Gebore en getoë EKM Dido, of Dido soos sy verkies om bekend te staan, is in 1951 in ’n klein dorpie, Tsomo, in die destydse Transkei gebore as die derde oudste van 12 kinders en die oudste dogter. Die skooltjie in Tsomo het net klas tot standerd 4 aangebied. Sy is na ’n sendingskool te Cofimvaba waar sy standerd 5 tot 7 geslaag het en is daarna na ’n Rooms-Katolieke kosskool in Cradock tot standerd 8. As gevolg van ’n finansiële tekort moes sy die skool in standerd 8 verlaat om te help om die jonger kinders skool toe te stuur. Vir die jong meisie was dit ’n swaar slag om te verwerk.
Verdere studies en werk Vir ’n jong bruin vrou was daar destyds drie moontlikhede vir ’n verdere loopbaan: onderwys, ’n sekretariële beroep of verpleging. Geld vir eersgenoemde twee was daar nie, dus het Dido op verpleging besluit. Sy doen haar algemene opleiding in Kimberley vir drie jaar, waarna sy in 1972 na Kaapstad vertrek, verlief raak op die stad en tot vandag nog daar bly. Sy behaal aanvullende diplomas in kraamversorging, verloskunde en psigiatrie. En toe vervul sy ’n droom wat sy al lank koester – om haar matriek te behaal. Dit stel haar ook in staat om ’n graad in Verpleegadministrasie, Gemeenskapsverpleging en Verpleegonderrig deur Unisa te verwerf. In 1988 begin sy doseer aan die Nico Malan Verplegingskollege, deesdae die Wes-Kaap Verpleegkollege.
Deesdae wy Dido haar tyd aan deeltydse konsultasiewerk en skeppende skryfwerk. Sy is nou betrokke by woordfeeste en enige ander projekte om ’n leeskultuur onder haar mense op die platteland te vestig. Sy werk nóú saam aan die Gugulethu-projek in Afrikaans, Engels en Xhosa – die drie tale wat sy vlot praat – wat in 2006 ’n opvoering by die Suidoosterfees gehad het. Dido dien in die direksie van die Suidoosterfees, asook in dié van die KKNK.
In September 2005 ontvang sy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Wes-Kaap vir haar bydrae tot die literêre wêreld. Sy is tans ’n dosent aan die Netcare Opleidingskollege in Kaapstad en sy en haar dogter, Vereena, en haar kleindogter, Zhané, woon in Blackheath.
Net na 1994 kla Dido by haar dogter oor die berigte dat die bruin mense hulleself in die verkiesing van 1994 verkoop het en oor die kwessie van primêre gesondheidsorg. Vereena se reaksie was: "Gaan sit … en skryf die goed neer.” Twee vingers op ’n ou Brother-tikmasjien en Die storie van Monica Peters sien die lig. Na die manuskrip ’n draai by vyf uitgewers gemaak het, klop Dido by Kwela Boeke aan en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Sy word die “eerste swart vrou” wat ’n boek in Afrikaans publiseer.
Daarmee saam beleef sy opeens ook ’n identiteitskrisis, want in Tsomo was hulle nie bewus van enige rasseverskille nie. Sy was nie swart, Khoi of San nie. “Wie was ek dan?” het sy haar afgevra. Sy vertel self hoe sy twee jaar later tydens ’n reis na Nederland en België die antwoord kry: “Ek staan een oggend in ’n museum in Amsterdam, klein voor my Skepper, omring deur die eeue oue prag en praal, toe ek skielik verstaan wie ek is, wat ek is. Ek is allereers Dido. Dan ’n Suid-Afrikaner. Ek is swart, ja – ek kan tog nie my gemengde bloed ontken nie. Ek is Khoi en San – en nog baie meer. En ek is trots daarop.”
Die storie van Monica Peters was eers in Engels geskryf. Annari van der Merwe, toe van Kwela Boeke, vra haar of dit nie beter in Afrikaans sal werk nie en dit was die beste ding wat sy kon gedoen het, want “terwyl ek dit toe in Afrikaans oorskryf, loop my kop draaie en loop daar trane oor my wange soos ek aan ander dinge begin dink … Ek het die taal waarvan ek weggehardloop het, so al skrywende terug ontdek.”
In al Dido se romans spreek sy sosiale kwessies aan, nie alleen dié van die bruin gemeenskap nie, maar universele probleme onder alle lae van die samelewing. Die storie van Monica Peters vertel die verhaal van ’n bruin meisie wat met ’n wit man trou en die land verlaat as gevolg van apartheid; Rugdraai en stilbly spreek vroueslanery en die probleem van geweld in die huwelik aan; Die onsigbares is die verhaal van die swaarkry van polisiemanne en hulle gesinne; en in ’n Stringetjie blou krale kom rassisme tussen bruin en swart ter sprake.
Dido is ’n gereelde bydraer tot LitNet en van haar kortverhale verskyn ook op LitNet. Haar kortverhale, soos "Die prediker", "Baby", "’n Nuwe ID", en "Ryper liefde" word ook in versamelbundels opgeneem.
Publikasies
|
Publikasie
|
Die storie van Monica Peters
|
|
Publikasiedatum
|
1996
|
|
ISBN
|
9780795700378 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Kwela
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings op die internet
|
Geen
|
|
Publikasie
|
Rugdraai en stilbly
|
|
Publikasiedatum
|
1997
|
|
ISBN
|
9780795700682 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Kwela
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings op die internet
|
Gabada, Noncedo: Trou is nie perdekoop nie – http://www.upe.ac.za
|
|
Publikasie
|
’n Stringetjie blou krale
|
|
Publikasiedatum
|
2000
|
|
ISBN
|
9780795701122 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Kwela
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings op die internet
|
Van der Merwe, Chris: ’n Verskeurde mens se soeke na heling en gemoedsrus (LitNet)
|
|
Publikasie
|
’n Ander ek
|
|
Publikasiedatum
|
2007
|
|
ISBN
|
9781415200346 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Umuzi
|
|
Literêre vorm
|
Roman
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings op die internet
|
Van Zyl, Dorothea: Roman toon misdaad se inbreuk op die ‘ek’ - Die Burger, 30 Julie 2007 |
’n Keur van artikels oor en deur EKM Dido beskikbaar op die internet
Black, Marguerite: Mosaïek van kultuur: die vele fasette van EKM Dido (LitNet) De Vries, Izak en Coenraad Walters: EKM Dido: Die prediker, uit Douspoor-handleiding (LitNet) Dido, EKM: Die vaders en moeders (LitNet) Dido, EKM: Briewe van Dido (LitNet) Dido, EKM: Tien vrae wat nooit gevra word nie (LitNet) Dido, EKM: Afrikaans is my taal en ek is Afrikaans (LitNet) Price, Ivor: EKM Dido gesels oor haar hartseer en hartstog jeens “haar mense” … (LitNet) Myburgh, Melt: Dis nie net wit mense wat Afrikaans praat nie – ‘n gesprek met EKM Dido (LitNet) http://www.umuzi-randomhouse.co.za/edido.html

Bygewerk: 2007-11-05 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|