Erika Terblanche
|
|
|
Sêgoed van Fransi Phillips “Ek het nooit enige leser in gedagte wanneer ek ’n boek skryf nie, maar noudat dit klaar is, dink ek dit kan gelees word deur universiteitstudente en hul professore, intelligente professionele mans (van wie daar net ’n paar is), intelligente professionele vroue (van wie daar baie is), intelligente huisvroue (van wie daar baie is), en hardhandige mans (van wie daar ook baie is).” “Ek skryf omdat dit my ego goed doen. Dis geklik, want skrywers kry nie eintlik geld nie. En ’n mens kan tog nie jou ego eet nie. Maar wanneer ek my weer kom kry, dan skryf ek maar weer en weer.” “Die reëls waarop ons beskawing gebou is, maak dat baie mense nie daar inpas nie. En daardie mense wat nie inpas nie, word in malhuise gestop. Maar wat is mal nou eintlik? Miskien kan ons eendag ’n stelsel kry waar almal kan inpas.” “’n Boek begin vir my met ’n begin en ’n einde. As ek die einde het, moet ek daarby uitkom. Ek begin nooit skryf as ek nie ’n einde het nie.” Raad aan voornemende skrywers: “Moenie dat enige ding jou afsit nie. Ook nie eers dat jy nie gaan survive nie.” “Wanneer ’n mens eerlik is, moet jy seker maar op ’n manier ’n buitestaander wees. Ek dink almal is in die een of ander stadium ’n buitestaander. Want jy kan nie altyd ’n masker dra wat almal gelukkig maak nie.” “Oor die toekoms dink ek nie veel nie. Ek wil maar net skryf as ek iets het om te sê. Ek kyk ook nie na groot en klein nie, want elke boek is vir my ewe belangrik; ek hou van hulle almal, selfs dié wat in my laai lê en wag vir die dag dat iemand dit sal publiseer.”
|
Gebore en getoë Fransi Phillips (gebore Du Preez) is op 12 Augustus 1958 op ’n plaas in die distrik Lichtenburg in die (huidige) Noordwes gebore. Sy beskryf die kontrei daar as “so ’n plat plek; warm en so kwesbaar. Amper iets soos die landskap van die skilder Dali. Dit is so plat dat ’n mens skoon bang is iets tref jou skielik!” Sy vertel in ’n biografiese skets dat daar baie insekte op die plaas was en ook baie voëls. “Daar was ook ’n bende op die plaas. Ek was die jongste lid van die bende. Die leuse van die bende was: ‘As ons honger is, eet ons snot.’ Ek het al die gevegte verloor en ek huil nou nog as ek daaraan dink.” Sy vertel verder dat sy op laerskool baie prestasies behaal het, maar nie meer kan onthou wat die prestasies was nie. Fransi het as tienjarige ná die skryf van ’n opstel oor Wolraad Woltemade geweet sy moet skryf. “Ek het net so ’n gevoel gekry dat iets gebeur waaroor ek geen beheer het nie. Asof iets anders oorneem.” Toe Fransi veertien jaar oud was, trek hulle Pretoria toe. Sy gaan na die Afrikaanse Hoër Meisieskool daar. “Ek kon nie aanpas nie,” vertel sy aan Carlien Wessels. “Dit het seker maar te doen met die feit dat ons van die plaas af Pretoria toe getrek het. Dit was ’n ramp.” Sy vertel ook dat daar nie veel voëls in die stad was nie, “en as ek ’n voël se stem wou hoor, moes ek op my dwarsfluit speel of na plate luister van vrouens wat soos voëls kon sing. Later het ek prente van voëls uitgeknip en dit bo-oor die vrouens se gesigte geplak. Ek het myself belowe dat ek eendag ’n storie sal skryf oor ’n kind wat haar hare so kort sny dat sy soos ’n voël lyk.” Fransi vertel aan Carlien Wessels dat sy altyd in die moeilikheid was en dat sy ook ietwat van ’n randeier was. “Ek het baie hard probeer om by die reëls te hou en te konformeer, maar dit het nie gewerk nie. Reëls was van kleins af ’n probleem. Of dalk was ek maar net aspris. Soos die keer toe ons mure pas spierwit geverf was en ek ’n tennisbal vol modder daarteen geslaan het. [...] Ek het nooit boeke skool toe gevat en ook nooit my huiswerk gedoen nie.” Daar was die geleentheid toe die wiskunde-onderwyser vir haar gesê het: “Nou ja, dis seker jou saak wat jy met jou lewe aanvang.”
