| Elisabeth Eybers (1915 - 2007) |
Gebore en getoë Elisabeth Françoise Eybers is op 26 Februarie 1915 op Klerksdorp gebore, die middelste van drie dogters. Sy word groot en gaan skool op Schweizer-Reneke, waar haar pa predikant in die NG Kerk was. Sy begin reeds poësie skryf toe sy veertien is en aanvanklik is haar gedigte in Engels, ’n invloed wat van haar Engelssprekende ma afkomstig kon wees. Dit is ook deur haar ma dat sy met poësie kennis maak. Haar godsdienstige agtergrond beïnvloed haar ook aanvanklik om verse met ’n Bybelse tema te skryf.
Verdere studies en werk Op sestienjarige ouderdom gaan sy na Johannesburg om verder te studier aan die Normaalkollege en aan die Universiteit van die Witwatersrand, waar sy in 1934 haar BA-graad behaal en haar BA Honneursgraad (Eerste Klas) in 1936, dieselfde jaar waarin haar eerste digbundel, Belydenis in die skemering, verskyn. Na die verwerwing van haar honneursgraad werk sy in die joernalistiek as lid van die kunsredaksie by Die Vaderland en ook in 1936 as redakteur van die tydskrif Die Moderne Vrou. In 1937 trou sy met die sakeman Albert Wessels, van wie sy later skei, en drie dogters en ’n seun word uit die huwelik gebore. In 1961, na haar egskeiding, vertrek sy en haar jongste dogter na Nederland en vestig hulle in Amsterdam. Dit sou aanvanklik net vir ’n jaar gewees het, maar die verblyf het permanent geword en Elisabeth woon nou na meer as veertig jaar steeds in Amsterdam.
Elisabeth Eybers is al as die grootste vroulike digter in Afrikaans bestempel en as ’n mens in gedagte hou dat sy die eerste vrou is wat ’n digbundel in Afrikaans gepubliseer het en dat sy die enigste vroulike lid was van een van die belangrikste digtersgeslagte in die Afrikaanse letterkunde, naamlik die Dertigers, is so ’n stelling glad nie vergesog nie. Ook is sy die eerste vrou wat die Hertzogprys verower het, en die enigste skrywer buite Nederland wat met die PC Hooft-prys vir Nederlandse letterkunde bekroon is (1991). Benewens al die belangrikste literêre pryse in Afrikaans wat aan haar toegeken word, ontvang sy ook die Constantijn Huygens-prys in 1978 vir haar hele oeuvre en die Herman Gorter-prys vir Kruis of munt in 1975. In 1978 word sy ook bekroon met die Reina Prinsen Geerlig-prys voor Zuid-Afrika vir al haar werk tot op daardie stadium. Dit maak van haar een van die weinige Afrikaanse skrywers wat op daardie tydstip buite haar eie land bekroon word.
Engelse digters soos Yeats en Graves het ’n groot invloed op haar as skrywer gehad en sy is ’n bewonderaar van die Nederlandse skrywer Nijhoff. Elisabeth is vier tale magtig, naamlik Frans, Engels, Nederlands en Afrikaans, en van haar gedigte, soos "Voorbereiding" uit Die stil avontuur en "Slak" uit Balans is deur André Piot in Frans vertaal. Sy word in 1961 bekroon met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys vir Vertaalde Werk vir haar vertaling van Jules Supervielle se Die os en die esel van die krip.
Elisabeth ontvang ook eredoktorsgrade van vier universiteite: die Universiteit van die Witwatersrand in 1972, die Randse Afrikaanse Universiteit in 1979, die Universiteit van Pretoria in 1982 en die Universiteit van Stellenbosch in 1990. Met die toekenning van die eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria word vermeld dat sy dit ontvang uit erkentlikheid vir die menslikheid wat uit haar werk spreek en omdat sy een van die belangrikste woordkunstenaars in die ganse Nederlandse taalgebied is.
In 1975, met geleentheid van Eybers se sestigste verjaardag, word die bundel Ter wille van die edel spel onder redaksie van Miep Nienaber-Luitingh gepubliseer en haar sewentigste verjaardag word in 1985 in Duitsland gevier met ’n handgedrukte uitgawe van twaalf van haar gedigte uit die bundel Bestand. ’n Duitse vertaling in oorleg met die digter en die vertaler Hans Ester verskyn naas elke Afrikaanse gedig. Slegs 200 eksemplare van die prestige-uitgawe deur die meesterdrukker Arno Piechorowski van die Aldus-Presse Reicheneck is gedruk.
