![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Haydee Morgan-Hollander - 2007-02-28
Jan het geglo dat liefde beteken: aanhou beweeg en geraas maak. Dat liefde beteken om te ontdek, nie om te besit nie.En Jorie?
“Sjoe, ek weet nie of ek weet nie. In die show sê ons dat Jorie geglo het dit is aanhou beweeg en geraas maak, al is dit 'n aanhaling van Jan, en dat Jan weer geglo het dit is om te ontdek, nie te besit nie. Dit het sin gemaak binne die konteks van die produksie, hoewel dit wat sy geglo het, steeds verborge is vir die akteurs.”
Die storie van skrywer Jan Rabie en skilder Marjorie Wallace bied 'n "blik op die hart van 'n verhouding tot die dood toe. Dit sê baie wat tersaaklik is oor die oorlewing van Afrikaans, skryf Deborah Steinmair, "oor die identiteit van die Afrikaner, kunstenaarskap en die onuitspreeklike verlies wanneer 'n gees- en gespreksgenoot die toneel verlaat."
"Ons het 'n argument begin en dit nooit klaargemaak nie," skryf Marjorie Wallace op 'n keer oor die geheim van haar verhouding met Jan Rabie. Dié argument word die vertrekpunt waardeur hulle sin probeer maak uit die wêreld om hulle. Sy het Jan vreeslik gekritiseer as hy sy skryfwerk gebruik het om die sosiaal-politieke situasie in die land te kritiseer. "Die inligting is meer belangrik as die kuns," sou hy glo tot haar groot frustrasie aankondig. Tog het sy hom net so dikwels verdedig en beskerm, want hulle was soos twee "trekkers" wat iets in mekaar herken het.
Die gehoor leer hulle ken aan die einde van Jan se lewe, afgetakel deur Louis Barre-sindroom – volgens Jorie “nie depressie nie, maar 'n mengsel tussen Parkinson en Alzheimers”. Sy wil hulle gesprek ten alle koste voortsit, namens al twee onthou, daarom hou sy boek, dokumenteer sy, wil sy hom wegruk van die muur wat hy in die gesig staar, die dood – die onafwendbare, waarmee hy 'n obsessie gehad het en wat die tema was vir een van sy prosatekste. Maar Jan en Jorie vertel ook die storie van Wallace se laaste skilderye: Jorie se afskeidneem van Jan, die uitskilder van haarself uit haar werk, die leemte wat hy agterlaat.
Steinmair skryf van haar vertolking: "Dit voel asof Nicole Holm haar lyf en stem leen aan Marjorie Wallace. Haar gesigspel is anderkant woorde."
Dié gesprek met een van Suid-Afrika se groot en uitsonderlike aktrises handel oor die werk- en skeppingsproses, oor kunstenaarskap, oor 'n ander verhouding – die een met die verhoog - en die ontvlugting wat dit bied, al was dit ook die beginpunt van soveel smart in 'n relatief beknopte lewe.
Vir haar rol as Jorie ontvang Nicole Holm in 2005 die gesogte Fleur du Cap-toekenning vir die beste aktrise. (Die eerste Fleur du Cap was in 1996 vir die US se mees belowende dramastudent. Sy ontvang ook die US-dramatoekenning vir die beste finalejaarstudent in prakties én teorie.) Jan en Jorie is ook genomineer vir die beste produksie en die beste stelontwerp by die 2004-KKNK. Brent Meersman van Mail & Guardian skryf daaroor: "Subtle, supportive direction by Juanita Swanepoel and an award-winning set by François Toerien combine to create a safe space for what is – when all is said and done, and there are bruising moments for the sensitive only – a fond homage to the couple."
Op 'n keer sê Holm as jy hou van woorde, is Malan Steyn se stuk, wat hy spesiaal vir haar en Toerien geskryf het, 'n móét.
“As jy nie opgewonde raak oor mooi sinne en die vorm van sinne nie, sal jy dit steeds geniet, maar ek dink die dieper genot van hierdie stuk kom van daardie liefde,” het Toerien beaam.
Waarin lê die bekoring van woordryke verhoudingsdramas soos Jan en Jorie en Sy kom met die sekelmaan? Bernard Odendaal skryf oor Sekelmaan: "Hier en daar bly 'n literêre vertonerigheid of 'n veelwoordigheid tog hinder, hoewel Holm vaardig daaroorheen speel."