Terug na bo
Verdere studie en werk Na skool is Fransi na die Universiteit van Pretoria, waar sy honneursgrade in filosofie en kunsgeskiedenis behaal het. Op universiteit was sy gelukkig om op haar eie te wees en te doen wat sy wil. “Ek is gek na studeer,” vertel sy in 1994. “Vanjaar wil ek ’n kursus in vertaling volg en eendag nog my M-graad kry.” Op universiteit ontmoet sy vir Charles Phillips en die twee is getroud. Vir ’n lang ruk skryf sy resensies vir Beeld en Pretoria News oor die kunsuitstallings in Pretoria. Vandag is sy benewens kunskritikus en vryskutjoernalis, ook kulturele adviseur van die Tsjeggiese Ambassade in Pretoria. Sy bied verskeie werkswinkels in kuns, musiek en drama in die townships aan, asook voordragte op internasionale kongresse, skeppende skryfprogramme en universiteitskursusse. Die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging het haar vereer vir haar kunskritiese werk. Fransi het ’n dogter, Nina, wat sy as alleenma grootgemaak het. Sy het Nina soort van haar eie gang laat gaan om self dinge uit te pluis. Fransi se eerste boek, Die horlosie se wysers val af, word in 1983 deur Kabelkarnimfe gepubliseer. Sy vertel dat die skrywery eintlik op ’n baie eienaardige, byna bisarre wyse na haar gekom het. “Dit was toe ek vyf was. Tweelingsussies van my is doodgebore en my ouma het my geneem om na hul lykies te gaan kyk. Op daardie ouderdom is ’n mens baie vatbaar vir sulke dinge. Ek dink daardie gebeurtenis het op ’n manier my kop ‘oopgebreek’ en my verbeelding aan die gang gesit. Want my verbeelding het op hol gegaan en allerlei goed versin om dit te kan verwerk.” Daardie onaangename voorval het haar ook geleer om nie net die minder mooi kant van die lewe in die oë te kyk nie, maar ook haar eie verbeelding te gebruik om die mooie te kan raaksien. André P Brink skryf oor Die horlosie se wysers val af dat iets van ’n surrealistiese prosagedigkwaliteit hierdie debuutbundel van prosa kenmerk; “’n vreemde droomwêreld waar die gewoonste en gewelddadigste eweseer met ’n skouerophaling begroet word. Maar dis geen ‘spontane assosiasie’ soos by die surrealiste van destyds nie: ’n baie spesifieke denkstruktuur staan agter dié blitsopnames. [...] Die horlosie se wysers val af is – in weerwilvan, soms, ’n neiging tot oordrywing, overstatement; soms, ’n oënskynlik té grote impulsiwiteit – een van die boeiendste publikasies van die jongste generasie tot dusver. Fransi Phillips het ’n staccatostem wat wéét hoe om in prosa te praat: en hoe om prosa te laai met elementele geweld, selfs wanneer dit gaan om die eenvoudigste gebeure of gebare.” René Marais skryf dat dit hier gaan om die opheffing van grense, ook tussen genres. “Die bundel bestaan uit 51 prosagedigte wat los van mekaar gelees kan word, maar eintlik binne bundelkonteks eers te volle tot hul reg kom.” Dit “getuig van oorspronklikheid en verdien beslis om gelees te word.” Fransi voel dat sy nie net stories skryf nie. Sy probeer om grense daarmee af te breek; om teenoorgesteldes by mekaar uit te bring en ’n nuwe logika oor die lewe te vind. Oor haar tweede boek, Sewe-en-sewentig stories oor ’n clown (HAUM-Literêr, 1986) is gesê al toerusting wat die leser daarvoor nodig het, is “die ope gemoed van ’n onskuldige en die vermoë tot verwondering van ’n kleuter.” René Marais skryf in Die Vaderland van 7 April 1986 dat die 