LitNet Argief

Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels > Vyf vinnige vrae: Marius Crous

Vyf vinnige vrae: Marius Crous


Marius Crous - 2006-11-06

Marius Crous en Melt Myburgh by vanjaar se Versindaba
Foto: Naomi Bruwer

Die digter Marius Crous se tweede bundel, Aan 'n beentjie sit en kluif, het onlangs by Protea Boekhuis verskyn. Voordat Crous as taalversorger by die parlement beland het, het hy 'n draai in die onderwys gemaak. Hy was ook Afrikaans-dosent aan die Universiteite van KwaZulu-Natal en Namibië. Melt Myburgh het hom stormgeloop met vyf moedswillige vrae.

1. Ek hoor jy was in beheer van dissipline in die dae toe jy skoolgehou het by Vista Nova in die Kaap. Vertel.

Dissipline was nie my sterk punt nie. Ek het altyd my manlike kollegas bewonder wat die kinders met een forse roep tot orde kon dwing. Ek was ook nie streng genoeg nie en het eerder probeer om die kinders te outwit. Een erge, woelige jonge het ek een dag uit radeloosheid om die skool laat hardloop om van sy energie ontslae te raak, net om te moes ontdek dat die kind nog  woeliger en opgehype was met die terugkomslag. En as die kinders in Afrikaans gevloek het, was ek tog bly dat hulle ten minste 'n Afrikaanse woord of twee besig.

2. Wie was die walglikste onderwyskollega met wie jy ooit te doen gekry het?

Die skynheiliges, wat alles so maklik aan God kon toeskryf. En in my dae op skool was daar nog die gewraakte kadette op Woensdae. Dit was vir my altyd opvallend hoe die godvresendste bidder die grootste vark kon word as hy in uniform was. Seker maar die inherente sadomasochistiese geneigdheid van die Afrikanerman: sit hom in 'n uniform en hy kry 'n styfte in die lende. Ek wonder altyd steeds hoeveel seksuele repressie in veral destyds se skole was. Veral toe die mans nog kon slaan ook. Ek laat my nie vertel van hulle was nié homo-eroties geprikkel deur die seuns se boude nie.

3. Vertel bietjie van jou nuwe digbundel.

Aan 'n beentjie sit en kluif gaan oor bene, beendere, die liggaam, lewe en dood, eet en verwante liggaamlike kwessies. My partner, wat sowat 'n jaar gelede dood is, het graag skedels en beendere geteken en ek dink dit het afgevrywe op my. Snaaks, voor ek hom leer ken het, het ek teenoor iemand genoem dat ek belangstel in beendere en miskien daaroor wil skryf. Miskien het hierdie nekrofiliese morbiditeit my voorberei op sy tragiese dood en my pogings om dit te verwerk.

4. Sal jy ooit weer gaan skoolhou as die parlement jou in die pad steek?

Gots, wil mense dan nog na dese gaan skoolhou? Veral met al daai nasienwerk? As ek aan skole dink, dan kom al daai Amerikaanse gangster-tipe films voor my op. Van die kinders wat die klas afbreek en die onderwyser wat vir sy lewe vrees. Miskien by 'n privaatskool. Skoolhou was vir my kreatief. Veral om interessanthede uit te dink vir Afrikaans Tweede Taal-kinders wat sommer op die eerste dag vir my gesê het: “Afrikaans sucks.”

Kinders is ook ongenadiglik eerlik en sien gou deur mens se pretensies – anders as studente, wat dalk nog moerse beïndruk kan word deur elokusie.

5. Jy het jou MA op Stellenbosch onder leiding van Lina Spies voltooi. Het sy jou as jong digter geïnspireer?

Aanvanklik ja. Ek dink haar belangstelling in Emily Dickinson en ander vrouedigters was nogal aansteeklik en sy het my gehelp om 'n tipe feministiese stem te kry.

Maar inspirasie is so vaag. Tans woon ek Marlene van Niekerk se klasse op Stellenbosch by en sy is meesterlik as dit kom by die inspireer van kreatiwiteit. Ek wil alle aspirantskrywers aanraai om aansoek te doen om toelating tot dié kursus. 'n Mens het daardie kreatiewe (amper tik ek kreatien) vonk nodig. Of is dit eerder daardie kreatiewe skop onder die gat?