“Die bekoring lê in twee ongelooflike mense. Jan en Jorie was twee ongelooflike mense,” sê Holm nadenkend.
Hoe gee jy lewe aan gekompliseerde en obsessiewe karakters soos Marjorie Wallace en die tevergeefsliefhebbende Maria-Marié sonder om verstrengel te raak in hulle verhoudingsproblematiek?
“Onder al die woorde is die emosies tog presies dieselfde as ons s'n. Ons almal ken verlange, seer, opgewondenheid, verwerping. Hettie het net, soos elke skrywer, haar eie manier gehad van die dinge bewoord … Ag jong, eintlik het ek nie die vaagste benul hoe dit gebeur nie. Gewoonlik begin mens teks in die hand 'n show 'blok', wat beteken jy werk jou paadjies uit op die verhoog; jou handeling. Die idee is dat jy tydens dié proses begin “speel” met karakterisering. Met Jan en Jorie was daar natuurlik ook eksterne dinge soos aksente en maniërismes, en ons navorsing het radio-onderhoude en dokumentêre films ingesluit. Maar ek onthou byvoorbeeld goed dat François op 'n keer tydens repetisies opgemerk het dat ek nou ernstig moet begin dink aan 'n karakter kry. Dit was so tien dae voor ons sou open en voor ek met die aksent begin werk het. En ja, met Jorie, toe die eksterne dinge bykom, toe's die karakter ook sommer daar.”
“Met Hettie weer het ek aansienlik harder gewerk as met Jorie. Ek het ure elke aand sit en woorde leer (want daar was baie) en verskillende vertolkingsmoontlikhede probeer. Met Martjie was dit 'n twee weke lange marathon om die woorde onder die knie te kry. Ek het laas met geskiedenis op skool gesit tot drie-uur in die oggend. So ek gaan jok as ek sê daar was verskriklik hard gewerk aan Jorie. Ek weet ek het al foute gemaak, en dit gebeur gewoonlik wanneer ek te vroeg in die proses besluit dat die karakter sus of so is en klaar. Ek kan partymaal bietjie onwrikbaar wees, veral as ek glo ek's reg, en dan loop jy jou rieme vas. Die teenoorgestelde het ook al gebeur: dat ek nooit die besluite geneem het wat ek moes nie, en die karakter dus maar die aktrise bly wat die woorde so goed sy kan vertolk.”
Vir Holm kom dit neer op besluite neem, geskoei op die teks en wat die regisseur van jou vra, maar primêr op wat jou “gut” vir jou sê. “Dis tog hoekom ek 'n aktrise is. Ek voel ek verstaan instinktief wat die 'beste' vertolking is van 'n sekere karakter. Die Marjorie in Jan en Jorie was beslis anders as die Marjorie in Altyd Jonker. Die uiterlike bly dieselfde, maar 'n karakter ontstaan tog na gelang van sekere situasies, en dit het verskil in die twee shows. Die een was baie meer funksioneel as die ander. Ek voel die een in Altyd Jonker het veel minder persoonlikheid gehad as die ander een, maar dit was haar funksie omdat Ingrid se storie vertel is. Maar juis die feit dat sy by tye so lank moes rondstaan en niks sê nie, het ek as uiters on-Marjorie ervaar.”
Die meeste van Holm se karakters is gebaseer op hoe sy voel 'n sekere ander aktrise dit sou doen. “Vir elke rol wat ek al gespeel het, was daar maar altyd een of ander ander aktrise wat ek gedink het eintlik perfek is vir die rol. En ja, tydens my proses probeer ek dan die ander persoon word wat die karakter vertolk. Dit hou gewoonlik nie lank nie, maar help my in die eerste week of wat om iets te hê om mee te speel. Daar is raakpunte tussen my en al die karakters wat ek al vertolk het, want die menslike psige bly maar teleurstellend voorspelbaar. Ek ken ook verwerping baie goed. Ek ken ook verlange. En my frustrasies manifesteer ook in obsessiewe gedrag.”
Is sy baie beskermend of besitlik teenoor die karakters met wie sy 'n eensgesindheid voel?
