Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Die krisis rondom seksualiteit in die Rooms-Katolieke Kerk
Louise Du Toit
2011-02-24 Druk dit/Print it

In hulle memorandum van 4 Februarie 2011 doen meer as 200 teoloë ’n beroep op die Katolieke Kerk in Duitsland om konstruktief en proaktief te reageer op die krisis waarin daardie kerk op die oomblik verkeer as gevolg van die gebeure van ’n jaar gelede by die vooraanstaande Canisius-skool in Berlyn. Voormalige skoliere van hierdie Jesuïet-instelling het onthul dat hulle in die sewentiger- en tagtigerjare seksueel gemolesteer is by die skool, waarna die huidige hoof in ’n brief aan alle oudleerlinge wat slagoffers was, verskoning gevra het namens die skool. Dit het intussen duidelik geword dat baie seuns deur die jare gemolesteer is (sommige bronne praat van omtrent 100 oudskoliere wat reeds na vore gekom het) en dat dit sistematies deur die skool en kerk toegesmeer is.

Hiermee voeg die Canisius-skool hom by ’n lang reeks Katolieke instellings van oor die wêreld waar soortgelyke onthullings veral gedurende die afgelope dekade gemaak is.

Duitsland is dan ook nie uniek in die opsig dat meer Duitsers as ooit tevore in die afgelope jaar die Katolieke Kerk verlaat het nie. Boonop kos siviele eise wat volg op voorvalle van seksuele misbruik, veral in die VSA, dié kerk miljarde rande, en hulle moet soms grond verkoop om die bedrae te kan uitbetaal. Openbare vertroue in die Katolieke Kerk en in die pous is by ’n laagtepunt.

Dit is in die lig van hierdie verbrokkeling van geloofwaardigheid en vertroue dat die teoloë vra vir ’n nuwe begin, ’n radikale breuk met die verlede, ’n grondige kritiese selfondersoek, en bo alles ’n oop gesprek sonder taboes: ’n ware Habermasiaanse, Verligting-gedrewe uitweg uit ’n diep krisis. Hulle erken dat so ’n oop, deelnemende en openhartige gesprek riskant is, maar voer aan dat die weg van stilswye en vreesagtige verstarring ’n nóg groter gevaar inhou. Indien die Kerk sou kies om gewoon hierdie krisis te probeer “uit sit”, só impliseer hulle, gaan hy in ’n donker gat van stilswye en irrelevansie val waaruit hy nie maklik gaan herrys as ’n faktor in die verdere wêreldgeskiedenis nie.

Die temas waaroor die teoloë grondig wil besin, hou, soos hulle sê, nie alles direk verband met die seksuele-misbruik-krisis nie, maar alles wel indirek, en ek stem hartlik saam dat ’n breër en dieper gesprek oor menslike seksualiteit byvoorbeeld dringend binne hierdie kerk gevoer moet word. Ek dink nie ek is omstrede as ek beweer dat die Christelike tradisie in die breë gekenmerk word deur ’n diep ongemak en onbeholpenheid met (selfs vyandigheid teenoor) seksualiteit as sodanig en vroulike seksualiteit by uitstek nie. Dit is daarom uiters ironies dat dit juis seksuele misdrywe in eie geledere (deur verondersteld selibate mans) is wat aan die begin van die 21ste eeu dreig om die Kerk te vernietig. Die krampagtigheid waarmee seksuele vergrype klaarblyklik deur die Kerk toegesmeer, weggesteek en ontken is en waarmee sekulêre ondersoeke gefnuik is, getuig van die mate waarin daar in die kerk self ’n onrealistiese omgang met menslike seksualiteit was. Deurdat die Kerk self ’n blindekol gehad het oor seks en dit as ’n besondere sonde en skande uitgesonder het, en die selibate lewe tot morele norm verhef het, kon die Kerk die skandaal van onthullings oor seksuele misbruik in eie geledere glad nie bekostig nie en daarom is dit so effektief, so venynig en so sistematies oor so ’n lang tyd ontken en onderdruk.

