Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot > Terugflits (Mei 2010): Matt Damon

Terugflits (Mei 2010): Matt Damon


André Crous - 2010-06-04

’n Mens vergeet maklik dat Matt Damon sy enigste Oscar tot dusver nie vir sy toneelspel ontvang het nie, maar vir sy vermoëns as skrywer van die 1997-film Good Will Hunting. Hy het dié toekenning met sy vriend Ben Affleck gedeel.

Hoewel Damon vroeër ook in films verskyn het, was dit sy rol as Will Hunting wat hom oornag bekend gemaak het. In die dekade sedert hierdie rol het hy in talle van die mees geprysde films onder leiding van Hollywood se top-regisseurs verskyn: Steven Spielberg (Saving Private Ryan), Steven Soderbergh (Ocean’s Eleven, Twelve en Thirteen, The Informant! en ’n klein rol in die tweede episode van Che), Martin Scorsese (The Departed) en Clint Eastwood (Invictus).

As spesiale agent Jason Bourne het Matt Damon ook baie kykers laat wonder of James Bond se dae nie dalk getel is nie. Myns insiens is dit twee heeltemal verskillende karakters, maar as ek moet kies, sit ek my geld veel eerder op die ernstige, menslike Bourne, wat nie tyd het vir 007 se salige skemerkelkies nie.

Op 28 Mei is Green Zone in Suid-Afrika vrygestel. Nes 2005 se Syriana, waarin Damon ook ’n belangrike rol vertolk het, is hierdie film ’n belangrike stelling oor die korrupsie onder Westerse leiers.

Hieronder volg vyf films, in alfabetiese volgorde, wat ’n aanduiding gee van die omvang van Damon se spel:

  1. The Bourne Identity (2002): Ek is ’n groot aanhanger van die Jason Bourne-films en moet erken dat die wêreldhoppende spesiale agent met geheueverlies my lekker vermaak het. Hoewel hierdie film, die trilogie se eerste aflewering, nie heeltemal dieselfde energie as die laaste een, The Bourne Ultimatum, het nie, is dit ’n goeie stuk werk met ’n baie soliede narratiewe ontwikkeling.



  2. Gerry (2002): Matt Damon en Casey Affleck se karakters, albei genaamd “Gerry”, raak verlore in die woestyn en baie vinnig kom ons agter dat dít die omvang van die verhaal is. Die eerste en slegste van Gus van Sant se films wat die sogenaamde “doodstrilogie” vorm, behou nogtans ’n towerkrag oor die kyker: Dit is doodvervelig, maar dis onmoontlik om weg te kyk. Met Arvo Pärt se musiek.



  3. Good Will Hunting (1997): Matt Damon is ’n skoonmaker met die intelligensie van ’n genie wat by MIT werk. Hy word ontdek en daar is talle pogings om hom uit sy rowwe omstandighede te kry, maar hy wil nie weg nie. Matt Damon en Ben Affleck se draaiboek het hulle ’n Oscar besorg.



  4. Syriana (2005): Hierdie veelvlakkige verhaal oor die oliebedryf het baie kykers verwar, maar dít was die punt. Kort nadat Damon se karakter sy kind in die geëlektrifiseerde swembad van ’n Midde-Oosterse olieprins verloor, ontvang sy maatskappy ’n groot kontrak by die prins. Die wêreld van olie is vol geheime en vuil onderhandelings, en kan naïewe mense tot vreeslike dade dryf.



  5. The Talented Mr Ripley (1999): Alles lyk mooi, maar aangesien ons al in die eerste toneel sien dat Tom Ripley (Matt Damon) mense om die bos lei, sodat hy nie aangesien word as die arm musikant wat hy is nie, hang daar die hele tyd iets onheilspellends in die lug. Ripley gaan Italië toe en ontmoet Dickie Greenleaf (Jude Law) en Marge Sherwood (Gwyneth Paltrow), maar kort voor lank raak hy heeltemal te geheg aan hulle leefstyl ... ’n Verstommende stuk werk, gebaseer op die roman deur Patricia Highsmith.