77 stories in hierdie bundel oor ’n clown as eeue oue argetipiese simbool handel, en nie oor ’n hanswors of nar in die hedendaags meer algemene, enger betekenis van “grappemaker in ’n toneelstuk of sirkus; harlekyn, by uitbreiding ook, iemand wie se gedrag komies of belaglik is” nie. “Verhoudings speel ’n belangrike rol in en tussen die 77 stories, soos byvoorbeeld die verhouding tussen die clown enersyds en die ander/gewone mense andersyds. [...] Die taal waarin die stories vertel word, is oop en eenvoudig, en die stories kom eenvoudig en bykans willekeurig voor. Hierdie eenvoud is egter bedrieglik; wanneer ’n mens onder die oppervlak kyk, is dit duidelik dat die skryfster met fyn en organisatoriese vernuf te werk gegaan het in die skryf van die stories. Die stories het ’n sikliese verloop in die bundel, en die sikliese word onder meer deur herhaling bewerkstellig. [...] HAUM- Literêr verdien ’n pluimpie vir hulle bereidwilligheid om hierdie genietlike eksperimentele prosawerk uit te gee, én vir die keurige en smaakvolle versorging van hierdie publikasie.” In Rapport skryf André P Brink dat hy hom nie te slim wil hou oor die bundel nie, want net deur na die “bekoorlike en puik versorgde” uitgawe te kyk, “laat mens al besef dat dit hier éérstens gaan om die plesier van lees. ’n Plesier in die teken van Italo Calvino se seminale uitspraak: ‘The origin of all fiction is the fairytale.’ Want dit is ál wat eintlik van die leser gevra word: om hom/haar onbevange óóp te stel voor ’n reeks verstommende, vrolike, makabere, skrikwekkende, heerlike, lawwe, hartseer stories. [...] [D]ie ritmiese taalkonstruksie (veral die herhalingspatrone van episodes, paragrawe, sinne, sinsnedes, woorde) is nie net nommerpas vir die ‘oproep’ van ’n sprokieswêreld nie, maar bed daardie wêreld juis in die taal sélf in. Lees hulle asseblief net – kind, grootmens, oumens – omdat hulle sulke aartsstories is. Maar: vir dié wat, op die spoor van Propp en al sy moderne nalopers, wil ondersoek hóé ’n storie ‘werk’, is dié lieflike klein storieboek een van die opwindendste onlangse verskynings in Afrikaans.” Fransi sê self dat sy graag sou wou hê dat ons sprokies weer deel van ons lewe moet maak. “Want dit berus op ’n ander soort logika as vandag se lewe. Dis ’n manier waarop die wêreld beleef is, nie sommer net storietjies nie. Vandag is sprokies nie eens meer deel van baie kinders se verwysingsveld nie. Dis jammer.” En dit is hierdie onderliggende filosofie wat sy by haar dogter Nina wou tuisbring. Fransi se verbeelding en skeppende vermoë is eintlik waarom haar bestaan draai. Vir haar is kreatiwiteit byna soos ’n godsdiens, iets wat gelyk is aan die liefde. En dis ook waarom sy skryf. En wanneer sy nie skryf nie, probeer sy die misteries van die lewe ontrafel. “Soos waarom sekere mense by die samelewing inpas en ander nie. Of hoekom daar goed soos snelweë is as alle mense eintlik bang is daarvoor en nie daarvan hou nie.” In 1987 verskyn Die wilde kind (HAUM-Literêr)en in 1988 Theresa se droom (Human & Rousseau). Die wilde kind is Fransi se eerste novelle en die verhaal gaan oor Michael, ’n beeldhouer wat in Londen woon en wat, nadat hy ’n vreemde, wilde stemmetjie na hom hoor roep, besluit om op sy oom se grond in Botswana te gaan woon. Daar leer hy onder andere die operasangeres Claudia ken. Hul eerste ontmoeting