| Globalisering en die Afrikaanse letterkunde |
Joan Hambidge
Ons leef in ‘n tyd van globalisering wat, veral met die aanwesigheid van die internet, grense laat vervaag of selfs laat verbrokkel. Marshall McLuhan se “global village” het ‘n harde werklikheid geword.
Internet, e-pos, fakse, selfone, sms’e - die grense vervaag en gemeenskappe beweeg nader aan mekaar.
Tog is dit paradoksaal so dat die partikuliere of spesifieke letterkunde juis oor die eiesoortigheid van die ervaring of belewenis gaan. Stel jou ’n letterkunde voor waarin daar geen intieme ervaring van die spesifieke is nie?
James Joyce se Ulysses speel in Dublin af: dis nie ‘n toevallige plek nie. Dublin, sou ‘n mens kon aanvoer, word ‘n medespeler en is die "backdrop" waarteen alles geplaas word. Met ‘n besoek aan Dublin was dit vir my ‘n verruklike ervaring om juis te sien hóé helder Dublin deur James geteken word in sy roman. ‘n Mens kan ook ‘n toer deur Dublin onderneem ten einde die bakens in die roman beter te begryp.
Salman Rushdie se Midnight’s children gee ‘n blik op Indië: die roman begin met die verteller Saleem Sinai se beskrywing van sy geboorte om middernag op 15 Augustus 1947, die presiese oomblik van Indiese onafhanklikheid. Rushdie maak etlike opmerkings oor die Moeslim-lewe en oor geloof, en hiervoor gebruik hy die oupa, Aadam Aziz, se uitsprake. Weer eens: ‘n boek wat ‘n eiesoortige blik op die Indiese kultuur en leefwyse gee.
Presies dieselfde geld ‘n Afrikaanse, Engels-Suid-Afrikaanse of Suider-Afrikaanse letterkunde.
Min skrywers presteer dit om aan sowel die Afrikaanse as die Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde te behoort. Dit gebeur net in gevalle waar die skrywer in beide Engels en Afrikaans tegelykertyd publiseer, soos Antjie Krog (Verweerskrif / Body Bereft) of Brink.
In stede van die liefde van Etienne van Heerden gee ‘n spesifieke Afrikaanse blik op Stellenbosch, net soos Koos Kombuis se Raka - die roman.
In die lang taaldebat - ‘n mens wil amper byvoeg, “of taalstryd” – aan die US word daar dikwels vergeet dat ‘n mens eers tot die partikuliere moet behoort alvorens jy internasionaal word.
Sekere skrywers vertaal beter, en die metafoor wat gebruik word, is dat hulle beter reis as ander skrywers. Maar stel jou ‘n Nederlandse letterkunde net in Engels voor? Of geen Franse digters nie? Erger nog: geen digter wat die Karoo-landskap besê of ‘n Hoëveldse donderstorm kan beskryf nie.
In die roman In stede van die liefde word daar juis na wêreldstede gereis ten einde die plaaslike beter te kan begryp.
Of wil sekere mense aan die US, soos Andy Warhol, beleef dat McDonald’s die hoogtepunt was van elke wêreldstad wat hy besoek het?
Dit is waarskynlik die hoogste tyd om diegene wat argeloos staan teenoor die toekoms van Afrikaans, daarop te wys dat ons met ‘n domino-beginsel werk: hang die T-opsie aan, môre stel al hoe minder studente in Afrikaans en Nederlands belang, die dag daarna praat en skryf almal in Engels, ‘n ruk later verdwyn Afrikaanse koerante en is uitgewers nóg minder bereid om Afrikaanse boeke te publiseer, want skoliere hoef nie meer Afrikaans as vak te neem nie ... Ek het in 1992 aan die UK begin klasgee vir meer as 150 studente wat Afrikaans móés neem vir ‘n regsgraad. Kort daarna word Afrikaans en Latyn as verpligte vakke afgeskaf en jaar vir jaar aanskou ek en my kollegas aan die UK hoe die Afrikaans- en Latyn-klasse krimp. Ons begin dienskursusse aan die Mediese Fakulteit en herposisioneer ons op ander maniere in mediakursusse (hallo Marshall McLuhan!) en bied Kreatiewe Skryfkursusse aan.
Moenie dink die T-opsie gaan Afrikaans nie op die lange duur knou nie. En diegene wat dink dit is “cool” om Engels te wees: moenie jouself bluf nie. En moenie luister na diegene wat meen Engels is die paspoort tot groter geleerdheid of internasionale erkenning nie. (Wel so in vertaling as jy ‘n kreatiewe skrywer is ...)
Die huidige regering begin al hoe meer moedertaalonderrig se voordele besing.
En gesels met Douglas Young of Neville Alexander en hulle sal eweneens die belang van eers in jou eie taal en dan in Engels skryf, of vertaling, beklemtoon. Gaan lees die werk van ons mees internasionale digters, soos Van Wyk Louw of Breytenbach, en kyk wat hulle sê.
<< Back to South African Literature mini-seminar <<
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|