Hier is dus sprake van ’n soort sistematies-ideologiese blindheid oor of obsessie met seksuele begeerte, seks as integrale dimensie van die menslike betaan, en oor seksuele verskil, wat my skepties maak oor die toereikendheid van ’n “oop en eerlike gesprek” binne die Katolieke Kerk self. Hier is ’n diepte-hermeneutiek, ’n hermeneutiek van agterdog, van ideologiekritiek, nodig om hierdie obsessie aan die lig te bring en te verklaar en te verreken as so ’n integrale deel van die Kerk se identiteit oor al die eeue heen.

As ek voorstel dat die Katolieke Kerk gepsigoanaliseer word, wil ek my egter terselfdertyd distansieer van enige vorm van heksejag of sondebok-opstelling waartoe ’n mens op hierdie stadium maklik verlei kan word, sowel binne as buite die Katolieke Kerk. Die volgende paar los gedagtes verwoord iets van my redes hiervoor:

(i) Die Katolieke Kerk se houding teenoor seks en vroue bestaan nie in ’n vakuum nie, en dieselfde tradisie waarin hierdie Kerk staan en wat hierdie Kerk in ’n groot mate verteenwoordig, het ons huidige Westerse regstelsel, etiese besef, ekonomiese inrigting en dies meer grondig gevorm – die Westerse sekulêre wêreld moet dus daarteen waak om die Kerk as sondebok op te stel en alles wat eweseer verkeerd of skeefgetrek is binne die Westerse staat op die Kerk te projekteer.

(ii) Daar is kundiges wat beweer dat die voorkoms van seksuele verhoudinge tussen priesters in die Katolieke Kerk en kinders in hulle sorg op presies dieselfde vlak is, statisties gesproke, as dié van enige ander groepering in die samelewing. Katolieke priesters is dus, ondanks hulle selibate leefstyl, niks meer geneig as enige ander volwasse mans, van watter geloofsoortuiging ook al, insluitend ateïste, om kinders en jongmense seksueel te misbruik nie. Terwyl ons dus nou oorgenoeg bewyse het dat die selibaat mense nie moreel meerderwaardig maak nie, dui hierdie versoberende statistiek daarop dat die selibaat mense ook nie moreel minderwaardig of seksueel pervers maak nie. Van alle selibate priesters maak tussen 95 en 98 persent hulle nié skuldig aan seksuele vergrype teenoor kinders nie, wat dieselfde persentasie is as die gemiddeld in die Westerse samelewing.

(iii) Daar is aanduidings dat die Kerk, in reaksie op hierdie vlaag onthullings, sy geledere opnuut wil suiwer van mense met wat hy noem “homoseksuele neigings”, en dat hy met ander woorde sy oeroue vooroordeel teen homoseksuele met die skietgoed van die huidige krisis wil regverdig en verstewig. Met ander woorde, daar is sprake van ’n heksejag binne die Kerk op ’n groep wat hy ten onregte etiketteer as die groep wat geneig sou wees om kinders te molesteer, asof daar ’n korrelasie sou wees tussen homoseksualiteit en pedofilie. Verskeie filosowe, onder wie Lyotard en Irigaray, het al gewys op die paradoks van ’n monoseksuele, manlike-vererende simboliese orde wat openlike homoseksualiteit gewelddadig veroordeel en verdring – ek sal nie nou verder hierop ingaan nie, behalwe om te noem dat hierdie vooroordeel en paradoks eweneens vrugbare stof tot psigoanalise bied.

Wanneer die Katolieke Kerk in Duitsland dus die voorstel van die teoloë volg, en in die smeltkroes of vagevuur van ’n selfondersoekende, kritiese en eerlike gesprek ingaan met die hoop op ’n wedergeboorte, dan sou ek graag wou sien dat die volgende vyf, onderling verweefde sake eksplisiete aandag geniet (waarvan sommige sterk aansluit by die “aksiesfere” wat die memorandum self ook lys):

(i) Hierdie bewussyn is skynbaar afwesig by die teoloë: ek sou wou hê dat die groep wat die gesprek voer, krities moet besin oor die wesenlike beperkinge van ’n oop en eerlike gesprek waarbinne magsverhoudinge nooit afwesig is nie, waar strategiese denke maklik grondig etiese vraagstukke kan verdring, en veral waar daar sistematiese valshede met magsimplikasies (met ander woorde ideologiese voorveronderstellings) in stand gehou kan word indien die groep en sy metodiek van gesprekvoering nie inklusief genoeg is nie, en indien die reële grense en beperkinge nie voortdurend voor oë gehou word nie.

(ii) Daar moet bewustelik gewaak word teen die menslike neiging om sondebokke te soek, en die omvang van die probleem moet erken word – die foute en probleme binne die Katolieke Kerk is waarskynlik maar net ’n simptoom of spieëlbeeld van foute en probleme wat op sistematiese wyse binne ons modern Westerse samelewings voorkom. Ek wil verder gaan en sê dat die Katolieke Kerk as sondebok van seksuele vergrype teen kinders in ons tydvak ’n nuttige kollektiewe psigiese funksie vervul. Ons laat-kapitalistiese, individualistiese, Westerse samelewing is naamlik glad nie daarop ingestel om versorgend om te gaan met die mees weerloses in ons samelewings nie. Boonop is ons ekonomiese stelsel ’n teelaarde vir selfsug, uitbuiting, ongelykheid, armoede, uitsluiting en misdaad. Solank as wat versorgingswerk (insluitend onderwys, gesondheid, welsynswerk en dies meer) sistematies deur ons samelewings misken, geringgeskat en swak betaal word, sal staats- en kerklike instellings al hoe meer die werk van versorging op hulle moet neem. Miskien is die stories van Katolieke vergrype minder tekenend van godsdienstige seksuele repressie as van die misdrywe wat tipies is van wanneer konkrete versorging op groot skaal geïnstitusionaliseer word omdat samelewings se waardes skeefgetrek geraak het. ’n Mens dink onwillekeurig aan Peter Høeg se novella Borderliners. Daar mag dus ook iets skynheiligs, iets van ’n projeksie, wees aan die openbare veroordeling en versaking van die Kerk.

(iii) Die vorige punt, en ook die memorandum van die teoloë, raak aan die kwessie van die verhouding tussen kerk en samelewing. Die memorandum gebruik ’n eufemisme wanneer dit erken dat “the abuse crisis would not have been dealt with so decisively without the critical accompaniment of the larger public” (my klem). Dit verg dus ’n mate van sekularisering en openbare en regeringsonverdraagsaamheid teenoor die kerk as instelling om reg te laat geskied aan die slagoffers van die kerk. Hierdie idee word verder ondersteun deur die verskillende geskiedenisse van slagoffers van seksuele misbruik deur priesters en nonne in die VSA en in Ierland. Waar die kerk deur die staat in beskerming geneem word, word die toestande geskep vir misbruik van ’n veel meer omvattende aard, soos die geval in Ierland was, en waar die kerk met die staat saamwerk om priesters aan die sekulêre reg te onderwerp, soos in die afgelope tyd in die VSA gebeur het, word werklike en potensiële slagoffers bemagtig om hulle te verset. Die memorandum praat van ’n “gedifferensieerde” verhouding tussen die kerk en die moderne samelewing en erken dat die samelewing die kerk soms vooruit is op die terreine van die erkenning van individuele vryheid, onvoorwaardelike respek vir mense, respek vir vryheid van gewete, toewyding aan reg en geregtigheid, en so meer. Terselfdertyd maak die memorandum ’n rol vir die kerk oop deur te beweer dat die kerk kritiek op die moderne samelewing moet lewer rondom kwessies soos die verskraling van menslike waarde tot produktiwiteit, gebrek aan wedersydse solidariteit, en die aantasting van menswaardigheid. Die Kerk sou dus sy rol en identiteit verloor indien hy niks meer is as ’n spieëlbeeld van die samelewing nie, en mense verwag dus met reg dat die kerk homself sal differensieer en iets van ’n outonomie ten opsigte van die samelewing sou behou. Hierdie tema sal dus ook voorop moet wees as ’n metatema in die oop gesprek: In watter mate en in watter opsigte moet die kerk ’n eie identiteit teenoor die samelewing kultiveer, en in watter mate moet die kerk kritiek van buite toelaat om sy eie kultuur en identiteit te hervorm? Vir die teoloë moet die evangelie-boodskap van vryheid te alle tye die standaard vorm vir ’n geloofwaardige Kerk, sy aksies en sy sosiale vorm – dit word met ander woorde die maatstaf waarteen sy bestuursvorm, kerkreg, die kerklike huishouding, aanbiddingstyle en so meer gemeet moet word, insluitend die vorme van interne optrede teen mense wat hulle aan seksuele misbruik skuldig maak. ’n Mens sou ook wou vra wat die Kerk voorkomend doen, in terme van priesterlike opleiding, om priesters voor te berei vir ’n selibate lewe, maar ook om hulle bedag te maak op die verleidinge van magsmisbruik wat hulle tipies in hulle beroepslewe sou teenkom.

