Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > ’n E-pos-onderhoud met Jaco Fouché oor sy nuwe roman, 2 Dae in Mei

’n E-pos-onderhoud met Jaco Fouché oor sy nuwe roman, 2 Dae in Mei


Jaco Fouché - 2007-09-11
Jaco Fouché is skrywer van die roman Die Ryk van die Rawe (1996) wat met die Eugène Marais-prys bekroon is en ’n finalis was vir die M-Net Literêre Toekenning, die kortverhaalbundel Paartie by Jake’s (1997), Die Avonture van Pieter Francken (2005) en 2 Dae in Mei (Julie 2007) wat pas by Umuzi verskyn het en waarin hy ’n greep neem uit die lewe van ’n handjie vol lede van Alkoholiste Anoniem in Bellville – aangewese op mekaar in hulle daaglikse stryd om ’n waardige bestaan, en elk tog in laaste instansie op sy of haar eie.

Dink jy visueel terwyl jy skryf? Daar is veral twee verwysings daarna in jou boek – bl 48: "Dit is tog nie asof vandag se films juis dui op vandag se lewe nie", en bl 108: "Dalk ken ’n mens geluk slegs in nabetragting uit wanneer jy na ’n greep uit jou lewe terugkyk en jou verbeel jy sien dit volledig en in genoeg besonderhede om dit as ’n film of ’n boek te beskou, kompleet met begin, middel, einde. Iets wat afgehandel is."

Ja beslis. Ek probeer my ’n toneel voorstel en beskrywing is belangrik. Ek dink ek het dit by Stephen King en Wilbur Smith geleer. Hulle kan albei ’n toneel beskryf dat jy net so wel daar kan wees. Toe ek nog in Bellville gewoon het, het ek met ’n notaboekie in die sak rondgeloop en dit uitgehaal as ek iets interessant sien. ’n Mens leer om in ’n sin of twee iets oor jou omgewing te sê.

Die ding met film kom waarskynlik uit my liefde vir televisie. Ek kyk elke dag ure daarvan. Soms voel ek skuldig daaroor, maar daar is baie beloning in nuus en The Sopranos en Survivor. Ek dink ek steel baie by televisie. Ek kyk seker so drie flieks ’n week op televisie, wat natuurlik ’n invloed op my skryfwerk het, nie net in terme van beskrywing nie, maar ook wat betref struktuur. Die meeste flieks het redelik eenvoudige strukture. Dis weens die beperkte tydsduur, want jy kan net soveel in twee uur inwerk. Dit het die struktuur van 2DIM beïnvloed.

Sien jy die eindproduk (in dié geval 2 Dae in Mei) as ’n film of ’n boek? Jy skryf op bl 72: "Ek weet ook dat geen fliek of boek of skildery iets beteken as jy dit nie kan verkoop nie."

Dis ’n boek wat baie beïnvloed is deur film en TV, miskien moet ek so sê. Die karakters kyk gedurig TV. Die opmerking oor die kunswerk wat jy as kunstenaar moet verkoop om bestaansreg te hê, is dalk ’n bietjie sinies, maar ek is ’n skrywer met beskeie finansiële vermoëns. Publikasie is baie lekker, maar ek skryf in elk geval. Ek sou sê die helfte van wat ek skryf word nie gepubliseer nie, maar dis steeds vir my belangrike werk. Ek glo vas dat skryf terapeuties is. Veral verhoudings – met meisies, vriende en familie – kry sin as dit eers neergepen is.

Hoekom ek skryf? Ek kan nie juis iets anders doen nie. En ek weet dit vir ’n feit, want ek het al ’n paar keer van werk verwissel, seker ses of sewe keer.

Het jy 2 Dae in Mei geskryf vir kunstenaars of alkoholiste of alkoholistiese kunstenaars?

Ha ha, dis snaaks. Die boek is eintlik vir mense wat sterk voel oor drank, of jy dit aanhang of ’n afskaffer is. Kunstenaars is geneig om ’n bietjie in die bottel te kyk, so ja, ek skryf vir hulle ook.

Hoeveel van dié roman is outobiografies, soos gesuggereer deur die aanhalings hier onder? Is daar sekere karakters met jy ’n eensgesindheid voel, soos Jim (én Robert)?

“Ek vereenselwig my met Jim. Die boek het outobiografiese agtergrond, maar is nie outobiografies nie. Een toneel is wel op die werklikheid gebaseer, die toneel waar Jim ’n vuilgoeddrom van ’n sypaadjie af duik en hard val. Ek onthou nog daardie val. Dit was ’n hoogtepunt in 1992. Die ander goed het soms gebeur, soms nie. ’n Mens verwerk vreeslik aan wat jy beleef of hoor. Ek’s altyd bang ek gee iemand wat ek ken, aanstoot en dan doen ek moeite om te verdoesel en te lieg en te oordryf.

Bl 50
En ja, dan’s daar ’n mens se klas, daardie etiket wat jou aksent en gespreksonderwerpkeuse en kleredrag en haarsnit aan jou vasplak. Geen wonder sommige ouens weier om iewers in te pas nie: hulle vind die nisse wat aan hulle beskikbaar is, onaanvaarbaar. Dan word ’n mens eerder ’n kunstenaar, ’n dronklap, ’n herstellende verslaafde, ’n televisiester.

Dis wel so dat sommige ouens die beskikbare nisse onaanvaarbaar vind. Ek het self vir lank so gevoel. Of skrap daardie sin – ek voel nog steeds so.

Bl 63
Die besef van sy ledigheid, die luuksheid daarvan, is soos ’n aanklag. Wat doen ’n mens met tyd wanneer jy dit skielik het? Daar is groot meriete aan ’n roetine.

Ek gló in roetine. Dis lekker om elke oggend die honde kos te gee en te sorg dat ek net na nege by die winkel is vir die dag se inkopies. Dit was die een ding wat lekker was van die army. ’n Mens het streng volgens ’n roetine geleef; jy weet, “regimented life”.

Bl 64
Maar miskien bereik ’n mens ’n punt in jou karige romantiese lewe dat alle vroue bekend lyk, dat enige vrou ’n soort heenkome kan bied.

Dis die woorde van ’n eensame man hierdie! Hopelik is dit besig om te verander. Ek smag na vroulike geselskap, maar soos ek sê, hopelik is dinge besig om ten goede te verander.

Bl 72
Ek weet iets ja. Ek weet dat die lewe uit mense en alleenheid bestaan, en jy is gelukkig as jy lief is vir die alleenheid.

’n Deel van my lewe in Bellville was soos ’n kitchen sink drama. Een keer het ek nie geweet waarheen om nou te trek nie. Vir lank was ek sonder vervoer. Ek het oral heen gestap en trein gery. Dit het gevoel asof ek niemand op aarde ken nie. Ek weet nie hoeveel tyd ek in ou kafees deurgebring het deur net daar te sit soos ’n perlemoen wat ’n alikruik bekruip nie. Dit was ’n ellendige maar lekker tyd. Later het dit beter gegaan, maar ek was toe reeds diep onder die indruk hoe dit voel om meestal alleen te wees.

Van jou eerste roman, Ryk van die Rawe, het Die Volksblad gesê: "Die roman is bevolk met onvergeetlike karakters." Is daar karakters (Edna in Ryk van die Rawe versus Anita in 2 Dae in Mei), milieus (Bellville, kroeë) wat weer en weer hulle verskyning in jou boeke maak?

Heng, dis ’n goeie vraag! Ek sit nou hier en dink, ja, daar’s beslis ooreenkomste. Taai en straatwys en ’n bietjie gemeen. Ja, daar’s ooreenkomste tussen Anita en Edna. In Ryk van die Rawe het Edna op die ou end mos ’n Suid-Afrikaanse agtergrond wat sy laat blyk toe sy skielik Afrikaans praat, so sy het Ratkas beter verstaan as wat hy besef het. Anita verstaan ook iets oor mans, soos sy aan Robert laat blyk, tot sy skok. En miskien is daar ooreenkomste in die mislukte sekstonele ook. Albei karakters frustreer mans.

Die een kroeg wat weer en weer in boeke opduik, is Jake’s Place. Dis gebaseer op ’n kroeg in Twaalfde Laan, Bellville. Drankgebruik en drankmisbruik sal seker ook weer en weer opduik. Kroeë het ’n allure wat die meeste ander plekke nie het nie. Daar betaal jy ’n paar rand vir ’n glas goeie bui.

Soms sal karakters weer hulle opwagting maak in opvolgkortverhale, maar ek kom agter dat dit nie dieselfde is die tweede keer nie. Dan het die karakter blykbaar varsheid verloor, of miskien het ek belangstelling verloor. ’n Plek soos Bellville sal seker nog ’n keer of twee die agtergrond vir verhale vorm. Ek is nog nie uitgeskryf aan Bellville nie.

Hoekom Mei-maand?

Ek het lank gedink om ’n storie oor die AA te skryf. Ek het so ’n plan gehad om vier kortverhale ineen te laat loop en kortverhale het mos gewoonlik ’n kort tydsverloop, derhalwe die twee dae. Ek het ook ’n fliek met Charlize Theron gesien met die titel Two days in the Valley en baie van die titel sowel as die kort tydsverloop gehou. Die titel was eers Robert, Elna, Jim en Ina. Een maal in 2005 het ek in Meimaand hier in Bloem in ’n parkeerterrein gesit en wag en sien toe ’n man wat van boompie na boompie loop en die laaste herfsblare met ’n harksteel afslaan. Toe dink ek: 2 dae in Mei.

Vanwaar die fassinasie met Jack Kerouac, wie se naam jy op bl 116 noem? "Jim probeer Antjie van Jack Kerouac vertel, maar sy bly dink Kerouac is ook van Bellville en later weet hy self nie meer waar kom hy los van die skrywer en waar nie." Daar is ook ’n (terloopse?) verwysing na die skrywer op bl 48: "Dit is net hy [Jim] en ’n paar ander karakters wat blykbaar vreemd in die lewe aangekom het en vreemd bly. […] Daar is ’n uitspraak wat hy al gehoor het, dat swerfliteratuur oor ’n godsdienstige soektog gaan, ’n uitreiking na God." Wend jy hom aan as jou “fictional self”?

Toe ek in die weermag was, het ek begin ryloop en dit vir ’n paar jaar na diensplig nog gedoen, gewoonlik vir die uitstappie, maar soms omdat ek moes. En toe ek On The Road lees, het ek dadelik geweet hoekom Kerouac so graag geryloop het. Almal wat hom lees, is eintlik versot op hom. Sy boeke laat my dink aan daardie liedjie van Albert Hammond waarin hy sing: "But I gave it up for music and the Free Electric Band." Hy laat ’n mens glo jy kan van die gebaande weë afdwaal en nog ’n heenkome vind. Ek beny hom ook as skrywer sy werkywer. Of ek hét, tot ek uitgevind het hy was op Benzedrine of iets toe hy On the road in ’n rekord drie weke geskryf het. Baie skrywers het dit blykbaar al gebruik. Graham Greene ook. Dit was seker hulle weergawe van ’n tonikum in daardie jare.

Wat beteken anonimiteit vir jou? Om, soos Robert, nie uit te staan nie? Om aanvaar te word? "… maar Robert voel ineens hoe hy opgaan in hierdie voorstad, hierdie buurt, hierdie sentrum, en hoe hy woordeloos en anoniem deel word van die mensdom en dat dit verstommend goed voel."

Sekuriteit. Gelukkig is skrywers nie voorbladfigure nie. Hulle bekendheid is eerder ’n derderangse tipe bekendheid. Oor anonimiteit as alkoholis kan ek net sê jou werkskollegas dink min van jou as jy ’n drankprobleem het of gehad het. Dan’s dit beter om anoniem te wees. Ja, dit gaan beslis oor aanvaarding.

Op bl 71 sê jy: "Dit gaan maar net oor waar kunstenaars materiaal vandaan kry. En dit is altyd die lewe. Maar die kuns ploeg op sy beurt weer materiaal in die lewe in." Verduidelik?

Die opmerking sluit aan by die een oor flieks, dat ’n werklikheid en ’n sekere era nie in een fliek ontsluit kan word nie. Dis soos die orakel van Delphi in die Oedipus-storie – die een ding maak die ander waar, en die ander maak op sy beurt die een ding waar. Fiksie volg die lewe, maar soms volg daardie lewe weer fiksie.

Die roman handel oor alkoholiste, maar daar is ook ander temas, soos die gelykmaak binne die afskaffersbeweging, die afbreek van sosiale stand, verval ("Die eerste ding wat gaan, is ’n mens se reukvermoë"), eensaamheid ("Selfs toe hy nog meubels gemaak het, het dit ook maar stil gegaan, behalwe vir die ongereelde kere dat ’n mens daardie verrassende iemand raakloop met wie jy skielik kan gesels asof die heelal (die miljarde jare oue heelal) geskep is met julle ontmoeting in gedagte"), om ’n ander sy van die lewe te leer ken …

’n Mens laai ’n boek met als wat jy dink daarin pas. Soms doen jy dit op lompe wyse. Ek wou oor drank skryf, en om snags oor die sterre en die heelal en die doel van jou lewe te wonder, is deel van dronk wees, so ook geselskap soek terwyl jy, aangeklam, meer moed het daarvoor. En om baie drank te gebruik in ’n sekere omgewing – eintlik om hoegenaamd énigiets te doen in ’n sekere omgewing – haal klasse-oorwegings by. Toe ek in 1990 Bellville toe getrek het, het ek gewonder oor die klasseding en waar ek my skielik bevind – jy weet, die gespot oor die noordelike voorstede. Maar dis ’n gawe en baie, baie bedrywige plek. Bellville se biblioteek is fenomenaal. Ek vergeet die bibliotekaresse se naam, maar sy’t lieflike grys hare gehad, die boekvoorraad was uitgebrei en die funksies interessant. Ek het selfs op ’n stadium ’n tekenklas daar bygewoon. Maar ek dwaal …

Jy verwys dikwels na Bellville en Bellville-stasie, het selfs eenmaal verkies dat Philip de Vos jou daar afneem. Die karakter Ratkas in Ryk van die Rawe verval in "lae middelklas-konvensionaliteit in Bellville" …

Dis nie die plek waar ek grootgeword het nie, maar die plek het ’n groot indruk op my gemaak in die agt jaar wat ek daar gebly het. Ek is lief vir Bellville. Baie keer dink ek aan myself as ’n Bellville-boytjie. Jy moet weet ek het die ouens goed leer ken toe ek by Sanlam Rekenaarverwerking was en later toe ek in ’n kroeg gewerk het. Ek vind aansluiting by mense van Bellville. Ek is van Bellville. Maar wanneer ek eendag by my kinderjare uitkom, verander die prentjie dalk. Ek wil nog stories oor Vereeniging en Sterkstroom en Hermanus skryf.

Wat is alkoholisme? " … Jake sê altyd die ouens kom nie by Jake’s vir die drank nie, maar vir die geselskap."

Soos ek dit verstaan, is dit ’n siekte, ’n geneigdheid. Dis baie moeilik om daaraan te ontkom, weet ek wel. En geselskap soek is ’n groot deel daarvan. Baie mense is skaam wanneer hulle nugter is en nie wanneer hulle getrek is nie. Dis eers wanneer hulle gefortifiseer is dat hulle kan dans en gesels. As jy nooit drink nie, sal jy dit seker kan ontwyk, maar sommige van ons het ’n swakheid vir drank wat ander mense nie het nie en diesulkes moet versigtig wees.

Ek is nie meer seker oor die genetiese ding nie. Vir jare het ek dit vas geglo, maar ek dink deesdae enige mens kan in ellende beland. Daar’s ’n fliek oor haweloses in New York (The Saint of Fort Washington) met Danny Glover en Matt Dillon waarin Glover sê enige mens is net ’n paar maande weg van haweloosheid. As jy skielik jou inkomste verbeur, het jy ’n probleem. As jy te gewoond raak aan aanklamming en al meer daarop steun, het jy ook ’n probleem.

Hoekom ’n boek hieroor skryf – soos jy inderdaad op bl 71 vra? Verskans dit eintlik een of meer temas in die boek? "Daardie man is dood vandag, al jare al, in sy tweede ewigheid."

Ek is 39, wat beteken dat ek waarskynlik verby die helfte van my lewe is. Ek is baie bang vir die dood, maar dis waar komedie vandaan kom, uit die aanvaarding van die onvermydelike. Jy’s dalk reg oor dit die eintlike tema is, dis altyd moeilik om self te sê wat in my boeke aangaan. Ek het gedink aan temas van vriendskap en ook inkeer – wat’s die woord? – "redemption". Eers wou ek hê Jim moet tot inkeer kom, maar toe’s dit Robert wat iets oor homself begryp en ’n bietjie hoop kry.

’n Mens skryf ’n boek omdat jy verwaand genoeg is om te dink jy kan ’n bydrae lewer, dalk iets wat hier en daar oorspronklike elemente het. Hopelik kan ’n mens met elke boek ’n bietjie verras. Ek sê vir my vriendin dis aardig om vrae oor jouself te beantwoord. Sy glo my glad nie en sê ek wil dan beroemd wees! Miskien is dit waar. Of óók waar, want die ander deel van die waarheid is dat ’n mens megalomanies glo jou werk kan dalk eendag iets beteken. Dat dit iets sal wees om op trots te wees op 79.

In Cujo van Stephen King sê een van die karakters iets soos in die trant van "Hulle skop baie van jou guts uit tussen 32 en 42." Ek dink ’n mens raak moeër of besadigder, ek weet nie wat nie. Maar iets gebeur sodat jy later nie meer so graag wil hê almal moet van jou hou nie en jy’s ook nie meer so ywerig om jou merk te maak nie, wat presies dit ook al beteken. Dit verlig baie druk.

Die skrywery bied aan ’n mens die geleentheid om terug te staan en alles van agter ’n sifdeur te beskou. Jy distansieer jouself van die lewe, en wanneer jy jou wel daarin verdiep, is dit soms met voorbedagte rade, om te skryf oor wat jy waarneem. Ek weet nie of dit baie gesond is nie, maar dis beslis redelik veilig. Dis g’n wonder skrywers lyk gereeld soos bleeksiele wat nie mooi weet wat aangaan nie. Ek lyk ook so.

Maar die lewe het ’n manier om in elk geval met jou te gebeur. Toe ek Bellville toe getrek het, was een van my groot kwellinge as voornemende skrywer dat ek nie lewenservaring gehad het om in stories te gebruik nie. En toe tref dit my in vloedgolwe en later het ek gewens ek kan ’n bietjie ervaring begin teruggee.

Verduidelik die woordgebruik effens in die sin "Die bande van lojaliteit is dalk swakker as wat iets so effens soos gemeenskaplike nugterheid ’n mens mag wysmaak" en die woord regopper in "Dit is soos ’n kunswerk oor verwelking, dink hy – die staande jong man met sy regop postuur, ongeërg oor die jare wat nog kom, en die ouerige man wat vooroorgeleun sit, bewus van sy weerkaatsing en hoe hy eens regopper was."

Dis Frederik de Jager, die redakteur, wat die woord effens gekies het. Dis beter as my oorspronklike woord gering, as ek reg onthou. Frederik is ingestel op die fyn betekenisverskille tussen woorde. Ek bedoel regop van postuur. Maar ek sien skielik daar’s dalk ’n seksuele ding aan die gang. Dit was onbedoeld, maar tog vanpas in die lig van Robert se verlede.

Jy is bekend om die humor in jou werk. Onderspeel jy dit soms?

Ek dink dis belangrik om dit te onderspeel. ’n Mens wil nie na elke kwinkslag skryf iemand lag hard nie. Droë humor werk baie goed, of so hoop ek. Dit sluit aan by onvermydelikheid. Een mens wat ek dink vreeslik snaaks is, is die aktrise Felicity Huffman. Ek het haar eendag op Oprah hoor praat oor filmwerk saam met swart Amerikaners. Toe sê sy iets soos: "And there I sat, the lipless freak." Dit was baie snaaks. Iemand het eenkeer geskryf humor gaan oor die bymekaarsit van teenstrydighede. Of is dit hoe metafore ontstaan? Ek kan nie onthou nie.

In ’n onderhoud met Tinus Horn vir LitNet sê jy: "Lees moet lekker wees of al minder mense gaan dit doen, wat sal beteken ons boekskrywers sal almal vir TV moet gaan skryf."

Ek glo skryfwerk bereik sy hoogtepunt in boekvorm, al is ek so lief vir televisie. Natuurlik sal draaiboekskrywers van my verskil, en hulle sal sonder twyfel oortuigende redes kan aanvoer. Ek beny hulle die geld wat hulle verdien, maar dit lyk my ’n mens is jou werk kwyt wanneer akteurs inspring en begin beitel aan jou woorde. Ek moet jou sê, om jou eie boek in jou hande te hou, is ’n heerlike gevoel. Maar natuurlik is dit nie die betalendste manier om te werk te gaan nie.

Jy sê ook aan Horn ’n boek moet moeiteloos kan lees. Hoe skryf ’n mens ’n boek sodat dit moeiteloos lees?

Juis met moeite. Ek glo vas ’n boek wat maklik skryf, lees moeilik en ’n boek wat moeilik skryf, lees maklik. En ’n mens moet die leser se taak so maklik as moontlik maak. "I maintain!"

Gunstelingboeke, -aanhalings, enigiets in gedrukte vorm wat ’n indruk maak?

The world according to Garp is na 21 jaar nog een van my gunstelinge, The remains of the day een van die beste liefdesverhale wat ek nog gelees het. Dis ’n uitstekende boek én fliek. ’n Gunsteling-aanhaling op die oomblik is: "Look to this day for it is life, the very life of life", uit Sanskrit.