geskied op uitsonderlike wyse: sy moet geboorte skenk aan ’n kind, maar die swart vroue wat haar help, kan haar nie verstaan nie en Michael moet as tolk optree. Die meisietjie wat daar gebore word, is die wilde kind. Toe Claudia in die vlamme sterf wanneer La Scala afbrand, word die kind Michael se verantwoordelikheid. Heilna du Plooy beskryf die verhaal as iets uitsonderliks, waarin werklikheid en fantasie vermeng, “dikwels onskeibaar, net soos wat droom en rasionaliteit, realistiese vertelling en sprokie nie te skei is nie. Daar is iets onwêrelds, iets magies in die karakters en in hul verhoudinge met mekaar.” Wium van Zyl meen dat Die wilde kind ’n sterk beroep doen op ’n sin vir die fantastiese by die leser en Johann de Lange skryf dat dit so ’n ryk teks is dat hy nie in die beskikbare ruimte kan ingaan op die gevarieerde simboliek van insekte, diere, wesens, maan, sterre, en so meer nie. Hy skryf dat dit ’n uitsonderlike sprokie deur ’n baie spesiale grootmens is. Theresa se droom sit hierdie sprokieselement in Fransi se skryfwerk voort en sluit direk by Die wilde kind aan. Dit vertel die verhaal van die opgroeiende meisie Theresa. ’n Europese skrywer bring ’n besoek aan die destydse Wes-Transvaal en sien op ’n dag ’n meisietjie wat, in ’n gehawende toestand, met ’n dwarsfluit langs haar, onder ’n boom slaap. Daar naby ontmoet hy ’n dwerg met ’n sakkie diamante en later hoor hy by ’n boer iets oor die meisie se onsekere herkoms en haar toekoms. Die skrywer gaan terug na Engeland, maar kan haar nie vergeet nie, en begin ’n verhaal oor haar maak. Binne hierdie verhaal het Theresa ook ’n held, wat slegs sy kan sien en wat haar help om krisisse te bowe te kom. Hierdie held is niemand anders nie as die skrywer self. Fanie Olivier sê dat Theresa se droom ’n verfyning in vertelling en ’n vermenging van sfere op ’n manier bring wat mens aangryp, en Hans Ester skryf in Zuid-Afrika: “Dit boek is een uitermate verfijnde vervlechting van spookjesmotieven en elementen uit die sociale werkelijkheid van Zuid-Afrika. De krachten die het leven van Theressa bedreigen, zijn voelbaar aanwezig. Het is mede daardoor een ijzig spannend boek. Je durft het niet uit handen te leggen, voordat je de zekerheid hebt, dat Theresa veilig in de armen van haar schrijver sluimert.” Die aktrise Diaan Lawrenson en dramaturg Deon Opperman het Theresa se droom verwerk en vir die verhoog aangepas en dit is tydens 2000 se KKNK opgevoer. Queillerie Uitgewers se tweede boek wat hulle uitgee, is Fransi se Herfsverhale (1992). Joan Hambidge beskryf dit as ’n lieflike boekie wat geskryf is in die toonaard van die eksperimentele clown-stories: eteries, eksperimenteel en bedrieglik eenvoudig vertel, dog ingewikkeld in die spel met vertelpatrone. “Fransi Phillips se kortverhale werk op dieselfde vlak as ’n gedig: metafories eerder as metonimies. Die leser moet telkens ’n sentrale metafoor in die verhale vind waaraan verskeie motiewe verbind is. Dis uiters vaardig geskryf en soos ’n gedig kort in omvang, maar lank in reikwydte.” Tom Gouws skryf in Insig: “Hierdie bundel word Herfsverhale genoem, die vrou wat hulle skryf, word met bykans reëlmatige herhaling in die teks genoem ‘die vrou wat herfsverhale skryf’, dit wat gebeur, gebeur in die seisoen van herfs, soveel gesprekke gaan daaroor, en ook: die boek verskyn in herfs. En hierdie