“Ek sou nie sê teenoor die karakters nie, maar wel oor my vertolking, my werk; veral as ek dink ek het hard gewerk en die regte ding beet. Onlangs gelees van 'n akteur wat sê dis belangrik om nooit jou karakters te beoordeel nie en ek probeer dit toepas, want ek maak my gereeld skuldig daaraan.”Jan en Jorie was twee jaar aan en af op die planke in verskillende nasionale teaters. Vier van die ses vertonings op die destydse 2005 KKNK-speelvak was uitverkoop en ekstra vertonings is op openbare aandrang gereël. Hoe bly die "smart" wat jy oor die voetligte heen projekteer, eg? Op watter tipe stimulus maak akteurs staat?
“Dit verg 'n dissipline wat ek nie oor beskik nie. Ek het nog nooit 'n speelvak van langer as drie weke aaneenlopend gehad nie en dit was met kindertoneel. Jan en Jorie sou drie weke gespeel het by Kunstekaap, maar die besprekings was só vrot dat ons vier aande moes kanselleer.”
Holm is betrokke by die komende Woordfees en die bekendstelling van Amanda Botha se boek Marjorie Wallace: Drif en Vreugde, en voel hiermee het sy nou die sirkel met dié karakter voltooi.
Belydenis, herinnering en individualisme staan sentraal in Hettie Smit se dagboekroman Sy kom met die sekelmaan (1937). In hierdie teks word die “digterlike woord” ook ingespan om uitdrukking te gee aan 'n mislukte liefdesverhouding en aan wat NP Van Wyk Louw die “allerindividueelste emosie” noem.
“Ons wou 'n storie vertel, 'n spesifieke storie, maar ook almal wat al soortgelyke dinge beleef het, se stories; daarom is Smit se eintlike slot, geskryf as 'n brief aan die digterlike 'Johan' se bruid, ook in die verhoogweergawe weggelaat. Daar was gehoorlede wat in trane ná die show na my gekom het met: 'Dit is presies mý storie.' Vir hulle was die teaterritueel dus uiters helend. Die situasies waarin mense hulle bevind, is selde uniek of nuut, en dit help om, as jy met iets worstel, te onthou jy is nie alleen nie.”
André P Brink skryf in Die Burger: “Dit is nie om die roman se 'droefverre snikwoordjies' dat hy onthou sal word nie, maar om die vonkspatsels, hamerslae en haelkorrels wat in die Afrikaanse prosa iets oopgemaak het.”
"Hierdie stelling van Brink verwys onder meer na 'die meer geskakeerde beeld as te vore van die verwikkelde misterie van vrouwees (wat Smit) in ons prosa geskep het'", aldus Jan-Jan Joubert in Krit.
In literêre kringe word daar baie bespiegel oor Smit as 'n depressielyer, maar Holm en ander reken dat sy ernstig gely het aan PMS (Smit skryf ook “dit kom een keer 'n maand”) en daar was min begrip vir dié toestand en vir depressie in Smit se tyd.
Die innerlike konflik tussen die intellektueel-beheerste Maria en haar alter ego, die emosioneel-impulsiewe Marié, vorm die kern van die intrige in Sekelmaan. Smit se belydenisverse, of “kammabriewe” soos syself daarna verwys het, vertel nie 'n mooi verhaal nie, eerder 'n hartseer en ontstellende een; tog was Holm se vertolking nooit morbied nie, maar diep ontroerend en simpatiek.
“Ek weet nie of almal met jou gaan saamstem nie, maar ek moet sê, ek dink selde oor die finale aanslag van 'n show terwyl ek repeteer. 'n Ding kom maar uit soos hy uitkom. Weer eens hang dit af van vir wie jy werk en in watter styl. Maar oor die algemeen hou ek van 'n organiese proses. Ek hou nie van voor die tyd besluit oor teikenmark en so nie.”
Die Volksblad berig soos volg oor haar vertolking: "Holm vertolk die karakter van 'n aanvanklik jong, goedgelowige verliefde meisie tot 'n skellende rebel en ontwikkel haar in 'n patetiese verworpene wat uiteindelik aanvaar haar liefde sal onbeantwoord bly."
Jans Rautenbach sê dit is en bly die regisseur se verantwoordelikheid om sy akteur binne 'n bepaalde karakter te laat bly – "jy hoef dan nie die karakter te vertolk nie, jy ís net die karakter."
"Ek weet nie of ek heeltemal saamstem met Rautenbach se stelling nie. Ek voel tog dat daar sekere rolle is wat van die akteur vra to become en sekeres wat van die akteur vra to portray.”
