Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Dolf van Niekerk (1929 - )

2008-03-26 Druk dit/Print it

Gebore en getoë

Rudolf Johannes van Niekerk is op 22 Februarie 1929 op Edenburg in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Edenburg. Dolf is in 1967 met Susan getroud en hulle het vyf kinders en sewe kleinkinders. Hy woon in Pretoria.

Verdere studies en werk

In 1949 behaal Van Niekerk sy BA-graad cum laude aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat. In 1950 sluit hy hom aan by die SAUK as omroeper/regisseur. Drie jaar later debuteer hy in die letterkundige tydskrif Standpunte. In 1954 behaal hy sy Hons BA-graad in Wysbegeerte, weer eens cum laude, aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy begin ook in alle erns prosa skryf, benewens radiowerke wat hoorspele, hoorbeelde en vervolgverhale insluit.

Met die daarstelling van die Departement van Landbou se radiodiens Landbouradio in 1957 word hy aangestel as radiobeampte en later hoof van hierdie diens. Intussen begin hy weer studeer en in 1967 behaal hy sy MA in Wysbegeerte cum laude aan die Universiteit van Pretoria met ’n verhandeling getitel Vryheid as fundamentaal-eksistensiële prinsipe in "Aantekeningen uit het ondergrondse" van FM Dostojewski. Hy voltooi sy studies in 1982 met die verwerwing van sy doktorsgraad aan die Universteit van Pretoria met die tesis Bewaring as sedelike prinsipe in die Suid-Afrikaanse bodembenuttingsituasie: ’n kultuur-filosofiese studie.

In 1969 word Dolf bevorder tot assistentdirekteur in die afdeling Landbou-Inligting van die Departement van Landbou, en in 1972 tot adjunkdirekteur. In 1978 word hy direkteur van die Direktoraat Landbou-Inligting – ’n pos wat hy beklee tot sy aftrede in 1994. Sy departement stuur hom by drie geleenthede oorsee om ’n studie te maak van kommunikasiedienste binne landbouverband.

Dolf vertel self dat daar oomblikke in ’n mens se lewe kom waarvan die invloed op ’n mens se lewe eers later blyk. In sy matriekjaar hoor hy vir die eerste maal ’n klavierkonsert, spesifiek Beethoven se vierde. In dieselfde jaar bring sy neef, John van der Berg, die uitsaaier en skrywer, vir Dolf se pa ’n kopie van NP van Wyk Louw se Lojale verset. Dolf is universiteit toe “met ’n dors na musiek, ’n liefde vir die geskrewe woord, en ’n honger na die wysbegeerte”.

Tydens sy jare as omroeper begin hy vir die radio skryf en hoor hy musiek. Sy radioskrywery loop uit op die skryf van gedigte en prosa, en die letterkunde en wysbegeerte raak onlosmaaklik verstrengel “in die vergestalting van gedagtes en idees”. Daar is redelik lang tussenposes tussen sy verdere studies in die wysbegeerte, en volgens Dolf is dit ook maar goed so, “gemeet aan die vreugde wat ek uit die verhandeling en proefskrif geput het”.

Dolf se liefde vir die land as Godgegewe bron van lewe vir mens en dier kom weer tot uiting in sy verbintenis met die Departement van Landbou.

In 1965 ontvang Van Niekerk die SAUK-prys vir hoorspele vir sy reeks hoorbeelde Land van ons vaders. Regter JF Marais sê in sy huldigingswoord die “aanbeveling berus in die eerste plaas op Dolf van Niekerk se onberispelike vertolking van ’n opregte, gesonde vaderlandsliefde … Hy het met ’n fyn sin vir die gepastheid van elke détail van elke onderdeel van sy onderwerp, en die draagkrag daarvan, telkens ’n afgeronde beeld gegee van een of ander noemenswaardigheid in ons geboorteland – uit die geskiedenis of die aktuele hede … Hy het as’t ware die land self laat praat, die hele land van ons vaders … Ek kan nie nalaat om van Dolf van Niekerk se voortreflike styl en woordgebruik melding te maak nie … Dit is die bevredigende harmonie tussen die vindingryke siening van sy gegewens, sy keuse van toon en kleur en die subtiele roersele van ’n sterk vaderlandsliefde wat die komitee tot hierdie werk van Dolf van Niekerk as pryswaardig laat besluit het.”