vooropstelling van herfs beklemtoon nie noodwendig net die seisoen as sodanig nie, nee. Dit benadruk eerder die patroon van verandering en transformasie van ons ondermaanse lewe. Weliswaar klee die seisoen ons miskien meer as die ander in mantels van melancholie, soos die een wat ’n herkenbare Fransi Phillips op die voorblad van hierdie boek dra [van ’n skildery van haar haar deur haar man, Charles Phillips] [...] Dit is duidelik dat die verblindende eenvoud van die teks die leser maklik kan mislei om nie die jukstaposisies raak te lees nie. Selde verskyn daar so ’n oop digte teks in Afrikaans, ’n teks wat jou oor sy eenvoud weer en weer laat lees ... [...] Moet nie toelaat dat hierdie verhaal jou verbygaan nie. Hierdie is ’n boek wat ’n verskil aan jou lewe sal kan maak.” As deel van HAUM-Literêr se reeks tienerfiksie word ’n Baie lang brief aan Rolf in 1993 uitgegee. Die verhaal word aangebied in die vorm van ’n lang brief wat Klara, die hoofkarakter, aan haar vriend Rolf skryf. Na die selfmoord van haar vader moet Klara en haar moeder na die stad verhuis. Sy voel verward en onseker oor haarself. By die skool ontmoet sy vir Rolf, ’n matriekleerling wat die volgende jaar Duitsland toe wil gaan om verder in musiek te gaan studeer. Marina le Roux skryf dat Phillips nie teleurstel in hierdie boek van haar nie. “Klara en Rolf se verhouding oortuig vanweë die outentieke en eerlike uitbeelding van hul liefde in al sy fasette van opwinding, hartseer en hartstog. [...] Phillips se waarneming is hiperrealisties, haar analises dikwels gedetailleerde disseksies.” Le Roux kom tot die slotsom dat Phillips geen spesiale toegewings aan tienerlesers maak nie. “Sy voetval voor geen literêre mode nie” en die boek is ’n “meesleurende, magiese vertelling wat beslis ’n verryking sal wees vir elke diskriminerende (tiener)-leser.” Na die verskyning van ’n paar kinderboeke (Nicholas se belofte en The soul of an antelope) verskyn Fransi se volgende boek na ’n stilte van nege jaar: haar eerste digbundel, My lied van die niet, word in 2002 deur Protea Boekhuis uitgegee. George Weideman skryf dat opvallend in hierdie bundel die gestrooptheid is, die Van Ostayen-agtige toonaard, die soms stemmingsryke herhalings. “Gedigte in hul bedrieglike eenvoud verwant aan die verse van nóg ’n Vlaming, Guido Gezelle. Soos veertjies wat dryf, of sneeuvlokke: daaraan laat dink haar verse. Oerpoësie baie ná aan die ideaal wat Van Wyk Louw in Rondom eie werk gestel het.” Volgens Bernard Odendaal is die tematiese en stilistiese kenmerke van Phillips se prosawerke in haar digbundel terug te vind. Hy meen dat dit ’n dun, maar suiwer bundel is wat, hoewel toeganklik, tot herhaalde lees noop. “Dis een van net enkele Oosters geïnspireerde bundels in Afrikaans, en ook om hierdie rede ’n belangrike toevoeging tot ons literêre skat.” Lisbé Smuts skryf dat My lied van die niet in gesprek tree met Phillips se eie skryfwerk en met gepubliseerde digbundels van die laaste tyd. Dit voer ook op ’n unieke manier ’n gesprek met ’n leser as dit met verblindende eenvoud illustreer dat woorde nie instrumente is wat ons met alle geweld moet gebruik nie.” In 2007 word Fransi se roman Die donker god deur Umuzi gepubliseer. As agtienjarige raak die hoofkarakter, Pippa, op die geheimsinnige en onheilspellende Alex verlief. Alhoewel Pippa eiesinnig is, laat