In 'n onderhoud in 2001 sê Holm sy reken sy is nog jonk en het nie al die ervaring en insig wat ouderdom bring nie. Tog het sy aanklank by Smit se teks gevind omdat dit kyk na die totale menswees. Ook kon sy meer in die teks vind om op te bou, nie noodwendig net in die karakter nie.
“Vandag is ek nou net mooi op daai moeilike stadium van beslis te oud wees vir selfs niekonvensionele jonger vroue (van wie daar nie baie is nie) en nog te jonk vir die juicy rolle. Dit gesê, het ek met Marjorie gemik vir enigiets tussen 25 en 60. Maar nee, ek is beslis nie meer in die jongmeisie-kategorie nie, hoewel ek nie wens om spesifiek ouer of jonger te wees nie.”
Holm se curriculum vitae is indrukwekkend en lys haar as akteur, sanger, choreograaf en regisseur. Veelsydig, dus, maar bowenal bitter talentvol. Watter uitdagings bied die teater nog? Hoekom is die werk so bevredigend?
“Die verhoog bied ontsnapping, die uitleef van fantasieë, kreatiewe verkeer. Ek sou wou spelleiding waarneem, en regie [sy het die regie van verskeie produksies vir skool en Spektrum Produksies waargeneem], hoewel daar nie vandag geld is om beide in produksies te betrek nie; maar dan kyk ek ander dag na 'n show wat Wolf Brits direct het as deel van sy honneursgraad (hy's bloedjonk) en ek dink nee, hou jou by jou lees!”
Marthinus Basson sê in Insig (Maart 2007) daar's nêrens tyd om te belê in iemand, om iemand te verryk of 'n kans te waag nie. “Daar's nie tyd om te groei binne 'n veilige raamwerk nie.”
Met belangrike produksies soos Jan en Jorie, Pas de Deux, Yerma, Sy kom met die sekelmaan (Juanita Swanepoel) en Maria de Buenos Aires, Tango del Fuego en Stroop (Marthinus Basson) het Holm dieselfde regisseur gehad. Kompenseer dié spesialis aandag vir die gebrek aan genoeg werk? Wat is haar indrukke van die regisseurs met wie sy saamwerk?"Om saam met Nita te werk, bly 'n fees. Sy bly vir my die beste spelleier wat ek al teëgekom het en ons verstaan mekaar se prosesse. Wat ek by haar geleer het, beide op en af van die verhoog, is te veel om te noem. Buiten regie is sy ook voltyds opvoeder tydens produksies, want sy is so geweldig ingelig, vaardig. [Swanepoel was sestien jaar as dosent aan die Dramadepartement van die Universiteit van Stellenbosch verbonde.] Marthinus Basson verbluf my elke keer. Hy en Nita laat my honderd persent veilig voel op die verhoog en dis eintlik al wat die meeste akteurs wil hê. Ek het nog net musiek shows saam met hom gedoen en weet nie hoe dit is om saam met hom 'n drama te doen nie.” “Jaco Bouwer (Altyd Jonker, Trouvrou) is fantasties. Hy het 'n meedoënlose oog en oor, maar ek is bietjie bang vir hom. Ag, en dan werk ek nou saam met Gideon van Eeden wat weer 'n totaal ander aanslag het. Aanvanklik het dit my bietjie uitgefreak, maar nou is dit heerlik. Dis totaal mog 't troffe, wat jou as akteur weer die geleentheid gee om te voel jy is op alle vlakke betrokke by die skep van die show.”
Ook sou sy graag saam met regisseurs soos Ilse von Hemert, Lara Foot-Newton en Gerrit Schoonhoven en akteurs soos Anthea Thomson en Brian Weber wou werk. Wombtide (Lara Foot-Newton) beskou sy as fassinerende teater. Ook Peter Hayes se The Tricky Part wat hy verlede jaar by Grahamstad gedoen het.
“Alle akteurs, al werk hulle meestal saam met dieselfde mense, wil ook graag saam met ander werk. Ons (akteurs én regisseurs) werk nie aldag met mekaar omdat ons uitsluitlik wíl nie. Soms is dit maar net waar jy jou op 'n stadium bevind, of dit is moeilik om in 'n ander groep in te beweeg.