Tydens die 150-jarige feesviering van Eybers se geboortedorp Klerksdorp word sy vereer deur ’n gedenklesing wat deur Alba Bouwer aangebied is. In 1990 ontvang sy in Nederland ’n goue erepenning met ’n oorkonde van die Stigting Jan van Riebeeck vir haar letterkundige prestasies en die bevordering daardeur van die Afrikaanse taal en kultuur. In 1991 word sy verkies tot erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en in 1994 maak die Akademie en die Albert Wessels Trust bekend dat die Elisabeth Eybersbeursfonds gestig word wat jaarliks toegeken gaan word aan óf ’n Suid-Afrikaner óf ’n Nederlander met die doel om die kultuurbande tussen Suid-Afrika en Nederland te bevorder.
In 1990, met Elisabeth se 75ste verjaardag, word die bundel Uit liefde en ironie: Liber Amicorum Elisabeth Eybers met Hans Ester en Ernst Lindenberg as redakteurs gepubliseer.
In 1995, haar tagtigste geboortejaar, word haar digkuns gevier met ’n simposium aan die Universiteit van Amsterdam te midde van toenemende belangstelling in Nederland in die Afrikaanse letterkunde. ’n Nuwe bloemlesing, Uit en tuis, saamgestel deur Hans Ester en Ena Jansen, is terselfdertyd aan Eybers oorhandig. Ander publikasies wat ook in 1995 verskyn om saam te val met haar tagtigste verjaardag, is Die gespitste binneblik deur JC Kannemeyer, Eybers se nuwe Versamelde gedigte, Uit en tuis en Die enkel taak: die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson deur Lina Spies. In 1996 verskyn Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam deur Ena Jansen.
In 1998 bring Salomé Combrink die program Doepa teen opdroog op die planke by die Aardklop Kunstefees, waar veertien van Eybers se gedigte deur Wilhelm Joubert getoonset is en opgevoer is deur Mathys Roets, Susan Coetzer en Suzette Eloff.
Op 26 Februarie 2005 organiseer Zuid-Afrika Huis in Nederland in samewerking met Querido Uitgewery ’n byeenkoms rondom Elisabeth Eybers se negentigste verjaardag. Ena Jansen, Hans Ester en Tomas Lieske lewer toesprake en die sopraan Julia Bronkhorst sing van Elisabeth se getoonsette gedigte. Elisabeth Eybers en haar drie dogters is almal teenwoordig. (Haar seun Bert is is Desember 2002 oorlede.) By dié geleentheid is ’n eksemplaar van Valreep aan haar oorhandig. In 1999 ontvang Elisabeth Eybers die Orde vir Voortreflike Diens van president Nelson Mandela.
Elisabeth Eybers sterf Saterdag, 1 Desember 2007, in Amsterdam.
Publikasies:
’n Keur van artikels oor Elisabeth Eybers op die internet
- Jansen, Ena: Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam (volledige teks op DBNL; oorspronklik uitgegee deur JL van Schaik Akademies 1996; Nederlandse vertaling uitgegee deur Amsterdam University Press 1998)
- Bax-Botha, Marié: 'n Vriendskap met Eybers geskets (Die Burger)
- De Bruin, Philip: Dig het lewenswyse geword, sê Eybers. Volgende bundel `moet nou regtig die laaste een wees' (Beeld)
- Human, Koos: Elisabeth Eybers as woordskepper (Die Burger)
- Jansen, Ena: En merels sing wéér uitbundig (Beeld)
- Kannemeyer, JC: Met min woorde word baie gesê oor die lewe (Beeld)
- Malan, Lucas: Elisabeth Eybers - woord-aristokraat (Die Burger)
- Spies, Lina: Poësie lewensnoodsaaklik vir Eybers (Beeld)
- Spies, Lina: Aristokraat van die gees (Die Burger)
Biografiese artikels oor Elisabeth Eybers op die internet

Bygewerk: 2007-10-10 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|