(iv) In die memorandum word gepraat van ’n tekort aan priesters wat ondervind word. ’n Mens sou ook kon argumenteer dat dit ’n tekort aan priesters is wat soms veroorsaak het dat priesters wat seksuele oortredings begaan het, herontplooi is binne soortgelyke situasies waar hulle weer kinders sou kon misbruik. Vir my sny hierdie probleem tot in die hart van ’n sosiale probleem wat ek reeds aangeraak het onder punt (ii) en wat weer eens ’n tipies Westerse probleem is: die politiek en etiek van sorg en versorging. Onder die invloed deels van die Christelike metafisika is die versorging van die liggaam ondergeskik gestel aan die versorging van die gees en aan verstandsaktiwiteite – ’n dichotomie tussen gees en liggaam, abstrak en konkreet, heilig en profaan, en wat ook ons klasseverskille en seksuele verdeling van arbeid onderlê, sowel as ons verstaan van die individu, van die Westerse self of subjek. Tradisioneel in Westerse, kapitalistiese samelewings word daar neergesien op handearbeid of konkrete arbeid, maar nog meer indien hierdie arbeid ook gaan om die versorging van ander se liggame – siekes, babas en kinders, oumense. Geen menslike (humane) samelewing kan egter funksioneer sonder hierdie noodsaaklike arbeid nie, maar wanneer dit geen status het nie, word dit oorgelaat aan die mense in die samelewing met die laagste status, en hulle word swak besoldig. Dit is wat gebeur met onderwys en gesondheid in Suid-Afrika, en waarom ook in ons skole, huise en weeshuise en hospitale die institusionele voorwaardes vir magsmisbruik bestaan. Soos in die Katolieke Kerk van twee dekades gelede, kom onderwysers, verpleegsters, priesters en ander in Suid-Afrika weg met mishandeling en misbruik omdat daar ’n ernstige tekort aan sulke versorgingswerkers bestaan. Die kwessie van die politiek en etiek van versorgingswerk moet dus verkieslik ook aan die orde gestel word wanneer die Katolieke Kerk besin oor sy rol en funksie in die moderne samelewing.