“Ons het nie meer repertoire-teater nie – vandag werk jy van kunstefees tot kunstefees, hoewel ek baie mainstream teater doen, soos Yerma. Ek is hierdie jaar gelukkig. Ek gaan voor April vier nuwe stukke in repeteer: Die Melkweg het 'n ster laat val, Lawwe Geluide (die Afrikaanse vertaling van die Britse klug Noises Off), Viaje Flamenco en Buite voor die deur. Dis vier meer as verlede jaar, maar ná April weet ek van een nuwe stuk wat Potch toe gaan, en dit is eers in September.”
Holm sê skrywers is kardinaal. “Ek staan vir wie ek is en dit is tekenend van die werk wat ek doen. Klassieke werk soos Yerma is ook nodig, anders word jy uitgesluit van wêreldinvloed."
“Jy kan net byvoeg tot wie jy is, manipuleer wie jy is – maar wie jy is, gaan altyd deurslaan,” sê Toerien op 'n keer oor die werk wat hy saam met Holm doen.
Wat van klassieke rolle soos Henriette of Angelique (Molière), Marion de Lorme (Victor Hugo) en Marguerite in Die dame met die Camellias - klassieke rolle wat Sarah Bernhardt help vorm en beroemd maak het? Het ons die ekwivalent daarvan in Afrikaans?
"Wie? Ek het nog net een keer in 'n Molière-stuk gespeel, in my tweede jaar, en dit was so verbysterend swak (die regisseur het aanhou sê ek gaan sy stel breek, weet nou nog nie hoekom nie) dat ek oombliklik vir Molière afgeskryf het. “Ek het geen aspirasies om in die buiteland my akteursbestaan te maak nie. Natuurlik sal dit heerlik wees om elke dan en wan êrens heen genooi te word, maar nee, ek sien myself geensins in 'n nuwe bedryf inloop en van voor begin nie.”
Sonder twyfel verkies Holm Afrikaans as verhoogtaal. “Die weird ding is dat ek vir televisie Engels verkies, want my lispel is baie minder opvallend.”
Benewens sang- en dansrolle in Maria de Buenos Aires en Bloedbruilof was Holm tot so onlangs as 17 Februarie te sien in Viaje Flamenco. Van haar optrede in Viaje skryf Rebekah Kendal: “Nicole Holm's clear voice is hauntingly beautiful in the 'north African' pieces.”
“Ek sing die afgelope vier jaar meestal net in teaterstukke. Baie flamenco shows en dan iets soos Maria, maar op hierdie stadium is ek net té besig. 'n Solo-sangloopbaan sal moet wag, maar ja – en dit sê ek al vir die afgelope tien jaar – ek sal nog my liedjie-eendjies in ’n ry kry en 'n sang show en die CD ding doen.”
Op die herinneringsalbum Beaufort-Wes se Beautiful Woorde klink dit of Holm se lankmoedige stem die poësie van Gert Vlok Nel toevou, so mooi en so sag is dit.
Haar stem verleen aan die lied "Moenie my hier vergeet nie, Dixie", “een bijzonder sfeer,” skryf Mirjam Adriaans uit Nederland.
In 2004 is Holm vir 'n dubbele Fleur du Cap benoem: as beste aktrise vir haar spel in Hugo Claus se Pas de Deux (vertaalde weergawe) en vir die beste vertolking in 'n musiekblyspel (as Maria in die Spaanse tango-opera Maria de Buenos Aires). Sy wen ook die 2004-Kanna vir haar vertolking van Maria. Marina Griebenow skryf in haar resensie: "Nicole Holm as die ongelukkige Maria is onverbeterlik. Dit is asof Piazzolla se stemmingsvolle musiek spesiaal vir haar unieke sangstem geskryf is, terwyl haar spel (en voorkoms) die volmaakte vermenging tussen weerloosheid en sensualiteit is. Sy verpersoonlik as't ware die wese van die tango."Daar is talentvolle akteurs wat swak beweeg, maar Holm is besonder vrygewig op 'n verhoog.
“Ja ek is gelukkig wat my lyf betref. Ek is nie skaam vir hom nie, en hy beweeg maklik (op die verhoog!). Maar dit kan ook 'n trap word. Is al klaar, dink ek. Ek moet ook versigtig wees om nie weg te kruip agter my lyflikheid nie, want dis tog eintlik ook maar net nog 'n skans.” Ook lyk sy soos 'n aktrise, het selfs 'n teatrale styl, soos wat Wallace se publieke en private persona dié van 'n skilder-skepper, kunstenaar was.
