Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet > My stukkie uit die jare toet

My stukkie uit die jare toet


Diana Ferrus - 2007-08-02

Hierdie is ’n stukkie uit my boek wat oor ’n jaar of so sal uitkom:

Verwoerd is gesteek op die dag wat ons The birds van Alfred Hitchcock gaan kyk het. Dit was een van daai fondsinsamelingspogings van die skool waar al die kinders twee kaartjies gekry het om te verkoop en die geld teen ’n sekere tyd moes hê, ongeag wat ook al. My ouma was die een wat altyd voor by haar borste moes inkrap, die swart sakkie sou voortbring en skel-skel die geld na ’n bitter lang tyd in ’n mens se hand geprop het. “Jou ma en pa is voëls van eenderse vere,” het sy gesê, “kan nie kyk na hulle kinners nie; het geld vir niks – net vir wyn.”

Ewenwel, met interval, na ’n ge-“oe” en ge-“aah” vir hierdie voëls wat die mense se oë uitpik en hulle huise opvreet, het ons gou oorgehardloop na mister Nagia se cafe wat op die hoek van Grey- en Mylnestraat was. Dit was ’n ou klein winkeltjie met net genoeg lig sodat ’n mens die sterretjie op die Stars-lekkers kon sien of die monkey-nut in die oumensdrolle. Missus Nagia se oë was opmerklik groter in die halfdonker en sy het so teruggestaan agter die hoë toonbank. Haar kopdoek was effe meer teruggedruk as ander kere, sodat ’n groter deel van haar ligte voorkop sigbaar was. Oor die skouer het die lang, swart vlegsel gelê.

Missus Nagia het nie soos gewoonlik “hello” gesê en gevra wat ons wil hê nie. Met hierdie groot, swart oë het sy gesê, so asof ons moes weet: “Verwoerd is nou net doodgesteek.”

Ek het uitbundig uitgebars: “Is dit? Wie het hom gesteek?” My vriendinne was ongeduldig; hulle wou die eetgoed klaar koop sodat ons kon terug na die mensvretende voëls. Ek het “goed so!” uitgeroep en my hande geklap. Missus Nagia het “foeitog” gesê en die Stars en die oumensdrolle stadig uit die potte onder die glastoonbank gehaal.

Ons was langbeendogters van dertien wat in die agterste ry van die bioskoop gesit het met die groot ouens van die skool in die ry voor ons. Verwoerd, het ons geweet, was ’n slegte man. Ons het nooit oor hom gepraat nie. Dit was net wanneer ons ’n geskiedenistoets of -eksamen geskryf het dat ons geantwoord het dat hy die Eerste Minister van Suid-Afrika is.

Ons het die hartseer missus Nagia in die skemeragtige winkel agtergelos, oor Greystraat se sloot gespring en teruggehuppel na The birds. In die donker saal het die kinders in spanning gewag om te sien wat die voëls se volgende stap was. So tussen die gekou van die Stars en oumensdrolle het ons “oe” en “aah” geskree, ons hande voor ons oë gesit en die seuns voor ons se hare getrek.

Groete
Diana


<< Terug na Vintage@LitNet <<