sy toe dat Alex ’n buitengewone houvas op haar kry. “Haar vrees vir hom verskerp haar wellus en begeerte. Sy hardhandigheid én teerheid verwar, maar lok haar ook aan. Hoewel hy haar fisiek en emosioneel manipuleer én mishandel, trou sy met hom. Dit is eers wanneer sy besef dat Alex nie net háár lewe nie, maar ook dié van hul dogter, Klein Katharina, bedreig, dat Alex aan sy houvas en mag probeer ontsnap – al vereis dit ook ingrypende optrede,” skryf Thys Human. Hy meen egter dat Die donker god probeer om sowel ’n onheilspellende sprokie as ’n realistiese verhaal oor liefdesgeweld en mishandeling te wees. En hy is nie seker of dit uiteindelik as één van die twee slaag nie. Die roman het vir Joan Hambidge meegesleur. “Dit is geskryf met seker hand. Dit suggereer en terg soos ’n erotiese fantasie. Agterna bly passasies jou by. Miskien – aan die debietkant dan – is daar soms passasies wat ’n bietjie te veel klink na ’n hygroman? Dit is ’n boek wat almal moet lees wat dink jy kan erotiese afhanklikheid rasioneel ‘begryp’. Die boek lewer sydelingse kommentaar op vroue en meer spesifiek op jong Afrikaanse vroue wat grootgeword het in ’n Afrikaanse, Calvinistiese omgewing waar die pers jakarandas die stad versier.” Fransi laat Marius Crous nadink oor onderwerping in ’n verhouding, die mag van erotiek, die rol van geweld in verhoudings, die bevraagtekening van wat as eties en moreel sou geld, die absurditeite in familieverbintenisse en in watter mate mense vir mekaar omgee. “’n Roerende teks, byna soos om na Maria Callas in die Vallei van Verlatenheid te luister.” Op ’n vraag van Johanna van Eeden hoe sy op die gedagte van Die donker god se tema gekom het, antwoord Fransi: “Daar was sekere goed in my lewe wat ek moes verwerk. Dit beteken nie dis biografies nie. Mense is geneig om te dink dit is biografies. Dit is maar tussen fiksie en werklikheid, soos altyd.” Op ‘n vraag oor navorsing wat Fransi vermoedelik vir Die donker god moes gedoen het, vertel sy aan Van Eeden dat sy nooit navorsing doen nie. “Ek het wel ’n boek of twee oor Zanzibar gelees, maar dis dit. Navorsing is nie regtig my ding nie. Dit is uit my duim gesuig. Ek het geskryf op intuïsie en ’n klein bietjie ervaring. Ongelukkig, ja ... ’n kombinasie van verhoudings waarin ek al betrokke was, maar nie ’n spesifieke verhouding nie. Die somtotaal van die navorsing vir my boeke was om met die lewe te mors. En ek mors nou al lank. Dit moet einde se kant toe staan. En ’n mens moet iewers opruim.” Fransi se kontak met ander skrywers is beperk. Sy erken dat sy sosiaal baie verlore is. “Ek is nie ’n groupie nie. Ek probeer nie iewers inpas nie.” Fransi vertel dat haar vriende, net soos sy, ook maar vreemd is op hulle manier, want sy haat enigiets of iemand wat vervelig is. “As ek ’n partytjie hou, kan ek byvoorbeeld nooit al my vriende gelyk nooi nie. Hulle is so uiteenlopend dat hulle nie baie van mekaar hou nie.” Volgens Fransi het dit ook sy pluspunte om ietwat van ’n buitestander te wees, want dan buig jy nie so maklik nie en ontdek so nuwe dinge – in jouself en in die wêreld. “Want dan kan jy na die wêreld van buite af kyk en ontleed. Dan wonder ’n mens oor mense: hoekom hulle is soos hulle is en doen wat hulle doen. Dis kreatiwiteit.” Fransi se jongste roman, Net ’n lewe, word in 2011 bekroon met die eerste prys in LAPA Uitgewers se Roman-kompetisie. Fransi het R100 000 ontvang, wat dit die grootste prysgeld nog in ’n Afrikaanse romankompetisie maak. In haar bedankingstoespraak sê Fransi dat sy soms skuldig voel, “omdat skryf so lekker is”. Sy het Net ’n lewe geskryf terwyl sy by die Tsjeggiese ambassade in Pretoria gewerk het. Hier het sy onder meer “die ambassadeur se toesprake en briewe van simpatie aan die ambassades van afgestorwe staatshoofde” geskryf. “Omdat Net ’n lewe in die sosiopolitieke arena van die laaste 50 jaar afspeel, is dit enersyds ’n politieke satire met ’n sterk feministiese inslag, maar dit preek nooit. Hiervoor is die skrywer se stem te soepel en ervare,” het die beoordelaarsverslag gelui.
Terug na bo
Publikasies:
|
Publikasie
|
Die horlosie se wysers val af
|
|
Publikasiedatum
|
1983
|
|
ISBN
|
(sb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: Kabelkarnimfe
|
|
Literêre vorm
|
Prosagedigte
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- |
|
Publikasie
|
Sewe-en-sewentig stories oor ’n clown
|
|
Publikasiedatum
|
1986
|
|
ISBN
|
0798614293 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: HAUM-Literêr
|
|
Literêre vorm
|
Kortverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Die wilde kind
|
|
Publikasiedatum
|
1987
|
|
ISBN
|
0798623004 (hb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: HAUM-Literêr
|
|
Literêre vorm
|
Novelle
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- |
|
Publikasie
|
Theresa se droom
|
|
Publikasiedatum
|
1988
|
|
ISBN
|
0798123249 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Herfsverhale
|
|
Publikasiedatum
|
1992
|
|
ISBN
|
0874901015 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Somerset-Wes: Queillerie
|
|
Literêre vorm
|
Kortverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
’n Baie lang brief aan Rolf
|
|
Publikasiedatum
|
1993
|
|
ISBN
|
0798634146 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: HAUM-Literêr
|
|
Literêre vorm
|
Jeugverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
The soul of an antelope
|
|
Publikasiedatum
|
1995
|
|
ISBN
|
0799414212 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: Via Afrika
|
|
Literêre vorm
|
Jeugverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- |
|
Publikasie
|
Nicholas se belofte
|
|
Publikasiedatum
|
1996
|
|
ISBN
|
0798706600 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Halfway House: Orion
|
|
Literêre vorm
|
Prenteboeke
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Engelse vertaling 1996
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- |
|
Publikasie
|
My lied van die niet
|
|
Publikasiedatum
|
2002
|
|
ISBN
|
1919825797 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: Protea Boekhuis
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Die donker god
|
|
Publikasiedatum
|
2007
|
|
ISBN
|
9781415200087 (sb)
|
|
Uitgewers
|
Roggebaai: Umuzi
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Net ’n lewe
|
|
Publikasiedatum
|
2011
|
|
ISBN
|
97807993
|
|
Uitgewers
|
Pretoria: LAPA
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Eerste prys in LAPA se Roman-kompetisie 2011
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- |
Artikels deur Franci Phillips op die internet
Artikels oor Franci Phillips op die internet

Terug na bo
Bygewerk: 2011-03-08 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|