Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
|||||
|
Albert Maritz - 2007-10-25 Die Jans Rautenbach Schouwburg
"What is moral is what you feel good after." – Ernest Hemingway Mensig – my artikel oor die dwelmgeveg tussen Helen Zille en Leonard Ramatlakane is byna klaar; so ook die een oor die omstrede Apollo-filmfees; en ek het ʼn ongepubliseerde filmresensie ontvang wat Faith like potatoes nogal uitknikker … Helaas - hier is darem positiewer dinge om eers oor te skryf. Op 29 September 2007 het ʼn paar groot wêrelde bymekaargekom om ons trotse verlede, maar ook ons positiewe toekoms, te vier. Ons het mos ʼn filmgeskiedenis wat die res van die wêreld eens voor was. “Die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf is een van die oudste in die wêreld,” skryf prof Martin Botha in Jans Rautenbach - Dromer, Baanbreker en Outeur. Hy noem van films so lank terug as 1896, De Voortrekkers van 1916, die eerste Afrikaanse speelfilm met klanksekwensies, Sarie Marais in 1931. (Die eerste stukkie film in die wêreld is ʼn paar sekondes lank, en in 1888 geskiet, volgens Google.) Jans Rautenbach het opgetel by grotes soos Jamie Uys en Emil Nofal. Hy meen dat “Uys sekerlik die baanbreker was wat die pad oopgemaak het vir die Afrikaanstalige film” (Dromer, Baanbreker en Outeur). En as ons op die spoor van die geskiedenis kon aanstap, en iemand die aflosstokkie by Jans Rautenbach kon oorvat, sou ons sedertdien nog internasionaal kon kompeteer. Onlangs vertel Koos Roets (wat Jans in sy boek beskryf as een van ons filmlegendes) hoe hulle drie dae lank sit en beplan het aan een kameraskoot. Vandag onthou ons Jans se flieks vir die teenstand wat dit gekry het omdat hy so progressief was. Sy werk, soos Die Kandidaat en Katriena, is met lof besing deur resensente, en met argwaan deur die owerhede hanteer. Snitte is vereis voor vrystelling moontlik was, en die films is selfs gekonfiskeer deur die polisie. Selfs die latere prent, Broer Matie, was sy tyd, hartseer genoeg, nog meer as ʼn dekade vooruit. In die eerste dae van die filmbedryf in Suid-Afrika het die kunstenaar Gawie Beukes – voor 1912 reeds – ʼn unieke projek van sy eie op Prins Albert op dreef gekry. Hy het ʼn klein teater langs sy ouerhuis in De Beerstraat op Prins Albert bedryf. Hy het self klavier gespeel om die stilprente te begelei. Sakevrou Laetitia van Dyk het pas die filmteatertjie verewig, maar nie net dit nie – sy het ook ons lewende legende, Jans Rautenbach, se nalatenskap vereer deur die bou van ʼn groter teater neffens die Gawie Beukes-teater. Dis hier waar 29 September 2007 nog ʼn trotse datum in ons geskiedenis geword het. Maar dis nie net ter wille van verering nie. Laetitia – sy wil nie haar naam genoem hê nie – het ook ʼn droom om geleenthede vir die gemeenskap te skep. Met die opening het Mike van Graan se produksie Bafana Republic daar gespeel. En toe het nog twee optredes gevolg – vir die gemeenskap. Terugvoer van ʼn plaaslike persoon lees so: Thank you for a most entertaining evening yesterday. What a wonderful space you have created for theatrical and musical events - a true jewel for Prince Albert's coronet! I teach at both Zwartberg High School and the home school (Albert College) - youngsters from both schools attended the performances of Bafana Republic. The boys (13-year-olds) and the more sophisticated ladies (Grades 11 and 12) were all talking about the experience. The boys were completely bowled over by the roller coaster scene and the "Big Five"; I was impressed with their level of understanding and it provided us with an ideal opportunity to discuss satire. I found it most interesting to see the different levels at which each age group appreciated the production. Lindiwe is a most accomplished actress - and her energy - I could do with some of that! Thank you for bringing new opportunities to our youngsters - and to the whole village. May the Schouwburg go from strength to strength and may you be richly blessed in all you do in this special place. Blessings, Ailsa Die openingsaand was luisterryk. Jans is ook daar vereer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. (Sê vir Mark Shuttleworth die twee is bedmaats!) Dus was proff Jacques van der Elst en Hennie van Coller daar. Prof Allan Boesak en Elna was daar; dr Franklin en Joan Sonn; regter Deon van Zyl en Elsa (en hul Charlize Theron-dogter) was daar … ag en … ’n lys te lank om op te noem. En dit was lekker om te hoor hoe gasheer Charles Roux en Franklin vir Laetitia hekel. Kyk - bouery en besigheid is nie vir sissies nie. En 8 Desember is Sussie is nie suur nie daar. En dié wat al Marion Holm se plakkaat met daai groot oop bek gesien het (dat so ʼn edel siel mens so kan skrikmaak!), sal weet wat Charles bedoel het toe hy vra of dit regtig nodig was dat Laetitia nog foto's van haarself ook moes opplak! He-heh. Goeie een! En Franklin se noem van die huurders in sy ouers se agterplaas het my herinner aan my pa se eie verhaal van hul armblanke dae (waarvan Van Wyk Louw praat) in Woodstock, Kaapstad. Daar het die Joodse huiseienaar baie keer gered deur die huur uit te stel en uit te stel en uit te stel. Dieselfde as Franklin se pa met sy blanke huurders. Jans se films was gewaagd omdat dit ironieë soos hierdie in sensasionele storielyne hanteer het. Hy het dus as kunstenaar deur sy werk onregte aangespreek. Hy is ook oa vereer vir sy “dapper teenstand teen die magte wat artistieke vryheid wou kniehalter” (Deborah Steinmair, Die Burger, 2 Oktober 2007). Mag Die Jans Rautenbach Schouwburg te Prins Albert die dorp se trotse museum, laning houtbesnyde bome, Lappiessmous, hordes gastehuise (daar was 22 in 2001, met die maak van die "Burgemeester, Stasiemeester en Posmeester"-advertensie) nes die standhoudende fontein bly vervul. *** Die briljante MOET LEES dubbele boek – een kant: Jans, Droomsaaier - Sy Memoirs deur Deborah Steinmair, die ander kant: Jans Rautenbach – Dromer, Baanbreker en Outeur deur Martin Botha (www.genugtig.co.za) – sal ook van nou af permanent daar verkrygbaar wees. Mense, mik vir Sussie is nie suur nie op 8 Desember 2007. Maar daar's baie om te doen. Gaan vir lank. "Happiness is a halfway station between too little and too much." – Channing Pollock
|