In 1958 word Gannavlei gepubliseer, en met die verskyning van die roman Die son struikel in 1961 voeg Dolf hom by die groep skrywers wat as die Sestigers bekend sou staan. Hy sê dat hy Die son struikel in ’n oomblik van “waansin” geskryf het. Die prosa en poësie van Sestig sien hy as produkte van ’n beweging en ’n spontane uiting van individue wat elkeen op sy of haar eie wyse na die werklikhede van hulle tyd gekyk het en op hulle eie manier daaroor geskryf het. In hierdie boek van Dolf kom die tema van buitestander- of outsiderskap wat tipies was van daardie tyd, sterk na vore. Elize Botha noem dat selfs die buiteblad en die voorkoms die tydperk van Sestig oproep. Die abstrakte stofomslag-ontwerp is deur Anna Vorster en dit is deur Afrikaanse Pers Boekhandel gepubliseer waar Bartho Smit die stukrag van die Sestigers was.

In 1968 word Dolf se eerste jeugverhaal, Skrik kom huis toe, gepubliseer, wat JC Kannemeyer as “een van die allerbeste jeugverhale in Afrikaans” beskryf. In 1985 word dit opgevolg met Karel Kousop en Die haasvanger. Vir laasgenoemde ontvang hy die MER-prys, asook die Scheepersprys vir Jeuglektuur. Veral die MER-prys lê hom na aan die hart, want sy ontmoeting met MER toe hy ’n jong man van 23 was, het tot ’n vriendskap van amper 30 jaar gelei.

Nadat Van Niekerk die Eugène Marais-prys in 1965 vir sy bundel novelles Skepsels ontvang het, word veral sy skryfwerk vir die radio herhaaldelik bekroon. Benewens die SAUK-prys vir Hoorbeelde in 1965 vir Land van ons vaders en in 1971 die SAUK-prys vir Hoorspele vir Kamer 99 ontvang hy ook in 1977 die Artes-prys vir die beste radioteks. Die Ruiterbeeld-toekenning van die Federasie van Rapportryerskorpse word in 1984 toegeken aan Niemand se dag nie en ander werke. Van sy bekendste radiovervolgverhale is Die man met ’n blaar in sy hand, Voëls op takke, Cicero word getem, Die rebelle van Gannavlei en Die eerste burger van Gannavlei.

In 2001 ontvang Dolf die Laureaat-toekenning vir besondere prestasie van die Alumni-raad van die Universiteit van Pretoria. Gedigte uit sy bundel Karoosange is deur Niel van der Watt getoonset en deur die Tukkieskoor uitgevoer.

Een van Dolf se passies is wedvlugduiwe. Hy was so ongeveer twaalf jaar oud toe hy ’n wedvlugduif op die brug op die Rietrivier optel. Hy het die nommers op die duif se ring by die polisie gaan aanmeld en kort daarna ’n brief van die eienaar in Bloemfontein gekry waarin hy hom vra om die duif kos en water te gee en hom vry te laat wanneer hy sterker is. “Ek kry nou nog hoendervleis as ek dink aan hoe mooi die twee sirkeldraaie van die duif was voordat hy verdwyn het.” Die man bring vir Dolf ’n paar weke later drie wedvlugduiwe as geskenk, en net daar byt die gogga hom. Hierdie belangstelling vind ook neerslag in Skrik kom huis toe. Hy was ook verantwoordelik vir die Duiwerubriek wat in die sestigerjare oor die SAUK uitgesaai is.

Dolf se lewe en werk is in 1999 die onderwerp van AKPOL (Afrikaanse Kultuuvereniging van die Suid-Afrikaanse Polisiediens) se jaarlikse skolevasvra-kompetisie, wat deur die Hoërskool Silverton gewen is.

In 1998 word Brandoffer: vertellings uit die Tweede Vryheidsoorlog gepubliseer en kom Van Niekerk se liefde vir die geskiedenis tot uiting. Hy het as kind sy eerste indrukke van die oorlog by sy ouma gekry, en met al die vertellings het hierdie oorlog vir hom al werkliker geword. Elke verhaal in die bundel is op die waarheid gegrond en dit is dalk wat die bundel so treffend eerlik maak. In 2006 verskyn Nag op ’n kaal plein: gedigte. Hy vertel dat hy ná ’n besoek aan sy geboortedorp Edenburg in 2005 skielik al die mense van sy jeug in die straat sien staan het. Terug by die huis begin die verse net kom en staan hy verwonderd oor alles.

Publikasies:

 

 


 

Artikels deur Dolf van Niekerk op die internet


Biografiese artikels oor Dolf van Niekerk op die internet




Bygewerk: 2008-03-26
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van SĂȘNet

Read more about Catharina Bouer
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur