Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions > Bitterbossieland

Bitterbossieland


Dolf van Niekerk - 2008-08-26

Wanneer 'n mens ná vele dekades na jou grootword-dorp terugkeer, sal die bittersoet herinneringe van daardie jare saam met jou deur die strate stap. Dolf van Niekerk het een nag op Edenburg se kaal plein gaan stilstaan. Foto's: Gerhard Uys.

Dié nag was hulle almal daar. Die maan het geskyn. Spore van 'n skaam dagreëntjie lê nog plek-plek op die stowwerige plein. Sy kom uit haar ouerhuis wat die naaste aan die plein was: Jean, die Engelse meisie met die sagte oë en vlegsel om haar kop wat ek eerste liefgehad het.

Sy kon nie dood wees nie. Een vir een kom hulle uit huisies en strate en winkels en grafte. Hulle het klere aan, elkeen na sy nering. Almal vars uit die dood sedert ek Edenburg 53 jaar tevore verlaat het. Ek het hulle nooit verlaat nie, want ons praat en gister word nou en nou word eendag. En eendag was hulle almal daar. En hulle lewe in 26 gedigte wat Kleindolf van destyds Nag op 'n kaal plein noem.

Kaal plein onder die maan,
kerk en winkel en huise staan versteen -
selfs verganklikheid vergaan;
bleek lig skyn by skrefies in,
dit lewe 'n oomblik en sak
in die duister terug. Donker is al lig
in dié gestolde wêreld van 'n jeug.
Die nag is stof,
die vlerkklap van vlermuise
jaag dit op, die maan word goud
in 'n werwelwind; die stof sif
neer in die vorm van gestorwenes.

My bitterbossieland waar my geboortedorp se hart elke Maandag versnel soos boere hul kinders uit al vier windrigtings skool toe bring. Spinnerak van gruispaaie waaroor lang stofwolke ure lank hang. En die stof gaan lê op die bitterbossies wat die aarde ingeneem het omdat die gras en eetbare bossies deur duisende wolskape weggevreet en vertrap is. Asof daar nie oë was wat kon sien dat die aarde kwesbaar is nie; dat daar nie soos in die pionierdae altyd nuwe weivelde sal wees om heen te trek nie. Die paar winkels rondom die plein is meteens ter sake. Die boere doen inkopies, party op skuld, ander kontant, terwyl sommiges ruilhandel beoefen: vars plaaseiers, groente, plaasbotter in ruil vir tabak, suiker, meel en wat nog. Later die oggend vertrek hulle teen rustiger pas terug na hul merino's en lusernlande en krale en begraafplase waar voorouers al lank te ruste lê.

Vrydag is omgekeerde Maandag. Seuns met rooi hakskene kyk hoe hul meisies in motors of perdekarre uit die dorp verdwyn, tot oor die ore verlief en terneergedruk asof die afskeid vir ewig is.

Sterk boeregemeenskappe was die hartklop van my kontrei in die Suidwes-Vrystaat. Kinders was talryk, in weerwil van die droogtes en depressie van die jare dertig. Boere was betrokke by skool en kerk, politiek en ander kultuurbedrywighede. Elke dorp had infrastruktuur met winkels, banke, 'n apteek, 'n mediese dokter en prokureurs. Daar was twee kleremakers; my pa een van hulle. En twee haarkappers, 'n modewinkeltjie, twee kafees en selfs 'n selfopgeleide tegnikus wat die primitiewe radio's van die dag kon herstel.

Die hartklop van ons gesin was die fontein in die park wat leiwater aan die groot erwe in die onderdorp voorsien het. Op ons burgererf was daar vrugtebome van alle soorte; akkers vol lusern vir die melkkoeie wat vir melk en botter gesorg het; akkers vol groente wat die betreklike armoede besweer het. En geleentheid vir 'n dromer om snags, terwyl hy die leiwater van een akker na die ander keer, te dink en in wêrelde van die verbeelding rond te dwaal.

Toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit, 'n waterskeiding in die gang van my geboortestreek en die wêreld. Die gemeenskap, selfs families, word deur botsende oortuigings uitmekaar geruk.

Die skietkommando, een van die groot bindende momente in manlike geledere, gaan tot niet. My pa en verskeie van sy vriende sluit hulle aan by die Ossewa-Brandwag, 'n kultuurorganisasie met nasionaal-sosialistiese ondertone. Die regering van generaal J.C. Smuts besluit dat alle gewere van 'n bepaalde kaliber by magistraatskantore ingehandig moet word. Die meeste lede van die skietkommando daag eers enkele minute voor die spertyd by die magistraatskantoor op. Hulle lyk soos verdwaalde vegters. Op die sypaadjie oorkant die kantoor bondel seuntjies saam en kyk na die mans met gewere in die hand, gesigte stroef asof hulle iemand begrawe.

Die son skitter op die kolf van my pa se geweer. Hoeveel ure het ek en my broer met die fynste skuurpapier die kolf geskuur tot die vlam in die hout verskyn sodat my pa dit met sy geheime olie kan behandel. Uiteindelik verdwyn die mans een vir een in die gebou om hul wapens neer te lê.

Ondertussen verskraal die kleremakery omdat kleedstof uit Engeland opdroog weens duikbootaanvalle deur die Duitsers. Mense wat jare lank in armoede gelewe het, sluit by die weermag aan. Die radio bring die oorlog en die wêreld tot binne ons sitkamers.

