op 12 Januarie 2011 verklaar dat die nuwe werkboeke van R300 miljoen waarvoor die tender eers einde November 2010 toegestaan is, reeds beskikbaar is om die skole te bereik sodra statistieke oor leerlinggetalle beskikbaar is. Die ontsaglike tenderopdrag is dus binne ’n maand uitgevoer! Dit het gebeur sonder dat die staat se keuse vir ’n uitgewer, die sogenaamde Rainbow Books, en hulle talle medewerkers veronderstel was om vooraf seker te kon wees dat hulle die tender sou kry en dus groot koste kon begin aangaan. Slegs ’n aap sou kon glo dat enige tenderaar van voor af so ’n ontsaglike opdrag van nagenoeg 45 miljoen boeke binne ’n maand sou kon uitvoer as daar nie reeds minstens ’n jaar lank gekonkel en voorberei is nie.
“Tender” was duidelik ’n grap wat alle tenderaars behalwe “Rainbow Books” en hulle meelopers betref nadat dit die onsuksesvolle aansoekers enorme moeite en uitgawes gekos het. Wie behalwe die ANC gaan ooit weet wie hierdie magtige tenderaar werklik is? Wie vra in elk geval vrae?
Nuwe handboeke vir graad 1-3 en 10 moet nou voor Junie 2011 ontwikkel word vir keuring vir die drasties verkorte nasionale katalogus. Hoe dié proses gaan werk, is tans ook nog grotendeels onbekend, want in hierdie laat stadium is die finale kurrikulum (die soveelste sedert 1998!), naamlik die Nasionale Kurrikulum- en Assessering-beleidverklarings, steeds nie gefinaliseer nie. Die owerhede (lees ANC) gee nie om dat hulle onbereikbare plan van uitkomsgebaseerde onderwys klaaglik misluk het nie – hulle moet dadelik wéér aan die kurrikulum begin torring. Uitgewers het die kurrikulum op 18 Januarie stuk-stuk begin kry sonder om vir seker te weet of dit die finale weergawes is. Dit laat uitgewers met vier en ’n half maande om leermateriaal vir vier grade (1-3 en 10) volgens ’n nuwe kurrikulum te ontwikkel. Op 28 Februarie 2012 moet uitgewers voorleggings doen vir sewe grade (4-9 en 11). Die lyste van gekeurde handboeke word voortaan boonop vir “besparing” beperk en handboeke sal sentraal aangekoop word.
Wie se intellektuele eiendom?
Wat veral vir skrywers ontstellend is, is dat die departement in die huidige oornameproses die intellektuele eiendom van tekste in die werkboeke verkry het – alles vir ’n “reuse-besparing”, volgens minister Angie Motshekga.
Hoe kon dit gebeur het? Wie het hul oordrukregte afgegee?
Uitgewers weet maar te goed hulle sny hulle eie kele af deur hulle intellektuele eiendom prys te gee. Dit is moontlik dat bepaalde uitgewers baie aantreklike teenprestasies gekry het, in die besonder ook voorkeurbehandeling. Twee groot uitgewerye, een met ’n oorsese basis, speel blykbaar ’n sentrale rol in die nuwe bedeling.
Die sentralisering en geheimhouding is steeds meer slegte nuus vir uitgewers en verwante bedrywe. Wie is die NRO’s wat die tenders vir die vinnige ontwikkeling gekry het? Dit is bekend dat departementele amptenare na senior poste in NRO’s oorgeskuif het, wat die hele proses van interne konkeling vererger.
Die ANC voel klaarblyklik vere daarvoor dat die hele demokratiese proses in die naam van “besparing” ondermyn word. ’n Veelheid stemme en bydraers word uitgeskakel en die wurggreep op veral uitgewers word al sterker.
