![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Marius Crous - 2008-10-28
Dit laat my dadelik dink aan daardie toneel in The Devil wears Prada waar Miranda die voorskou van die jong ontwerper bywoon en dan met gesigsuitdrukkings en mondtuite haar afkeer of aanvaarding bedui. Dit voel vir my asof Brink my voorskou bygewoon het en die regte reaksies getoon het. Mens voel deel van die digtende gemeenskap en dis ‘n voorreg om in daardie kring toegelaat te word, selfs al is dit nou net in die agterste ry van die saal. Hierdie uitgawe van die Groot Verseboek verskil taamlik van al sy voorgangers: dit bestaan uit drie aparte dele, dis verpak in blik-vorm, en dit het 'n meer kontemporêre omslag-ontwerp. Wat dink jy van die nuwe visuele aanslag en ontwerp? Gaan dosente voortaan vir studente sê om hulle "blikke" saam te bring klas toe? Klink na ‘n heel hip manier van doen à la die Pasella-kookboek. Gaan dit nie net moerduur wees nie? Daar word deesdae baie gepraat van 'n "oplewing" in die Afrikaanse poësie. Dink jy dit is inderdaad so? Dink jy Afrikaanse poësie het 'n helder toekoms? En het poësie nog 'n plek in vandag se Afrikaanse kultuur? Wie lees poësie? Die Afrikaanse kultuur bestaan grotendeels uit Kurt Darren en Patricia Lewis en ek dink nie daardie uitgelese groep gee juis veel om vir wat in die Afrikaanse poësie aangaan nie. Hulle weet van gedigte wat hulle op skool gedoen het, van Antjie Krog se voorblaaie en van Breyten die tronkvoël. Van Hambidge as polemiseerder en fliekjoernalis. Soos my pa dit stel: "Skryf hy dan ook resitasies?" Noem 'n paar van jou gunsteling klassieke Afrikaanse verse wat al in Groot Verseboek opgeneem is. Hoekom is hulle jou gunstelinge? "Grense", "bedreiging van die siekes", "Christ of the burnt men" - te veel om op te noem. Antologisering is ideologies gekleur, en gedigte wat Opperman as estetiese kunsobjekte beskou het of wat Brink as aanvaarbaar bestempel, is nie noodwendig altyd my gunstelinge nie. Maar dan is "gunstelinge" ook subjektief-ideologies ingekleur en besonder verdag. Kan poësie-lesers uitsien na nuwe werk uit jou pen in die nabye toekoms? Waaraan werk jy tans? Wat poësie betref, hoop ek om ‘n derde digbundel te publiseer. Ek sien dat digbundels deesdae R140 plus kos; so wat dit vir die toekoms van die digkuns inhou, weet net die Boeddha alleen. En omdat ek probeer om volgens die gulde reël van "Begeertes lei tot lyding" te leef, is ek maar dankbaar vir elke kriesel vers of inspirasie wat ek kan neerstip. Of watter emosies Generation Y-jongens by my ontlok. Ek het pas paar van Jackie Collins se boeke gelees, asook Janice Dickinson se Check please. Ek dink dis waarheen mens moet mik: blitsverkoperromans vol seks en sjarme.
|