![]() |
![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
![]() |
|||
![]() |
Suzette Kotzé-Myburgh - 2007-06-04
Regisseur: Helena Nogueira
Met: Andre P Brink, Jan Rabie, Marjorie Wallace, Sir Laurens van der Post, James Matthews, Peter Clarke, Nico Hagen, Kennie Parker, Grethe Fox, Revel Fox, Michael Cope, Topsie Venter. My eerste kennismaking met Ingrid Jonker was in standerd ses, in die Afrikaans-klas. Die juffrou lees Ingrid se gediggie voor: Moenie slaap nie, kyk!
Agter die gordyne begin die dag dans
met ’n pouveer in sy hoed.
“Ag,” sê sy ewe lugtig, “ek kan dít ook skryf.” (Sy was rasend oor Van Wyk Louw.) Toe ek, nie ’n geseglike kind nie, haar só kyk en vra: “Sou Juffrou regtig kon?” moes sy erken nee. En dis die punt van Ingrid Jonker se digkuns: dis bedrieglik eenvoudig. Gevolglik is sy in haar tyd meermale deur die “grotes” afgemaak. Hierdie uitstekende dokumentêr laat reg geskied aan haar, en dis ’n reuse-wins vir Suid-Afrika en vir Afrikaans. Deur middel van kommentaar, onderhoude, foto’s, stemopnames van Ingrid en koerantberigte ontvou haar tragiese lewe (1933–65). Die ruggraat van Nogueira se film is onderhoude met van die mense wat die naaste aan haar was: Marjorie Wallace, die ou kunstenares steeds sprankelend en vol humor, en André P Brink, wat te midde van die fel kritiek wat hy deur die jare oor Ingrid ontvang het, die kans kry om sy kant van hul stormagtige verhouding te verduidelik. En naasbestaandes: Mike Cope belig die verhouding tussen sy pa, Jack, en Ingrid. Revel en Grethe Fox vertel van die rol wat Uys Krige, Ingrid se mentor, in haar lewe gespeel het. Breyten Breytenbach, stylvol in Parys. Ook Ingrid se dogter, Simone, en Suzanne Jonker, Ingrid se jonger halfsuster. Topsi Venter, met wie Piet Venter getroud is ná sy egskeiding van Ingrid, die skilder Erik Laubscher, ook die kunstenaar Peter Clarke en die digter James Mathews. ’n Verrassing was Albie Sachs – as goeie vriend van Jack Cope belig hy die “Engelse” wêreld van daardie tyd. En sir Laurens van der Post, wat Ingrid kort voor haar dood ontmoet het, verwytend teen haar vriende en nogal naïef oor die noodwendig afdraande pad wat sy gevolg het. Deur al hierdie verskillende stemme word ’n gebalanseerde en geskakeerde beeld van Ingrid se lewe gegee – of dan lewens, eerder, soos die filmtitel lui, want dis onmoontlik om te praat van haar "lewe” asof daar net een stel feite en een verstaan daarvan is. Gedagtes oor die dood en selfmoord was deel van Ingrid, moontlik weens haar ma se vroeë sterfte. “Ontvlugting”, die titelgedig van die bundel waarmee sy op 22 gedebuteer het, is ’n verstommende “vooruitskouing” van haar dood op 31. Die sielkundige kompleks wat haar lewe oorheers het en wat haar na haar dood gedryf het, was haar treurige verhouding met haar pa, die politikus dr Abraham Jonker, wat haar ma reeds tydens die swangerskap verwerp het met die beskuldiging dat Ingrid nie sy kind is nie. Abraham Jonker, klaarblyklik ’n kleingeestige man, word nogal gedemoniseer deur regisseur Helena Nogueira: daar word telkens ingefokus op ’n foto van sy streng, onverbiddelike gesig, en die gerug dat hy met die nuus van Ingrid se dood sou gesê het: “Hulle moes haar in die see teruggegooi het” word herhaal. Volgens sy seun Koos Jonker, wat op ’n jagtog saam met sy pa was daardie tyd, is dit onwaar (vergelyk Petrovna Metelerkamp se biografie, Ingrid Jonker: Beeld van ’n digterslewe). Een van die interessantste dinge van Ingrid se lewe is dat haar stryd met haar pa as ’t ware saamgevloei het met haar stryd teen die apartheidsbestel. Abraham Jonker was nou betrokke by die destydse Publikasieraad, die sensuurliggaam wat deur Hendrik Verwoerd ingestel is, en die Sestiger-skrywers, onder leiding van Jan Rabie, het hewig in opstand gekom daarteen. Ingrid se intense ontsteltenis oor polisiegeweld by Philippi in Maart 1960 het gesorg vir haar beroemdste (en na my mening beste) gedig, “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga”. Met president Mandela se voorlesing daarvan by sy inhuldiging in 1994 het sy wêreldberoemd geword. Dis met trots dat ’n mens daaraan dink dat hierdie dokumentêr by internasionale gehore gaan uitkom. Gaan kyk dit!
|