2008-09-01
Tydens ‘n luisterryke en feestelike aand van woorde, wenners en wyn, is die ontvangers van vanjaar se ATKV-Woordveertjies op Vrydag, 29 Augustus by Nooitgedacht, net buite Stellenbosch, aangewys. Die Woordveertjies is vanjaar vir die eerste keer, in samewerking met Sanlam, as ‘n afsonderlike toekenningsgeleentheid aangebied.
Negentien Woordveertjies is toegeken vir uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord. Die gasvrou vir die aand was Ruda Landman, en die rooi tapyt is behoorlik uitgerol om ‘n onvergeetlike aand van feesviering rondom die woordkuns aan die uitgesoekte groep gaste te bied.
Onder die gaste was groot name in die Afrikaanse literêre wêreld. Die hoogtepunt van die aand was die toekenning van die ATKV-Prosaprys wat vanjaar met die US Woordfees as vennoot, toegeken is. Gaste is vermaak met musiek en voordragte wat spesifiek ingepas het by die Afrikaanse woordtema: Amanda Strydom het haar eie skepping,
Boord van Woorde, van haar nuwe CD vertolk; Philip de Vos het die gehoor vermaak met sy opdragwerk vir die aand, Stories oor die Liefde; Lize Beekman se verwerking van Breyten Breytenbach se
Rooiborsduif,
is deur die fisiese teaterkunstenaar en akteur Craig Morris verbeeld. Jaco Jacobs het ‘n skets met die oog op die Kinderboektoekennings geskryf wat deur die belowende jong leerder van Laerskool Durbanville, Jumaine Hansen, voorgedra is.
In aansluiting by die tema van die aand is ‘n keuse van Breyten Breytenbach se geskilderde woordkuns-doeke, Boekdoek Lappesait, in die onthaallokaal van die voorportaal uitgestal.
Die wenners van vanjaar se ATKV-Woordveertjies is soos volg:
Prys vir Liefdesroman
Die erflating - Sophia Kapp - LAPA Uitgewers
Hierdie debuut slaag met geloofbare karakters, ‘n sterk storielyn en ‘n heerlike moderne tema.
Prys vir Romanses
Seerower vir Shakira - Marijke Greeff - LAPA Uitgewers
Dit is veral die ontsnappingswaarde en die historiese agtergrond waarin die verhaal afspeel wat mens aangryp.
Prys vir Spanningslektuur
Onsigbaar - Deon Meyer - Human & Rousseau
Volgens die beoordelaars is Onsigbaar "boeiend, soomloos, tegnies afgerond, oorspronklik en uitsonderlik."
ATKV-Prosaprys
Frats - Chris Karsten - Human & Rousseau.
Chris Karsten se boek is gebaseer op die negentiende-eeuse verhaal van Saartjie Baartman. Dit is boeiend met interessante karakterisering, wisselende vertelperspektief en glashelder styl. Sy historiese herskepping van Londen en Parys is besonder oortuigend. Met die ondersteuning van die ATKV sal Chris Karsten volgende jaar by die US Woordfees in Stellenbosch te siene wees.
In die kategorie ATKV-Prosaprys het Daniel Hugo, Deborah Steinmair en prof. Andries Visagie as beoordelaars opgetree.
Beoordelaars vir die Prys vir Spanningslektuur was Marlize de Jongh, Danila Liebenberg en Linda Zöllner, terwyl die Prys vir Liefdesroman beoordeel is deur Elize Parker, Leti Kleyn en Ilse Salzwedel.
Die Prys vir Romanses is beoordeel deur Cecilia Penzhorn, Linette van der Merwe en Kobie van Aswegen.
ATKV-Woordwystoekenning
Hierdie toekenning vir woordeboeke en taalgidse is dié jaar vir die eerste keer toegeken as deel van die Woordveertjies. Die Woordwystoekenning is vanjaar toegeken aan die Oxford Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Skoolwoordeboek/School Dictionary. Redakteur: dr. Phillip Louw; uitgewers: Oxford University Press Southern Africa.
Die beoordelaars se kommentaar op hierdie woordeboek is: "Die wisselwerking tussen teorie en praktyk lewer ‘n moderne woordeboek van puik gehalte, spesifiek gerig op die teikenmark."
Die volgende beoordelaars was vanjaar betrokke by die ATKV-Woordwystoekenning: prof. Rufus Gouws, dr. Mariëtta Alberts en Tom McLachlan.
ATKV-Kinderboektoekennings
Tydens die toekenningsgeleentheid is skrywers en illustreerders van kinderboeke ook vereer. Die kinders tree self op as beoordelaars van die kinderboektoekennings en die wenners is soos volg:
Voorleeskategorie: 3 - 6 jaar
• Skrywer: Annelize Bester (Fantasi) - Kersvader se groot glips
• Illustreerder: Johann Strauss (Fantasi) - Kersvader se groot glips
Selfleeskategorie: graad 1 - 3
• Skrywer: Alana Bailey (LAPA Uitgewers) - Die prinses van die Afrikavlaktes
• Illustreerder: Emily Bornoff (LAPA Uitgewers) - Die prinses van die Afrikavlaktes
Selfleeskategorie: graad 4 - 5
• Skrywer: Lize Roux (Jaco Jacobs) (LAPA Uitgewers) - Totsiens, Sugarplum
Selfleeskategorie: graad 6 - 7
• Skrywer: Fanie Viljoen (Human & Rousseau) - Geraamte in die klas
Selfleeskategorie: graad 8 - 10
• Skrywer: Tania Brink (Jaco Jacobs) (LAPA Uitgewers) - Ouens is nie pizzas nie
Voorleeskategorie: 3 - 6 jaar
• Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) - Danie Dreyer se dinosouruseier
• Illustreerder: Maja Sereda (LAPA Uitgewers) - Danie Dreyer se dinosouruseier
Selfleeskategorie: graad 1 - 3
• Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) - Slym en die gogga-sirkus
• Illustreerder: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) - Slym en die gogga-sirkus
Selfleeskategorie: graad 4 - 5
• Skrywer: Lize Roux (Jaco Jacobs) (LAPA Uitgewers) - Die spookperd
Selfleeskategorie: graad 6 - 7
• Skrywer: Carina Diedericks-Hugo (LAPA Uitgewers) - Thomas@aksie-net
Selfleeskategorie: graad 8 - 10
• Skrywer: Christa Jonker-Jordaan (Carpe Diem) - Lyf
Onderhoude kan gevoer word met Nita Cronjé by 082 577 0102.