Die ANC se groter meesterplan
Hoe ver strek die ANC se meesterplan vir die uitgewers- en mediabedryf? Daar is min twyfel dat hulle hul visier ook op Naspers/Media 24 se aandeel in die media het en maar te graag van hulle winste met veral opvoedkundige publikasies sal wil afskep. In die ANC-besprekingsdokument Media Transformation, Ownership and Diversity word daar pertinent na die groep se 85 persent wit eienaarskap verwys. Naspers is nogtans jare lank al besig met enorme transformasie en regstelling.
Dit is net ’n kwessie van tyd voordat die politieke politburo van die ANC ook hier hulle mantras van transformasie, regstelling en herverdeling aggressief gaan begin afdwing.
Wanneer die uitgewers en die nasionale uitgewersvereniging, PASA, wel hulle stemme by die DBO en die provinsiale onderwysdepartemente oor die talle probleme laat hoor, is dit poefgeluidjies teen die donderweer. Iemand wat die PASA-vergadering oor die uitgewerye met minister Motshekga bygewoon het, het gesê dit was duidelik dat selfs sy nie geweet het wat presies die toedrag van sake is nie. Dit wemel van onrealistiese planne en vooruitsigte.
Die bloudruk is sekerlik in Luthuli-huis te vind. Die departement is onder enorme druk om vinnig veranderings aan die status quo vir ’n nuwe bedeling aan te bring en alle onderwyssake te sentraliseer.
Hulle bestee jaarliks tussen R1,2 en R1,5 miljard aan handboeke. Juis hand- en werkboeke is die ruggraat van die opvoedkundige uitgewersbedryf.
Jessica Faircliff, redakteur van die boeketydskrif Bookmark, vra tereg wat so ’n beperkte lys vir onderwys gaan beteken. Die handboekmark onderskraag die publiseer van talle boeke oor kuns en kultuur en vir die inheemse tale, dus diversiteit, wat andersins nie sou kon verskyn nie. Die hele grondslag van ’n geletterde en opgevoede nasie is ter sprake.
Die vraag is of die ANC se maniese fokus op sentralisering korrupsie gaan bevorder of beperk. Selfs die Wes-Kaap, wat die beste van alle provinsies bestuur word, bly nie vry van manipulasie nie. Na die aanstelling van ’n ANC-kader in ’n uitvoerende onderwyspos was daar blatante bevoorregting van slegs enkele uitgewers.
Die ANC as party word in die hele projek van oorname geesdriftig deur hulle vakbond-bondgenote SADOU ondersteun. Dit is die kamerade wat help sorg het dat derduisende leerlinge tydens die stakings direk benadeel is. Die DA stel dit onomwonde: SADOU het nie bloot ’n wurggreep op die onderwysstelsel nie – hulle is effektief in beheer daarvan.
Geen wonder SAKP-hoofkommissar Blade Nzimande is hulle eintlike leier nie. Hy het immers by hulle vorige kongres gaan verklaar dat media- en inligtingbeheer nodig is om sosialisme te beskerm. Nou weet die land waaroor dit eintlik in onderrig gaan.
Daar is geen twyfel nie dat talle kaders in die opvoedkundige bedryf juig oor die druk om groter inligtingbeheer te kry, gedryf deur Siyabonga Cwele, minister van staatsveiligheid, en sosialistiese kamerade soos Nzimande.
Ondersoekende joernaliste is ongemaklik naby om die katnes te ontbloot. Binnekort sal uitgewerye moontlik wel begin voel hulle het niks meer om te verloor nie en alle inligting verskaf. Teen daardie tyd kan dit met die beoogde wetgewing egter as staatsgeheime kwalifiseer. Tenderprosedures en beheer deur NRO’s is in elk geval reeds ondeursigtig.
’n Nuwe geskiedenis
Is dit oordrewe dat die ANC in hulle staatsgreep selfs kan verdraai wat eintlik in die verlede gebeur het?
Een van die mees onrusbarende gevolge van ANC-beheer oor inligting is die vertekening van die geskiedenis wat reeds in volle gang is. Fransjohan Pretorius, voorsitter van die Geskiedeniskommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, het ’n groot rol gespeel om die misbruike in wetenskaplike artikels te dokumenteer. Hy skryf pas in ’n persoonlike mededeling as medewerker van Vrye Woord: “Soos wat skoolsillabusse in die NP-regeringstyd Afrikanersentries was, is dit nou struggle-sentries, wat nie geregverdig kan word nie, want ons het immers nou ’n demokrasie, waarin meerdere standpunte behoort te geld. Dit help nie die pendulum het van die een kant na die ander oorgehel nie – ons moet by die middel probeer uitkom. Balans in ons siening van die verlede sal bewys lewer van ons volwassenheid as ’n nasie.”
Hy verwys as voorbeeld van die struggle-sentriese geskiedenis na die reeks vir hoërskole Turning Points in History, wat nogal deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening uitgegee is, met ’n reuse-toekenning deur UNESCO vir hulle “gebalanseerde geskiedskrywing”. “Ek het uitgewys dat die klem op die struggle is, dat die Afrikaner in die beskuldigdebank staan en veroordeel word vir sy dade in die tydperk ná 1948, maar dat sy prestasies van die negentiende eeu – ’n stryd om eie bestaan, republikanisme en sy heldhaftige stryd teen ’n buitelandse imperialisme – geïgnoreer word.” Paul Kruger kry een sin in die reeks. De Wet, De la Rey, Louis Botha, Magersfontein, Colenso en Spioenkop figureer glad nie.
Dit is volgens hom geen geheim dat geskiedenis as vak op Afrikaanse skole kwyn nie, deels omdat ouers nie ten gunste daarvan is dat hulle kinders blootgestel word aan die nuwe eensydige siening oor die Suid-Afrikaanse verlede nie.
Die Geskiedeniskommissie se boek oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis vir hoërskole nader voltooiing en die skrywers hoop om meer balans te bring. Die onderwysdepartement sal dit egter byna vir seker nie aanbeveel nie.
Verdraaiings is bepaald nie slegs tot geskiedenis as vak beperk nie. Die keuse van allerlei tekste vir leermateriaal, soos vir begripstoetse, kan steeds meer in diens van die alliansie se “nasionale demokratiese revolusie” gestel word. Die vakke waarin die keuse van tekste ’n rol kan speel, is: tale, geskiedenis, lewensvaardigheid (van graad 7 af lewensoriëntering), in ’n mate aardrykskunde en moontlik toerisme.
Dit is ironies dat die beperking op media- en inligtingvryheid tans soveel publisiteit kry terwyl staatsbeheer wat geslagte leerlinge se toekomstige kennis kan beïnvloed, so min aandag kry. Mens sidder om te dink wat sal gebeur as die ANC, wat reeds onderwys so skouspelagtig laat misluk, ook uitgewerye, en dus enige alternatiewe sienings naas ANC-speak, uit die prentjie kan kry.
Intussen steur die ANC-maghebbers in beheer van onderwys op verskillende vlakke hulle steeds minder aan kritiek en verkry steeds meer mag. Uitgesoekte NRO’s en enkele uitgewerye met “verbintenisse” in plaas van die groot gros uitgewerye sal waarskynlik steeds meer tenderkontrakte verkry en ANC-speak sal steeds meer ingevoer word. Parlementêre vrae sal oudergewoonte met minagting behandel word.
Skrywers en ander woordwerkers moet in afgryse toesien hoe nie slegs hulle eie belange nie, maar ook dié van die land se jeug ondermyn word. En uiteindelik sal ’n hele land stelselmatig onder die miskenning van diversiteit en veelstemmigheid ly.
Die skrywer en letterkundige Charles Malan is die stigter-koördineerder van Vrye Woord en redakteur van hulle en WikiLigni se nuusbriewe; hy het ook sy eie klein uitgewery, Hermes.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|