![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Joan Hambidge - 2009-12-17 Van die oomblik toe ek per ongeluk op LitNet afgekom het op die berig van Chris Louw se dood, het ’n soort onrus van my besit geneem. Chris Louw was die bebliksemde Boetman. Die afgelope tyd het hy onder andere vir Antjie Krog en Jonathan Jansen ingeklim. Laasgenoemde uitgeskel as ’n wolf in skaapsklere en eersgenoemde beskryf as ’n vrou met groot balle. Daar word vermeld dat hy moeg was vir die aanvalle op hom. He who lives by the sword, will die by the sword, weet ’n mens. Louw se dood het ’n hele geslag egter angstig. In SMS’e aan vriende word daar net ongeloof geregistreer toe sy dood bekend word. “Ek glo dit nie”, “Dis onmoontlik” sketter dit op my Nokia se venstertjie. Die ongeloof is vanselfsprekend gekoppel aan die feit dat Chris vir ons almal, die trekvoëls van tagtig, ’n simbool was. Hy het in sy ope brief aan Willem de Klerk die onrus en opstand van ’n hele geslag verwardes en gefnuiktes verwoord. Hy het die leuens wat ’n verlore generasie moes aanhoor, opgeblaas, uitgestal en een vir een afgeskiet. Natuurlik is dit onregverdig dat De Klerk die teiken van sy argwaan moes wees, maar waarskynlik het hy op sy beurt vir Boetman ’n simbool geword. Die punt egter van Louw se selfmoord is dat die opstandige Boetman uiteindelik deur die patriargale orde verwoes is. Dat hy, ten spyte van sy opstand en woede, nie kon oorwin nie. In 1991 besoek ek Rusland. Ek staan op die Rooi Plein en ek kyk na Lenin, ’n gebalsemde Lenin. Ek sien hoe mense in 'n lang tou staan en wag om Lenin te sien. ’n Ou tantejie huil toe sy verbystap. Daar sal geen praalgraf wees vir Chris Louw nie, maar ons sal sy boeke en opstand onthou. Sy durf. Wat nie verminder word deur sy dood nie. Op ’n keer het ’n literator geskryf dat maghebbers in die tagtigerjare die grensverhale moet lees van jong skrywers om presies te sien hoe diep die wonde van die oorlog uitgewaaier het. ’n Mens lees Alexander Strachan se ’n Wêreld sonder grense en jy besef presies hoe ons tans ’n wêreld-sonder-grense beleef. “Ek’s net gatvol” staan op die voorblad van ’n koerant. Met hierdie woorde, dat hy ook nie kans sien om voort te ploeter nie en eerder vroeër dood as later, wys hy op die uitsigloosheid van alles. Hy was indertyd woedend dat jong wit mans ’n onwenbare oorlog moes voer. Dat hulle die kanonvoer geword het van die ou patriarge se skaakspel. ’n Mens durf nie die ironie miskyk dat hy homself met ’n AK-47 om die lewe gebring het nie. Ek het laas so leeg gevoel toe ’n ander simbool gesterf het: John Lennon. En voor dit was die sluipmoord op John F Kennedy eweneens pynlik. Juis om die simboliese impak daarvan. Chris Louw se dood is ’n aanklag teen ’n sisteem. Die strukturele geweld van apartheid het vir hom werklikheid geword. Louw is egter deur sy dood verhef tot ’n nuwe simbool van die ópstandige na die wéérlose, soekende mens. Saam met C Louis Leipoldt kan ons sê: "Al wat jy wen, is dat ons onthou …" (’n Nuwe liedjie op ’n ou deuntjie).
|