(v) Ek vermoed dat wanneer die meeste mense hulle eie ontsteltenis en verontwaardiging oor die seksuele-misbruik-voorvalle deur Katolieke priesters en ander ampsdraers ondersoek, hulle tot die gevolgtrekking sal kom dat dit nie bloot die voorkoms van seksuele misbruik is nie, maar die stelselmatige toesmeerdery, ontkenning, en leuens, die geveinsde onkunde, die institusionele “bad faith” waarmee die situasies oor dekades hanteer is, wat hulle die meeste ontstig. Nie net het priesters en nonne hulle gesagsposisies en hulle intieme vertrouensverhoudings met die kinders in hulle sorg misbruik nie (met uiteindelik die gesag van God self agter hulle), maar die Kerk het ’n aktiewe rol gespeel om daardie misbruik moontlik te maak en te laat voortgaan deur hulle weiering om daadwerklik daarteen op te tree. Die Katolieke Kerk het die mees weerloses (in baie gevalle) van ons samelewing geviktimiseer en dubbel ontmagtig nie net deur hulle te misbruik nie, maar deur die misbruik dan boonop te ontken of af te maak. In sommige kontekste is die Kerk hierin aktief bygestaan deur die sekulêre magte, maar daar was ook dikwels gelowiges, kerklidmate en ander wat gewoon net nie genoeg omgegee het vir die betrokke kinders om die Kerk aan te vat nie in die naam van die kinders se welsyn nie. Vir my is die verskrikkende van die verhale die magteloosheid van die slagoffers en die manier waarop die volwassenes wat die sosiale sisteem verteenwoordig het, teen hulle saamgespan het. As ’n mens daaraan dink dat dit juis, en veral, kinders is wat sorgbehoewend was, met ander woorde, weeskinders, ongetroude tienermoeders, jeugoortreders, kinders uit arm huise wat op voedingskemas aangewese was, en dies meer, wat deur die priesters en sommige nonne wat hulle moes versorg, misbruik is, dan verstaan ’n mens die woedende openbare reaksie. In Ierland het die omvang van mishandeling met ’n 2009-verslag bekend geword en dit was duidelik dat priesters én nonne in daardie geval betrokke was, en dat die seksuele misbruik van kinders van albei geslagte met grootskaalse fisiese aanranding gepaard gegaan het. ’n Kind of tiener wat in ’n verhouding van afhanklikheid met ’n volwasse persoon staan (sowel emosionele afhanklikheid of weerloosheid as ’n mags-, gesags- of instellingsafhanklikheid of –weerloosheid), doen tipies diepgaande emosionele skade op wanneer die volwassene hierdie verhouding misbruik, omdat dit uiters vormend op hulle selfbeeld en seksuele ontwikkeling impakteer. Die skadelike uitwerking is langdurig, in so ’n mate dat kinderslagoffers geneig is om op hulle beurt oortreders te word. My laaste en grootste bekommernis oor die pad vorentoe vir die Katolieke Kerk in Duitsland en elders is dus dat die werklike erkenning van die slagoffers en die skade wat hulle aangedoen is, vinnig verdring sal word in die lig van allerlei strategiese pogings om die kerk se beeld te red, om die kerk te red. Ek is dus bekommerd daaroor dat daar te vinnig aanbeweeg sal word na ’n “nuwe begin” en ’n wedergeboorte, na ’n soort ahistoriese vlekkeloosheid, sonder om die stemme van die slagoffers en die omvang van die skade te prioritiseer as beginpunt vir die gesprek. Die Kerk en die Pous het wel al op verskillende forums om verskoning gevra; ek sou wou sien dat vergifnis nie veronderstel word nie, maar eg gevra word, en dat daar gewag sal word op ’n antwoord, op individuele, partikuliere, konkrete antwoorde.

Ek hoop dus dat die Kerk hierdie pad sal betree in die gees van vrees en moed waarvan iets verwoord word aan die einde van die teoloë se memorandum, maar veral ook van nederigheid en ootmoed in die lig van die massiewe faling van kinders waaraan die Kerk sowel as die breër samelewing aandadig is.

  • Louise du Toit,
    Departement Filosofie, Universiteit van Stellenbosch

<< Terug na “Die krisis rondom seksualiteit in die Rooms-Katolieke Kerk“-miniseminaar <<



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




VRYDAG; 13/01/12, ENIGSTE UITGAWE
Dwelmbase voer heerskappy
Die gemors by UJ ens

Word 'n Vriend van SĂȘNet

Read more about Karen Zoid
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur