Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
En ek is nog hy
Johannes Comestor
2009-10-08 Druk dit/Print it

J van Melle (1887-1953) se roman, Bart Nel, is in 1936 deels in Nederlands gepubliseer, maar sedert 1942 heeltemal in Afrikaans. Omdat die teks klassiek geword het en dus ook in hierdie tyd tot ons spreek, is dit in 2004 deur Tafelberg heruitgegee. Op die agterkant van die band word die naam van een van die hoofkarakters, Fransina, verkeerd gespel. Soos blykbaar die gewoonte by hierdie uitgewery geword het, moet daar by die bekendstellingsteks êrens 'n Engelse woord aan die leser opgedring word; in hierdie geval "outsider" pleks van die woord wat in die aanvanklike boektitel voorkom, nl "opstandeling".

In die teks slaan die Nederlandse invloed deur. Daar is halfvergete woorde soos algar, akkordeer, voorjok, afstyg, gemopper, floers, drifkop, goedsak, onverhole, alvas, mastig. Daar is bekende woorde met direkte seggingskrag wat in ons huidige era van vryheid nie meer gebruik mag word nie, asook sagter woorde soos baas, nonnie, aia. Daar is ook verafrikaansde Engels: gepunkjerde baaisiekeltjoep (p 19), nou se dae (p 80), mistyk (p 95). Daar is uitdrukkings wat nie meer in ons gebruikstaal voorkom nie, soos "Dan wys ons hom die donkerbek" (p 21) vir die geweer opneem.

Die roman handel oor die Rebellie van 1914. Daar is boodskappe wat in die hede toegepas kan word. "Omdat hy die verlede begrawe het ... omdat die Boer in hom dood is. Hy is soos 'n bees wat tulpe gevreet het" (p 16). "Die Boere sal nog eendag algar Boere word ... Hulle is nog maar soos jong hondjies, hulle oë begin nog maar pas oop te gaan" (p 39). "In so 'n tyd soos vandag het jy mense nodig wat nie wag nie ... Maar vandag sit hulle en bereken wat sal die veiligste of voordeligste vir hulself wees" (p 40). "Vandag se Boere is nie meer vanmelewe se Boere nie" (p 61). "Ek loop nie agter profesieë nie; ek loop met my eie oë by die lig wat ek het" (p 122). "Ek kan alleen staan. Alleen sal ek my pad deur die beroerde wêreld loop" (p 123). "Voor hom uit, soos iemand wat 'n lang reguit pad afkyk, sien hy sy plig" (p 124). "Die rebellie het ons te veel geleer om dit sommer weer te vergeet. Dit het ons geleer om nie te veel op ons voormanne te vertrou nie. Dis 'n fout van ons volk dat ons te veel opsien na ons voormanne en ons volg hulle naderhand waar ons nie moes gevolg het nie ... dat in moeilike tye baie grootpraters ons verlaat ... Dat die gevoel van reg nog leef in 'n deel van ons ... Ons Boerenasie sal eendag weer bymekaarstaan en ons sal almal rebelle wees" (p 128).

Paljas is myns insiens die beste Afrikaanse rolprent. Bart Nel is sekerlik een van die beste Afrikaanse romans. Die verdeeldheid wat die Rebellie veroorsaak het, word in die roman belig. Soos mense in Frankryk en elders in Europa hulle lojaliteit verander het tydens die Nazi-oorname en terug probeer verander het na die opheffing daarvan, so het Afrikaanssprekendes met die Rebellie en daarna hulle politieke lojaliteit aangepas. Bart Nel het egter vasgestaan by sy beginsels. Hy het sy plaas, vrou en kinders verloor. "Hulle het nou alles ... Net my het hulle nog nie" (p 162). Ondanks die nederlaag, was hy geestelik die oorwinnaar (p 49), want teen die einde was "sy siel in hom". "My kry hulle nooit ... Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy" (p 163).

Na aanleiding van die voorafgaande dink ek aan die Rapportryers en Broeders wat in die vorige eeu in my weg gestaan het omdat hulle om godsdienstige redes my as ʼn nie-Afrikaner bejeën het. Van hulle ly aan die weerhaansindroom; hulle sit deesdae knus in poste en geld want hulle lojaliteit le nou by die nuwe maghebbers. Hulle het multikultureel en veeltalig geword. Maar die evangelie van Johannes het dieselfde gebly: monokultureel en eentalig. Hy pas nie aan nie, want hy wil nie en hy kan nie. En ek is nog hy.

Johannes Comestor

 



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za

VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Emmari de Meyer
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur