Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > ABSA Ketting: Nanette van Rooyen gesels met Carina Diedericks-Hugo

ABSA Ketting: Nanette van Rooyen gesels met Carina Diedericks-Hugo


Nanette van Rooyen - 2006-07-30

  1. As skrywer van jeugboeke het jy 'n uitdaging aanvaar wat die meeste van ons kopsku voor is. Hoe hou jy jou vinger op 'n tiener se pols?

    Ek is gelukkig dat een van my pligstate by Human & Rousseau jeugleesaksies is. Dit beteken dat ek weekliks by laer- en hoërskole moet optree. Ek kom dus gereeld in kontak met baie jongmense landswyd. 'n Mens moet wel ook moeite om uit te vind waarvan jongmense hou, die musiek waarna hulle luister, hul kleresmaak en veral die manier waarop hulle praat.

    Ek is goddank bly die tyd is verby toe jeugboekskrywers bloot 'n idee gehad het wie en wat hulle teikenmark is, maar nooit werklik gaan uitvind het of die werke wat hulle lewer, dit is wat die jeug wil lees nie. En ek juig veral oor die wegbeweeg van die verkrampte idee dat Afrikaanse jeugboeke outomaties oor weeskinders, die dood, sukkelende plase en egskeiding moet gaan. Die druk is op die skrywers om verhale te skryf waarby jongmense aanklank sal vind.

     

  2. Jy is aktief besig om kinders weer aan die lees te kry. Wat is belangrik in die poging?

    Wat belangrik is, is dat ons meer en meer besef dat kinders wel lees, maar dat niemand werklik die moeite doen om boeke op dieselfde manier te bemark as wat ander vermaaklikheidsvorme doen nie. Ons Afrikaanse skrywers is nooit genoop om aktief self 'n rol in die bemarking van boeke en lees te speel nie. Dit het verander en daar is tientalle kinder- en jeugboekskrywers wat hard werk om kinders opgewonde te maak oor lees. (Ek dink veral aan Jaco Jacobs, Marianna Brandt, Piet Grobler, Tanja Joubert en Philip de Vos.)

     

  3. As uitgewer is jy in die posisie om plaaslike werk met die oorsese mark te vergelyk. Hoe lyk die prentjie?

    Uitstekend. Ek was in 2003 en 2004 by die Frankfurtse Boekebeurs en ek kan in alle eerlikheid sê dat ons boeke met die beste in die wêreld vergelyk. Ons boeke lyk goed en tematies sluit ons aan by internasionale tendense. Die enigste probleem is dat daar steeds te min Afrikaanse boeke gepubliseer word, veral op die gebied van kinder- en jeuglektuur. Die feit dat ons te min boeke vir jongmense het, speel ook 'n rol in die "onbereidwilligheid" van kinders om te lees. Daar is te min boeke wat 'n lesende Afrikaanse jongmens tussen 9 en 16 aan die lees gaan hou.

     

  4. Jy deel jou lewe met 'n medeskrywer, die digter Daniel Hugo. Hoe werk julle skryfsels en skryfmetodes op mekaar in? En kritiek op elkander se werk?

    Dit werk wonderlik vir my. Daniel staan bekend as iemand wat onselfsugtig leiding en hulp aan veral ontluikende skrywers en digters gee. Hy het 25 jaar se ondervinding as keurder, skrywer, vertaler, redigeerder en resensent. Hy het 'n magdom kennis en ondervinding waaruit ek natuurlik na hartelus kan put! Hy gee my die ruimte om te skryf wanneer ek wil en ek verstaan die ruimte wat hy nodig het om te kan dig of vertaal.

    Ons lees altyd mekaar se werk voor publikasie. Die feit dat ons belangstel in verskillende genres, beteken dat ons albei met vars perspektiewe na mekaar se werk kan kyk en kommentaar kan lewer. Maar natuurlik bly kritiek nie iets wat 'n skrywer graag wil hoor nie! En ja, daar is soms oorverdowende stiltes ná 'n terugvoersessie. Ons weet egter dat die kritiek wat ons op mekaar se werk het, sonder 'n verskuilde agenda is en dis selde dat ons nie mekaar se kommentaar en voorstelle inwerk nie.

     

  5. Ek het al 'n paar besonder goeie kortverhale van jou onder oë gehad. Gaan jy een of ander tyd oor die genre-tou trap?

    Miskien later, maar beslis nie nou nie. Ek werk verskriklik lekker in die kinder- en jeugboekwêreld en daar is nog so baie wat binne die veld gedoen kan word. Ek dink daar is 'n groot behoefte aan "crossover" boeke vir tieners - boeke wat deur tieners geniet word, maar wat eintlik 'n breër mark ook het. Ons jeugboeke is steeds te jonk. Verder kort ons ook nog 'n klomp reekse vir jonger lesers. Kinder- en jeugletterkunde staan in sy babaskoene. Die veld lê oop en die uitdagings is volop.

 

<< Back to main chain <<