My pa is verplig om sy kleremakery se deure te sluit en elders werk te soek. Hy word as agent by 'n wolmakelaarsfirma aangestel. Hy reis deur die distrik om wolskeersels te werf. Vakansietye ry ek en my broer saam. Só leer ons gaandeweg om loks en penswol te onderskei, leer ons van kartels en spintelling, trap en merk ons wolbale. Ons leef kortstondig saam met mense wie se lot aan die genade van seisoene gebind is.

Ons wêreld word kleiner teen die groot gebeure elders op die aarde. Ons begin anders oor sake dink, raak meer bewus van lyding en verlies, al gebeur dit ver van ons af. Vervreemding binne families, verbrokkeling van huwelike en verhoudings raak alledaags. 'n Paar selfmoorde skok die gemeenskap tot stilte. Hoe kon so iets by óns gebeur? Waarom tog?

Daar is nie antwoorde nie, net onsekerheid en nog vrae. 'n Mens beleef aanlope tot eksistensiële angs wat later onderwerpe vir skryf en studie word.

Gedurende die oorlog is my pa lid van die dorpsraad, met verantwoordelikheid vir die swart gemeenskap. Sy getroue werknemer en klankbord, Jakob Sentry, is 'n Griekwa.

Hulle noem mekaar "meneer". Toe Jakob trou, is ek en my broer, ons Khoi-San-vriend Karel, en my pa die eregaste. Ons het my pa se bejaarde motor 'n dag tevore gewas en blink gemaak sodat Jakob en sy bruid op 'n wittebroodsreis van twee dae kan vertrek. Linte en ballonne. Jakob se broer met grys swaelstertbaadjie en pluiskeil is die chauffeur. Almal skree en wuif, die Chevvy vertrek in 'n stofwolk en Karel dans 'n riel.

Kort daarna maak 'n vreemdeling amok in die township. Eenuur die nag word daar aan die voordeur gehamer en ou Sam, groot en sterk en 'n vriend van Jakob, bulder sy boodskap uit. Ek en my broer drentel agter my pa en Sam aan. Die hele gemeenskap drom om een van die huise saam. My pa trotseer klippe en 'n mes terwyl Sam om die huis sluip. My pa hou die booswig besig, en op die gegewe oomblik gryp Sam hom van agter en pen hom vas. Uitroepe en gejuig en danse in die stofstrate.

Berigte oor die atoombom oor Hirosjima laat ons saam met die wêreld na die asem snak. Foto's van die vreemde wolk, die onbegryplike krag van 'n mensgemaakte bom, 'n oordeelsdag in beeld. Miljoene juig, miljoene het gesterf - die ironie van menswees. Nog ironie volg.

In die naoorlogse wêreld vat 'n gees pos wat ook my kontrei aantas: groeiende hebsug en byderwetsheid. Kinders word na skole in die stad gestuur, ryk boere koop sukkelende boere se plase op en laat dit onbewoon. Daar is bankrotskappe waar teen die grond se vermoë en die reënval in gesaai is en misoeste onvermydelik was. Die dorp se jongmense soek elders 'n lewenstog soos die ekonomie kwyn, die infrastruktuur verswak en werkgeleenthede afneem. Ontvolking van die landelike gebiede het begin.

En die bitterbossies oordek die velde. Die Volksblad berig van 'n groen-kruisveldtog, oor mense wat deur die land met 'n rolprent reis om ons bewus te maak van gronderosie en die agteruitgang van die land se weivelde. Die oorlog is verby, nou is die sluimerende gevaar van gronderosie die land se uitdaging. In die dorpsmeent spit ons bossies uit om die buite-oond vir die weeklikse broodbak te verhit. In die gees van ontwikkeling word die burgererwe se waterserwituut opgesê. Die brakwater uit die boorgat is te min om die bome en akkers in stand te hou. 'n Groot turbine by die fontein verskaf water aan die bodorp waar nuwe huise opskiet en blomtuine aangelê word.

Baie van ons wat universiteit toe wil gaan, moet daarvan afsien omdat studiebeurse skaars en klein is en daar van lenings vir studie geen sprake is nie. Die oorlewingstryd gedurende die oorlog het party mense taai gemaak: hulle het geleer om in te kort en skraps te lewe ter wille van dinge waarin hulle glo.

Halfpad deur my derde studiejaar is my fondse uitgeput. Met my pa se motor wat nouliks padwaardig is, reis ek deur die distrik en klop by boere aan om 'n lening. Niemand kan help nie.

Terwyl ek nog wik en weeg of ek by die plaaslike magistraatskantoor om werk aansoek moet doen, gebeur die wonderwerk: een van die vele boere het herbesin en besluit om die verlangde bedrag aan my te leen.

Die nag ná 53 jaar op die kaal plein waar ek albaster gespeel het, keer almal in hul tydverbande terug. In my bewussyn is hul verskyning 'n opwelling in die onderbewuste ná 'n besoek dié middag aan die begraafplaas wat 'n woestyn geword het en aan die klipskool waar opgestapelde stoele en banke onder 'n dik stoflaag bedek is. Die nag is omgewe van 'n soort heimwee oor die stoflike: geboorte en sterwe, gebrokenheid van die mens met sy groot voornemens en klein resultaat; die groot gebaar en klein gevolg, gewone dade en gewone mislukkings, liefde en verwerping - die hele spektrum van menslike eksistensie wat uiteindelik geteleskopeer word in die laaste twee sinne van Nag op 'n kaal plein se slotvers:

...die misterie van die lewe
en die wonder van die dood.

Die jaar was 2003.