In 2005 wen sy die Sarie-Kanna vir die mees inspirerende vrouekunstenaar vir die stukke Pas de Deux, Bloedbruilof en Onbekend ('n kabaret waarin sy Nicole speel). Die Volksblad noem Pas de Deux "maklik die belangrikste gebeurtenis op die [2005 Volksblad-] fees".
“Wat betref die in- en uitglip van karakters, mens repeteer 'n show (hopelik) so baie dat jy tog altyd binne 'n baie stewige konteks 'iemand' is. By baie stukke is die stel alleen nodig om jou net gou weer in die spesifieke rol in te kry. Ander kere weer is dit die musiek. Ek weet nie regtig van akteurs wat sukkel met 'multi-roleing' nie.”
Bloedbruilof, 'n verwerking van Federico Garcia Lorca se gelyknamige klassieke toneelstuk, is in 2005 onder regie van Geoffrey Hyland aangepak. Weer is Holm se smeulend melankoliese stem ingespan. In 'n onderhoud met Theo Kemp beskryf sy Bloedbruilof as 'n tipiese Lorca-tragedie waarin die onderdrukking van die natuur en die seksuele sentraal staan: “Hyland se stuk is eenvoudig asemrowend, die dodedans daarin, die maan wat gepersonifiseer word.”
Regisseur Albert Maritz sê Holm het 'n sin vir realisme. “Dit lyk of sy toneelspeel met 'n naturalisme. Sy verplaas haar gehoor na daardie misterieuse plekke in teater.”
Somerdag met 'n dooie digter, Soveel wat ons mekaar moet sê, Sy kom met die Sekelmaan … bly alles net woorde op papier? Is "die mooiste woorde verby"?
Dramaturg Willem Anker skryf in sy artikel "Hoe woorde werk in monde op plankvloere" dat woorde in teater anders werk as woorde in romans juis as gevolg van die verhoog. Juis omdat drama meer as net woorde is. “Teks word geskep deur akteurs, elke akteur se persoonlikheid bloei die teks binne.”
Die taal van die teater is ekstern tot woorde – dit is 'n stap in die rigting na die buitekant, skryf Anker. “Die taal moet konkreet word soos die gehuil van 'n hond vir die maan. Die hond sien nie die maan as 'n simbool nie. Die gehuil beteken niks nie. Tog laat dit iets los in die hond, maak dit hom meer hond. Rituele betrek altyd die gehoor; die gehoor is altyd 'n wesenlike deel daarvan; en soos ook in die geval van teater, trek die akteurs of sjamaans hul energie uit die omstanders.”
Watter reaksie, as 'n Marjorie, of Hettie, hoop sy om van gehore te kry?
"Energie. Dis al wat ek by 'n gehoor wil hê. Hulle onverdeelde aandag.” En haar gunsteling-woorde gaan uit Jan en Jorie moet kom: “… want ek kan nie meer Sekelmaan onthou nie. In Jan en Jorie is daar miljoene, en my keuse gaan wissel na gelang van my bui, maar ai, op hierdie stadium sal ek moet sê: 'Waar is Jan, die ou ding? Ek mis hom so. Ons het altyd so lekker gesels.'"
![]() Foto: Philip de Vos Vind meer uit oor Margorie Wallace by vanjaar se Woordfees:
Marjorie Wallace: Drif en Vreugde
Marjorie Wallace, bekende skilder, vrou van die skrywer Jan Rabie, en een van die kleurrykste figure in die Suid-Afrikaanse kunstewêreld, se laaste retrospektiewe uitstalling is in 2003 by die Woordfees aangebied, met Amanda Botha as gaskurator. Vanjaar stel Amanda haar boek oor Marjorie by die Woordfees bekend, saam met Dorothea van Zyl en André P Brink.
10 Maart 2007, 15:00 – US Kunsmuseum. 60 min – R30
Bedankings
Christa Heyns, Vakkundige - SA Media aan die Universiteit van die Vrystaat (UVS)
Erika Terblanche, Geesteswetenskaplike navorser, NALN Bloemfontein
Laurette van Huyssteen, Toneelbiblioteek Bloemfontein
Bron
|