Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Die krisis rondom seksualiteit in die Rooms-Katolieke Kerk
Laurie Gaum
2011-02-24 Druk dit/Print it

’n Memorandum (sien hier) wat nou reeds deur heelwat meer as 200 Duitse Katolieke teoloë onderteken is, het dié kerk aan die gons. Die ondertekenaars verteenwoordig meer as ’n derde van alle Duitse professore in Katolieke teologie. Die memorandum vra vir hervorming wat betref sake soos die selibaat, vrouepriesters en homoseksualiteit, maar ook wat betref gewetensvryheid, lekebemagtiging, kerkstrukture en kerklike leierskap. Die dokument kan waarskynlik gesien word as ’n voorloper tot pous Benediktus se besoek in September aan sy geboorteland.

Dit alles volg op die openbaarmaking, nou meer as ’n jaar gelede, van die seksuele misbruik van kinders en jongmense deur priesters en geestelikes by die Canisius-skool in Berlyn (volgens die eerste sin van die memorandum). Dit het die Katolieke Kerk in Duitsland in ’n reuse-krisis gedompel en dit baie lidmate laat verloor. Die kerk se beskerming van oortreders het sake verder bemoeilik.

Die memorandum beroep hom baie sterk op die vryheid van die individu as grondliggende waarde waarvan uitgegaan word. Dit neem verder die kontemporêre kultuur ernstig op en is daarmee in gesprek. Dit gee krediet aan die openbare samelewing se bydrae om die misbruik-skandaal aan die lig te bring. Deursigtigheid is die enigste manier om vertroue te herwin en na konsekwentheid en geloofwaardigheid terug te keer, word gesê. Maar ’n terugkeer na die wesenlike aard van die kerk word ook bepleit.

In die memorandum word daar ’n baie ernstige oproep tot “oop dialoog sonder taboes” tydens die komende pouslike besoek gedoen. Hier is die reaksie wat reeds vanuit die geledere van die Duitse biskoppe ontvang is, voorlopig bemoedigend. Anders as tydens ’n vorige geleentheid toe Ratzinger self vanuit die Vatikaan voorgestel het dat die rol van betaalde teoloë ingeperk kan word, is die reaksie van die biskoppe sover nie té afwysend nie, en selfs positief, oor ’n “voortgaande gesprek oor hervorming”. Só ’n gesprek tussen die Katolieke teoloë en die Magisterium is blykbaar nog nie in Suid-Afrika aan die gang nie.

Die opstellers van die memorandum vrees dat dit die dood in die pot vir die kerk kan wees indien hervormings nie op alle vlakke binnekort moontlik gemaak word nie. Strukturele veranderings is onder meer dwingend noodsaaklik. ’n Analise van waar die kerk op die oomblik staan en watter uitdagings in die gesig gestaar word, word gemaak. Dit is duidelik ’n kerk op sy knieë wat deurtastende verandering broodnodig het.

Tog bly die hoop staan dat dit dalk die beste plek vir ’n kerk is wat die moontlikheid vir verandering oop laat. Die ondertekenaars wil dus nie hierdie geleentheid laat verbygaan nie. Dit is tot ’n moedige geloof waartoe die dokument ten slotte ’n oproep doen.

Die verhouding tussen “betaalde” teoloë (wat in diens van die staat is) en kerklikes kom onderliggend ter sprake. Akademiese teoloë het groter gewetensvryheid, alhoewel daar vroeër juis kontroversie in Duitsland was dat hulle name steeds vir goedkeuring Rome toe gestuur word.

’n Mens sou kon vra of hierdie dokument steeds ’n geval van te min te laat is. Is hierdie sake beredderbaar? Kan die kerk nog beredder word? Dit is ’n moedige stem wat hier aan die woord kom en in dié sin ’n nodige stem. Anders sal die klippe dit uitroep! Hierdie dinge kan nie ongesê bly nie. Maar dis ook ’n nederige stem; ’n gebroke stem. Daarom erken hierdie stem ook “die sonde in ons eie geledere” en wil dit nie moreel eiegeregtig wees nie.

Watter effek gaan hierdie stem hê? Dit sal waarskynlik getoets word tydens die pous se September-besoek. Ek het al mense hoor sê dat pous Benediktus revolusionêr is en besig is om ’n instelling wat in eeue opereer, te verander. Dat hy ’n paar maande gelede in één sin na homoseksuele mans en na kondome verwys het, is sekerlik revolusionêr! Maar indien hy nie daadwerklik gehoor gee aan sy teoloë se wekroep in die vorm van hierdie memorandum nie, sal die pous hopelik moet uitkyk vir die soort revolusie wat ons die afgelope tyd in Egipte en Tunisië gesien het.

Aanvullende bron
John L Allen Jr, German bishops express a desire for dialogue with their theologians, National Catholic Reporter, 15 February, 2011.

  • Laurie Gaum is ’n teologiese praktisyn verbonde aan die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit in Kaapstad. Hy het op Stellenbosch studeer en is passievol oor die lewe, mense en ons planeet.

 

<< Terug na “Die krisis rondom seksualiteit in die Rooms-Katolieke Kerk“-miniseminaar <<



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za

VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van SĂȘNet

Read more about Sarah Frost
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur